|
Slawerny in Suid-Afrika
Hulle
is soos die diere van die bos gevang en na die slaweskepe gebring—om
na SA en elders vervoer te word waar hulle op veilings verkoop is. Dan het
hul eienaars hulle saamgevat huis toe om vir hulle te werk tot hul sterwensdag.
Selfs hul kinders sou slawe word... teen wil en dank... |
||
|
DIS
ondenkbaar dat ons vandag nog so sal maak—dat ons ’n veiling sal
bywoon om ’n mens daar te koop. ’n Mens wat ons sal dien tot die
dood ons skei, om mee te doen en te handel nes dit ons behaag. Ons
nuttige stuk eiendom. Ons slaaf.
Minder as twee eeue gelede nog was slawerny ’n doodgewone ding in
verskillende wêrelddele en het die praktyk ook in Suid-Afrika hoogty
gevier. Slawe is as besittings beskou, ’n onvervreembare deel van hul base se rykdom. Jy kon ’n slaaf dwing om vir jou te werk—en genadeloos straf wanneer hy verbrou—en selfs wanneer hy kinders gekry het, sou hulle as willose slafies in jou huishouding opgeneem word.
Slawerny het aan die Kaap
bestaan van 1653 af, kort ná Jan van Riebeeck se koms in 1652. Dit het
geduur tot in 1838. Die beëindiging daarvan, en veral die manier waarop
die verbod afgewing is, sou
’n diepgaande invloed op
die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis
hê. DIE EERSTE slaaf aan die Kaap, ’n sekere Abraham, was ’n verstekeling op ’n skip uit Batavia. Hy het Maart 1653 in Tafelbaai aan wal gestap en is gedwing om vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te werk totdat hy drie jaar later na Batavia teruggestuur is. In Maart 1655 was daar drie slawe wat van Madagaskar af hierheen gebring is. Maar dit was eers in 1658, weer in Maart, dat slawerny sy eintlike beslag aan die Kaap gekry het met die aankoms van ’n besending slawe op die skip Amersfoort. Van Riebeeck het slawe bo inheemse werkers verkies en vryburgers toegelaat om hulle op skuld te koop, maar die meeste het in die Kompanjie se diens gebly. Teen 1708 besit die burgers egter reeds 1147 volwasse slawe, met sowat 450, die kinders ingesluit, as die Kompanjie se eiendom. In
die agttiende eeu bring georganiseerde invoere, veral van Delagoabaai en
Madagaskar, die slawebevolking teen 1795 op sowat Maar baie van die Maleiers was bedrewe ambagslui wat nie altyd so gedwee en onderdanig gebly het nie. Met tye het hulle gewelddadig gerebelleer. Slawe wat aan die Kaap gebore is, het die meeste aansien geniet en is gewoonlik as huisbediendes ingespan. Op die wyn- en graanplase was die werkers mettertyd feitlik almal slawe, hoewel beesboere naby die grens Khoi-bediendes verkies het. Die Kompanjie het verblyf by die slawelosie, oorgenoeg rys en vis met tabakrantsoene en skole vir die kinders verskaf. Maar die slawe is meestal as pakdraers gebruik en die werk was moeilik. Slawe in private diens in Kaapstad self is goed behandel en party het uiteindelik hul vryheid verdien, veral as hulle as kinders gedoop was. Hulle het vuurmaakhout versamel, eetware vir hul base verkoop en die ambagslui onder hulle is aan bure uitverhuur.
TYDENS die eerste Britse besetting (1795-1803) en die Bataafse Republiek (1803-06) het die werkerskaarste die owerhede verplig om die verdere invoer van Afrika-slawe te magtig. Maar albei regerings het gehoop dat Europese arbeid spoedig slawearbeid sou vervang. Die Britte het toe die Kaap permanent oorgeneem, en die Britse wet op die afskaffing van slawehandel (1807) het dit onwettig gemaak om ná 1 Maart 1808 slawe by enige Britse hawe af te laai. Slawe wat wel onwettig aangekom het, het die betiteling ``prys-negers'' gekry en is as vakleerlinge aan amptenare of handelslui toegesê. Die wet is egter later streng toegepas en die slawebevolking kon toe slegs deur geboortes groei—as meer kinders in die wêreld sou kom as wat daar sterftes en vrystellings was. Werkers het dus skaars en slawe duurder geword, en baie min van hulle is vrygestel. Toe eise vir vergoeding in 1835 ingedien is, het die slawebevolking op 38 427 gestaan. Daar moet darem ook hier gesê word dat dit ’n boer ’n aardige bedrag gekos het om ’n slaaf deurentyd gevoed en geklee te hou. Die slaaf het byvoorbeeld brood, vleis en groente gekry, plus wyn twee maal per dag, of drie keer daagliks in die oestyd. Die vrystelling van die slawe is voorafgegaan deur ’n tydperk (1816-33) van gewysigde regulasies om die lot van die slawe te verlig. Werkure is byvoorbeeld vasgepen, slawe kon eiendom besit en kinders onder tien jaar kon nie van hul ouers weggeneem en verkoop word nie. ’n Slaaf mog nie tuis met meer as 25 houe getugtig word nie, terwyl die bestuurders van landgoedere die strawwe in strafboeke moes aanteken. Hierdie voorskrifte, wat eintlik meer vir die wrede slawebase van die Wes-Indiese Eilande bedoel was, het die slawe-eienaars aan die Kaap gegrief. Om
alles te kroon het die vrystellingswet van 1833 die boere met die
probleem gelaat dat hulle sonder arbeiders kon sit net wanneer hul
gesaaides sou begin ryp word (1 Desember 1834), ondanks die bepaling dat
bestaande slawe nog vier jaar lank verpligte onbetaalde arbeid as
vakleerlinge moes verrig. Daarby was die vergoeding wat slawe-eienaars ontvang het, totaal ontoereikend. DIE konvensies waarkragtens die Transvaal en Vrystaat ná die Groot Trek hul onafhanklikheid verkry het, het bepaal dat geen slawerny daar toegelaat sou word nie. In Suid-Afrika as ’n geheel het die invloed van slawerny voortgeduur in die renons wat die deursnee-Europeër in ongeskoolde arbeid gehad het. Vrygestelde slawe is geleidelik opgeneem in die groep wat later as die ``Kaapse Kleurlinge’’ of bruinmense bekend sou staan. Uit hul geledere het op verskillende terreine groot geeste gekom wat, weens ongelukkige politieke omstandighede in ’n groot deel van die twintigste eeu, dikwels nie tot hul reg kon kom en die erkenning kon kry wat hulle verdien het nie. Vandag
staan talle nakomelinge van die slawe van weleer egter hul plek vol in
die nuwe Suid-Afrika, tot in die hoogste raadsale van die land. Hul
voorouers sou verheug gewees het as hulle destyds kon weet hoe hul
nasate hulle sou onderskei.
|
||
|
Onderstebo gekruisig of stadig doodgebrand... die verskriklike vonnisse van sekere Kaapse slawe HOEWEL vertel word dat slawe in private diens in Kaapstad goed behandel is, was daar andersyds drakoniese maatreëls wat hul menswaardigheid volgens vandag se standaarde skokkend ernstig aangetas het en soms selfs hul dood beteken het. Vermeende oortreders is bitter swaar gestraf. Trouens, in die eeu en ’n anderhalwe dekade van 1680 tot 1795, is gemiddeld een slaaf per maand in die Kaap tereggestel. Die hangende ontbindende lyk van ’n tereggestelde slaaf sou op een plek in die moederstad vir openbare kennisname vertoon, later afgehaal en dan weer elders hangend uitgestal gewees het—alles om ander slawe ernstig te waarsku om hulle te gedra. Hiervan word vertel in werke soos Children of Bondage deur Robert C-H Shell, (Witwatersrand University Press, © 1994) en An Unsung Heritage: Perspectives on Slavery deur Alan Mountain (David Philip Publishers, © 2004). Een van die aakligste vonnisse was dié van Franciscus Xaverus van Tranqeubar in 1721. Daar is gelas dat hy onderstebo gekruisig moes word en dat geen genade aan hom betoon moes word om sy dood te verhaas nie. Ná sy dood moes sy lyk “heen en weer” deur die Kaapse strate gesleep en dan na Galgeheuwel by Groenpunt geneem word om daar te hang “totdat die voëls van die hemele en die lug vanself die liggaam verteer”. ’n Jaar of drie later is beveel dat ’n slaaf se regterhand afgekap moes word nadat hy aan moord en brandstigting skuldig bevind was. Maar daarby het dit nie gebly nie. Hy moes ook nog “half verwurg” word en daarna op ’n “stadige vuur” gedood word. Die stadige vuurdood was die straf vir brandstigting. In 1753 is ’n stel reëls vir slawebeheer opgestel deur die destydse Kaapse goewerneur, Rijk Tulbagh—verordeninge wat bekend sou staan as die Tulbagh-Kode. Een van dié was ’n klokreël waarkragtens slawe teen tienuur in die aand binnenshuis moes wees. Indien dit nodig was dat hulle buite moes wees, moes hulle ’n pas en ’n lantern dra. Slawe is ook verbied om snags te sing, fluit of enige soort geluid te maak. Boonop is slawe belet om te perd of op ’n wa deur die Kaapse strate te ry en op openbare vakansiedae in groepe saam te drom. Hulle is nie in kroeë (taphuise) toegelaat nie. Dié wat valse bewerings gedoen of die Kaapse vryburgers beledig het, moes in kettings aangehou en in die openbaar gegesel word. Veel erger nog: slawe wat hulle met geweld teen hul base verset het, moes met die dood gestraf word en geen genade moes aan hulle betoon word nie. Eienaardig genoeg is die taak aan ’n groep slawe wat as Caffers bekend gestaan het, opgedra om te sorg dat hierdie wette uitgevoer word. Hulle is nie deur die klokreël gebind nie, maar—gewapen met ’n swaard en palang of swaar knuppel—moes hulle te alle tye snags deur die strate beweeg en verseker dat die ander slawe nie die klokreël oortree nie. Hulle is oral aan die Kaap sowel gehaat as gevrees en deur die Kapenaars “die laksman se swart helpers” genoem.
|
||
|
Slaweskip-drama
Tog was daar diegene wat gewelddadig in opstand gekom het teen hul vernederende omstandighede. Die muitery in 1766 op die slaweskip Meermin aan die Suid-Afrikaanse suidkus is een goed gedokumenteerde geval. Die Meermin het op 20 Januarie van daardie jaar van Madagaskar vertrek met 140 slawe aan boord. Maar ná die afvaart rebelleer die slawe, oormeester die bemanning en dood die helfte van hulle. Hulle neem die bevel van die skip oor, maar omdat hulle self nie weet hoe nie, gelas hulle die kaptein van die Meermin om na Madagaskar terug te vaar. Die kaptein slaag egter daarin om die slawe te uitoorlê en in die nagtelike ure koers te kies na Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Suid-Afrika. Terwyl die skip daar voor anker lê, vaar die eerste groep slawe in bote strand toe om te gaan vasstel of dit werklik Madagaskar is. Voordat die verkenners vertrek, reël hulle met hul kamerade op die skip dat, as alles in orde is, hulle drie vure op die land sal aansteek en die bote na die skip sal terugstuur. Die groep uitvarende slawe loop hulle egter vas teen die boere van die omgewing wat blykbaar reeds met ’n teleskoop vasgestel het dat alles nie pluis op die Meermin is nie. In 'n hinderlaag word ’n aantal van dié slawe doodgeskiet en die res gevange geneem. Intussen kry die vernuftige kaptein op die skip dit reg om boodskappe in twee bottels op die strand te laat uitspoel. Daarin vra hy die boere aan die kus om drie vure aan te steek sodat die oorblywende slawe op die skip sal dink dat hulle inderdaad by Madagaskar aangekom het. Die boere steek die vure aan. Maar dinge gebeur nie heeltemal soos beplan nie. Die bote waarmee die eerste groep slawe land toe gevaar het, het vanselfsprekend nie teruggekom nie. Toe die ongeduldige slawe op die skip die vure sien, sny hulle dus die Meermin se ankertoue los en die skip begin land toe dryf. Die leier van die slawe is selfs ongeduldiger. Hy vaar met ’n paar ander slawe land toe in ’n kano wat hy op die skip gevind het. Hierdie belhamel en sy klompie trawante word op die strand deur die boere oorrompel en een van hulle doodgeskiet. Die skermutseling word egter van die Meermin af gesien en die ontnugterde oorblywende slawe op die skip sak verwoed toe op die skip se bemanning. Maar in die middel van die geveg strand die Meermin—en alle hoop wat die slawe nog op herwonne vryheid kon gehad het, is daarmee heen. Die datum is 9 April 1766. Die muitende slawe word oortuig om hul verset te beëindig. Almal aan boord word gered, maar die Meermin begin opbreek en is spoedig ’n algehele wrak. Altesaam
112 slawe kom op die ou end in Kaapstad aan. Vir die Kompanjie het die
hele bloedige drama darem nie ’n totale verlies beteken nie. |
||