|
’n
Lofrede vir die bedaarde, blêrende vleis- en woldier wat die mens reeds duisende
jare lank voed en klee Dankie, skaap!
Foto BO: Naby-foto van skaap is deur Mieliestronk.com gesuperimponeer op Kammieskroonse weiveldtoneel van SA Toerisme. Kopiereg: SOUTH AFRICAN TOURISM/SUID-AFRIKAANSE TOERISME
•
Hierdie artikel kan in samehang gelees word
met |
|||||||
|
Waar
skape vandaan kom
EEDS 10 000 jaar gelede, in
Sentraal-Asië, het mense die waarde van ons vandag so bekende mak skaap
besef. Hulle het agtergekom dat hulle sy wol kon gebruik om hulle te
klee en dat sy vleis baie smaaklik en vullend is. Dié
wollerige, viervoetige herkouer wat in die menslike omgewing opgeneem en
uiteindelik in krale en weides afgekamp is, stam waarskynlik af van die
wilde moeflon, of bergskaap, van Suidsentraal- en Suidwes-Asië. Die vroegste skaapboere het egter niks
van woltruie en sulke luukses geweet nie. Aanvanklik is ’n geslagte
skaap se vag—al die wol aan die vel—saam met die vel as ’n soort
bekleding gebruik. Dit was maar eers teen omstreeks 3500 vC dat mense
ontdek het hoe om wol te spin. En flenters gebreide materiaal is in
Egiptiese grafkelders gevind wat van die vyfde eeu vC dateer. In die Middeleeue (omstreeks die vyfde
tot in die vyftiende eeu nC) het Europese boere ontdek dat skape die
produktiefste van alle soorte vee is. Benewens die benutting van hul
vleis, wol en velle, wat vir die maak perkament gebruik is, is skape ook
gemelk. Nie net was die melk self nuttig nie, maar allerhande
suiwelprodukte soos botter en kaas is boonop daarvan gemaak.
Illustrasie: Webster's New International Dictionary of the English Language, 1911, G & C Miriam Co. Springfield, MA. Kopiereg het vanweë verjaring verval. Afrika het ook eeue gelede reeds met
die skaap kennis gemaak. Trouens, toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die
Kaap aan wal stap, was hier reeds skape van die vetstert-tipe, soos dié
wat later bekend sou staan as die Ronderib-Afrikaner,
Steekhaar-Afrikaner, Namakwa en ander. Maar Suid-Afrika se eintlike
skaap- en wolbedryf is eers min of meer in 1789 gevestig toe vier egte Spaanse Merino-ooie
en twee -ramme deur die Nederlandse regering aan ’n sekere kol. R.J.
Gordon geskenk is. Van die eerste wolboere was die broers Van Reenen,
J.F Reitz en M. van Breda. Hoewel die einste Merino by uitstek
’n wolskaap is, lewer dit vandag ’n groot deel van die land se
skaapvleis, soseer dat die meeste skape wat
in Suid-Afrika geslag word, Merino’s of Merinokruisings is. Die
Suid-Afrikaanse Vleismerino en Ile de France-skaap is bekende slagvee.
As wolproduserende land is Suid-Afrika vandag so min of meer tiende op
die wêreldranglys—nie in dieselfde liga as megaprodusente soos
Australië en China nie, maar tog ’n leweransier van kwaliteit-wol wat
hoeka sy stem kan dik maak op die markte. Maar presies wat is die skaap
dan, hierdie waardevolle dier met die roemryke vag wat, glo dit, ook
nogal familie van die bees is? Klassifikasie,
aard, anatomie en kulturele betekenis van die skaap Ryk: Animalia
(Diere)
|
|||||||
![]() |
Groothoringskaap |
![]() |
|
| LINKS BO en REGS BO: DIe Noord-Amerikaanse groothoringskaap (“bighorn”). Die groothoring is die grootste en bekendste soort wilde skaap op die Noord-Amerikaanse vasteland. Sy wetenskaplike naam is Ovis canadensis. Foto links bo: US National Park Service Foto regs bo: Pdphoto.org |
|
’n
Skaap het ses snytande om die gras mee af te byt, twee hoektande en 24
kiestande om die gras mee te kou. Soos alle herkouers loop die dier op
die punte van sy tone. Die gedeelte wat op die grond rus, is nie die
voet soos baie mense dink nie, maar in der waarheid die punte van die
skaap se tone.
Skape
het reukkliere aan die gesig en agterpote. Ons weet nog nie presies hoe
hulle met die reukkliere kommunikeer nie, maar kenners sê dis belangrik
vir die stuur van seksuele boodskappe. Die ramme kan ruik watter ooie
vrugbaar is en reg is om te paar.
En
as herkouers het skape vier maagafdelings. Die gras en bossies wat hulle
vreet, word afgedruk met die tong en die snytande aan die onderkaak en
beland feitlik ongekou in die eerste en tweede maagafdelings, die pens
en die graspensie. Die geweekte kos word later na die bek
teruggestoot, word herkou en vervolgens met die slukderm afgevoer na die
derde afdeling, die blaarpens. Van hier af gaan dit na die lebmaag
waarin die maagkliere voorkom en waar die kos verteer word. Nog
herkouende diere is beeste, bokke, herte en kamele.
Met
sy rustige aard wat ’n landelike vredigheid versinnebeeld, beklee die
skaap ’n besondere plek in verskillende gelowe, tradisies en kulture.
Dit is merkwaardig dat God in Sy ondeurgrondelike wysheid Sy Seun Jesus
met ’n lam, dus die kleintjie van ’n skaap, vergelyk. In die Judaïsme
is daar baie verwysings na skape, waaronder die Paaslam, terwyl Abraham,
Jakob, Moses en koning Dawid almal as skaapwagters (herders) gewerk het.
Skape is ook besonder belangrik in die Arabiese kultuur.
|
BO: Die Here is my herder... Die bekende Dawid van die Bybel loof sy Skepper terwyl hy as skaapwagter na die skape in die veld omsien. Illustrasie
in openbare domein vanweë kopiereg-verjaring; beskikbaar |
En as jy nog altyd die skaap as
die aartsvoorbeeld van dom-onnoselheid beskou het, luister ’n bietjie
wat sê ’n kenner van hierdie blêrende wollighede op pote:
"Skape is heel intelligente kreature en het meer breinkrag as wat
mense bereid is om hulle krediet voor te gee." Om een voorbeeld te
noem: skape in Yorkshire, England, het ’n manier gevind om oor
die roosters by veehekke te kom deur op hul rûe daaroor te rol.
Skaaprasse
in Suid-Afrika
VERSKILLENDE
skaaprasse is met die jare hierheen ingevoer, soos die Merino waarna
reeds verwys is, maar ook ander soos die Southdown, Dorset Horn,
Suffolkdown, Romney Marsh en Corriedale, wat vir kruisings en suiwer
teelt gebruik is. Die Swartkop-Persie, ’n vetkruisskaap, het die land
in 1870 binnegekom toe ene T.T. Heatlie drie ooie en ’n ram van ’n
beskadigde skip afgehaal het in ruil vir ander slagskape. Die eerste
tien ooie en ’n ram van die Duitse
Vleismerino is in 1932 uit Duitsland ingevoer. Hul nasate staan vandag
bekend as die Suid-Afrikaanse Vleismerino.
Uit
’n kruising tussen die Dorset Horn en Swartkop-Persie het ons eie
Dorper ontstaan en uit ’n kruising tussen die Dorset Horn en Duitse
Vleismerino ons eie Dormer. Hulle is twee van ’n paar skaaprasse wat
vir verskillende doeleindes of klimaatstoestande in ons land ontwikkel
is.
Telersgenootskappe
vir die Merino, Dorper, Ile de France, Afrino, Damara, Dormer,
Suid-Afrikaanse Vleismerino, Dohne- merino, Merino-landskaap en Van
Rooy-skaap getuig van die ryke verskeidenheid in ’n lewendige
plaaslike bedryf.

BO: Sekere skaaprasse. Fotoversameling met
dank uit albums van verskillende skaaptelersgenootskappe.
Wol
DIE vag op ’n skaap se kop en lyf
bestaan uit miljoene fyn wolvesels met eienskappe wat, ondanks
medediging van sintetiese vesels, dit steeds besonder geskik as
kleedvesel maak. Dit is lig, kleur maklik, absorbeer vog geredelik, vat
nie maklik vlam nie en is betreklik waterwerend. Op die koop toe is dit
besonder rekbaar en sodat dit nie gou kreukel nie. ’n Wolvesel van 80
mm kan tot 100 mm uitgerek word sonder dat dit breek. Wolvesel krimp
egter baie stadig nadat dit gerek was en bly daarna nog gekartel.
REGS:
Wol, die wondervesel.
Foto in die openbare domein, komende van die VSA regering. Dit geld wêreldwyd.
Wol kan van hare onderskei word aan
die aard van die talle piepklein skubbetjies aan die buitekant van elke
vesel. Hierdie skubbetjies sluit onder druk ineen, en die aantal wissel
na gelang van die fynheid en krullerigheid van die vesel. Die
veseldeursnee van wol wissel van 15 mikrometer (superfyn Merinowol) tot
30 of meer mikrometer vir die growwer wolsoorte. Fyner wol is in die reël
waardevoller. Suid-Afrika
produseer fyn- tot mediumgraad.
Die
wêreld se vernaamste wolproduserende lande, op grond van elkeen se
persentasie van die globale wolskeersel vir 2004/2005,
is: Australië 25%, China 18%, Nieu-Seeland 11%, Argentinië 3%, Turkye
2%, Iran 2%, Brittanje 2%, Indië 2%, Soedan 2%, Suid-Afrika 1%.
Wol
word deur die mens van skape gewin deur die diere te skeer. Die
beste tyd van die jaar om dit te doen, is in die lente wanneer die skape
nie meer hul dik, beskermende winterjasse nodig het nie. Die skeerdery
word vandag baiemaal meganies gedoen, maar vanmelewe se skaapskêre word
ook nog plek-plek gebruik. Skeerders wat hulle goed van hul taak kwyt,
kan sommer tientalle skape op ’n dag skeer.
’n
Goeie skeerder skeer die vag in een stuk met lang, gladde hale af en
sonder om die skaap te beseer. Hierdie aaneenblywende vag word soos ’n
kombers op ’n sogenaamde afrandtafel oopgegooi en goed bekyk. Die
woord afrand word gebruik om die proses te beskryf waarin die wol wat te
kort, vuil of minderwaardig is, van die res verwyder word. Opgeleide
kenners klassifiseer vervolgens die vagte in verskillende grade na
gelang van die wol se lengte en fynheid.
Elke
graad word dan in ’n afsonderlike sogenaamde wolbak geplaas en sodra
dié genoeg wol
bevat om ’n wolsak of baal te vul, word dit met ’n wolpers styf in
die baal ingepers en met seilgaring toegewerk. Die bale word dan weggery
en uiteindelik per veiling verkoop.
REGS:
’n Skaapskeerder aan die werk.
Die
wol moet egter nog deur heelparty prosesse gaan voordat dit byvoorbeeld
as klere of tapyte sal eindig. Ruwe skaapwol bevat baie
vet, wat waardevolle lanolien bevat, ’n
stof wat in gesigsrome, sepe, politoere, inke en salwe gebruik word. Hierdie
lanolien word met ’n spesiale proses uit die wol gewin en gesuiwer,
terwyl sand en stukkies plante ook in
lang vate met warm water en suiweringsmiddels
uit die wol gewas word.
Lang metaalharke stuur die wol deur die verskillende vate, maar aan die
einde van die wassery is dit gekoek en staan die vesels in alle
rigtings.
Dit
is dus nou nodig om die wol te kaard, dit wil sê om dit deur rollers
met dun draadtande te stuur wat dit sal uitkam sodat die vesels ewewydig
op mekaar sal lê. Hierna
word die wol in lang, smal repe gerol—reg om gespin te word.
Met
die spinnery word die repe in masjiene dunner gerek en tot wolgaring
gevleg. Die
mate
waarin die wol gerek en gevleg is, bepaal die gewig en dunheid van die
wolgaring. Natuurlike wol se kleur wissel van wit tot ’n donker
ivoorkleur, en enige kleuring kan voor of ná die spinproses geskied.
Dan word die wol gewoonlik in warm oplossings van die kleurstof in groot
vate geweek, waar stoomdruk die kleurstof diep in die vesels sal
indwing.
Wolgaring
is ’n uiters veelsydige artikel en talle verskillende materiale kan
daarvan gemaak word, hetsy deur middel van brei of weef. Wolgaring word
gebrei deur die aaneenlopende vorming van lusse in die garing, iets wat
met breinaalde of met masjiene gedoen kan word.
REGS:
Breiwol.
Foto: BIGPHOTO.COM / FREE PHOTO
Waar
wolgaring geweef word, word twee stelle garing deur groot masjiene haaks
gevleg. Die lengtedrade van die materiaal word die skering genoem en die
dwarsdrade die inslag. Dit is ’n eeue-oue beginsel wat vandag egter
meestal in fabrieke toegepas word en vir allerhande soorte eindprodukte
sorg.
En
daarmee kom ons aan die einde van ons lofrede oor die kosbare skaap en sy
produkte. Wat kan ons dan ten slotte oor hom sê?
Wel,
as jy vanaand snoesig onder jou wolkombers lê voordat jy tot in
droomland wegdommel, dink ’n slag aan die sagmoedige dier wat dit
sonder murmurering vir jou moontlik gemaak het. En as jy boonop steeds
lekker versadig voel van die skaapvleis wat jy vroeër in die aand langs
die vleisbraaivuur geëet het, blêr dit sommer kliphard uit dat jy
nooit weer ’n skaap as ’n swaap sal beskou nie!