Kinders, moenie in die water mors nie...  julle kan wurms kry en sieklik raak...


Skistosomiase
(ook bekend as bilharzia, bilharziase
of rooiwater)

Die erg uitputtende siekte van meer as 200 miljoen wat veroorsaak word deur parasiete wat in sowel mense as sekere varswaterslakke woon


 Lewensiklus van die parasiet wat die siekte veroorsaak

Krediet: Aanpassing van ’n oorspronklike illustrasie met Engelse skrif van Centers for Disease Control
and Prevention / U.S. Department of Health and Human Services


H

OE tam en willoos is die skoolkinders wat hier in die Laeveld woon . . .  Wat op aarde kan dit wees wat hulle so loom en lusteloos maak? Die skooldokter, wat na hul gesondheid moet omsien, ondersoek die kinders en besef meewarig wat die oorsaak is: dis die skadelike eiers van sekere platwurms wat die leerders so traag, onaktief en futloos laat word het.

In hul jeugdige stadium woon hierdie nare organismes eers in bepaalde varswaterslakke. Dan kom wikkel die parasiete hulle totaal ongenooid hier in hul jong menslike slagoffers se liggame in. Daarna lê hulle hul siekmakende eiers binne-in die arme kinders.

Maar hoe kan ’n mens nou ooit die Laeveld se landelike jongspan weghou van al die besmette vleie en riviere in hierdie vogtige, subtropiese deel van ons land?

Die skooldokter wat heelparty dekades gelede met dié probleem gekonfronteer is, was dr. C. Louis Leipoldt (1880-1947). Dis einste hy wat ook ’n gevierde Afrikaanse digter was en so mooi oor “somer en son en saffier” kon skryf, ’n gedig wat elders op die Mieliestronk-werf gelees kan word.

Skistosomiase—ook bekend as bilharzia, bilharziase, rooiwater of selfs slakkoors—is ’n siekte wat deur parasitiese bilharzia- of skistosoma-wurms bewerk word. Omdat dit endemies in ’n groot deel van ons vasteland en ook dele van Suid-Afrika is, is dit des te belangriker dat elkeen van ons ten minste ’n basiese kennis van die siekte en sy gevare sal hê.

’n Elektronmikrografiese beeld van ’n manlike skistosoma-wurmREGS: ’n Elektronmikrografiese beeld van ’n manlike skistosoma-wurm. Die wurms is baie klein, die mannetjies van een spesie waarvan die afmetings verkry kon word, is byvoorbeeld gemiddeld net sowat 1 cm lank en slegs omtrent ’n tiende so dik. Die wyfies van dieselfde spesie is ietwat langer, maar ook dunner.

Foto: David Williams / Illinois State University / via U.S. Department of Health and Human Services


Die parasiete lewe in onder meer varswaterkomme en -strome in Afrika suid van die Sahara—in panne, riviere en ander waterlope en tot in die groot mere in Midde-Afrika. Hulle kom boonop in die Nylriviervallei in Egipte voor.

Skistosomiase word ook elders ter wêreld aangetref, soseer dat die aantal menslike besmettings op aarde op meer as 200 miljoen gestel word. Volgens sekere ramings sterf ongeveer 20 000 mense jaarliks weens skistosomiase. Dit is infeksies deur een van drie verskillende platwurmspesies, te wete Schistosoma mansoni, S. haematobium en S. japonicum, wat mense hierdie siekte gee.

Varswatermassas raak besmet deur skistosoma-eiers wanneer menslike slagoffers in die water urineer of ontlas. Die eiers broei uit en, as sekere soorte varswaterslakke in die water aanwesig is, groei en ontwikkel die parasiete in hul eerste lewenstadium binne-in die slakke.

In vleie, moerasse en damme in ons land is daar naamlik baie soorte waterslakke wat ons nie in ons tuine kry nie, en onder dié is daar sekeres wat gevaarlik is deurdat hulle die verspreiders van ernstige siektes by skape en mense is.

Die parasiete wat vir skistosomiase by die mens verantwoordelik is, verlaat naderhand die slak, hul aanvanklike gasheer, en gaan die water binne, waar hulle vryswemmend sowat 48 uur lank kan bly lewe.

Die parasiete kan vervolgens die vel binnedring van mense wat in sulke besmette waters loop, swem of was. Binne etlike weke ontwikkel wurms binne-in die bloedvate van die menslike liggaam, en hierdie wurms paar en lê dan eiers. Party van die eiers beweeg na die pasiënt se blaas of ingewande en word in die urine of stoelgang uitgeskei.

En as dié afskeidings opnuut in water met die nodige slakke beland, begin die bose kringloop van voor af...

 Skistosoma-parasieteiers in die blaas

BO: Skistosoma-parasieteiers in die blaas.

Foto: Dr. Edwin P. Ewing, Jr. / U.S. Centers for Disease Control and Prevention
 

Hoe die siekte by die mens ontwikkel—en gediagnoseer en behandel word

BINNE dae nadat iemand besmet is, kan hy of sy ’n uitslag ondervind of ’n jeukerige vel hê by die plekke waar die wurms die liggaam binnedring het. Dis egter eers heelwat later, wanneer die wyfiewurms begin eiers lê, dat die besmette persoon grieperig en koorsig kan voel, met gewaarwordings van koue rillings, spierpyne en ’n gehoes. Bloed in die urine, wat nog later kan voorkom, verklaar waarom die siekte in die volksmond rooiwater genoem word.

Eiers beweeg na die lewer of beland in die ingewande of blaas, wat ontsteking of letsels veroorsaak. Kinders wat herhaaldelik besmet raak, kan bloedarmoede, wanvoedingsprobleme en leerprobleme ontwikkel. Ná jarelange infeksie kan die parasiet die lewer, ingewande, longe en blaas van die pasiënt beskadig.

Dit gebeur selde, maar eiers kan ook die brein of rugmurg binnedring en tot toevalle, verlamming of rugmurgontsteking lei. In sekere lande word die verhoogde voorkoms van blaaskanker eweneens aan chroniese skistosomiase toegeskryf.

Interessant genoeg word die simptome van skistosomiase veroorsaak deur die liggaam se reaksie op die eiers wat deur die wurms gelê word en nie deur die wurms as sodanig nie. Dit is in die reël glo net in die begin, met die indringing deur die vel, dat die wurms self hul menslike slagoffers enigermate kan pla.

Skistosomiase kan gediagnoseer word deur stoelgang- of urinemonsters te ontleed en te kyk of die parasiet se eiers daarin voorkom. ’n Bloedtoets is ook reeds ontwikkel. Veilige en doeltreffende medisyne is beskikbaar, en lyers kan gevra word om oor een of twee dae pille te sluk, wat die einde van die infeksie behoort te beteken.

Kinders in ’n moeras ’n Leerder in ’n Zambiese skool wys hoe lyk die ontwurmingstablette wat daar uitgedeel is

BO: Kinders in ’n moeras. In ’n skistosomiase-wêreld is só ’n spelery in natuurlike water eintlik moeilikheid soek. Tog weet of besef sulke landelike kinders baiemaal nie die gevaar nie... dat daar uit sekere van die plaaslike varswaterslakke ’n organisme kan kom wat hulle baie siek kan maak.

•   Foto bo: Andrea Peterson / The Neglected Tropical Diseases Inisiative / USAID
•   Foto regs bo: Gerald Mwale / USAID,  Zambië (foto deur ons gewysig deurdat die agtergrond weggesny is)

BO: ’n Leerder in ’n Zambiese skool wys hoe lyk die ontwurmingstablette wat daar uitgedeel is in ’n veldtog om siektes soos skistosomiase te behandel—iets wat die kinders baie lusteloos kan maak en later boonop tot allerhande komplikasies kan lei indien die probleem nie aangespreek word nie.

   
 
Hoe om besmetting te
voorkom

HOE groot is die gevaar om skistosomiase op te doen? Uiters min as jy in veilige gebiede woon, soos in stede of dorpe met goed behandelde water, maar as jy in gevaargebiede woon of daarheen reis, moet jy baie bedag wees op die ongewenste parasiet wat in varswatermassas kan skuil.

 

’n Mens moet nie eens deur sulke waters loop nie, wat nog te sê daarin swem. As jy nie vir seker weet waar jou drinkwater vandaan kom nie en twyfel of dit veilig is, moet jy dit eers kook. Deur water minstens ’n minuut lank te kook, word alle skadelike parasiete, bakterieë en ander organismes gedood. Dan kan jy die water drink nadat dit afgekoel het.

 

Badwater moet vyf minute lank tot ten minste sowat 70 °C verhit word. Water wat vooraf minstens 48 uur lank in ’n opgaartenk gehou is, behoort veilig te wees om mee te stort.

 

As jy ’n kort rukkie lank per ongeluk in aanraking was met water wat moontlik besmet kan wees, kan dit dalk help om jou energiek met ’n handdoek droog te vryf ten einde te probeer keer dat die parasiet jou vel binnedring. Kenners waarsku egter dat ’n mens NIE moet dink dat só ’n lewendige vrywery met ’n handdoek jou beslis teen skistosomiase sal beskerm nie.

 

Waarop dit neerkom, is dat die wurm hom steeds in jou liggaam kan inwurm... die slap en ruggraatlose skurk wat hy is...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad