BO: Verskillende sones
in die see.
In die boonste laag (die epipelagiese sone) word die meeste
lewensvorms aangetref en gaan dit dan dit ook die
bedrywigste daaraan toe. Dit is die laag waar fotosintese
plaasvind as gevolg van die baie sonlig wat dit ontvang, en
gevolglik kan die plantelewe floreer, wat op sy beurt die
dierelewe voed. Die mesopelagiese sone daar onder is bedags in skemerte
gehul, en baie seediere kruip dan ook in dié tyd daar weg.
Die “ewige nag” breek aan in die batipelagiese sone, waar
die waterdruk reeds so geweldig is—byna honderd keer meer as
by die oppervlak—dat die wesens daar spesiaal toegerus
is om dit te kan verduur. In die abissopelagiese sone, en
plek-plek die trôe in die seebodem, is die druk des te
groter. Trouens, in die hadalpelagiese sone
kan dit tot ’n verbysterende 1100 standaard-atmosfere styg.
’n Mens wil nie eens dink wat met die liggaam sal gebeur van
enige lewende wese van die land wat op die bodem van
die diepste kelder van die see beland nie.
DIE see
word in verskillende sones ingedeel, maar verskillende navorsers
doen dit ietwat verskillend. Breedweg word nietemin onderskei tussen die bentoniese gedeelte (seebodem) en
die pelagiese gedeelte (al die water bokant die seebodem).
Die bentoniese
gedeelte word weer onderverdeel in die litorale sone (tussen die
twee getye) en die seebodem heel pad ondertoe teen die
vastelandsplat en vastelandshelling af tot op die diepseebodem
of abissale vlakte.
Die pelagiese gedeelte
bestaan uit verskillende diepte-lae, te wete die epipelagiese sone,
mesopelagiese sone, batipelagiese sone en abissopelagiese sone. Waar
daar diep trôe in die seebodem voorkom, is die heel diepste streek,
die hadalpelagiese sone. Dit is die ware “onderwęreld” van die see.
Die hoeveelheid lig
wat deur die seewater dring, is deurslaggewend in soverre dit die
soorte, verskeidenheid en veelheid van lewensvorms in ’n bepaalde
sone aangaan.
Waar daar sonlig is, kan
fotosintese plaasvind—die proses waardeur plante sonlig gebruik
om kos uit koolstofdioksied en water te vervaardig. Alle dierelewe
is uiteindelik afhanklik van plante, en hoe dieper ’n mens in die
see afdaal, hoe minder raak die plante en hoe skaarser word die diere.
Daar is egter sekere uitsonderings op die reël dat voedselkettings op fotosintese
gegrond moet wees. Wetenskaplikes het reeds verskillende organismes ontdek wat om kraterpype
baie diep onder in die see woon. Pleks van die energie van die son
te benut, floreer hulle in die verskriklike hitte en swawelagtige
chemikalieë van die vulkane en is hulle van die vulkaniese energie
en chemikalieë afhanklik om te oorlewe.
BO:
Buiswurms by ’n hidrotermiese uitlaat op die seebodem kilometers
onder die seeoppervlak, in die Galapagos-skeur in die see by
Ecuador. Hierdie kreature het blykbaar nie sonlig nodig om te
oorlewe nie. Pleks daarvan floreer hulle in ’n diep en
stikdonker węreld onder die geweldige waterdruk, in die nabyheid
van superverhitte water van ’n ongehoorde 350 grade C.
Foto’: NASA / JPL /
PLANET QUEST, the search for another Earth
Die beskikbaarheid van
mineraalsoute, veral nitrate en fosfate, speel ook ’n belangrike rol
in die groei van seeplante. Opwellende strome dra minerale van die
seebedding na die oppervlak. Daar is byvoorbeeld ’n groot
verskeidenheid plante en diere in die koue Benguela-stroom.
Namate die see dieper
word, styg die waterdruk. Verskeie seediere lewe streng in hul
onderskeie dieptes en kan nie baie ver daaruit beweeg nie.
Die
hadalpelagiese sone—diep, diep onder—is byvoorbeeld ’n vreeslike
węreld waar die druk tot meer as 1100 standaard-atmosfere kan styg.
As ’n vis uit die vlak
water na die donker dieptes geneem sou word, sou sy liggaam weens
die geweldige drukking inmekaargepers word. Diere van die
abissale sone en hadalpelagiese sone sal weer nie naby die oppervlak kan oorleef nie. Visse
wat skielik deur vissers uit die water gepluk word, vrek dikwels
weens die uitsetting van die gas in hul swemblase.
DIE soorte lewensvorms
wat in bepaalde gebiede voorkom, hang ook grootliks van die
heersende temperatuur af. In die Suidelike Yssee is daar byvoorbeeld
uiterste temperatuurverskille, wat grense vorm met uiteenlopende
plant- en diersoorte aan weerskante daarvan.
Die beweging van die
water speel ’n baie belangrike rol in die verspreiding van die
seelewe. Verskeie faktore laat die water beweeg: seestrome, getye,
winde op die oppervlak van die see, die draaiing van die aarde om sy
as en die vorm van die landmassas en die seebodem. Maar dan het
die mens ook nog baie om te leer van die groot ekologiese sisteme
van die breë waters.
Só is die hele
fantastiese see ons buurwęreld waarvan ons eintlik glad nie soveel
weet as wat ons moet nie. Die mens is van die see afhanklik, maar hy
is ook besig om dit stelselmatig met sy besoedeling te versmoor.
Deesdae word
fabrieksafval wat te gevaarlik is om in riviere of vlak water af te
laai in die oseane gestort. Dit kan selfs dodelike chemikalieë insluit. ’n Groter bewustheid van die oseane is
nodig as ons hierdie planeet met minder letsels vir die nageslag wil
bewaar.