HAAI

 

Die gehate venyn van die see...

(maar verdien hy werklik sy reputasie as ’n verstandlose mensemoordenaar?) 

By Vishoek in die Kaap het ’n bejaarde vrou in November 2004 in die gevreesde kake van ’n witdoodhaai gesterf... en dié en ander haai-aanvalle in die Kaapse waters het baie mense opnuut laat wonder of mensvreterhaaie nie maar van die aangesig van die aarde af verdelg behoort te word nie. Maar bewaringsbewustes, wat bekommerd is oor die versteuring van die sensitiewe ewewig in die see, dink heeltemal anders oor die saak. Ons moet die seediere se gedrag leer verstaan, sê hulle, en weet hoe om uit die gevaarlikes se pad te bly... net soos ’n mens tog nie in die Bosveld goedsmoed tussen ’n trop leeus sal instap nie...

T

YNA WEBB (77) het gereeld in die see gaan swem by Vishoek in die Kaap, waar sy gewoon het. Tot daardie noodlottige dag in November 2004 toe sy voor geskokte toeskouers deur ’n groot witdoodhaai aangeval en gruwelik gedood is. Die lengte van die haai is op 5,5 meter geskat.

Net die vorige April het ’n sestienjarige branderplankryer in die Kaapse waters sy regterbeen weens ’n witdoodhaai-aanval verloor. En in Maart 2005 is ’n 32-jarige Britse toeris by Noordhoekstrand in die Kaap weer so erg deur vermoedelik ’n witdoodhaai toegetakel dat hy inderhaas per noodhelikopter na die hospitaal gebring moes word.

Dit lyk vir baie mense byna na ’n uitgemaakte saak dat die Kaapse strande berug gaan word vir hul haaie -- en selfs in dieselfde liga kan beland as Durban en sy naburige kusdorpe voordat haainette in 1967 daar aangebring is, 

Die kille vrees wat mense beetpak wanneer hulle van haaie hoor, setel in die oerinstinkte van die mens. Hoewel oneindig meer mense in motorongelukke en talle meer in vliegongelukke as in haaikake sterf, klim ons vreesloos in ons karre en vliegtuie, maar vlug in paniese angs uit die branders selfs as ons, sê, ’n drywende tamatiekissie vir ’n getande mensvreter aansien.

Nou kyk, sê die haaikenners, natuurlik moet ’n mens in jou pasoppens bly vir mensvreterhaaie. Maar ons kom darem ook al ’n lang pad sedert die jare vyftig toe Durban die reputasie van die gevaarlikste haaistrand ter wêreld gehad het. Gelukkig weet ons vandag soveel meer oor haaie en hul gedrag dat ons met hulle kan saamlewe sonder om hulle voor die voet te wil verdelg.

Witdoodhaaie langs die Suid-Afrikaanse kus word trouens deur wetgewing beskerm. Met ’n openbare bekendstellingsveldtog is ook al by geleentheid probeer om die publiek se siening van die witdoodhaai te verander -- om hom nie soseer as ’n ''mensvreter'' te beskou nie, maar liewer as ’n ''vriendelike  monster''.

Kenners weet die witdoodhaai is fisiek in staat om feitlik enige dier in die see dood te maak en te verslind. Maar wetenskaplikes het jare lank gedebatteer of hierdie volmaakte moordmasjien ook intelligent is. Navorsers vergelyk die brein van ’n volwasse witdoodhaai met dié van ’n manta-rog. Dis maar byna die helfte die grootte van ’n manta-rog s’n, omtrent so groot soos ’n klein langwerpige lemoentjie.

WitdoodhaaiREGS: Die witdoodhaai. Hy kom langs die hele Suid-Afrikaanse kus voor en swem tot in die vlak water. Hy het klein, swart ogies, ’n halfmaanvormige stert en groot, driehoekige saagrandtande. Hy kan tot tussen ses en sewe meter lank word.

Wetenskaplikes gis oor waarom witdoodhaaie mense aanval. Hul breine het ’n eenvoudige struktuur en is primêr ingestel op reuk en die waarneming van beweging; die sig is nie so goed ontwikkel nie. Die wetenskaplikes glo dat, aangesien witdoodhaaie nie tussen hul prooi kan onderskei nie, hulle eenvoudig nie in staat is om die verskil tussen ’n seeleeu en ’n branderplank te ken nie!

Seeleeus is ’n stapelkos van die witdoodhaai.

MAAR alle haaie is natuurlik nie witdoodhaaie nie, hoewel alle haaie behoort tot die een klas visse wat kraakbeen-geraamtes het (die Chondrichthyes). Die skelette van haaie bestaan uit kraakbeen en nie bene nie, wat sowel ligter as meer elasties is. As jy ’n haaiskelet in water kook, word dit jellieagtig.

Daar is haaie van allerhande groottes en temperamente, sover bekend sowat 380 soorte. Terwyl party spesies rats en aggressief is, is ander sku en traag, soos die "trapsuutjiese" wat op die seebodem woon en die see vir skulpvis en plankton deurkruis.

Hulle wissel in grootte van die dwerghondhaai wat in die palm van jou hand kan pas tot die 14 m lange walvishaai wat so groot soos ’n bus is -- hoogs uiteenlopende soorte wat in dosyne afsonderlike ekologiese plekke aangetref word. Die meeste haaie word egter in warm oseane gevind.

Haaie word as die super-roofdiere van die see beskou, met hul skerp tande wat so in parallelle rye in die bek sit. Hulle word ook gereeld as verstandelose moordmasjiene uitgebeeld, maar is in der waarheid hoogs gesofistikeerde jagters wat hul skerp sintuie gebruik om hul prooi te soek.

Enige van die haai se hoogs ingestelde sintuie kan hom na sy prooi toe lei. Wanneer hulle saam gebruik word, is die slagoffer se doppie feitlik verseker geklink. Benewens dieselfde vyf sintuie as dié van die mens, het haaie ook nog die unieke sintuie van meganoresepsie, of ''aanraking op ’n afstand'', en elektroresepsie, die vermoë om die swak kragveld waar te neem wat deur ander diere opgewek word en binne ’n meter of wat rondom hulle waarneembaar is.

Haaie se tande en kake is hul kragtigste wapens. Die vorm en doel van hul tande verskil, afhangende van hul voedselbron. En wat haaie verkies om aan te byt, wissel van die voorspelbare tot die bisarre. Een soort wat omtrent alles verslind wat voorkom, is die tierhaai. Skoene, wieldoppe, helms, beursies en selfs ammunisie is al in die pense van tierhaaie gevind.

DIE beskerming wat haainette aan baaiers en branderplankryers bied, is deur ’n opmerksame plaaslike visser ontdek. Hy het opgemerk dat groot haaie baie dikwels in sy nette gevang word, maar nie ander groterige visse nie. Die rede, só is gevind, is doodeenvoudig fisiologies  -- ’n haai moet gedurig vorentoe beweeg om sy kieue met suurstofryke water te bespoel en die bou van sy vinne laat hom nie toe om agteruit te swem nie. As ’n haai in ’n net vasgevang word en nie meer in die water kan beweeg nie, versmoor en vrek hy.

Omdat hulle moet aanhou beweeg, weet ons selfs nie of haaie ooit slaap nie! Anders as beenvisse het hulle nie lugblase wat hul dryfvermoë help beheer nie. Die meeste haaie sal sink as hulle ophou swem. Hulle kompenseer met groot olieryke lewers wat hul gewig in die water help laer hou.  

Tog word gesoek na alternatiewe vir haainette wat meer aanvaarbaar vir omgewingsbewustes kan wees. Haaie is byvoorbeeld baie gevoelig vir elektriese velde en  die moontlikheid is al ondersoek om haaie daarmee af te skrik. ’n Toestel is juis vir vryduikers ontwerp wat inderdaad haaie wegjaag.

ALLE haaie is ook nie wrede roofdiere nie. Trouens, van al die haaispesies is daar, sover ons weet, omtrent 27 wat mense aanval. Nog ’n dosyn het vermoedelik al mense aangeval en ’n ekstra 28 is potensieel gevaarlik weens hul grootte en gedrag.

En dan is daar die reuse wat sowaar so mak soos lammetjies is! Die enorme walvishaaie, die grootste vis in die oseane, is onskadelike kreature wat van plankton lewe. Een maal per jaar, met die broeityd van die koraaldiere, word walvishaaie en ander groot planktonvreters na die Ningaloo-rif aan Australië se weskus gelok. Miljoene eiers en sperma en enorme hoeveelhede proteïen word in die water vrygelaat, wat ’n reuse-oes van plankton tot gevolg het.

WalvishaaiLINKS: Die walvishaai... die grootste vis in die oseane, maar totaal onskadelik. 

Met ’n lengte van tot 14 m en ’n gewig van byna 10 metrieke ton, is hierdie sagmoedige reus van die dieptes ’n indrukwekkende gesig. '' ’n Mens kan eenvoudig nie glo hoe groot hy is nie,'' vertel ’n duiker. ''Dis soos om ’n bus met vinne en ’n stert onder die water teë te kom.''

Uitstekende filmopnames is al gemaak met nabyskote van ’n walvishaai wat vreet. Die oop bek sou twee volwasse mense kon hou. Tonne water word deur sy kieue gefiltreer om plankton en kril te aas -- die larwe-vorms van baie van die diere van die see.

HAAIE kom op een van drie verskillende maniere in die wêreld: uit goed beskermde eieromhulsels (baiemaal uniek gevormde leeragtige doppe) buitekant die ma; as kleintjies wat soos soogdiere gebore word; of deur ’n kombinasie van die bogenoemde -- binne-in die ma uitgebroei en dan gebore. By minstens een soort, die sandtierhaai, is die baba-haaitjies kannibalisties. Die eerste kleintjie wat in die uterus ontwikkel, vreet sy minder ontwikkelde boeties en sussies.

Zambezi-haaiREGS: Die Zambezi-haai... net een van baie soorte in Suid-Afrikaanse waters.

Hoewel daar baie soorte haaie is, word hul voortbestaan in die oseane bedreig. Hulle word wêreldwyd ál meer vir hul vleis gevang, asook vir hul vinne, wat in die Ooste as ’n groot lekkerny beskou word. Daar in Asië word sop byvoorbeeld van die sopvinhaai gemaak.

Elke jaar word ’n wesenlike aantal haaie van allerhande soorte per ongeluk doodgemaak, wanneer hulle in toerusting beland wat eintlik ontwerp is om ander visse te vang. En dan word haaivangery vir die pret ook nog ál gewilder.

Baie kweekplekke van haaie aan die kus is vernietig of is lank nie meer wat hulle was nie. Omdat daar weinig openbare steun is, is haaie dikwels maar bra laag op die lys van navorsings- en bestuursprogramme.

Maar hoekom is haaie belangrik? Alle groot roofdiere speel belangrike rolle in hul ekosisteme. Wetenskaplikes reken haaie is al van die vroegste tye ’n betekenisvolle deel van mariene voedselkettings. Hulle dun swak en gewonde diere uit en help om die bevolkings van kleiner seediere gesond te hou. As haaie uitgewis sou word, sou dit ’n beduidende uitwerking op die ingewikkelde web van lewe in die see hê.  

Loop net lig as jy jou byvoorbeeld in witdoodhaaiwater waag. Onthou haaie is teen skemer en snags op hul aktiefste. En, as jy ’n haai gewaar, moenie só aan die spartel gaan dat hy jou dalk vir ’n rob kan aansien nie. Dit kan noodlottig wees...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad