|
Die
geskiedenis en betekenis van
apartheid
beëindig is en die African National Congress in 1994 in Suid-Afrika aan
die bewind gekom het, is die openbare vakansiedae verander na gedenkdae
wat betekenisvoller vir die meeste Suid-Afrikaners sou wees.Sekere
vakansiedae, soos Kers- en Nuwejaarsdag wat regdeur die Weste gevier
word, is natuurlik behou. Maar dae soos Heldedag en Geloftedag, wat ’n
inherente deel van die ou Suid-Afrika was, is vervang deur dae wat
kennelik die vryheidstryd van die groot meerderheid in herinnering
roep... al sou die element van versoening ook benadruk word by die
viering van hierdie dae. Suid-Afrika
se amptelike vakansiedae is: Die geskiedenis en betekenis van elke vakansiedag word hieronder bekyk. |
|||||||
|
1
Januarie: Nuwejaarsdag SUID-AFRIKA
vier Nuwejaar op 1 Januarie soos dit gebruiklik is in die Weste met sy
Christelike jaartelling—en veral in die Kaap is dit natuurlik ’n
groot geleentheid met vrolike musiek en optogte. Maar
dit is dalk nie so wyd bekend dat die eerste dag van die jaar nie altyd
op 1 Januarie (volgens die Gregoriaanse kalender)
gevier is nie. In die Middeleeue het die meeste Europese lande nog die
Juliaanse kalender gebruik en Nuwejaar is op 25 Maart gehou. Dit is die
dag van die Maria-Boodskap genoem—om die geleentheid te gedenk toe aan
die maagd Maria geopenbaar is dat sy die lewe aan die Seun van God sou
skenk. Nadat
die Gregoriaanse kalender in 1582 ingestel was, het Rooms-Katolieke
lande Nuwejaarsdag op 1 Januarie begin vier en dié dag het hom toe
mettertyd as die eintlike Nuwejaar gevestig. Dit was tradisioneel ’n
godsdienstige feesdag, maar in die moderne tyd het dit ’n dag van
groot jolyt geword—waarop mense speels hul persoonlike
"Nuwejaarsvoornemens" aankondig wat hulle dan konsuis die hele
jaar deur sal nakom! 21
Maart: Menseregtedag PANDEMONIUM
heers op 21
Maart 1960 in die swart woonbuurt Sharpeville,
naby Vereeniging in die gewese Transvaal. Die polisie het begin skiet
nadat duisende ontevrede swartmense ure lank om die polisiekantoor
saamgedrom het.
Die skare begin wild vlug. Toe die skietery ophou, word die verskriklik
sombere nasleep daarvan duidelik. Dooies en gewondes lê gesaai oor die
gebied.
Die
onmin in swart geledere was gemik teen wat as die blanke onderdrukking
beskou is, met die gehate
"passe" as simbool daarvan. Dit was identiteitsdokumente wat
alle swartmense gedurig by hulle moes hê, en hulle kon selfs
gearresteer word as hulle dit nie kon toon nie. Die
Sharpeville-slagting is in hoofberigte regdeur die wêreld uitgebasuin
en die hete verset teen die blanke regering het daarna hand oor hand
toegeneem. Die regering
het op die bedreiging gereageer deur ’n noodtoestand in 122 van die
land se 265 distrikte af te kondig (30 Maart—11
April). Sowat 11.500 swartmense is ook
in hegtenis te neem. Die
gevolge vir Suid-Afrika was enorm. Sowel die PAC as die ANC is verbied,
wat daartoe gelei het dat dié organisasies ondergronds of in
ballingskap gegaan het. Hierna sou ook gematigdes hul tradisionele
strategie van nie-gewelddadige protes versaak en hulle ál meer tot
gewapende opstand wend. Die regering het dit reggekry om die binnelandse
opstande te smoor. Maar die gees van verset sou nie geblus word nie. Tog kan nie
ontken word dat menseregte in die apartheidstyd aan altwee kante geskend is
nie—soms ook flagrant en bloedig teen onskuldige mense in die wit
gemeenskappe. En om 21 April bloot tot Sharpevilledag te verklaar, sou
nie in ooreenstemming gewees het met die versoening wat die argitekte
van die nuwe Suid-Afrika in die jare negentig so naarstiglik wou bereik
nie. Daarom is
besluit om dit "Menseregtedag" te noem, al word dit elke jaar
op 21 Maart op die dag van Sharpeville gevier. Dit net een stap in die
rigting van die ideaal dat alle Suid-Afrikaners, van watter ras ook al,
bewus van hul menseregte sal word en dat gruwelike vergrype soos dié
van die verlede nooit weer toegelaat moet word om te gebeur nie. Goeie
Vrydag en Gesinsdag (Paasmaandag) GOEIE VRYDAG kan, omdat dit natuurlik altyd op ’n Vrydag moet val, op verskillende dae tussen 22 Maart en 25 April gevier word en die datum wissel dan ook van jaar tot jaar. Dit gedenk die kruisingsdag van Jesus Christus en word gevolg deur die opstandingsdag (Paassondag).
Die Maandag
daarna is ook tradisioneel ’n vakansiedag, hoewel dit nie ’n
godsdienstige vakansiedag is soos Goeie Vrydag nie. Vir die nuwe
Suid-Afrika is tot die naam Gesinsdag besluit, om die belangrike rol van
die gesin in ons samelewing uit te sonder. In ons
Paasnaweek (die langnaweek van Goeie Vrydag tot en met Gesinsdag) is nog
sekere van die tradisies behou wat in heidense tye min of meer in
hierdie tyd van die jaar nagevolg is. Sulke tradisies is die Paashaas,
’n simbool van vrugbaarheid, en Paaseiers, wat oorspronklik met helder
kleure geverf is om die sonlig van die (Europese) lente voor te stel. 27
April: Vryheidsdag OP
hierdie dag in 1994 is die heel eerste volledig demokratiese verkiesing
in Suid-Afrika gehou en die ou bedeling van apartheid begrawe, ten
minste in die wetlike sin van die woord. Alle volwassenes van agttien
jaar of ouer kon toe hul kruisies gaan trek, ongeag hul ras of kleur. Ná
die oorgangtyd is die nuwe grondwet van Suid-Afrika op dieselfde dag in
1997 in werking gestel. Apartheid in
die sin van die afsonderlikheid van rassegroepe het al bestaan sedert
die beginjare van die vestiging van Europeërs aan die Kaap, maar dit is
ná 1948 deur die destydse Nasionale Party-regering in wette verkonkreet
en afgedwing. Daar was
enersyds die gevoel by baie blankes dat "afsonderlike ontwikkeling
die enigste manier is om die Christelike beskawing in die land te
bestendig", maar die beleid het in die praktyk tot soveel gevalle
van hoogs onregverdige rassediskriminasie gelei dat dit op die ou end
kwalik nog geregverdig kon word. Boonop is Suid-Afrika as gevolg daarvan
deur die hele wêreld verguis en uiteindelik het sanksies die land
ekonomies feitlik tot op sy knieë gedwing. ’n Nuwe bestel waarin ook
die groot swart meerderheid verteenwoordiging in die landbestuur sou
kry, was onafwendbaar. Dit is deur die
algemene verkiesing van 27 April 1994 verwesenlik—en daar is gevoel
dat hierdie waterskeiding in die Suid-Afrikaanse politiek elke jaar as
"Vryheidsdag" gevier moet word. 1
Mei: Werkersdag BAIE
lande gedenk op dié dag—wat Meidag genoem word—die bydrae van
werkers tot die gemeenskap. Amerika het egter nie só ’n vakansiedag
nie, omdat dit in wese ’n Kommunistiese oorsprong het. Tog bestaan
Meidag, as ’n fees vir kinders om die herverskyning van blomme in die
(Europese) lente te vier, reeds eeue lank in Europa. Hierdie
Meidag-feesvierings spruit waarskynlik uit godsdienstige gebruike ter
ere van Flora, die Romeinse godin van blomme. Maar in die
gewese Sowjet-Unie, die destydse groot vesting van die Kommunisme, en
ander Kommunistiese lande was dit die belangrike dag van die
Meidagparade met pantservoertuie, vuurpyle en soldate wat die nasie se
leiers salueer. Elders was dit
ook tradisioneel ’n dag van betogings vir beter lone en
werkstoestande. Vanweê die rol wat vakbonde in die Suid-Afrikaanse
vryheidstryd gespeel het—en stellig omdat die Suid-Afrikaanse
Kommunistiese Party ’n koalisievennoot in die ANC-regering is—is nie
verbasend dat ons regeerders 1 Mei as Werkersdag gekies het nie. 16
Junie: Jeugdag HIERDIE
dag het sy oorsprong by die opstande van skoliere in Junie 1976 in
Soweto, nadat gelas is dat Afrikaans deels as onderrigtaal in die skole
ingestel moes word, wat tot maande van gewelddadige verset regoor die
land gelei het. Jeugdag is as ’n openbare vakansiedag ingestel ter ere
van al die jong mense wat hul lewens in die stryd teen apartheid en
Bantoe-onderwys verloor het. Weens
die regering se tuislandbeleid is geen nuwe hoër skole tussen 1962 en
1971 in Soweto gebou nie. Daar is gemeen dat die skoliere na hul
onderskeie tuislande moes terugkeer waar nuwe skole vir hulle gebou is.
In 1972 moes die regering egter swig en is veertig nuwe skole in Soweto
gebou. Tussen 1972 en 1976 het die getal skoliere in sekondêre skole
van 12.656 tot 34.656
toegeneem. Een uit elke vyf Soweto-kinders het die sekondêre skool
bygewoon. Maar
in 1975 het Suid-Afrika ’n tydperk van ekonomiese depressie betree.
Skole kon nie meer al die nodige geld ontvang nie. Op die koop toe het
regering R644 per jaar aan die onderwys van ’n blanke kind bestee,
maar slegs R42 aan die onderwys van ’n swart kind. Toe Bantoe-onderwys beveel dat Afrikaans—wat as die "taal van die onderdrukker" beskou is—as een van die onderrigmediums op skool ingestel word, was die toestand reeds plofbaar. Van die onderwysers kon nie eens Afrikaans praat nie. Op 16 Junie het skoliere op verskillende plekke regdeur Soweto bymekaargekom met die doel om by die Orlando-Wes- sekondêre skool te vergader. Die Buro vir Staatsveiligheid, wat in beheer van binnelandse veiligheid was, is onverhoeds betrap. Die polisie is ontbied om die marsjeerders te keer. Hulle
het die jong skare beveel om uiteen te gaan en, toe hulle weier, is
polisiehonde losgelaat en traangas afgevuur. Joernaliste het later berig
dat hulle gesien het hoe ’n polisieman sonder waarskuwing met sy
rewolwer op die skare skiet. Ander polisiemanne het ook begin skiet. Die
skoliere het simbole van apartheid, soos regeringsgeboue en munisipale
biersale, asook die voertuie van blanke ondernemings aan die brand begin
steek. Voertuie vir die bestryding van onluste het opgedaag en leërhelikopters
het traangas op groepe skoliere afgegooi. Die gevegte tussen skoliere en die polisie het tot in die nag voortgeduur. Toe
die dag op 17 Junie breek, sou tonele van uitgebrande motors en
vragmotors wat die paaie versper en afgebrande drankwinkels, biersale en
gemeenskapsentrums die waarnemers begroet. Nog erger: mense het in die
strate doodgelê. Die amptelike dodesyfer was 23—ander het dit so hoog
as 200 gestel. Baie honderde mense is beseer. Maar
die skoliere het weer die strate binnegestroom. Ouers, wat nie betrokke
was nie, het van die werk af weggebly om oor hul gesinne te waak. Teen
die einde van die derde dag van die onluste het die minister van
Batoe-onderwys alle skole in Soweto gesluit. Die
opstande het spoedig van Soweto af na ander dorpe aan die Rand, na
Pretoria, Durban en Kaapstad versprei en tot die grootste uitbraak van
geweld ontwikkel wat Suid-Afrika nog beleef het.
Kleurling- en Indiërskoliere het hulle by die jong swart rebelle
geskaar. En, anders as met die opstand van 1952 en Sharpeville in 1961,
kon die polisie die opstandelinge nie beteuel nie, nie eens met geweld
nie. Sodra hulle in een gebied in bedwang gebring is, het onluste bloot
in ’n ander gebied uitgebars. Dit het die res van 1976 só
voortgeduur. ’n Nuwe geslag het hul stem teen apartheid laat hoor, vasberade dat daar na hulle geluister moes word. Daarom
het die nuwe
regeerders van Suid-Afrika in die jare negentig gevoel dat nodig is om
die kinders van die vryheidstryd elke jaar op 16 Junie te gedenk. 9
Augustus: Nasionale Vrouedag SOWAT
20.000 vroue het op 9 Augustus 1956 na
die Uniegebou in Pretoria gemarsjeer om beswaar te maak teen die wet dat
alle swart vroue identiteitsdokumente ("passe") met hulle moes
saamdra. Hierdie dag word jaarliks in die nuwe Suid-Afrika gevier ter
herinnering aan die bydrae van vroue tot die gemeenskap en dit wat hulle
vir vroueregte vermag het. Daarmee word ook erkenning gegee aan die
moeilikhede en vooroordele waarmee baie vroue steeds te kampe het. 24
September: Erfenisdag MET
die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika het die kabinet besluit dat daar
’n dag (24 September) moes weet waarop Suid-Afrikaners, van watter
bevolkingsgroepe ook al, hul eie erfenis moes gedenk. Dit het beteken
dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan gekom het
nie. Elkeen moes op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis en
kultuurgeskiedenis in ere hou. Dit is toe Erfenisdag genoem. Oud-president
Mandela het self die woord "reënboognasie" bedink om
Suid-Afrika se uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse
en tale te beskryf. Erfenisdag moes ’n viering van daardie kleurryke
verskeidenheid wees. Dit is aan die
Department van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, as beskermer van
Suid-Afrika se kultuur, opgedra om jaarliks byeenkomste op ’n
nasionale vlak vir Erfenisdag te reël en te bestuur. Die eerste Erfenisdag was op 24 September 1995. Erfenisdag gaan
egter nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar
veelal ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen.
Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en landspatriotisme
moet dus benadruk word. Die doel is ook
om veral die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis
in ere te hou. Erfenis is al
omskryf as "dit wat ons geërf het: die somtotaal van die
natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige
belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur,
musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul
dokumentasie." As sodanig
staan dit ook nie los van die politieke verlede van ons land nie. Soos
oud-pres. Mandela op die tweede Erfenisdag in 1996 in ’n toespraak gesê
het: "As ons nasie inderdaad soos die spreekwoordelike feniks uit
die as van verdeling en konflik moet verrys, moet ons erkenning gee aan
diegene wie se onbaatsugtige werke en talente toegewy was aan hierdie
doelwit van ’n nie-rassige demokrasie." 16
Desember: Versoeningsdag 16
DESEMBER is tradisioneel deur Afrikaners eers as Dingaansdag en later as
Geloftedag gedenk, in navolging van die gelofte wat ’n groep
Voortrekkers aan God afgelê het voordat hulle op daardie dag in 1838
’n Zoeloemag in die Slag by Bloedrivier in die teenswoordige
KwaZulu-Natal verslaan het. Hulle sou naamlik, as hulle die oorwinning
sou behaal, daardie dag in ere hou soos ’n Sondag en dit aan hul
nasate opdra om dieselfde te doen. Geloftedag as vakansiedag was dus ononderhandelbaar
vir baie Afrikaners. ANC-aktiviste
het egter op hul beurt 16 Desember onthou as die dag in 1961 toe die ANC
sy soldate begin bewapen het om apartheid omver te werp. In die nuwe
Suid-Afrika is hierdie dag toe hernoem tot Versoeningsdag—’n dag
waarop die klem daarop moet val om die konflikte van die verlede te bowe
te kom en ’n nuwe nasie te bou. Kersdag
(25 Desember) DIE viering van Kersfees, wat in ons tyd so geweldig gekommersialiseer is en waarin die jolige Kersvader eintlik die hele bedoeling van die godsdienstige fees kan verongeluk, kom van ver af. Dit word tradisioneel gevier om die geboorte van Jesus Christus in Betlehem te gedenk soos dit in die Evangelies van Matthéüs en Lukas opgeteken is.
Aangesien
geen datums egter in die Evangelies vermeld word nie, weet ons nie
verseker op watter dag Jesus wel gebore is nie. Trouens, Kersdag het nie
amptelik bestaan tot omstreeks 350 n.C. nie, toe pous Julius I verklaar
het dat 25 Desember die geboortedag van Christus is. Sodoende het hy die
vroeë Christelike beleid nagevolg om bestaande en gevestigde heidense
gebruike eerder te absorbeer as te onderdruk, soos die viering van die
winter-sonnestilstand en die koms van die lente. In
’n land soos Suid-Afrika, waar 79,77%
persent van die bevolking
volgens die senus van 2001 tot Christelike kerke behoort, is dit eintlik
vanselfsprekend dat Kersdag as feesdag sal bestaan—al word dit lank
nie altyd deur almal eerbiedig soos dit moet nie. Welwillendheidsdag
(26 Desember) HIERDIE
dag het vroeër as Tweede Kersdag en, in Engels, Boxing Day
bekend gestaan, letterlik vanweë ’n ou Engelandse gebruik waarvolgens
werknemers Christmas boxes of geskenke aan hul werkers gegee het.
Onder sy nuwe naam beklemtoon dit vandag die toegeneentheid en liefde
wat in die Kersboodskap vervat is—iets wat so nodig is onder alle
mense en bevolkingsgroepe in ons jong demokrasie. |
|||||||