See—die magtige beeldhouer
Golwe
knak teen die rotse of sprei hul skuim oor die strande. Dag en nag,
eeu ná eeu, millennium ná millennium knaag die see aan die kus.
Kordate kranse word naderhand tot nederige hellings vergruis. Plate
seesand word meegevoer om elders groot sandbanke te vorm. Lees hier
van die fassinerende maniere waarop die oseane beeldhou en weer
breek...
Fotokompilasie deur Mieliestronk.com
IS ’n grenslose geworstel, dié tussen die see en die kuslyn. Op die een plek oortree die see onbeskroomd op die land, en rye rotswande word tot fantastiese formasies verweer.
Elders neffens die kus gaar die see weer sy buit op. Dit is lang sandbanke of plate spoelgruis—saamgespoelde verhewenhede op sy bodem.
REGS: See en rots... dis ’n onophoudelike proses van vorming en vervorming...
Foto deur Earth Network Editor, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)
Die wind, die branders, die getye en die strome, alles sweer saam om te verbrysel of onherroeplik te vervorm. Gaandeweg word ’n kordate krans dan ook tot ’n nederige helling weggekalwe, en die ouderdom van ’n kuslyn kan werklik bepaal word deur die mate waarin dit met verloop van tyd gelyk gestryk is.
Selfs die mees weerbarstige rots is nie bestand teen die eons se aanslae van die branders nie.
By die meeste kuslyne is daar etlike tekens van erosie en afsettings, wat elk die invloed van verskeie faktore demonstreer.
Die ewig rustelose branders wat die sterkste klipmassas kan laat
verkrummel WAT vind plaas waar die branders ’n kuslyn só bly skep en herskep?
Wanneer ’n golf die vlak water bereik, word sy onderkant deur wrywing met die bodem vertraag, terwyl sy kruin met sy oorspronklike snelheid voortsnel en hy gevolglik as ’n brander breek.
Die druk in só ’n brekende brander kan tien tot twintig ton per vierkante meter wees. ’n Enkele storm kan tot ’n meter of twee van sekere rotsmure wegvreet, en ’n storm kan ook tonne sand van ’n strand af meesleur.
Maar die vernaamste instrumente van see-erosie is die skuurwerk van tallose klippe, gruis en sand wat deur die branders op die strand of teen rotse geslinger word. Sagte rotse word sommer in ‘n ommesientjie weggebeitel.
In Maart 2007 is miljoene rande skade aan die KwaZulu-Natalse kus aangerig toe strande deur ’n buitengewoon onstuimige see verniel is. In sulke gevalle kan paaie verkrummel en geboue weens die aanslag van die water ineenstort.
’n Ander bekende geval van groot skade weens see-erosie was dié by Barmston aan Engeland se noordooskus, waar ’n groep strandhuise bo-op kranse gebou is. Geen dertig jaar later nie moes die huisies afgebreek word. Die kranse was so weggevreet dat ’n strandhuis—en die een muur van ’n ander—reeds oor die afgrond getuimel het.
Maar wat is al die gevolge van die erosie in die onstuimige wêreld waar land en see mekaar ontmoet? Dis ’n hele reeks van verskillende rotsformasies en ander verskynsels...
Die imposante strandkranse wat aanhoudend agteruitwyk en hoër word
STRANDKRANSE is geneig om te vorm waar ’n steil landoppervlak onderkant die watervlak inloop. Dit kan wees waar land onder die see ingesink of waar die seevlak gestyg het (vanweë periodieke dalings en deinings in die aardkors).
Die gedurige smelting van oeroue gletsers (langsaam bewegende ysmassas) in die koue streke, is volgens wetenskaplikes ook besig om die seevlak wêreldwyd te laat styg. Die meeste strandkranse is in geologiese terme dus nog betreklik jonk.
Branders begin hul aanslag op die landoppervlak deur ’n keep in die harde rotsbodem uit te kerf. Mettertyd word die rots so weggebrokkel dat ’n krans ontstaan wat ál groter word namate dit al hoe verder die binneland in verskuif.
Kranse by die see wissel egter baie in grootte, hoogte en steilheid. Baie word deur strande of sogenaamde erosiestoepe begrens, terwyl ander weer regaf in die water neerdaal.
Grotte, boë en naaldrotse... skouspelagtige ruïnes
GOLWE kalwe veral die betreklik swak plekke in rotse weg (die nate en die breuke), en met die geweldige drukking op die lug wat tussen die splete vasgevang word, word gate of grotte in die rotswande gevorm.
Dit gebeur baie dikwels dat die landoppervlak styg of die seevlak daal, waardeur strande aan die landkant begrens word deur kranse met grotte wat vroeër deur die see daarin geëts is.
Die dak van ’n grot kan soms instort en só ’n vertikale skoorsteen laat wat na die seegrot daaronder lei. Hierdie verskynsel staan bekend as ’n blaasgat, en dit kan ’n groot skouspel wees as die water wild daaruit spuit wanneer ’n golf die grot binnerol.
Wanneer ’n grot gevorm word aan die voet van ’n smal kaap (’n strook met ’n steil kranswand wat in die see uitloop) kan die branders naderhand dwarsdeur vreet om ’n natuurlike boogrots te vorm (kyk die foto van Bogenfels bo-aan hierdie bladsy). Oplaas kan die boog ook instort om ’n alleenstaande kolom, wat ’n naaldrots genoem word, in die see agter te laat.
En mettertyd word selfs die naaldrotse weggeslyt. Hulle vorm dan rotseilande.
Die strand... stille getuienis van ’n bitter vete
WANNEER die see oplaas die rotse aan die kus vergruis het en die krans self tot ’n skotige helling verrinneweer is, is ’n breë strand die getuienis van die groot vete wat eens daar gewoed het. Strande (wat uit neerslae van sand of spoelgruis bestaan) word deur die opwelling en terugtrekking van branders veroorsaak. Dis byna of die see aan die land teruggee wat hy van hom gesteel het.
Omdat verwering vinniger plaasvind in sagte as harde rots, kry ons inhamme of baaie by sagte stroke—en kape of stukke land wat spits in die see uitloop waar die rotslae hard is.
BO: ’n Breë strand—die serene
getuienis van ’n verbete stryd wat
Die verskuiwende sandmassas wat selfs tonge in die see kan vorm
WAAR seestrome nie sterk genoeg is om alle strandmateriaal mee te voer nie, versamel die materiaal ’n ent van die strand af net agter die branderlyn. Die gevolg is ’n sandbank, wat naderhand tot ’n sigbare wal ontwikkel, en wat ewewydig met die strand loop. Namate ’n nuwe strand teen hierdie wal vorm, word ’n lagune daaragter gevorm.
Lagunes kan natuurlik mettertyd opdroog, met die verplasing van die
hele kuslyn seewaarts. Dit is glad nie ongewoon dat nedersettings
aangelê word waar die branders eenmaal ru en ongebreidel geklots het
nie.
|
||