|
Die
vlae van Suid-Afrika
|
||
|
IE
nasionale vlag van
die "nuwe" Suid-Afrika (BO) is op 27 April 1994 vir die
eerste keer gehys. Dit is deur die staatsheraldikus F.
Brownell ontwerp—’n waardige maar kleurryke samevoeging van
verskillende bane wat inderdaad reg laat geskied aan die
"Reënboognasie", soos die Suid-Afrikaanse samelewing met sy
groot verskeidenheid van bevolkingsgroepe al dikwels genoem is. Om
te keer dat daar verskillende weergawes van die vlag kan ontwikkel, word
die proporsies van die bane en die kleure baie noukeurig in Bylae 1 van
ons Grondwet beskryf. Die reghoekige vlag is een en ’n half maal langer as wat dit breed is. Die kleure van die verskillende bane is van links na regs swart, goud, groen en wit, met rissierooi regs bo en blou regs onder. Die groen baan—wat die vorm van 'n Y het wat na links op sy sy lê—is een vyfde van die wydte van die vlag. Die middellyne van die Y loop uit die boonste en onderste hoeke teenaan die vlagpaal en sluit in die middel van die vlag bymekaar aan. Hiervandaan loop die groen baan horisontaal na die middel van die wapperrand. Die
omgekantelde groen Y het bo en onder 'n wit soom, met 'n goue soom aan
die binnekant van die mik van die Y wat na die vlagpaal toe wys. Elke
soom is een vyftiende van die wydte van die vlag. Daar
is 'n swart driehoek in die mik van die Y by die vlagpaal.. Die horisontale baan bo is rissierooi, terwyl die horisontale baan onder blou is. Hierdie bane is elk een derde van die wydte van die vlag. Die vlag is deur Brownell ontwerp nadat geen bevredigende ontwerp ontvang is toe die publiek gevra is om voorstelle vir ’n nuwe vlag in te stuur nie. Maar wat moet ons dan in die ontwerp en kleure van ons landsvlag lees? Is daar enige simboliek in die kleure en hoe hulle op die vlag gekombineer is? Blykbaar nie. Trouens, daar is ook al gevra dat ons dit nie moet probeer doen nie, suiwer omdat verskillende mense verskillende betekenisse aan verskillende kleure heg. In die omgekantelde Y van die ontwerp sal mense egter wel ’n ooreenkoms wil vind met strome waarin die uiteenlopende elemente van die Suid-Afrikaanse bevolking tot een nasie saamvloei. Die
vlag as nasionale simbool moet te alle eerbiedig word, net soos ons
veronderstel is om met ons landswapen en volkslied te doen. Die
ou Suid-Afrikaanse vlag
Suid-Afrika
het voor sy eenwording of unifikasie uit vier Britse gebiede bestaan, te
wete die Kaapkolonie en die kolonie Natal (wat altwee lankal Britse
gebiede was) en die Oranje-Vrystaat en Transvaal (wat albei in die
Anglo-Boereoorlog deur Brittanje verower is). In
1910 het hierdie vier gebiede saamgekom—onder die Britse vlag, die
sogenaamde "Union Jack"—om die Unie van Suid-Afrika te
vorm. En waar daar enersyds ’n sterk gevoel by Afrikaansprekendes was
dat die nuwe land sy eie vlag moes hê, was daar aan die ander kant die
Engelssprekendes wat die bestaande simbool van onderhorigheid aan
Brittanje tot elke prys wou behou. In
1925 is Afrikaans wel sonder struikelblokke deur die Suid-Afrikaanse
parlement as amptelike landstaal naas Engels goedgekeur, maar met die
vlagwetsontwerp wat dieselfde jaar ingedien is, het dit minder voor die
wind gegaan as met die taalwet. Die
stryd rondom die Suid-Afrikaanse Nasionaliteits- en Vlagwetsontwerp het
by tye hoog opgelaai. Eers drie jaar later, in Mei 1928, het die
Unievlag amptelik vir die eerste keer bo die Parlementsgebou in die Kaap
gewapper. Drie
jaar lank het parlementêre kommissies en organisasies buite die
politiek gesoek na 'n vlag wat altwee partye sou bevredig. Die een
ontwerp ná die ander is verwerp. Uiteindelik is 'n vergelyk getref en
het die parlement die Unievlag eenparig goedgekeur. Hierdie
vlag het bestaan uit: 1)
drie horisontale bane van oranje, wit en blou—die
"oranje-blanje-blou"-vlag waarmee Jan van Riebeeck na die Kaap
gekom het. En op die wit baan was ’n samegroepering van drie klein
vlaggies, naamlik: Die
wet wat hierdie vlag tot nasionale vlag verklaar het, het voorts bepaal
dat die Union Jack saam met die nasionale vlag op die Parlementsgebou en
vernaamste regeringsgeboue, aan die Suid-Afrikaanse hawens en op die
regeringskantore in die buiteland sou wapper, asook op ander plekke in
Suid-Afrika wat deur die regering vasgestel sou kon word. Oral waar die
twee vlae saam gehys is, moes dit op afsonderlike pale geskied, van
gelyke lengte en só geplaas dat die een nie bo die ander uitsteek of in
'n gunstiger posisie wapper nie. Eers
is 1957 is die gebruik van Suid-Afrika se "twee vlae" beëindig
en het die nasionale vlag die land se enigste vlag geword. Met
Republiekwording op 31 Mei 1961 is hierdie vlag onveranderd behou—en
dit is eers in 1994 finaal gestryk toe gevoel is dat die histories
benadeeldes van die apartheidsera nooit daarby aanklank sou vind nie.
Die vlag met sy historiese bagasie het immers glad nie die hele
Suid-Afrikaanse samelewing verteenwoordig nie. Die
vlae van die ou Boererepublieke enersyds en die Union Jack andersyds
(almal deel van die ou Suid-Afrikaanse vlag) het elk reeds ’n eie
ontwikkelingsgeskiedenis gehad wat ten beste deur middel van die
volgende twee diagramme verduidelik kan word: Die
herkoms van die vlae van die Boererepublieke:
Die
herkoms van die Union Jack:
Al
die bane en vlaggies op die ou Suid-Afrikaanse vlag was dus bloot ’n
weerspieëling van die verlede van die Europese komponente van die
Suid-Afrikaanse samelewing en het geen elemente hoegenaamd van ’n
Afrika-erfenis bevat nie. As sodanig was die ou vlag dus vir die groot
swart meerderheid niks meer as die skreiende getuienis van hul eeue van
onreg nie. As ons dit só
beskou, moet ons begrip daarvoor hê dat die land ’n nuwe vlag moes
kry. |
||