|
||||||||||
|
Skilpaaie
van
die land
en
die
water
Foto: DLS / U.S. Fish & Wildlife Service |
||||||||||
|
Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com
N
Aesopus se beroemde fabel oor die skilpad en die haas is die haas so
seker dat hy die skilpad in hul resies sal klop dat hy halfpad besluit
om ’n rukkie te dut. Hy boet bitter vir sy selfversekerdheid. Toe hy
weer sy oë uitvee, ploeter die stadige ou reptiel oor die wenstreep.
Skilpaaie
is inderdaad trae harmansdruppe, maar soos die een in die fabel kan
hulle eenstryk
aanhou en boonop verbasend ver kom—die swaar dop en dik, stomp pote
ten spyt. Alle
skilpaaie—of hulle nou op land lewe, in vars water hou of in die see
woon—behoort tot die orde Chelonia van die klas Reptilia. Al die
landskilpaaie van Suid-Afrika behoort tot die suborde Cryptodira en
die familie Testudinidae. Die baie verskillende soorte skilpaaie
wissel van die reuse-skilpad wat tot 1,2 m lank kan wees tot die
padloper van Suid-Afrika van slegs 6 tot 9 cm. Daar is twee soorte reuse-skilpaaie. Een hou op die Galápagos-eilande by Suid-Amerika, die ander op die Aldabra-eilande, wat in die omgewing van Madagaskar in die Indiese Oseaan lę en aan die Seychelle behoort.
Sowel die Galápagos- as die Aldabra-reptiele kan tot meer as ’n meter lank word en meer as 250 kg weeg—die oudstes onder hulle ’n verstommende 300 kg. Aantekeninge bestaan oor skilpaaie wat 150 jaar oud geword het.
Soos ander reptiele is skilpaaie koudbloedig. Hulle hou gevolglik op plekke waar dit die grootste deel van die jaar warm is, soos in Afrika, Suid-Europa, Asië en Noord- en Suid-Amerika.
Foto: U.S. National Park Service
Skilpaaie
lę elke oggend in die son sodat hul liggame kan warm word en behoorlik
kan funksioneer. Dié wat op plekke met ’n koue klimaat voorkom,
hiberneer in die winter. Hulle grawe in die grond in of skuil onder
plante en bly in hierdie soort slaaptoestand totdat die lente kom. Die
meeste skilpaaie vreet slegs plante, hoewel party ook slakke,
naakslakke, wurms, duisendpote en insekte verorber. Hulle het nie tande
nie, maar horingagtige bekke met skerp kante om blare af te skeur of
stukke vleis fyn te sny. Die kos word ingesluk sonder dat hulle dit kou. Die
dop waarvoor die skilpad so beroemd is, beskerm die dier. Wanneer hy in
sy dop kruip, is die kop, pote en stert gewoonlik veilig buite bereik
van ’n vyand. Hoewel die vorms, kleure en patrone van die doppe van
verskillende soorte skilpaaie verskil, bestaan alle skilpaddoppe uit
twee lae: ’n buitelaag van horingagtige plate en ’n benerige
binnelaag. Die binnelaag is ’n deel van die skilpad se geraamte. Die geronde deel van die dop word die karapaks genoem en die platterige deel onder die buik die plastron. Die karapaks en plastron is aan die liggaam geheg deur ’n benerige struktuur wat die brug genoem word.
Aanpassing van ’n illustrasie in Kennis-ensiklopedie ’n
Skilpad word nooit groter as sy dop nie, omdat die dop saam met hom
groter word. Die horingagtige plate dy in die proses buitentoe uit en
vorm groeiringe. Wanneer skilpaaie sowat twintig jaar oud is, hou hulle
op met groei en ontwikkel geen groeiringe meer nie. ’n Mens kan wel
die ouderdom van ’n jong skilpad bepaal deur die getal groeiringe op
elke plaat te tel. Skilpaaie
teel aan deur eiers te lę, wat hulle in gate in die grond begrawe.
Hulle grawe die gate met hul sterk, gekloude agterpote. Sodra sy haar
eiers klaar gelę het, verdwyn die ma en los sy hulle oor aan die genade
van die son en eiervretende roofvyande. As alles goed verloop, ontwikkel
die lewe in die eiers en broei die kleintjies uiteindelik uit. Die babaskilpad het ’n skerp uitgroeisel, wat die eiertand genoem word, aan die bo-kaak, waarmee hy sy pad uit sy dop-gevangenis oopkerf. Die eiertand val later af. Sodra hulle uitgebroei het, begin die klein reptieletjies hul węreld verken.
Seeskilpaaie
DAAR is, sover bekend, slegs sewe, agt soorte seeskilpaaie wat tot in die moderne tyd oorleef het. Die meeste van die oorlewende soorte hou in warm, tropiese oseane en swem in der waarheid duisende kilometers ver op soek na kos. Een soort, die leerskilpad, word partykeer ook in koue waters aangetref. Soos landskilpaaie het die meeste seeskilpaaie benerige doppe wat met horingagtige plate bedek is, hoewel die dop by sommige met ’n harde vel toegemaak is.
Seeskilpaaie
kan nie die kop en pote in die dop intrek om te keer dat roofvyande
hulle vreet nie. Pleks daarvan ontsnap hulle aan hul vyande deur so
vinnig moontlik weg te swem.
Foto: Kopiereg © Ursula Keuper-Bennett / Peter Bennett / NOAA, wat goedgunstiglik gebruik van die foto vergun mits hul eienaarskap erken word
Die
dop van ’n seeskilpad is anders gevorm as dié van die landskilpaaie. ’n
Landskilpad se dop is hoog en rond, terwyl ’n seeskilpad s’n
afgeplat is sodat hy maklik deur die water kan beweeg. Die pote van ’n
seeskilspad is vlerkagtige swempote wat hy op en af roer om deur die
water te beweeg. Seeskilpaaie
vreet visse, jellievisse, pylinkvisse, sponse, krappe, alge en seewier.
Soos landskilpaaie het hulle ook nie tande nie, maar hulle gebruik hul
skerp kake om die plante en diere op te sny wat hulle vreet. Hoewel
seeskilpaaie in die see hou, lę die wyfies van die meeste soorte hul
eiers op die land. Die wyfies swem partymaal baie, baie ver om hul
broeiplekke te bereik. Hulle klouter uit die water uit, lę hul eiers in
gate wat hulle met hul swempote in die sand gemaak het en keer dan terug
see toe. Die kleintjies skarrel ook vinnig water toe sodra hulle uitgebroei het, want daar is baie roofvyande wat hulle probeer opvreet. Net ’n paar seeskilpaaie bly lewe tot volwassenheid. Dié gelukkiges keer uiteindelik terug na dieselfde strand waar hulle uitgebroei het om op hul beurt eiers te lę.
Varswaterskilpaaie
DAAR
is byna tweehonderd soorte varswaterskilpaaie, waarvan die hougebiede
wissel van spruite en riviere tot damme, moerasse en lagunes. Nie alle
soorte bly deurentyd in die water nie. Party bring net ’n deel van die
tyd in die water deur en die res daarvan op die land. Soos
ander skilpaaie het byna alle varswaterskilpaaie ’n benerige dop wat
met horingagtige plate bedek is. By ’n paar soorte is die dop egter
met vel bedek. Die meeste kan die kop, ledemate en stert in die dop
intrek, wat hulle teen vyande beskerm. Geleerdes
verdeel soms die varswaterskilpaaie in twee groepe volgens die manier
waarop hulle die kop intrek: party trek die nek reguit in die dop in,
ander buig die nek in die proses sywaarts. Dié
wat nie in hul dop kan kruip nie, het ander maniere om hulself te
verdedig. Baie van hulle laat indringers les opsę deur hulle geniepsig
stukkend te byt. Ander het spesiale kliere wat ’n vrot reuk afgee en
roofdiere weghou. Varswaterskilpaaie het gewebde pote wat hulle vinnig laat swem. Hulle vreet waterplante en diertjies soos insekte, slakke, naakslakke, visse, paddas, garnale en varswaterkrewe. Byterskilpaaie woon in varswatermere, riviere en poele in Noord-, Suid- en Sentraal-Amerika, waar hulle vis, watervoëls, paddas en selfs klein alligators vang. As onbehoedsame baaiers hul geplas in die water geniet, kan die byterskilpaaie hulle ook probeer byt.
Foto:
DLS / U.S. Fish & Wildlife Service
Soos
die seeskilpaaie lę die meeste varswaterskilpaaie hul eiers op die
land. Daarvoor grawe hulle gate in die sand aan rivier- of meer-oewers.
Die eiers word ook aan die genade van prooidiere oorgelaat nadat hulle
gelę is. Skilpaaie en mense DIE
mens se bedrywighede is besig om die voortbestaan van verskeie soorte
skilpaaie te bedreig. Die uitwissing van natuurlike plantegroei en
vleilande om vir plase, dorpe en stede plek te maak, maak die hougebiede
van land- en waterskilpaaie kleiner. Plastieksakke wat op die water dryf, word maklik vir kos aangesien, en hul slagoffers stik daaraan en vrek. Baie skilpaaie word doodgemaak vir hul vleis en vir hul doppe, waarvan aandenkings vir toeriste gemaak word. Boonop word die voortbestaan van sekere soorte seeskilpaaie ernstig bedreig deur die diefstal van hul eiers op strande. (Die broeiplekke van die leer- en karetskilpad word in Suid-Afrika beskerm.)
Foto: NOAA Dan
is daar ook nog mense wat, wederregtelik, skilpaaie as troeteldiere
aanhou. Die
praktyk van sekere mense om landskilpaaie langs ons paaie op te tel en
saam met hul huis toe te neem, is nie net onwettig nie, maar sulke mense
is ook besonder onbedagsaam. Skilpaaie word baiemaal só uit hul
hougebied in die vrye natuur verwyder om in ’n totaal ander klimaat in
’n kampie in ’n agterplaas aangehou te word. Daar vrek hulle
mettertyd weens die veranderde habitat... as die gesin se hond hulle nie
voor dit reeds met dop en al opvreet nie. Het
jy geweet? •
Gesonde skilpaaie wat omgedop is, kry byna altyd weer die
koepelkant bo, maar die siekes of swakkes is nie altyd so gelukkig nie. ’n
Skilpad wat nie weer op sy pote kan kom nie, vrek van die honger of bak
dood in die son. •
Die ploegskaarskilpad van Madagaskar het ’n ongewone kenmerk:
die plastron vorm ’n duidelike haak onderkant die nek. In die paartyd
gebruik die mannetjies hierdie hake om mededingers om te dop en hulle
uit die paringswedloop te kry. • Volwasse groenseeskilpaaie kan ’n verstommende vyf uur lank onder die water bly, maar die jonges moet meer dikwels boontoe swem om lug te skep.
|
||||||||||