|
![]() |
Foto deur Per H. Olsen,
wat dit op
hierdie bladsy by
Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie.
Daarkragtens word hergebruik op sekere voorwaardes vergun.
|
D |
ROOMVERLORE
staan die bees in die veld en herkou, vingeralleen, só lyk dit, maar
eintlik glad nie so alleen nie.
Bosluise
boor vraatsugtig in sy vel in. Dorstige vlooie suip sy bloed. Dan kleef ’n
paar bloedsuiers ook nog boonop aan sy tong nadat hy flussies by die dam
gaan water suip het.
Maar
nog is het einde niet. In die dier se ingewande gly die lintwurms stadig
op en af agter sy kos aan. Sy spiere is met rondewurms besmet. En iets
het baie beslis oor hierdie beklaenswaardige bees se lewer geloop:
lewerslakke...
Al
hierdie klein ongediertetjies is parasiete. Dis die soort kreature wat
op ander diere teer tot nadeel van die gashere. Praat van hulle, en
almal dink hulle is volslae deugniete wat in luukse leef terwyl ander
moet ly.
Die
waarheid is dat parasiete hoogs gespesialiseerde organismes is wat
baiemaal ’n opdraande stryd moet voer om te oorleef
—juis omdat hulle in ’n omgewing leef wat ontwerp is om van
hulle ontslae te raak.
En
gewoonlik maak hulle ook nie die gasheer dood nie—dit sou mos hul eie
doodvonnis kan beteken.
Die
meeste parasiete is baie kleiner as hul gashere. Een uitsondering is die
berugte koekoek...
DIE KOEKOEKE vorm ’n groot en uiteenlopende familie wat op elke vasteland buiten Antartika aangetref word. En dit is al baie lank bekend dat verskillende soorte koekoekwyfies (maar nie almal nie) hul eiers in ander voëls se neste lê.
REGS:
Nie alle koekoeke is darem so astrant om ander voëls te gebruik
om hul broeiwerk vir hulle te doen nie. Hier is ’n paar
Noord-Amerikaanse soorte, wat nie
broei-parasiete is nie.
|
Die
wyfies van die “nesrowers” onder die koekoeke hou ander voëls dop
terwyl hulle neste bou. Sodra ’n geskikte nes klaar is en ’n
eienares haar eiers gelê het, wag die koekoek tot sy ’n rukkie
padgee, duik op die
nes
af, lig ’n eier op en laat dit buite val of sluk dit in.
Voordat
die mevrou van die nes terugkom, het die koekoek reeds haar eie eier
daar gedeponeer en weggevlieg. Af en toe ruik die ander voël lont en
los die hele broeisel net so, maar baie dikwels kan sy nie verskil
tussen die vreemde eier en haar eie eiers agterkom nie en broei sy die
hele kaboedel uit.
Die
koekoekkuiken maak gewoonlik sy verskyning voor die ander klein voëltjies—en
sal om skande by die skade te voeg ook nog die onuitgebroeide eiers uit
die nes gooi.
Daar is ’n aantal ander parasietvoëls, maar geen is so “slinks” soos die broei-parasitiese koekoeke nie, om nou maar ’n menslike term vir voëlgedrag te gebruik.
HIERDIE
gulsige, bloedsuiende parasiete het min bekendstelling nodig.
Bosluise,
wat eintlik aan spinnekoppe verwant is, het spesiale sintuiglike organe aan die punte van hul voorpote, wat ’n
verandering in vogtigheid kan waarneem en hulle kan help om ’n gasheer
op te spoor.
LINKS:
Die mannetjie van die bont bosluis. Hierdie soort bosluis versprei
hartwater onder vee.
Illustrasie: Afrikaanse Kinderensiklopedie.
REGS:
Nog ’n soort bosluis—
pas op, hy’s ewe bloedlustig!
Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention
’n
Honger bosluis klim in die ruigte op ’n stingel of ’n blaar en wuif
met sy voorpote in die lug, reg om op ’n warmbloedige dier te klim wat
by hom verbyskuur.
Dit
kan baiekeer ’n lang wag beteken, maar die volwasse bosluise het
Jobsgeduld. Tot sewe jaar kan tussen maaltye verloop!
Sodra
die bosluis op sy gasheer klouter, soek hy die vel en maak ’n snytjie
daarin met sy knypers. Hy klou dan vas met sy tande terwyl hy bloed deur
sy snuit opsuig. Die fees duur etlike ure en die bosluis swel aansienlik
uit.
Vlooie
(kyk ook afsonderlike artikel oor vlooie op
die Mieliestronk-werf) is gewoonlik net parasiete op voëls en soogdiere—tot ergernis van
baie troeteldiereienaars. Hulle lê hul eiers in die neste of op die
vere van voëls of in die hare van soogdiere.
Die
eiers ontwikkel tot klein larwetjies, wat van vullis en oorskiet leef, byvoorbeeld dié in die stowwerige hoeke van die huis. Wanneer hulle
volgroeid is, spin die larwes kokonne en word hulle papies wat ’n tyd
lank rustend kan wees.
Gevoelig
vir beweging en trillings, broei die papies slegs uit wanneer ’n
geskikte gasheer op die toneel verskyn. Dis hoe dit partymaal gebeur dat
mense van ’n vakansie af tuis kom en vind dat hul huis deurtrek is van
die vlooie.
VISLUISE
is nie werklik luise nie—die ware luise behoort tot die insekte—maar
skaaldiere. Sekeres kom vry in sowel vars- as seewater voor, maar ander
klou hul hele lewe deur aan die vis waarop hulle teer.
REGS:
Een van die baie soorte visluise, bloedsuiende skaaldiere wat regoor die
wêreld aangetref word.
Foto: U.S. Fish & Wildlife Service
Hulle
is uitgeknip vir hierdie soort lewe—die lyf plat soos ’n skyf en twee
groot suiers aan die kop, met ’n gifstekel waarmee die gasheer ingespuit
word met ’n stof wat bloedliggaampies opbreek sodat sy bloed en weefsel
opgesuig kan word.
Die
luise stel hul gelid parallel met die lyf van die vis op, gewoonlik naby
die kieue. Soos die water verby die vis of deur die kieuholtes stroom,
word die luise se stekels, wat na agter wys, in die vis se vel ingedruk.
Visluise kan baie sleg vir visse wees. Die wonde wat hulle veroorsaak, kan ontsteek. Visse wat erg besmet is, werp hulself selfs teen rotse soos hulle blykbaar probeer om van die peste ontslae te raak.
Daar
is baie soorte visluise en hulle kom regoor die wêreld voor. In Suidelike
Africa is die spesie Anilocra capensis die volopste.
HOEWEL
bloedsuiers familie is van die wonderlike erdwurms, gril mense gewoonlik
vir hulle. En geen wonder nie. Die bloedsuier het ’n kragtige suier
weerskante van sy lyf waarmee hy aan ’n dier (of mens) se vel kan
vasklou terwyl hy sy bloed drink.
LINKS:
Bloedsuiers in bakke... eentyd is geglo dat siek mense behandel kan word
deur hul bloed met hierdie wriemelde klein paaiboelies te laat uitsuig.
Foto:
U.S. Geological Survey
Hulle
sny in die vel in met hul kake en spuit speeksel in die wond. Die speeksel
kan ’n verdowingsmiddel en ’n stof bevat wat keer dat bloed stol en ’n
ander stof wat bloedvate laat uitsit om ’n groter bloedtoevloei te
bewerkstellig.
Die
gevaar met bloedsuiers is nie hul bloedsuiery nie, maar dat die wonde kan
ontsteek. Hulle kan ook die asemhalingskanale laat verstop as hulle by ’n
dier se bek of neusgate inglip en daarna so uitswel dat hulle nie weer kan
uitkom nie.
Maar
hierdie goggabies het ook hul nut vir sommige mense. Daar was trouens ’n
tyd toe medisinale bloedsuiers dikwels vir bloedlating gebruik is om
verskillende soorte kwale te behandel.
TWEE
van die berugste parasiete is die lewerslak en lintwurm. Altwee behoort
tot die slakagtige diertjies wat platwurms genoem word. Hulle kan hul
gashere groot skade berokken en selfs doodmaak.
Parasiete
kan ’n verstommmend ingewikkelde lewe hê. Baie van hulle gaan deur
verskillende stadiums waarin hulle elke keer ’n ander gasheer nodig het.
Dis baiemaal maar per geluk dat hulle al hierdie gashere teëkom, met die
gevolg dat hulle verbysterend baie eiers lê en aseksueel voortplant sodat
hul soort kan bly oorleef.
Twee lewerslakke veroorsaak die siekte opisthorchiase, te wete Opisthorchis viverrini (die Suidoos-Asiatiese lewenslak) en O. felineus (die katlewerslak).
O. viverrini word hoofsaaklik in Noordoos-Thailand, Laos en Kambodja aangetref, terwyl O. felineus veral in Europa en Asië, insluitende die voormalige Sowjet-unie, voorkom.
Die lewerslakke het ’n tipies ingewikkelde parasitiese lewensiklus, soos hieronder grafies uitgebeeld word. In hul verskillende lewenstadia het hulle drie soorte gashere nodig te wete ’n waterslak, ’n vis en ’n mens (of ’n kat, hond of ander visetende soogdier).
Illustrasie: U.S. Centers for Disease Control and Prevention—openbare besit (“public domain”) synde die werk van ’n amptenaar of amptenare van die Amerikaanse sentrale regering wat in die uitvoering van amptelike pligte verrig is

Die volwasse
lewerslakke lê ten volle ontwikkelde eiers wat uitgeskei word in hul menslike of ander
soogdierlike slagoffers se ontlasting of mis
.
Hierna het die nuwe geslag ’n ander gasheer nodig—dié keer ’n waterslak.
Sodra hulle in die liggaam beland van ’n geskikte slak (die eerste
tussengasheer)
,
stel die eiers larwes vry wat mirasidia
genoem word.
Hierdie mirasidia (enkelvoud mirasidium) ondergaan in die waterslak
verskillende ontwikkelingstadia (sporosiste
,
rediae
,
serkarieë
).
Serkarieë word uit die waterslak vrygestel
en penetreer ’n varswatervis (tweede tussengasheer), om as metaserkarieë
te ensisteer in die vis se spiere of onder die skubbe
.
Ensisteer beteken om in ’n sist—sê maar ’n soort sakkie—gehul te
wees.
Die eindgasheer (’n mens, kat, hond of ander visetende soogdier) word
besmet wanneer halfgaar vis met metaserkarieë geëet word. Nadat hulle
ingesluk is, ontdooi die metaserkarieë in die twaalfvingerderm of duodenum
en beweeg na die galbuise waar hulle hulle vasheg en tot volwassenes ontwikkel, wat ná drie tot vier weke eiers lê
.
Die volwasse lewerslakke (O. viverrini: 5 mm tot 10 mm by 1 mm
tot 2 mm; O. felineus: 7 mm tot 12 mm by 2 mm tot 3 mm) maak hulle tuis
in die gal- en pankreasbuise van die gasheer, waar hulle hulle aan die
slymvlies vasheg. Wanneer die eiers deur die gasheer in sy ontlasting
uitgeskei word, begin die kringloop van voor af.
LINTWURMS—waaraan
’n afsonderlike artikel op die
Mieliestronk-werf gewy word—spesialiseer daarin om die verteerde kos van
hul gashere te vreet. Hulle het nie self ingewande nie. Die gasheer moet
eers self die verteringswerk vir hulle behartig. Al wat hulle dan self
doen, is om die vloeistof deur hul vel te absorbeer.
Party
van hierdie diertjies sorg vir weinig meer ongerief by hul gashere as om
hulle van hul kos te beroof. Die Chinese het selfs eenmaal geglo hulle is
nuttige goed, omdat ’n mens wat ’n wurm het twee maaltye kan geniet—een
vir jouself en een vir die wurm.
Maar
baie soorte lintwurms is uiters skadelik. Hulle kan óf hul
gashere
se weefsels en organe beskadig terwyl hulle rondbeweeg óf giftige
afvalstowwe afskei wat die koorsige gasheer uiteindelik doodmaak.
Soos
by die lewerslak verlaat die eiers van die lintwurm die gasheer in
ontlasting of mis. Maar
hoe vind hulle ’n nuwe gasheer? Die oplossing is eweneens om ’n ander soort gasheer
te werf.
’n
Lintwurm wat in die ingewande van ’n kat woon, gebruik ’n muis. Sy
eiers, in die kat se mis, kan tussen graankorrels of ander potensiële
muiskos beland waar ’n muis hulle dan kan vreet.
In
die muis se liggaam verander die eiers in larwes wat na sy lewer beweeg.
Hulle vorm siste en vermenigvuldig tot groot hoeveelhede van nog ’n
ander soort larwe. As die muis dan deur ’n ander kat gevang en opgevreet
word, het nog ’n geslag van die lintwurmspesie ’n nuwe tuiste gevind.
Dis
weer eens ’n lewensiklus wat baie maklik onderbreek kan word. Die
lintwurm sorg dus vir ’n astronomiese hoeveelheid eiers. Volwasse
lintwurms wat in menslike ingewandes woon en hul larwes in die vleis van
beeste of varke moet kry sodat nog menslike vleiseters besmet kan raak, kan
elk baie, baie miljoene eiers in ’n leeftyd lê.