Slawerny in Suid-Afrika

'n Voorstelling van slawe wat soos diere gevang is en nou aangejaag word na 'n slaweskip.


Hulle is soos die diere van die bos gevang en na die slaweskepe gebring—om na SA en elders vervoer te word waar hulle op veilings verkoop is. Dan het hul eienaars hulle saamgevat huis toe om vir hulle te werk tot hul sterwensdag. Selfs hul kinders sou slawe word... teen wil en dank...
 


DIS ondenkbaar dat ons vandag nog so sal maak—dat ons ’n veiling sal bywoon om ’n mens daar te koop. ’n Mens wat ons sal dien tot die dood ons skei, om mee te doen en te handel nes dit ons behaag. Ons nuttige stuk eiendom. Ons slaaf.

Nagenoeg een en twee derdes van ’n eeu gelede nog was slawerny ’n doodgewone ding in verskillende wêrelddele en het die praktyk ook in Suid-Afrika hoogty gevier.

Slawe is as besittings beskou, ’n onvervreembare deel van hul base se rykdom. Jy kon ’n slaaf dwing om vir jou te werk—en genadeloos straf wanneer hy verbrou—en selfs wanneer hy kinders gekry het, sou hulle as willose slafies in jou huishouding opgeneem word.

Slawerny het aan die Kaap bestaan van 1653 af, kort ná Jan van Riebeeck se koms in 1652. Dit het geduur tot in 1838. Die beëindiging daarvan, en veral die manier waarop die verbod afgewing is, sou die gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onberekenbaar beïnvloed.

DIE EERSTE slaaf aan die Kaap, ’n sekere Abraham, was ’n verstekeling op ’n skip uit Batavia. Hy het Maart 1653 in Tafelbaai aan wal gestap en is gedwing om vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te werk totdat hy drie jaar later na Batavia teruggestuur is.

In Maart 1655 was daar drie slawe wat van Madagaskar af hierheen gebring is. Maar dit was eers in 1658, weer in Maart, dat slawerny sy eintlike beslag aan die Kaap gekry het met die aankoms van ’n besending slawe op die skip Amersfoort.

Van Riebeeck het slawe bo inheemse werkers verkies en vryburgers toegelaat om hulle op skuld te koop, maar die meeste het in die Kompanjie se diens gebly.

Teen 1708 besit die burgers egter reeds 1 147 volwasse slawe, met ’n stuk of 450, die kinders ingesluit, as die Kompanjie se eiendom.

In die agttiende eeu bring georganiseerde invoere, veral van Delagoabaai en Madagaskar, die slawebevolking teen 1795 op sowat 17 000 te staan. Van die Kompanjie se Oosterse besittings het Asiatiese slawe gekom, wat as meer inskiklik as dié uit Afrika beskou is.

Maar baie van die Maleiers was bedrewe ambagslui wat nie altyd so gedwee en onderdanig gebly het nie. Met tye het hulle gewelddadig gerebelleer.

Slawe wat aan die Kaap gebore is, het die meeste aansien geniet en is gewoonlik as huisbediendes ingespan. Op die wyn- en graanplase was die werkers mettertyd feitlik almal slawe, hoewel beesboere naby die grens Khoi-bediendes verkies het.

Die Kompanjie het verblyf by die slawelosie, oorgenoeg rys en vis met tabakrantsoene en skole vir die kinders verskaf. Maar die slawe is meestal as pakdraers gebruik en die werk was moeilik.

Slawe in private diens in Kaapstad self is goed behandel en party het uiteindelik hul vryheid verdien, veral as hulle as kinders gedoop was. Hulle het vuurmaakhout versamel, eetware vir hul base verkoop en die ambagslui onder hulle is aan bure uitverhuur.

Slawerny aan die Kaap van destyds

LINKS BO: Die Heerengracht in Kaapstad, vandag die bergkantse deel van Adderleystraat, soos in 1832 gesien, enkele jare voor die algehele vrystelling van die slawe in 1838. Die draer op die voorgrond is bes moontlik ’n slaaf.

REGS BO: Op baie van die plase buite die Kaapse Skiereiland het ’n slaweklok tussen twee pilare die slawe na en van hul werkplekke geroep.

Illustrasies in sigaretpakkies wat deur versamelaars geplak moes word in die boek OUR SOUTH AFRICA PAST AND PRESENT, in 1938 uitgegee deur The United Tobacco Cos. (South) Limited. Kopiereghouding nie aangedui, maar indien dit steeds bestaan, moet belangherbbendes asseblief die Webmeester nader sodat die aangeleentheid in die reine gebring kan word.

TYDENS die eerste Britse besetting (1795-1803) en die Bataafse Republiek (1803-06) het die werkerskaarste die owerhede verplig om die verdere invoer van Afrika-slawe te magtig. Maar albei regerings het gehoop dat Europese arbeid spoedig slawearbeid sou vervang.

Die Britte het toe die Kaap permanent oorgeneem, en die Britse wet op die afskaffing van slawehandel (1807) het dit onwettig gemaak om ná 1 Maart 1808 slawe by enige Britse hawe af te laai.

Slawe wat wel onwettig aangekom het, het die betiteling ``prys-negers'' gekry en is as vakleerlinge aan amptenare of handelslui toegesê.

Die wet is egter later streng toegepas en die slawebevolking kon toe slegs deur geboortes groei—as meer kinders in die wêreld sou kom as wat daar sterftes en vrystellings was.

Werkers het dus skaars en slawe duurder geword, en baie min van hulle is vrygestel. Toe eise vir vergoeding in 1835 ingedien is, het die slawebevolking op 38 427 gestaan.

Daar moet darem ook hier gesê word dat dit ’n boer ’n aardige bedrag gekos het om ’n slaaf deurentyd gevoed en geklee te hou. Die slaaf het byvoorbeeld brood, vleis en groente gekry, plus wyn twee maal per dag, of drie keer daagliks in die oestyd.

Die vrystelling van die slawe is voorafgegaan deur ’n tydperk (1816-33) van gewysigde regulasies om die lot van die slawe te verlig. Werkure is byvoorbeeld vasgepen, slawe kon eiendom besit en kinders onder tien jaar kon nie van hul ouers weggeneem en verkoop word nie.

’n Slaaf mog nie tuis met meer as 25 houe getugtig word nie, terwyl die bestuurders van landgoedere die strawwe in strafboeke moes aanteken. Hierdie voorskrifte, wat eintlik meer vir die wrede slawebase van die Wes-Indiese Eilande bedoel was, het die slawe-eienaars aan die Kaap gegrief.

Om alles te kroon het die vrystellingswet van 1833 die boere met die probleem gelaat dat hulle sonder arbeiders kon sit net wanneer hul gesaaides sou begin ryp word (1 Desember 1834), ondanks die bepaling dat bestaande slawe nog vier jaar lank verpligte onbetaalde arbeid as vakleerlinge moes verrig.

Daarby was die vergoeding wat slawe-eienaars ontvang het, totaal ontoereikend.

DIE konvensies waarkragtens die Transvaal en Vrystaat ná die Groot Trek hul onafhanklikheid verkry het, het bepaal dat geen slawerny daar toegelaat sou word nie. In Suid-Afrika as ’n geheel het die invloed van slawerny voortgeduur in die renons wat die deursnee-Europeër in ongeskoolde arbeid gehad het.

Vrygestelde slawe is geleidelik opgeneem in die groep wat later as die ``Kaapse Kleurlinge’’ of bruinmense bekend sou staan. Uit hul geledere het op verskillende terreine groot geeste gekom wat, weens ongelukkige politieke omstandighede in ’n groot deel van die twintigste eeu, dikwels nie tot hul reg kon kom en die erkenning kon kry wat hulle verdien het nie.

Vandag staan talle nakomelinge van die slawe van weleer egter hul plek vol in die nuwe Suid-Afrika, tot in die hoogste raadsale van die land. Hul voorouers sou verheug gewees het as hulle destyds kon weet hoe hul nasate hulle sou onderskei.

Nalatenskap van die SA slawe
     

Klopse en die Bo-KaapREGS: Die slawe-invloed in Suid-Afrika is vandag steeds ten beste merkbaar by die groep slawe-nasate wat bekend staan as die Kaapse Maleiers. Die kleurryke Maleierbuurt (Bo-Kaap) in Kaapstad getuig nog kennelik van hierdie besondere erfenis, maar dit is lank nie al nie. Onmiskenbare spore daarvan is byvoorbeeld ook in die Afrikaanse taal ingegrif. Onder die bekende woorde van moontlike slawe-herkoms (Maleis-Portugees) wat in ons taal bly vassteek het, is byvoorbeeld  "bobotie", "blatjang", "bredie", "pondok", "piering", "piesang" en "poer-poer", om van ons baie gebruikte "baie" nie eens te praat nie. Voorts is daar verskeie kosse wat ons beslis van die Maleier-slawe geërf het, nie die minste nie die einste blatjang en bobotie. Die vrolike, singende Kaapse Klopse is ook wyd bekend, en die slawe het met hul moppies (grappige straatliedjies) ’n besliste invloed op die Afrikaanse lied uitgeoefen. Dink maar aan Daar kom die Alibama.

Klopse-figure gesuperimponeer op Bo-Kaap-foto. Foto slegs van Klopse-figure: Kopiereg: SOUTH AFRICAN TOURISM/SUID-AFRIKAANSE TOERISME


 Slaweskip-drama 
Die muitery op die Meermin

Aan boord van ’n slaweskipSLAWESKEPE met hul somber menslike "vragte" het eenmaal die slawebevolkings aan die Kaap en ander nedersettings op die aardbol dramaties laat groei. Verreweg die meeste gevange slawe sou dan ook hul lot gelate aanvaar, soos dié op die ILLUSTRASIE REGS.

Tog was daar diegene wat gewelddadig in opstand gekom het teen hul vernederende omstandighede. Die muitery in 1766 op die slaweskip Meermin aan die Suid-Afrikaanse suidkus is een goed gedokumenteerde geval. 

Die Meermin het op 20 Januarie van daardie jaar van Madagaskar vertrek met 140 slawe aan boord. Maar ná die afvaart rebelleer die slawe, oormeester die bemanning en dood die helfte van hulle. Hulle neem die bevel van die skip oor, maar omdat hulle self nie weet hoe nie, gelas hulle die kaptein van die Meermin om na Madagaskar terug te vaar. 

Die kaptein slaag egter daarin om die slawe te uitoorlê en in die nagtelike ure koers te kies na Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Suid-Afrika. Terwyl die skip daar voor anker lê, vaar die eerste groep slawe in bote strand toe om te gaan vasstel of dit werklik Madagaskar is. Voordat die verkenners vertrek, reël hulle met hul kamerade op die skip dat, as alles in orde is, hulle drie vure op die land sal aansteek en die bote na die skip sal terugstuur.

Die groep uitvarende slawe loop hulle egter vas teen die boere van die omgewing wat blykbaar reeds met ’n teleskoop vasgestel het dat alles nie pluis op die Meermin is nie. In 'n hinderlaag word ’n aantal van dié slawe doodgeskiet en die res gevange geneem. 

Intussen kry die vernuftige kaptein op die skip dit reg om boodskappe in twee bottels op die strand te laat uitspoel. Daarin vra hy die boere aan die kus om drie vure aan te steek sodat die oorblywende slawe op die skip sal dink dat hulle inderdaad by Madagaskar aangekom het. Die boere steek die vure aan. Maar dinge gebeur nie heeltemal soos beplan nie.

Die bote waarmee die eerste groep slawe land toe gevaar het, het vanselfsprekend nie teruggekom nie. Toe die ongeduldige slawe op die skip die vure sien, sny hulle dus die Meermin se ankertoue los en die skip begin land toe dryf. Die leier van die slawe is selfs ongeduldiger. Hy vaar met ’n paar ander slawe land toe in ’n kano wat hy op die skip gevind het. 

Hierdie belhamel en sy klompie trawante word op die strand deur die boere oorrompel en een van hulle doodgeskiet. Die skermutseling word egter van die Meermin af gesien en die ontnugterde oorblywende slawe op die skip sak verwoed toe op die skip se bemanning. Maar in die middel van die geveg strand die Meermin—en alle hoop wat die slawe nog op herwonne vryheid kon gehad het, is daarmee heen. Die datum is 9 April 1766.

Die muitende slawe word oortuig om hul verset te beëindig. Almal aan boord word gered, maar die Meermin begin opbreek en is spoedig ’n algehele wrak.

Altesaam 112 slawe kom op die ou end in Kaapstad aan. Vir die Kompanjie het die hele bloedige drama darem nie ’n totale verlies beteken nie.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad