Skrywers in Afrikaans 

Ingrid Jonker

•  Die teks en foto hieronder is met spesiale vergunning oorgeneem uit die webtuiste van NB Uitgewers. Die webtuiste bevat nog ’n ryke verskeidenheid van inligtende artikels oor die lewe en werk van ander skrywers. Besoek gerus die webtuiste van NB Uitgewers deur hier te klik

Ingrid JonkerBiografiese inligting

INGRID JONKER is op 19 September 1933 op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Haar ma is dood toe sy nog klein was, en sy moes as kind ’n paar keer rondtrek. Haar pa, Abraham H Jonker, was ’n Nasionale Party-politikus, en hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Sy het aan Wynberg Meisieskool gematrikuleer en het daarna by boekwinkels, uitgewers en drukkerye gewerk. Haar debuutbundel, Ontvlugting, verskyn in 1956, en sy ontvang in 1964 die APB-prys vir haar tweede bundel, Rook en Oker. Die prysgeld en ’n studiebeurs van Anglo American stel haar in staat om oorsee te reis. Haar dogter, Simone, wat ’n belangrike rol in Ingrid se gedigte speel, is gebore uit haar huwelik met Pieter Venter van wie sy later geskei is.

Ingrid word gegroepeer onder die “Sestigers” waarvan André P Brink en Jan Rabie ook deel was.

Sy pleeg selfmoord deur op 19 Julie 1965 by Drieankerbaai die see in te loop. Haar derde en laaste bundel, Kantelson, het postuum in 1966 verskyn.

Het jy geweet?  

  • Oudpresident Nelson Mandela het tydens die geskiedkundige Parlementsopening in Mei 1994 haar gedig “Die Kind” voorgelees. Ingrid het dié gedig geskryf na aanleiding van die skietvoorval in 1960 by Sharpeville.
  • Haar vriende het in 1965 die Ingrid Jonker-prys ingestel wat jaarliks toegeken word aan ’n digter wat in Afrikaans of Engels debuteer.
  • Ingrid se gedigte is deur die jare deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyr, Marimba en Anneli van Rooyen getoonset. Chris Chameleon se album Ek herhaal jou, waarop hy 14 van haar gedigte getoonset het, is in 2005 uitgereik. Dit was ’n blitsverkoper.
  • In 2002 het die Nederlandse dokumentęr oor Ingrid, Korreltjie niks is my dood, ’n Silwer Roos op die TV-fees by Montreux gewen.
  • Haar ma het in 1943 in die psigiatriese hospitaal Valkenburg gesterf. Ingrid is ook in 1961 daar opgeneem. In 2007 is ’n dokumentęr, Ingrid Jonker, her Lives and Time, deur die Mosambiek-gebore rolprentmaker Helena Nogueira in Suid-Afrika uitgereik.
  • Ingrid het ook ’n kort toneelstuk, ’n Seun na my hart, geskryf asook ’n paar kortverhale soos Die bok.
  • In 2007, as deel van die Sunday Times se Heritage Project, het die kunstenaar Tyrone Appollis ’n kunswerk by Gordonsbaai se strand opgerig ter herdenking aan Ingrid Jonker.

Boeke steeds in druk

Black butterflies: Selected Poems, Human & Rousseau (2007)
Versamelde werke, Human & Rousseau (1994)

Bekronings

Afrikaanse Pers-Boekhandel Prys (1964) – Rook en Oker
Orde van Ikhamanga in silwer (2004) – Vir haar letterkundige bydrae in Afrikaans, asook haar bydrae tot versoening

Lys van publikasies

Poësie

1956 Ontvlugting
1963 Rook en Oker
1966 Kantelson
1975 Versamelde werke (nuwe uitgawes in 1983 en 1994)
2007 Black butterflies: Selected Poems

Vertalings

Kantelson (1966)

  • Engels, Nederlands, Zoeloe

Resensies

“’n Geslag kan nie verbygaan sonder ’n Ingrid Jonker op die rak en in die hart nie.” – Tom Gouws oor haar Versamelde werke, Beeld (1994)

“In ‘Bitter-berry daybreak’, ‘You have tricked me’ en ‘Little grain of sand’ slaag die vertalers op vernuftige wyse daarin om die byna volkse musikaliteit van die Afrikaanse verse te behou. ’n Mens kan vir Ingrid in hierdie gedigte hoor.” – Thys Human oor Black butterflies, Beeld (2007)

“Die bundel is uitstekend vertaal. Die voorwoord is oorrompelend eerlik geskryf en al my weerstande en sugte is met hierdie bydrae van Brink afgebreek.” – Joan Hambidge oor Black butterflies, Volksblad (2007)


Klik hier vir die inhoudsblad van Skrywers in Afrikaans


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf