|
IE gesin Willemse was in die wolke. Hul droomhuis
in Lekkerkerk, Nederland, was uiteindelik klaar gebou en hulle kon
intrek. Dit was weliswaar geen wafferse groot huis nie, maar dit
was darem baie gerieflik. En alles was blinknuut. Dat was zo leuk...
Die eerste ruk het dit dan ook voor die wind gegaan. Maar ná sowat
ses maande het vreemde dinge begin gebeur. Eers het die kinders siek
geraak. Hulle het gehoes en van hoofpyn gekla.
Toe kom ’n liederlike stank uit die grond, en daarna verwelk en vrek
die blomme in die tuin.
Een oggend het die gesin ’n vreemde, groen vloeistof uit die grond
sien opborrel. Dit het darem alte veel herinner aan al daardie
ruimteverhale oor die groen mannetjies van Mars...
Die werklike rede waarom dit gebeur het, was dat die Willemse se huis gebou was op
’n ou vullisplek waar ’n klomp gifstowwe dekades tevore gestort was.
Die huis en sowat driehonderd ander huise moes noodgedwonge ontruim
word—alles net oor die gevaarlike giwwe wat oplaas hul tol kom eis
het.
Grondbesoedeling is vandag een van die grootste gevare vir die
omgewing. ’n Mens kan omtrent sê die mens is stadig besig om homself
te versmoor onder die berge afvalstowwe wat hy skep—of dit nou hoogs
skadelike kernafval of gewone huisvullis, fabrieksafval of bourommel is.
|
REGS:
Weggeggooi, maar dit sal nie weggaan nie... Jy sal heel
waarskynlik net sulke foto’s in jou eie omgewing kan
neem waar mense rommel gestort het sonder om hulle te
steur aan wat hulle aan die omgewing doen.
|
 |
Kernafval
TOE die atoom in die
jare vyftig van die twintigste eeu grotendeels getem is, is dit as
een van die moderne mens se grootste prestasies geloof. Kernkrag kon
nou gebruik word om elektrisiteit op te wek. Met die piepklein
atoompies sou magtige duikbote en skepe ook aangedryf kon word,
terwyl kernbestraling in die geneeskunde, wetenskap en nywerhede
ingespan is.
Op die koop toe pomp die uraan wat in reaktors gebruik word, mos nie
besoedelende stowwe in die atmosfeer in soos wat met
fossielbrandstowwe gebeur nie.
Maar kerninstallasies is potensieel gevaarlik. Klein hoeveelhede
radioaktiewe gasse word in die normale gang van sake in die lug
vrygelaat. Daar is maar altyd ’n moontlikheid, hoe gering ook al,
dat die installasie per ongeluk sal begin lek. En die veilige
wegdoening van uraanerts en kernafval is ’n probleem wat nog nie
bevredigend opgelos is nie.
Die meeste kernreaktors gebruik uraan as brandstof. Die uitskot wat
oorbly nadat uraan uit sy erts onttrek is, is ryk aan radium. By die
uiteenval van radium word ’n hoogs gevaarlike radioaktiewe gas
genaamd radon gevorm.
|
Uitskot van vroeëre uraanmyne is
dikwels sommerso op die grond laat lê of selfs gebruik
om die grond onder huise op te vul. Dit het later
ontsettende probleme veroorsaak en baie huise en ander
geboue moes ontruim word.
Gelukkig is die meeste kernafval nie so heel gevaarlik
nie. Besmette voorwerpe soos handskoene en oorpakke kan
in staaltromme verseël en begrawe word in vore wat met
beton gevul is of in ondergrondse grotte. Ou soutmyne
deug ook goed, want hulle is diep en droog, en die sout
kan die bestraling in sekere mate absorbeer.
Maar met “warm” kernafval word
veel moeiliker weggedoen. Dit word in vloeibare vorm in
spesiale houers gebêre, wat koel gehou moet word om te
keer dat die inhoud wegkook.
Nog ’n bêre-metode is om die afval se volume te
verminder deur middel van ’n spesiale proses van
verglasing, waarna dit diep onder die grond begrawe
word. Geen bêre-metode is egter nog doodveilig nie.
Klein hoeveelhede radioaktiewe afval kan steeds deur
water uit hierdie glasagtige blokke gewas word en die
grond besoedel. |
Koeberg se afval
DIE hoogs radioaktiewe verbruikte
brandstof word by ’n kernkragsentrale soos ons eie
Koeberg eers in afsondering onder water verkoel en
geberg.
Hiervandaan
gaan dit na Vaalputs, sowat 600 km noord van Kaapstad in
Namakwaland, ’n bergingsplek wat deur die Nasionale
Energiekorporasie van Suid-Afrika bestuur word.
Die
Vaalputs-gebied is so dor en droog dat die jaarlikse
verdamping groter as die jaarlikse reënval is. Dit
beteken dat, selfs as radioaktiwiteit sou ontsnap, dit
nie die grondwater kan besoedel wat miskien ’n pad na
die oppervlak sou vind nie.
Die afval
word in slote van tien meter diep geberg en die
bestraling by die oppervlak is op feitlik natuurlike
vlakke en skep geen gesondheidsgevaar nie.
Om
veiligheidsredes is die perseel egter omhein en word dit
gemonitor. |

BO: Kernafval
word in Engeland per trein weggekarwei. Die wande van die houers
waarin dit vervoer word, is van soliede staal en ’n massiewe 36 cm dik.
Foto: Chris McKenna (Thryduulf),
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia
Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge
die
Creative Commons
Attribution ShareAlike-lisensie weergawes
2.5,
2.0
en
1.0
Huisvullis
MET die ontwikkeling van
die moderne “weggooi”-gemeenskap het vullis ’n enorme probleem
geword. Ons paaie word byvoorbeeld met gemors omsoom, om van die
blikkies, bottels en berge plastiek in ons riviere en damme nie eens
te praat nie.
Die meeste vullis beland wel nog op storthope, maar ook die plek
hiervoor raak skraps. Vuilgoedplekke bevat alle soorte huishoudelike
afvalstowwe, asook tonne teer, oplosmiddels en plaagdoders.
REGS:
Kinders tussen die rommel by ’n storthoop. Arm mense besoek dit
dikwels om te kyk wat daar te aas is, maar sulke plekke is
vanselfsprekend baie onhigiënies.
Foto: USAID
Storthope is nie net onooglik nie, maar kan ook giftig wees. Wanneer
vullis verbrand word, beland rook en giftige gasse in die lug. Word
dit so gelaat om te ontbind, kan metaan gevorm word, ’n hoogs
plofbare gas wat huise kan binnesypel en rampspoedige gevolge kan
hê.
Storthope is ook broeiplekke vir pesdiere soos kakkerlakke en rotte.
Nog ’n gevaar is dat reënwater deur die gemors kan syfer en die
omringende land, spruite, riviere, damme en mere kan besoedel.
Die probleme raak by die dag erger. Soos waar sekere dinge wat
maklik in die natuur kan afbreek, vervang word deur stowwe wat nie
so gou ontbind nie. Pleks van blikke wat kan roes en vergaan, kry
ons byvoorbeeld houers van aluminium. In plaas van papier en karton,
word ons met massas plastiek oorlaai. Suid-Afrika se veldtog teen
die verspreiding van papiersakke is daarom des te lofwaardiger, sê
bewaringbewustes.

BO: Min plekke in
ontwikkelde of taamlik ontwikkelde gebiede is vandag heeltemal
vry van besoedeling. Loop maar in die veld rond en kyk hoeveel
leë bottels, blikke en plastiekhouers sal jy daar kan optel.
Foto: D.L. Borden-Billiot / U.S. Fish
and Wildlife Service
Beheer oor vullis
• DAAR is baie wat ons kan doen om probleme
met huishoudelike afval te verminder en die omgewing te verbeter.
• Rommelstrooiery is heeltemal onnodig. Beywer jou vir
strenger wette en regulasies om rommelstrooiers vas te vat.
• Een van die doeltreffendste maniere om afval te verminder, is
deur herwinning. Nie net is daar dan minder besoedeling nie, maar
daar word ook minder staatgemaak op natuurlike hulpbronne, met die
groot besparings wat dit meebring.
Stowwe wat dikwels herwin word, is papier, glas, plastiek en
aluminium. Hou dit apart van die ander dinge wat jy weggooi en neem
dit na insamelingspunte en herwinningsdepots.
•
Lees ook die
Mieliestronk-artikel oor die noodsaaklikheid van herwinning
|