|
’n Handjievol eenvoudige kwessies waaroor jy miskien nog altyd gewonder het, maar jou nog nooit die moeite getroos het om te probeer uitvind hoe die vurk in die hef steek nie
10
“simpel”
vrae |
|
|
1.
Hoekom
verteer ons die kos wat ons eet, maar verteer ons in die proses nie
ook ons eie mae en ingewande nie?
Illustrasie:
Cancer.gov (U.S. Gov)
OS moet fyn en flenters gebreek en as ’t ware verpulp word ten einde dit in absorbeerbare chemikalieë om te skakel wat energie aan jou liggaam sal verskaf. In jou spysverteringstelsel word die voedsel wat jy geëet het deur ’n horde ensieme aangeval wat komplekse molekules in eenvoudiges verander.
Terloops, dis ’n wanopvatting dat ensieme lewende dinge is. Selfs woordeboeke beskryf 'n ensiem foutiewelik as suurdeeg of gisstof (wat wel lewende mikrobes is), maar die feit is dat ensieme bloot deur suurdeeg afgeskei word en die woord daarom afgelei is van die Griekse woord zyme, wat “suurdeeg” beteken. In werklikheid kom ensieme egter in talle verskillende vorms voor en is hulle niks anders as morsdooie, verterende chemikalieë wat deur lewende selle geskep word nie.
Onderweg deur jou liggaam, van die inname tot die uitskeiding, word die kos progressief en stelselmatig deur ’n reeks verskillende ensieme aangeval wat daarmee vermeng raak en dit tot ’n vorm afbreek wat deur die bloedstroom geabsorbeer kan word.
Jou maag is uitgevoer met sowat 35 miljoen maagkliere wat jou kos welkom heet met ’n bad wat berei is uit ’n mengsel van ensieme, slym en ’n sterk konsentrasie soutsuur. Trouens, hierdie soutsuur is so sterk dat dit ’n gat in ’n tapyt kan brand.
Maar hoekom verteer die liggaam dan nie homself ook in die proses nie? Vir eers is daar ’n wonderlike chemiese balans in jou spysverteringstelsel. Daar is byvoorbeeld gevind dat die wand van die maag ’n klein hoeveelheid ammoniak, ’n alkali, produseer en dat hierdie ammoniak die maag teen die uitwerking van die soutsuur beskerm. (’n Suur word deur ’n alkali geneutraliseer.)
Voorts werk die verskillende ensieme die een ná die ander namate jou kos meegevoer word, soos in die produksielyn van ’n fabriek. As al die ensieme saam in dieselfde gebied was, sou die voering van die ingewande ongetwyfeld aangeval gewees het. Maar dit gebeur nie, en elke gebied kan beskou word as spesiaal toegerus om sy eie spesifieke soort verteerder te weerstaan.
Dit kan natuurlik gebeur dat die produksielyn op ’n kol defek raak.
Dan is die liggaam inderdaad besig om sy eie dermvoering te verteer
en ontwikkel ’n maagseer.
2. As ’n mens die mufkolle op brood of kaas
Goed, die meeste soorte muf is wel onskadelik, maar daar is tog die moontlikheid dat muwwe brood jou maag kan omkrap.
Maar mag ’n mens dan die kolle muf op brood of kaas wegsny en die res eet? Wat brood aanbetref, nee, sê ’n voedselkonsultant. Hy sê al sien ’n mens nie die skimmel nie, kan dit reeds versprei het, en waarom die kans waag met jou gesondheid? Hy vergelyk gekimde kos met ’n jellievis—jy kan die kop wegskraap, maar die tentakels bly agter.
By gekimde kaas—harde kaas—kan ’n mens straks wel nog ’n deel
daarvan eet as jy sowat 2,5 cm rondom die muwwe kol wegsny. Omdat
die kaas hard is, kan die skimmel nie so diep daarin dring as by die
poreuse brood nie, sê die kenner.
3. Bly kougom rêrig jare lank onverteerd is jou maag nadat jy dit ingesluk? NEE, nie naastenby nie. Kougom is onverteerbaar, maar dis geen wonderstof wat die normale gang deur jou spysverteringskanaal kan ontduik nie. Daardie proses duur gewoonlik drie dae, op die meeste.
4. Oukei , waarvoor staan OK eintlik?
MENSE wat hoeveel
verskillende tale praat, gebruik vandag die Engelse OK wanneer hulle
te kenne wil gee dat iets vir hulle orraait is!
Vreemd genoeg kan niemand meer rêrig sê wat dit konsuis sou afkort nie, en allerhande staaltjies hieroor is al as die reine waarheid opgedis. Die gewildste teorie is dat dit staan vir “oll korrect”, ’n opsetlik verkeerde spelling van “all correct”. Koerante van Boston, Massachusetts, in die VSA, sou dit in 1840’s gebruik het toe dit mode was om woorde sommer vir die snaaksigheid verkeerd te spel.
5. Lyk gesigsuitdrukkings dieselfde vir alle mense? IS daar dan rede om te dink dat alle mense gelaatsuitdrukkings nie eenders interpreteer nie? Ja, tog, meen navorsers van die Universiteit van Glasgow in Skotland.
Hulle het in ’n studie gevind dat dit wat Westerlinge as ’n uitdrukking van vrees op ’n ander mens se gesig beskou, baiemaal deur mense van Oos-Asië as ’n uitdrukking van verrassing vertolk kan word. En wat vir Westerlinge na afsku lyk, word dalk maklik deur Oos-Asiërs vir woede aangesien.
Die rede, reken die navorsers, is dat Oos-Asiërs blykbaar meestal op
mense se oë konsentreer, terwyl mense van die Weste die hele gesig
bekyk.
6. Sal jy aambeie kry as jy op ’n koue trap sit? NOU kyk, mense gesels in die reël nie graag oor aambeie nie, want nie-lyers gril dikwels wanneer hulle vertel word van bessieagtige geswelle aan die onderste openinge van ander mense se endelderms. Maar vir lyers is dit ’n groot ongemaklikheid. Dit kan boonop bloei ook.
Aambeie word veroorsaak deur ’n obstruksie in die bloedsomloop in die aangetaste deel. Die ou geloof dat dit aangestig kan word deur op ’n koue trap of muurtjie te sit, is sommer nonsies in die oortreffende trap. Maar, soos iemand al te kenne gegee het, dalk kan só ’n koudheid van onder wel ’n lafenis wees vir iemand wat reeds deur hierdie onwelkome beproewing gepla word.
7. Hoekom is ’n minuut in 60 sekondes ingedeel, ’n uur in 60 minute en ’n dag in 24 uur?
Mettertyd is die tydperk tussen sonsondergang en sonop om die een of ander rede in 12 dele op die sonwysers ingedeel. Met die besef dat die nagtelike tydsduur dan ook in 12 dele ingedeel sou moes word, het idee van ’n dag en nag van 24 tydsdele sy beslag gekry. Tog het die 24 dele in lengte van mekaar bly verskil tot in die veertiende eeu n.C. met die eerste verskyning van meganiese horlosies in Europa. Toe eers is die uur met ’n vaste lengte algemeen aanvaar.
Die ou Babiloniërs het op hul beurt sterrekundige berekeninge gedoen met die sestigtallige stelsel (gegrond op 60 en nie bv. die 10 van die desimale stelsel nie). Die Babiloniërs het hierdie stelsel geërf van die Sumeriërs, wat dit omstreeks 2000 v.C. ontwikkel het. Waarom juis 60 gekies is, is nie bekend nie, maar dit is opmerklik dat 60 ook ’n veelvoud van 12 is (12 x 5 = 60). Voorts is 60 ’n gerieflik deelbare getal. Dit is naamlik die kleinste getal wat deelbaar is deur die 1, 2, 3, 4, 5 en 6 sowel as deur 10, 12, 15, 20 en 30.
Deur die uur te deel deur 60 om by die minuut te kom en die minuut weer deur 60 om die sekonde te verkry, kon die eerste meganiese horlosies ’n gerieflike standaard vir tydmeting daarstel.
Danksy die aanvanklike indelings van die mense weleer, handhaaf die
moderne wêreld dus steeds ’n dag van 24 uur, ’n uur van 60 minute en
’n minuut van 60 sekondes. Die vooruitgang wat met tydmeting gemaak
is, het egter die manier verander waarop hierdie eenhede gedefinieer
word. Waar die lengte van die sekonde eers bereken is deurdat sekere
astronomiese siklusse (soos die gemiddelde sonnedag of later die
tropiese jaar) in dele verdeel is, is die sekonde in 1967 heromskryf
as die lengte van 9 192 631 770 energie-oorgange van die atoom van
die skaars alkaliese metaalelement sesium.
8. Kan ’n ooraktiewe hamster binne-in sy wikkelwiel genoeg elektrisiteit vir jou huis opwek?
MISKIEN
onthou jy daardie TV-advertensie van ’n hamster wat freneties
binne-in ’n
Dit het die persoon die volgende berekening laat doen: As ’n mens aanneem dat ’n hamster van vyftig gram teen twee meter per sekonde teen ’n helling van dertig grade kan ophardloop, beteken dit ’n kraglewering van ’n halwe watt. Indien ’n hamster dieselfde hoeveelheid krag opwek wanneer hy in ’n hamsterwiel hardloop, sal jy 120 hamsters nodig hê wat met alle mag aan die hardloop bly om ’n gloeilamp van 60 watt te laat brand.
Maar die gemiddelde hamster bestee waarskynlik nie meer as vyf persent van sy lewensduur aan ’n hardlopery in sy wiel nie. Gevolglik sal jy nie minder nie as 2400 hiperflukse hamsters moet hê wat in spanne werk en mekaar aflos ten einde slegs die een gloeilamp aan die brand te hou.
Gestel nou jou huishouding het ’n konstante toevoer van sowat 2500 watt nodig. Daarvoor sal 100 000 ywerige hamsters vereis word. Vermenigvuldig dit met al die huise in Suid-Afrika wat elektrisiteit het, en jy sit met oorbevolking van hamsters wat, getrou aan hul aard, omtrent alles opvreet waarop hulle hul snoete kan lê en uiteindelik niks vir ons mense laat oorbly nie.
Om elektrisiteit met steenkool op te wek—besoedelend of te nie—is ’n
baie, baie beter idee.
9. Hoekom staan flaminke eenbeentjie in die water?
FLAMINKE bestee baie tyd aan hul wandelinge in vlak water, waar hulle insekte, vissies en allerhande ander dingetjies vreet. Maar hoekom staan hulle so dikwels net op die een poot in die water, met die ander poot opgetrek na die lyf toe?
Matthew Anderson en Sarah Williams, navorsers van die Saint Joseph’s-universiteit in Philadelphia, in die VSA, reken hulle het die antwoord gevind. Hulle sê die voëls staan doodeenvoudig eenbeentjie om hul liggaamshitte te bewaar. As hulle op twee pote sou staan, sou hulle meer hitte deur geleiding verloor as wat vir hulle goed is.
VIR Afrikaansprekendes kan dit ou vrouens met knopkieries reën, vir Engelstaliges katte en honde, vir die Nederlanders pypstele en vir die Tsjegge kruiwaens. Alles natuurlik net spreekwoordelik.
Sommer kaf, het ons gesê? Nee, wag so ’n bietjie. Daar was darem reeds te veel verslae oor sulke verskynsels om alles as verdigsels te verwerp. Dit het kenners gedwing om verklarings daarvoor te vind, en die aanneemlikste teorie is dat sulke vreemde goeters op een plek deur tornado’s in die lug opgesuig, deur lugstrome meegevoer en elders neergesmyt word.
Só is die inwoners van Naphlion, ’n stad in die suide van Griekeland, een oggend in 1981 verras toe hulle wakker word en klein groen paddatjies uit die lug sien val. Die paddatjies het in bome beland en in die strate neergeplof. Griekse weerkundiges het gereken dat hulle deur ’n sterk wind meegevoer is. Dit moet ’n regte meneer van ’n wind gewees het, want hierdie soort paddatjies is boorlinge van Noord-Afrika.
In 1995 was ene Nellie Straw van Sheffield, Engeland, weer besig om met haar gesin per motor deur Skotland te ry toe hulle deur ’n sterk storm oorval word. Maar dit was nie net swaar reën wat om hulle uitgesak het nie. Die neerslag het ook bestaan uit honderde paddas wat op hul motor geval het.
En in 1966 was dit nogal ’n priester, ’n sekere Leonard Bourne, wat eensklaps ’n begiftiging van “bo” ontvang het wat hy nooit verwag het nie. Dit was ’n vis. Die priester was aan die hardloop deur ’n reënbui in North Sydney, Australië, toe ’n groot vis op sy skouer val. Hy het dit byna gevang terwyl dit teen sy bors afgewikkel het, maar dit het in die water op die oorstroomde grond beland en weggeswem.
Maar sulke eienaardige neerslae gaan nie altyd gepaard met swaar reën nie. Die grasperk voor ’n huis in Ipswich, Australië, is in 1989 bedek deur sowat agthonderd “sardientjies” wat ten tyde van ’n ligte reënbui uit die lug geval het.
Een Sondagmôre in November 1996 het inwoners van ’n dorp in Suid-Tasmanië weer ’n rare, wit jellieagtigheid op hul werwe gevind ná ’n stormagtige nag. Dit het blykbaar óf viseiers óf baba-jellievissies gereën.
Iets wat egter gereeld op die aarde neerstort, is natuurlik die onuitgebrande reste (meteoriete) van sogenaamde “verskietende sterre”. Die kans dat een só ’n ruimtelike klippie jou kan tref, is gelukkig slegs een in 100 miljoen. Tog het dit pas, in Junie 2009, met die veertienjarige Gerrit Blank van Essen, Duitsland, gebeur. Dit het darem sy een hand net skrams getref en toe weggespring om met ’n donderslag ’n smeulende kratertjie van 30 cm in die pad onder hom te laat. Gerrit het ’n letsel van sowat 8 cm lank aan sy hand oorgehou.
Sover bekend is die enigste ander oorlewende van ’n mens-meteoriet-botsing ’n vrou wat in 1954 in haar huis in die Amerikaanse staat Alabama getref is terwyl sy geslaap het.
Maar as jy dalk eendag self sou skrik vir ’n klippie wat uit die lug langs jou neerval, wees baie bly jy woon nie op die buiteplaneet COROT-7b doer ver in die diepruimte, wat in Februarie 2009 ontdek is deur die wentelende COROT-ruimteteleskoop van die Franse en Europese ruimte-agentskappe nie. Omdat COROT-7b so naby aan sy son wentel (slegs enkele miljoene kilometer) is dit so warm daar dat sy gesteentes bes moontlik verdamp soos water op die aarde—net om in die atmosfeer te verdig tot wolke wat in ’n klippereën neerstort. Wel, só reken sekere van die geleerdes.
As jy dus volgende keer weer vir iemand vertel dat dit “kliphard” by julle gereën het, dink ’n bietjie na of jy nie besig is om erg te oordryf nie! |
|