|
Die
verskrikking van sneeustortings
|
|
|
IS skuins
ná sesuur die middag op ’n sekere dag in 1962. Die plek: die
Andesgebergte in Midde-Peru. ’n Lae dreuning kom oor die hange
aangesidder—soos van ’n trein in die verte. Maar onheilspellend. Dan
bewe die berge weens ’n geweldige aardskudding, en klippe, rotse en
stukke sneeu en ys tuimel na benede. Hierna kom
die stilte. Die geskokte mense van die Andes hou asem op... hoop met
’n beklemmende vrees dat Moeder Natuur genoeg uiting aan haar woede
gegee het. Maar sy het nog maar net begin! Om 6.13
nm. breek ’n massiewe homp ys en sneeu, wat weens die aardbewing
losgekom het, weg van die kruin van Huascarán, die hoogste tropiese
berg op aarde. Die reuse-brok snel teen die hange af teen byna 100 km/h
en strooi in die proses miljoene tonne ys en puin rond. Twee
minute later, om 6.15 nm., verpletter die sneeustorting die dorp
Yanamachico en nabygeleë nedersettings asof hulle speelgoeddorpies is
en word 800 mense gedood. Om 6.18 nm. trek hy genadiglik verby die dorp
Yangay, maar sekondes later verorber hy Ranrahirca soos ’n honger reus
en 2 700 mense sterf. Wanneer
die dodelike tong van ys, sneeu, rotse en ontwortelde bome uiteindelik
tot rus kom, het hy 15 km afgelê en lê daar in sy spoor ’n rug van
puin byna 20 m hoog. En dit alles in ’n skamele sewe minute! Dit was
een van die ergste sneeurampe in menseheugenis. Sou die berg Huascarán
ooit ’n groter ellende kon bring oor die mense wat aan sy voet en teen
sy hange lewe? Tóg. Want net
omtrent agt jaar later, in 1970, sterf ’n geraamde 20.000
mense toe nog ’n aardbewing ’n massa gletser-ys en rotse van byna
’n kilometer breed en meer as een en ’n halwe kilometer lank van die
berg laat wegbreek. Daarna word dit ál groter namate dit vinnig na
benede gly en nog ys, modder en rotse meesleur. Teen ’n gemiddelde snelheid van meer as 150 km/h snel die dodelike konglomeraat sowat 13 km ver na Yangay, wat die vorige ramp gespaar gebly het. Dié en nog ’n dorp word begrawe. Eers is ’n breë vallei tot omtrent 90 meter diep met gesteentes en puin bedek. Maar hier sou dit nie ophou nie. Die stortvloed sou verder deur ’n smal vallei bars en oor ’n groot gebied in die laagte uitwaaier om die menigte weerlose mense en al hul huise en aardse besittings in ’n aaklige puin- en ysmodderbad te verswelg.
SNEEUSTORTINGS.
Suid-Afrikaners kan glad nie saampraat met mense in hoë berglande wat
gedurig met dié “swaard” van ys bo hul koppe moet saamlewe nie. Sulke
stortings (Engels “avalanches”) word veroorsaak deur ’n
onstabiliteit in hoogliggende sneeubedekkings. Wanneer sneeu op berge
val, gaan lê dit teen die hange en hoop dit mettertyd op om dik yslae
te vorm. Uiteindelik veroorsaak die kombinasie van die gewig van die ys
en die aantrekkingskrag van die aarde (swaartekrag) dat ’n deel van
die ys wegbreek en as ’n lawine ondertoe tuimel. Sulke
sneeustortings word egter meer dikwels deur die een of ander buitefaktor
veroorsaak. Weerstoestande soos sneeustorms, hewige winde of die koms
van die lente (wanneer die ys begin smelt) kan sneeu en ys van die
berghange laat wegbrokkel. Die
skokgolwe van aardbewings in besneeude berge—soos destyds in
Peru—veroorsaak feitlik altyd sneeustortings. Maar enige
versteuring—hoe klein ook al—kan ’n sneeustorting aan die gang sit
waar dit dreig om te gebeur: die beweging van skiërs, ’n
mynontploffing onder in die vallei, ’n vliegtuig wat oor die gebied
vlieg, die stemme van mense, ’n diertjie wat oor die berge skarrel,
selfs ’n delikate takkie wat op die ys val. Daar is
verskillende soorte sneeustortings en boonop verskillende soorte
indelings. Ons kyk na sogenaamde plaat-, natsneeu- en droësneeustortings.
’n Plaatstorting vind plaas wanneer ’n soliede plaat sneeu en ys van
’n hang af wegbreek. Die voorste deel van die plaat verbrokkel terwyl
dit ondertoe gly.
’n
Natsneeustorting begin as ’n homp dik, nat sneeu wat teen die hang
afrol. In die proses versamel dit meer sneeu en raak dit ál groter
(die sneeubal-effek). ’n Droësneeustorting
bestaan uit droë, poeierige sneeu wat ’n ysige golfwolk honderde
meters in die lug op vorm. As die hange baie steil is, kan ’n
bulderende droësneeustorting tot teen 300 km/h ondertoe tuimel. ’n
Kragtige windvlaag kan voor hom uitbeweeg, wat geweldige skade aanrig.
As genoeg
sneeu saamgepak het om ’n sneeustorting te veroorsaak, kan niks gedoen
word om te keer dat dit gebeur nie. Beheerde ontploffings kan egter keer
dat sneeu opbou en gevaarlik word. Daar is
ook verskeie maatreëls wat vooraf getref kan word om die gevaar te
verminder. Paaie en spoorlyne kan byvoorbeeld deur betontonnels beskerm
word. Versperrings kan bokant bergdorpies of ski-oorde aangebring word
om sneeustortings te vertraag of van In party
gebiede word landkaarte versprei wat die gevaarlikste plekke aandui.
Ski-hange kan selfs gesluit word in die tyd wanneer sneeustortings
voorkom. Sommige ontwikkelde lande het ook gevorderde waarskuwings- en
ontruimingstelsels waarin helikopters en hoogs opgeleide leërpersoneel
gebruik word om die slagoffers van hierdie natuurrampe te red. Het
jy geweet?
•
In die Eerste Wêreldoorlog is 60 000 soldate wat in die Franse
en Italiaanse Alpe geveg het deur sneeustortings gedood. Die meeste van
hierdie stortings is met opset deur vyandelike kanonvuur aan die gang
gesit. |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |