|
Die dodelike slaap
Krediet, illustrrasie van tsetsevlieg: Meyers Lexikon, 1888-90, openbare besit as gevolg van verval van kopiereg weens ouderdom. |
||
|
||
ATA is deur die slaapsiekte getref,” het die historikus geskryf, “ ’n siekte wat dikwels die inwoners van daardie klimaatsgebied teister. Die aangetaste mense is omtrent nooit wakker of paraat nie. Hierdie krankheid is skadelik vir die pasiënt en duur voort totdat hy sterf. Die ongesteldheid het twee jaar lank in Jata se vog bly sit waarna hy oorlede is.” Die geskiedskrywer wat hierdie verslag neergepen het, waarskynlik in Egipte, was die Arabiese historikus Ibn Khaldun, nagenoeg aan die einde van die 1300’s of vroeë 1400’s. Die arme pasiënt oor wie hy geskrywe het, was ene Mari Jata, keiser van die destydse ryk van Mali in Wes-Afrika, ’n ou keiserryk wat op sy goud, sout en koper kon roem. Die siekte wat Jata se aardse bestaan so tragies beëindig het—en wat al sy aardse rykdomme nie kon voorkom of genees nie—was feitlik seker tripanosomiase, ook bekend as slaapsiekte of Afrika-slaapsiekte. Dit word deur ’n klein eensellige parasiet veroorsaak. Die siekte oorweldig die immuunsisteem en lei tot ’n ernstige infeksie van die brein en die meninges. Die meninges is die drielaagmembraan (vlies) wat die brein en rugmurg omgeef. Mense van diep in die dertig Afrika-lande word deur hierdie tropiese siekte aangetas, en daar kom jaarliks sowat ’n halfmiljoen gevalle en nagenoeg 66.000 sterftes voor. Nog omtrent 100.000 mense word daardeur tot gestremdheid gedoem as gevolg van breinskade. Die parasiet wat al die ellende aanrig, is Trypanosoma brucei, ’n verlangse neef van die malaria-parasiet. En net soos malaria deur ’n muskiet oorgedra word, so word slaapsiekte deur ’n ander verpestelike bloedsuiende insek aangestig. Die boosdoener? Die sogenaamde tsetsevlieg. Gelukkig is die meeste tsetsevlieë nie met die parasiet besmet nie en laat die vlieg se byt sy slagoffers dikwels net olik voel. Maar sodra slaapsiekte-besmetting plaasvind, woeker die siekte meedoënloos in die slagoffer se gestel. As die pasiënt nie die korrekte behandeling ontvang nie, kan die dood maklik intree. Die vlieg sowel as die parasiet kom in ’n breë gordel om die ewenaar in Afrika voor. Toeriste wat hulle byvoorbeeld diep in Midde-Afrika begewe, loop gevaar om pynlike byte van die tsetsevlieg op te doen, wat nie maklik onderskei kan word van die ewe pynlike knabbelings van die blinde- of perdevlieg nie. Daar is in der waarheid, sover bekend, drie subspesies van Trypanosoma brucei, waarvan twee vir besmettings by mense sorg. Trypanosoma brucei rhodesiense word in Oos- en Suidelike Afrika aangetref, Trypanosoma brucei gambiense in Wes- en Midde-Afrika en albei subspesies in Uganda. Trypanosoma brucei brucei besmet nie mense nie, maar veroorsaak ’n uitterende siekte, wat nagana (of n’gana) genoem word, by beeste en perde.
Krediet: PHIL / Centers for Disease Control and Prevention / U.S. Department of Health and Human Services Soos by die malaria-muskiet is dit ook slegs die bloedsuiende wyfie van die tsetsevlieg wat die verwoestingswerk aanrig, nie die mannetjie nie. Sy huisves die parasiete in haar speeksel. Die parasiete vermenigvuldig by die plek waar die vlieg haar menslike slagoffer se vel deurboor het, en ’n pynlike knop verskyn by die bytplek. Hiervan versprei hulle na die limf en bloedstroom. Mettertyd (binne weke of oor etlike maande of selfs jare) gaan dit al hoe bedroewender met die besmette persoon. Hy raak koorsig, het vreeslik hoofpyn en is letargies (slaperig). Sy gesig lyk uitdrukkingloos, sy ooglede hang. Trouens, sy denke kan so aangetas raak dat sy persoonlikheid verander. As die siekte nie verlig word nie, verval hy in ’n koma weens skade aan sy sentrale senustelsel en dan kan hy nie weer bygebring word nie. Hierna volg die dood. OMDAT doeltreffende middels teen slaapsiekte so dikwels nie geredelik beskikbaar is nie, word voorkoming as die heel belangrikste beskou. Die uitwissing van broeiplekke van die tsetsevlieë sou die beste opsie kon wees, as dit nie was dat die natuur in die breë so erg benadeel kan word deur beheerde bosbrande, ander maniere van ontbossing en skadelike gifstowwe nie. Genadiglik vir sekere Afrikane is daar vandag vangapparate en skerms wat die tsetsevlieë taamlik in toom kan hou, hoewel lank nie almal in die gevaargebiede toegang tot so iets het nie. Nog ’n benadering—om steriele tsetsevlieg-mannetjies in die natuur vry te laat en die wyfies aan te moedig om met hulle paar sodat daar geen nasate sal wees nie—het wel reeds in ’n beperkte mate vrugte afgewerp. Om langbroeke, langmoubaadjies en dik sokkies aan te hê, sou wel die tsetsevlieë kon keer om by ’n mens se vel uit te kom, maar wie dra nou sulke klere in die stikwarm trope? Nogtans is dit belangrik dat toeriste deeglik voorsorg sal tref as hulle gevaargebiede binnegaan, en waar dit enigsins moontlik is, moet hulle hulle nie aan die bytende insekte blootstel nie. Pentamidine-inspuitings bied wel beskerming teen Trypanosoma brucei gambiense, maar daar is nog nie aangetoon of dit doeltreffend teen Trypanosoma brucei rhodesiense is nie. As vermoed word dat iemand slaapsiekte onder lede het, kan die vermoede bevestig of verkeerd bewys word deur die persoon se bloed, beenmurg, serebrospinale vog of ’n limfklier waarin die parasiet gevind word, mikroskopies te ontleed. Slaapsiekte kan in baie gevalle wel doeltreffend behandel word, maar die gevaar van tekens van breinskade kan nie uitgesluit word nie. Lyers in tropiese Afrika kan nietemin vandag dankbaar wees dat hulle nie meer nodig het om ’n middel te gebruik wat vroeg in die twintigste eeu ontwikkel is met arseen, ’n sterk minerale gif, as basis nie. Blindheid was ’n ernstige newe-effek van hierdie giftige medisyne teen slaapsiekte. DIS interessant om te weet dat slaapsiekte ook op ’n paar ander maniere as deur die byt van ’n tsetsevlieg opgedoen kan word. Een daarvan is oordrag deur ’n swanger ma op haar ongebore baba, wat tot die dood van die fetus lei. Besmetting kan eweneens deur seksuele kontak en bloedoortapping plaasvind. Epidemiese tripanosomiase kom hoofsaaklik voor waar bevolkings deur oorlog, hongersnood en onrus ontwrig word. En om redes wat steeds onbekend is, is daar baie streke waar tsetsevlieë voorkom, maar slaapsiekte nie.
LINKS: Nagenoeg 66 000 mense sterf jaarliks in Afrika weens slaapsiekte. Krediet: MSKARG Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie verskil die voorkoms van die siekte van land tot land, asook in verskillende dele van ’n enkele land. In 2005 is belangrike uitbrekings in Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Soedan waargeneem. In die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjad, die Kongo, Côte d’Ivoire (Ivoorkus), Guinee, Malawi, Uganda en Tanzanië bly slaapsiekte ’n belangrike openbare gesondheidsprobleem. Lande soos Burkina Faso, die Kameroen, Ekwatoriale Guinee, Gaboen, Kenia, Mosambiek, Nigerië, Rwanda, Zambië en Zimbabwe meld jaarliks minder as vyftig nuwe gevalle aan. In lande soos Benin, Botswana, Burundi, Ethiopië, Gambië, Ghana, Guinea-Bissau, Liberië, Mali, Namibië, Niger, Senegal, Sierra Leone Swaziland en Togo is daar etlike dekades lank geen nuwe gevalle aangemeld nie Dit is
nietemin moeilik om die huidige toedrag van sake te bepaal in die
lande waar slaapsiekte endemies voorkom, omdat soveel kundigheid
ontbreek en daar boonop baiemaal niemand is wat uitbrekings kan
monitor nie. |
||
|
||
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |