Die voëls van
Suidelike Afrika
 

Knysnaloerie

’n Knysnaloerie in ’n idilliese omgewing...

Bokant alle hange

is rus,

loerie se gesange

vaak gesus,

net soos die wind

wat loom sy lê in kriebos kry;

wag net, ook jy

sal gou rus vind!

 

Verafrikanisering deur Dugeot van die Duitse digter Goethe se "Über allen Gipfeln"  

A

LTYD gedog ’n voël moet noodwendig onnoseler as ’n hond wees omdat sy kop soveel kleiner is? Dink weer. Gerekende voëlkenners weet mos deesdae ’n revolusionêre nuwigheid te verkondig—dit is dat die breine van voëls net so kompleks, soepel en vindingryk as enige soogdier se brein is.

En baie eienaars van bekkige kraaie en pratende papegaaie sal nou seker wil sê: "Dis geen nuus vir ons nie. Ons kon julle hoeka al dieselfde ding vertel het!"

Hoe ook al, terwyl daar internasionale voël-eksperte is wat reken voëls kan op hul eie manier selfs ewe vernuftig as sjimpansees wees, sal min mense stry dat die gevleueldes en geveerdes van die interessantste skepsels op ons planeet is. Wat sou ons ou wêreld dan gewees het sonder die getjirp van die mossies, die sierlike vlugte van die duiwe, die kwakende rinkinkers in die eendedam, die moddervet swaelnessies op ons agterstoep?

Ons is boonop baie gelukkig dat ons in Suidelike Afrika so ’n groot aviatiese variasie het. Sowat  850 voëlspesies is al hier opgeteken, wat ons vlaktes, berge, klowe en boswêrelde vul met hul groot verskeidenheid van veredosse en die rykste repertoires van gesange of gesketter.

Sommige van hierdie voëlsoorte is eie aan Suidelike Afrika en word nêrens elders ter wêreld aangetref nie. Dink maar aan die langsnawel-suikerbekkies, wat so goed toegerus is vir hul bestaan by die protea-plant. Of aan die nuuskierige bergkatlagter, die ontwykende grondhoutkapper (wat in g’n hout of bome belang stel nie) en die opdringerige witgatspreeu van ons velde en bosse.

Om nie te praat van die bloukraan, ons elegante nasionale voël, met sy knopkieriekop en lang, biesierige bene nie. Hy kom ook slegs in Suidelike Afrika in die vrye natuur voor.

Ander spesies is weer min of meer beperk tot die vasteland van Afrika. Voorbeelde is sulke tipiese Afrika-voëls soos die enigmatiese volstruis, die omgesukkelde sekretarisvoël (die voël op ons landswapen), die feitlik stertlose berghaan, die bosluisvoël, die twee soorte tarentale, die muisvoël en die pragtige loeries.

Daarteenoor kry ons in Suidelike Afrika die wêreldburgers wat ook in baie ander lande tuis is. Onder hierdie voëls is die nonnetjieuil, die Arktiese steenloper en die Europese swaeltjie. Dié soort swaeltjie en steenloper broei in Europa en Asië, maar vlieg in die noordelike winter na Afrika waar daar vir seker baie meer warmte op hulle wag!

Nog ’n bekende voël in hierdie groep is die wit sprinkaanvoël. ’n Ander een is die bergswael, wat nie net in Europa broei nie, maar ook hier plaaslik.  

Swaels van Europa

BO: As die swaels terugkeer na Europa, is ons winter ophande... Ten tyde van die uitreiking van ons CD-ROM  kon nie met volstrekte sekerheid vasgestel word aan watter spesifieke Europese swaelspesie(s) hierdie voëls behoort nie, maar die kleurryke prentjie gee ’n duidelike beeld van die gevurkte stert, wat so kenmerkend van die swaels is.

Illustrasie: Detail van ’n tekening in NAUMANN, NATURGESCHICHTE DER VÖGEL MITTELEUROPAS: Band IV, Tafel 23 - Gera, 1901. Kopiereg sou volgens verskaffer vanweë verjaring verval het.

In vergelyking met ander dele van die wêreld het Suidelike Afrika boonop ’n besondere groot verskeidenheid van byvoorbeeld lewerik-, tinktinkie- en laksman-spesies. 

Nou is daar natuurlik ook die tragiese teenpool van hele voëlpopulasies wat weens die menslike toedoen of ander faktore verdwyn en van uitheemse indingervoëls wat hul eie skadelike rol in die ekologie speel, maar laat ons vir ’n slag net op die mooi en die positiewe konsentreer.

MAAR wat maak ’n voël in der waarheid ’n voël? In die eerste plek is dit natuurlik sy kenmerkende vere, maar dan ook sy merkwaardige vermoë om te kan vlieg (buiten nou sulke afwykende soorte soos die volstruis en die pikkewyn).

En nou is daar drie aspekte van voëlvlug wat verdien om van nader bekyk te word en dit is snelheid, stilhang en sweef.

Snelhede in die omgewing van 100 km/h in gelykvlug is nie ongewoon by sekere voëls nie—soos by die windswael, die albatros en die groenkopeend—maar die meeste voëls vlieg teen sowat 30 tot 50 km/h. Daar is egter al aangeteken hoe ’n lammergeier in ’n duik nagenoeg 290 km/h behaal het, en vergelykbare snelhede word stellig ook deur ander voëls soos sekere valke bereik.

Die werklike hangvoël in die voëlwêreld is die "hummingbird", wat nie in Afrika voorkom nie, hoewel ons eie bont visvanger, blouvalkie en rooivalk almal gemaklik in die lug kan hang. Baas-stilhangers het ons egter nie in Suidelike Afrika nie.

Om te vergoed het ons wel baie swewers. Onder die breëvlerk-spesies, wat van warm lugstrome afhanklik is, tel verskeie aasvoëlsoorte en arende, veral die berghaan. Ooievaars en pelikane laat hulle beslis ook nie onbetuig as dit by sweef kom nie.

Aan die kuste van ons wêrelddeel is langvlerk-voëls wat die stygende lugstrome benut  wat deur golfaksie en wisselende windsnelhede veroorsaak word. Die sierlike albatros is hier die bobaas-swewer. Party van die stormvoëls en pylstormvoëls is egter byna ewe bedrewe in die sweefkuns. Self die meeue is heel behendige swewers.

IS enige van ons groot menigte voëls ekonomies van enige waarde? Die meeste is nie, ten minste nie regstreeks nie, en party is selfs erg lastige plae.

Van die jan-van-gent, sekere seerawe en die pikkewyne kan wel ghwano geoes word, wat ’n baie nuttige bemestingstof is. Die witsprinkaanvoël en die sprinkaanvoël vreet sprinkane, wat boere baie skade kan berokken. En die nonnetjiesuil en die blouvalkie vang weer die vernielsugtige rotte en muise.

Maar die vink is ’n regte pes in graanlande en die rooivlerkspreeu en party tiptolle kan vrugteboere se groot nagmerries word.

Die menigte insektevreters onder die voëls is wel almal groot vriende van die mens, maar dit is nie so maklik om presies vas te stel hoe ons ekonomies of andersins by hul spesifieke kosvoorkeure baat nie.

Party van die wewervoëls en rooivinke doen geringe skade aan graanlande, maar vergoed deur hul kleintjies met insekte te voer. Die pragtige klein suikerbekkies speel weer ’n rol in die bestuiwing van sekere blomme.

Ons kan voëls egter nie rigied in "skadelike" en "nuttige" klasse indeel nie, want alte dikwels het dit al geblyk dat selfs die "deugniete" ’n uiters belangrike rol in die ekologie en die natuurlike ewewig kan speel. So het Suidelike Afrika se arende-bevolking al dramaties verklein—net om ’n bevolkingsontploffing onder die dassies tot gevolg te hê, wat ons weidings verwoes het.

EEN van die fassinerendste hebbelikhede by sekere voëls is hul ingebore treklus—hul gereelde migrasies met die wisseling van die seisoene tussen hier en anderland. Ons het reeds vertel hoe party van die voëls wat in Europa en Asië broei, na ons wêrelddeel koers kies nadat hul broeityd verby is.

Trekvoëls wat Afrika nie verlaat nie, is miskien nie so goed bekend nie, maar daar is baie van hulle. Onder hulle tel die meeste van ons swaels en windswaels, asook die piet-my-vrou. Baie van ons eende vlieg eweneens na ons buurlande in die noorde. Seevoëls migreer ook en reuse-stormvoëls wat in Antarktika gering is, is later in Suid-Afrikaanse kuswaters aangetref.

En dan kry Afrika se voëls ook nie altyd die nodige erkenning vir hul musiek nie. Baie mense dink dalk dat ons veervolk glad nie so mooi kan sing soos die Europese geveerdes nie. Wie sê? Luister maar ’n slag na die musikale rooiborsie, breëstertgrasvoël, dassievoël of een van ’n aantal ander om te besef dat die Europese nagtegaal ter plaatse ernstige mededingers het. Soos ’n voëlkenner op ’n keer geskryf het: "Ons het in Suid-Afrika ore om te hoor nodig, en nie voëls om te sing nie."

Soveel mooi, interessante en snaakse dinge kan van ons voëllewe vertel word, dat ’n mens nie reg weet wat om te noem en wat om uit te laat in ’n beperkte vertelling soos dié nie. Geen verslag oor ons voëls sal nietemin volledig wees sonder om na die hamerkop te verwys nie. In die tradisionele Afrika-kulture is geglo dat die hamerkop oor bonatuurlike magte beskik. Sy groot stoknes is gewoonlik naby water.

Die wewer bou ook ’n groot nes—wat soos die dak van ’n tradisionele hut lyk. Eintlik maak baie werwerpare hulle saam daar tuis, elk in hul eie nessie. Soms lê dwergpapegaaie of  ’n slang egter beslag op ’n sekere nessie en dan moet die onteiende wewerpaar maar die wyk neem. Die buffelwewer bou ’n soortgelyke nes, maar dit is net kleiner.

’n Koddige kalant is ons horingbekvoël met die eienaardige broeigewoontes. Die broeiende wyfie word naamlik in die nes toegemessel en deur haar maat van buite af gevoed, by party spesies selfs totdat die kleintjies gereed is om te vlieg.

Suidelike Afrika het heelparty parasitiese voëls wat nie self hul kleintjies grootmaak nie maar die taak ewe vrypostig en gemaklik op ander voëls afskuif. Sulke "kansvatters" word onder sekere wewervoëls, koekoeke en heuningvoëltjies aangetref.

Aan die ander kant van die spektrum is daar voëls soos die helmlaksman, waar die hele swerm die ouers help om die kleintjies groot te maak.

Nou ja, wie sê nog voëls is oninteressant? Gaan vertel dit vir die voëls, soos die Engelse sê!


Die huismossie... NIE ’n Suid-Afrikaanse voël nie!

Huismossie

Alles wat blink, is nie goud nie... en alle voëls wat ons om ons sien rondvlieg, is ook nie inheems aan Suid-Afrika nie. Só is die huismossie of Europese mossie (Passer domesticus) (illustrasie BO) ’n immigrant wat vinnig versprei het met die gevolglike verdringing van ons eie Kaapse mossie (Passer melanurus). Die indringer is eintlik die Asiatiese soort van die Europese spesie, en van dié voëls is die eerste keer in Durban losgelaat. Voëlkenners sê egter daar bestaan werklik geen rede waarom voëls van ander lande na Suid-Afrika gebring moet word nie, aangesien ons eie voëlbevolking van die mooiste ter wêreld is.

Illustrasie: Detail van ’n tekening in NAUMANN, NATURGESCHICHTE DER VÖGEL MITTELEUROPAS: Band III, Tafel 42 - Gera, 1900. Kopiereg sou volgens verskaffer vanweë verjaring verval het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad