SednaDie rooi raaiselwêreldjie in die koue buitewyke van ons sonnestelsel
|
||||
|
Wat
meer sê, dit is die grootste homp materie in ons familie van planete
wat ontdek is sedert die planeet Pluto in 1930 opgespoor is.
Die mini-planeet, of wat ’n mens hom
ook al noem, is na raming slegs sowat 1.770 kilometer in deursnee. Dit
maak hom kleiner as die dwergplaneet Pluto (sowat 2.274 kilometer breed),
wat ’n ook tyd gelede juis in die nuus was omdat sekere geleerdes hom sy
status as volwaardige planeet wil ontneem. Hulle reken naamlik Pluto is
heeltemal te klein om saam met die ander planete gereken te word—wat
nog te sê ’n klein japsnoetjie soos Sedna. Selfs
die aarde se maan (3.476 kilometer in deursnee) is groter as Pluto en
Sedna. In vergelyking daarmee is die aarde se grootste deursnee ’n
yslike 12.756 kilometer
(kyk vergelykende groottes HIERONDER).
Maar wat Sedna ook nuuswaardig maak, is dat hy met ’n oppervlaktemperatuur van —240 grade Celsius die koudste bekende plek in die sonnestelsel is. Wetenskaplikes weet nog nie wat sy samestelling is nie, maar raai hy moet omtrent uit eweveel gesteentes as ys bestaan, soos ander verafgeleë liggame in ons son se familiekring. Dit is ook ’n ope vraag hoekom Sedna so rooi vertoon (slegs Mars is rooier). Voorts is eers gedink dat Sedna moontlik sy eie mini-maantjie kan hê wat om hom wentel, net soos die maan van Pluto. Sedna beweeg naamlik bitter stadig om sy eie as—een omwenteling in minstens twintig aardse dae—en daar is gereken dat dit ’n maantjie kan wees wat sy rotasiesnelheid so vertraag. Maar volgens nadere inligting wat deur middel van die Hubble-ruimteteleskoop ingewin is, is daar geen maan in sig nie. Waarom Sedna stadiger roteer as die meeste ander mini-planeetjies, of asteroïdes, bly dus ’n ander raaisel. Sedna is deur ’n span van die Kaliforniese Tegnologiese Instituut by die Mount Palomar-sterrewag naby San Diego ontdek. Dit is hulle wat hom sy naam gegee het. Maar die sterrekundiges se beheerliggaam, die Internasionale Astronomiese Unie, het die laaste sê in die saak gehad en kon hom maklik ’n ander naam uit die Griekse of Romeinse mitologie gegee het wat meer by dié van ander ruimtelike liggame pas. Tog het die Unie ingestem dat die naam Sedna behou word en dit is vanaf 28 September 2004 van krag. |
||||