OE tam en willoos is die skoolkinders wat hier in
die Laeveld woon . . . Wat op aarde kan dit wees wat
hulle so loom en lusteloos maak? Die skooldokter,
wat na hul gesondheid moet omsien, ondersoek die
kinders en besef meewarig wat die
oorsaak is: dis die skadelike eiers van sekere platwurms
wat die leerders so traag, onaktief en futloos laat
word het.
In hul jeugdige stadium woon hierdie nare
organismes eers in bepaalde varswaterslakke. Dan
kom wikkel die parasiete hulle totaal ongenooid
hier in hul jong menslike slagoffers se liggame in. Daarna lê hulle
hul siekmakende eiers binne-in die arme kinders.
Maar hoe kan ’n mens nou ooit die Laeveld se
landelike jongspan weghou van al die besmette vleie en riviere in
hierdie vogtige,
subtropiese deel van ons land?
Die skooldokter wat heelparty dekades gelede met dié
probleem gekonfronteer is, was dr. C. Louis Leipoldt
(1880-1947). Dis einste hy wat ook ’n gevierde
Afrikaanse digter was en so mooi oor “somer en son
en saffier” kon skryf, ’n gedig wat
elders op die Mieliestronk-werf gelees kan word.
Skistosomiase—ook bekend as bilharzia, bilharziase,
rooiwater of selfs slakkoors—is ’n siekte wat deur
parasitiese bilharzia- of skistosoma-wurms bewerk
word. Omdat dit endemies in ’n groot deel van ons
vasteland en ook dele van Suid-Afrika is, is dit des
te belangriker dat elkeen van ons ten minste ’n
basiese kennis van die siekte en sy
gevare sal hê.
REGS:
’n Elektronmikrografiese beeld van ’n manlike
skistosoma-wurm. Die wurms is baie klein, die mannetjies
van een spesie waarvan die afmetings verkry kon word, is
byvoorbeeld gemiddeld net sowat 1 cm lank en slegs
omtrent ’n tiende so dik. Die wyfies van dieselfde
spesie is ietwat langer, maar ook dunner.
Foto:
David Williams / Illinois State University / via U.S. Department of Health and Human Services
Die parasiete lewe in onder meer varswaterkomme en -strome in
Afrika suid van die Sahara—in panne, riviere en ander
waterlope en tot in die groot mere in Midde-Afrika.
Hulle kom boonop in die
Nylriviervallei in Egipte voor.
Skistosomiase word ook elders ter wêreld aangetref,
soseer dat die aantal menslike besmettings op aarde op
meer as 200 miljoen gestel word. Volgens sekere ramings
sterf ongeveer 20 000 mense jaarliks weens
skistosomiase. Dit is infeksies deur
een van drie verskillende
platwurmspesies, te wete
Schistosoma mansoni, S.
haematobium en
S. japonicum,
wat mense hierdie siekte gee.
Varswatermassas raak besmet deur skistosoma-eiers
wanneer menslike slagoffers in die water urineer of
ontlas. Die eiers broei uit en, as sekere soorte
varswaterslakke in die water aanwesig is, groei en
ontwikkel die parasiete in hul eerste lewenstadium binne-in die slakke.
In
vleie, moerasse en damme in ons land is daar naamlik
baie soorte waterslakke wat ons nie in ons tuine kry
nie, en onder dié is daar sekeres wat gevaarlik is
deurdat hulle die verspreiders van ernstige siektes by
skape en mense is.
Die
parasiete wat vir skistosomiase by die mens
verantwoordelik is, verlaat naderhand die slak, hul
aanvanklike gasheer, en gaan die water binne, waar
hulle vryswemmend sowat 48 uur lank kan bly lewe.
Die
parasiete kan vervolgens die vel binnedring van mense
wat in sulke besmette waters loop, swem of was. Binne
etlike weke ontwikkel wurms binne-in die bloedvate van
die menslike liggaam, en hierdie wurms paar en lê dan
eiers. Party van die eiers beweeg na die pasiënt
se blaas of ingewande en word in die urine of stoelgang
uitgeskei.
En as
dié afskeidings opnuut in water met die nodige slakke beland, begin
die bose kringloop van voor af...

BO: Skistosoma-parasieteiers in die blaas.
Foto:
Dr. Edwin P. Ewing, Jr. / U.S. Centers for Disease
Control and Prevention
Hoe
die siekte by die mens
ontwikkel—en gediagnoseer en behandel word
BINNE
dae nadat iemand besmet is, kan hy of sy ’n
uitslag ondervind of ’n jeukerige vel hê by die plekke
waar die wurms die liggaam binnedring het. Dis egter eers
heelwat later, wanneer die wyfiewurms begin eiers lê, dat
die besmette persoon grieperig en koorsig kan voel,
met gewaarwordings van koue rillings, spierpyne en ’n
gehoes. Bloed in die urine, wat nog later kan voorkom,
verklaar waarom die siekte in die volksmond rooiwater
genoem word.
Eiers
beweeg na die lewer of beland in die ingewande of blaas,
wat ontsteking of letsels veroorsaak. Kinders wat
herhaaldelik besmet raak, kan bloedarmoede,
wanvoedingsprobleme en leerprobleme ontwikkel. Ná
jarelange infeksie kan die parasiet die lewer,
ingewande, longe en blaas van die pasiënt beskadig.
Dit gebeur selde,
maar eiers kan ook die brein of rugmurg binnedring en
tot toevalle, verlamming of rugmurgontsteking lei. In
sekere lande word die verhoogde voorkoms van blaaskanker
eweneens aan chroniese skistosomiase toegeskryf.
Interessant genoeg word die simptome van skistosomiase
veroorsaak deur die liggaam se reaksie op die eiers wat
deur die wurms gelê word en nie deur die wurms as
sodanig nie. Dit
is in die reël glo net in die begin, met die indringing deur die
vel, dat die wurms self hul menslike slagoffers
enigermate kan pla.
Skistosomiase kan gediagnoseer word deur stoelgang- of
urinemonsters te ontleed en te kyk of die parasiet se
eiers daarin voorkom. ’n Bloedtoets is ook reeds
ontwikkel. Veilige en doeltreffende medisyne is
beskikbaar, en lyers kan gevra word om oor een of twee
dae pille te sluk, wat die einde van die infeksie
behoort te beteken.
 |
 |
|
BO: Kinders in ’n moeras. In ’n
skistosomiase-wêreld is só ’n spelery in
natuurlike water eintlik moeilikheid soek.
Tog weet of besef sulke landelike kinders
baiemaal nie die gevaar nie... dat daar uit sekere van die
plaaslike varswaterslakke ’n organisme kan
kom wat hulle baie siek kan maak.
• Foto bo: Andrea Peterson / The
Neglected Tropical Diseases Inisiative /
USAID
• Foto
regs bo: Gerald Mwale / USAID, Zambië
(foto deur ons gewysig deurdat die
agtergrond weggesny is) |
BO: ’n Leerder in ’n Zambiese skool wys hoe
lyk die ontwurmingstablette wat daar
uitgedeel is in ’n veldtog om siektes soos
skistosomiase te behandel—iets wat die
kinders baie lusteloos kan maak en later
boonop tot allerhande komplikasies kan lei
indien die probleem nie aangespreek word
nie. |
Hoe om besmetting te
voorkom
HOE groot is die gevaar om skistosomiase op te doen? Uiters
min as jy in veilige gebiede woon, soos in stede of
dorpe met goed behandelde water, maar as jy in
gevaargebiede woon of daarheen reis, moet jy baie bedag wees op die
ongewenste parasiet wat in varswatermassas kan skuil.
’n Mens moet
nie eens deur sulke waters loop nie, wat nog te sê
daarin swem. As jy nie vir seker weet waar jou
drinkwater vandaan kom nie en twyfel of dit veilig is, moet jy dit eers kook. Deur
water minstens ’n minuut lank te kook, word alle
skadelike parasiete, bakterieë en ander organismes
gedood. Dan kan jy die water drink nadat dit afgekoel
het.
Badwater moet
vyf minute lank
tot ten minste
sowat 70 °C
verhit word. Water wat vooraf minstens 48 uur lank in ’n
opgaartenk gehou is, behoort veilig te wees om mee te
stort.
As jy ’n kort
rukkie lank per ongeluk in aanraking was met water wat
moontlik besmet kan wees, kan dit dalk help om jou
energiek met ’n handdoek droog te vryf ten einde te
probeer keer dat die parasiet jou vel binnedring.
Kenners waarsku egter dat ’n mens NIE moet dink dat só
’n lewendige vrywery met ’n handdoek jou beslis teen
skistosomiase sal beskerm nie.
Waarop dit neerkom, is dat die wurm hom
steeds in jou liggaam kan inwurm... die slap en
ruggraatlose skurk wat hy is...
|