|
Daar’s
’n
s-s-s-slang
"Maar
die slang was listiger as al die diere van veld," lees ons in
Genesis in die Bybel. En sedert die sondeval in die paradys kan daar
geen vriendskap wees tussen die mens en die pootlose reptiel wat
veroordeel is om op sy buik te seil en al die dae van sy lewe stof te
eet nie. Ja, natuurlik moet die mens op sy hoede wees vir slange. ’n
Goeie klompie van hulle is immers dodelik giftig. Maar dit beteken nie
dat ons hierdie grillerige gebroedsels só moet vermy dat ons nooit van
hul interessante hebbelikhede en gedoentes sal leer nie. Ons moet ook
nie al wat ’n slang is, voor die voet probeer doodslaan nie, want
daarmee kan ons die natuur se ewewig onnadenkend versteur... |
|
ANNEER
’n mens ".’n slang aan jou boesem
koester", oorlaai jy ’n skurk met weldade. En as jy so kwaad is
dat jy "kan slange vang", dan is jy werklik briesend. Baie tale het allerhande idiome waarin die slang sy spreekwoordelike eiertjie bylê, en jy kan omtrent seker wees dat hy nooit as ’n mensevriend voorgestel word nie. Vir die mens is die slang immers ’n jiggie-ding en ’n angswekkendheid. Hoeveel mense—ook in Suid-Afrika—is nie al van slangbyt dood nie? Die goeie nuus is darem dat, van die tientalle inheemse soorte wat al in ons land beskryf is, goed driekwart óf heeltemal onskadelik is óf so weinig giftig is dat hul byt ’n mens hoegenaamd nie kan doodmaak nie. Kom ’n bietjie saam op ’n verkenningstog na die wêreld van slange... VRIEND, vyand, liefdesmaat of prooi? Jy staan op ’n veilige afstand en kyk hoe twee dodelike slange mekaar met die tong beruik. Soos alle slange het hulle gevurkte tonge. Die tonge kan blou, rooi, geel of groen van kleur wees. En soos by alle sulke gebroedsels is ’n uiters vae ''snuf'' met die tonge oorgenoeg om mekaar uit te ken.
Jong
slangetjies sal nog mekaar se nabyheid opsoek, maar die twee wat jy nou
beloer, is lankal volwasse en geswore alleenlopers. Dis net in die
paartyd dat hulle werklik saamkom. In gebiede met koel winters begin die wêreld se slange in die lente paar, maar in tropiese streke paar hulle regdeur die jaar. Die wyfies skei feromone (sekere chemikalieë) af, wat die mannetjies aanlok. Alle
soorte slange paar op dieselfde wyse. Die mannetjie vryf met die
onderkant van sy kop oor die wyfie se rug en stimuleer haar, terwyl hy
sy lyf teenaan hare oriënteer. Ofskoon hy twee geslagsorgane of hemipenes
het (aan weerskante van sy lyf), gebruik hy net een daarvan op ’n keer.
In die paartyd paar elke wyfie in die reël met verskeie mannetjies. DIE
bestudering van slange is ’n boeiende onderdeel van die dierkunde—ook
die studie van hoe die menigte soorte oor die wêreld heen versprei is. Iets wat
’n mens gou besef, is dat dié met eenders klinkende gewone name nie
noodwendig naby verwant is nie. So kry ons byvoorbeeld die groen boomadder
(Chondropython viridis) van die vogtige reënwoude en die bekende
boomslang (Dispholidus typus) van ons eie wêrelddeel—serpente van totaal verskillende skubbe! Hierdie twee is wel altwee boombewoners, maar soos ons weet, is bome lank nie die enigste hougebied van slange nie. Trouens, hul woonplekke wissel van berge tot ondergrondse gate en selfs plekke 150 meter onder die see. Hulle kom op elke vasteland buiten Antarktika voor. Onder die min plekke sonder slange is Ierland en Nieu-Seeland, asook ’n paar van die onlangs gevormde en geïsoleerde eilande, soos dié van die Asore en Polinesië. Verskillende soorte
het nie net verskillende kleure (soos die groenes in die bome) om by hul
omgewings in te skakel nie, maar baiemaal ook verskillende vorms. ’n Interessante variasie is die sogenaamde ''duiwel van die woestyn'', die horingadder
(Cerastes cerastes) van die Sahara [FOTO].
Bokant sy oë is werklik uitgroeisels wat aan horings herinner en die slang se kykers moet beskerm en vyande afskrik. Maar meestal lê hierdie kalant onsigbaar opgebondel in die sand—totdat hy skielik vorentoe skiet, sy tande in sy slagoffer inslaan en sy gif in hom inspuit. Alle
giftige slange van die aarde is egter nie byters nie. Daar is ’n uitsonderlike groep wat hul gif uitspoeg of as
’n sproei uitskiet.
Hierdie groep, wat die spoegkobras insluit, gebruik hul gif om hulself
te verdedig eerder as om kos daarmee te bekom. Die sproei word op die oë
van hul vyande gemik—en partykeer tref hulle selfs ’n teiken tot byna
2,5 meter ver. GROEIENDE
slange vervel gereeld—of eintlik raak hulle maar net telkens ontslae
van die boonste laag van hul vel. Selfs by slange wat nie meer groei
nie, raak die skubbe dood en verweerd en moet dit periodiek deur ’n nuwe, gesonde laag vervang word. Party soorte vervel sowat elke twintig
dae, ander slegs een keer per jaar. Die
slang begin sy vervelling deur met sy neus teen klippe of ander harde
voorwerpe te skuur en die ou laag vel van sy lippe af te kry. Slange
is
hoofsaaklik vleisvretend of soms (die kleiner soorte) insektevretend.
Onder natuurlike toestande moet hulle hul prooi noodwendig lewend vang
en dan maak van verskillende strategieë gebruik. Slanke,
beweeglike slange agtervolg hul slagoffers aktief, maar dié met dikker
lywe, soos die luislange, lê eerder opgerol hul prooi en inwag. Die prooi kan sonder meer ingesluk word of, soos gewoonlik gebeur, eers met gif of deur konstriksie (beklemming of drukking) gedood word. Spysvertering vind baie vinnig plaas: die sterk maagsappe los alles op behalwe hare, horings of vere, wat uitgewerp word. Die tande
van slange wys agtertoe en is nie ontwerp om te kou nie—maar gelukkig
is hierdie reptiele se bekke en lywe so rekbaar dat hulle baiemaal diere
groter as hulself kan insluk. Dié met giftande kan inderdaad groot skade aanrig, Trouens, die gif van
die pofadder (Bitis arietans) veroorsaak waarskynlik groter
veeverliese as enige ander slang in Suid-Afrika.
Slanggif is
’n komplekse mengsel van proteïene wat verskillende
weefsels in die liggaam vernietig en die prooi verlam of doodmaak.
Hoewel alle soorte slanggif elemente bevat wat sowel die senuwees as die
bloed aantas, is een van die twee tipes gewoonlik oorheersend. Slanggif het darem ook sy waarde, soos slangboere jou sal kan vertel. Slange kan naamlik ''gemelk'' word vir hul gif, wat in die farmaseutiese bedryf in die vervaardiging van sekere soorte medisyne gebruik word.
Foto: John Walker / Images of Africa / Public domain EN
die lewensloop en lewensduur van slange dan? Die meeste lê eiers—langwerpig
rond van fatsoen, met ’n leeragtige dop, van drie of vier tot honderd
of meer in getal, na gelang van die soort. Maar in party gevalle
ontwikkel die embrio's binne-in die wyfie en word hulle as volledig
ontwikkelde klein slangetjies gebore. Wanneer kos volop is, groei slange vinnig en hulle kan in sulke omstandighede binne twee tot drie jaar volwasse raak. Dit is nie altyd maklik om vas te stel hoe lank hulle in natuurlike omstandighede lewe nie, hoewel sekere soorte al byna dertig jaar lank in gevangenskap geleef het. Maar
hoe lyk ’n slang nou eintlik van binne? Dit is nie verbasend dat die
lang lyf ’n groot klomp werwelbene het nie (daar is meer as 300 in die
werwelkolom teenoor 33 - 34 by die mens). Die baie werwelbene gee
die liggaam groter buigsaamheid, vaart en gladheid van beweging.
Slange
is ’n uiters suksesvolle groep reptiele, en daar is vandag ’n goeie
paar duisend verskillende soorte op aarde met lengtes wat wissel van ’n
paar sentimeters, soos die dwergagtige wurmslange, tot by die tien meter,
soos die groot luislange. Feitlik
alle slange kan blaas deur lug vinnig in en uit te asem, maar hulle is
heeltemal stemloos en besit geen strottehoof of stembande nie. As ’n s-s-s-slang dus vir jou sis-s-s-s, is dit nie ’n s-s-s-spraakklank nie, maar ’n windlawaai. En, boeta, volg hierdie goeie raad en slaan dadelik voet in die wind! |
|
| Slange is reptiele wat saam met die akkedisse tot die orde Squamata behoort, waarvan hulle die onderorde Ophidia en die akkedisse die onderorde Lacertilia vorm. | |
|
Hoe slange beweeg VERSKILLENDE soorte slange beweeg op verskillende maniere. Van die vier
soorte bewegings is die sogenaamde serpentiese beweging die algemeenste
en vinnigste. Die slang trek sy spiere saam om ’n reeks golwe in sy
liggaam te skep, met ’n drukking agter elke golf om homself vorentoe te
stoot.
Vir reglynige beweging (rusperbeweging) maak ’n swaar slang van vergrote
skubbe op die pens gebruik om vashouplek op die grond te kry.
Vir die konsertinabeweging trek die slang homself vorentoe deur sy sterk
spiere soos ’n konsertina saam te bondel en te verleng.
|
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |