Soek Mense — publikasie van
webbladsy tot nadere
kennisgewing gestaak

DIE publikasie van die Soek Mense-bladsy van die Mieliestronk-werf op die net is tot nadere kennisgewing gestaak. Vir eers is dit deur ’n robot-kruiper geteiken wat ’n menigte skakels na sekere onbekende webwerwe oin ons e-koepon gedeponeer het. Ons kon die stortvloed nie keer nie.

Ten tweede het ons gevind dat die werk aan die bladsy besonder tydrowend is, omdat elke versoek eers sorgvuldig versorg moes word aangesien ons dit in ’n netjiese formaat wou aanbied. Daar moes ook gewaak word teen laster of enige moontlike benadeling van die privaatheid van gesoekte mense.

Omdat ons mannekrag so beperk is, is voorts gevoel dat hierdie tyd liewer nuttig bestee kan word vir Mieliestronk.com se hoofdoel: die verskaffing van inligting, veral vir leerders se skooltake.

Die Soek Mense-bladsy was etlike jare lank op die net. Ons is bly dat ons in hierdie tyd nogal ’n klompie ou vriende en verlore familielede weer bymekaar kon uitbring.

En wie weet, as sake vorentoe vir ons stiller verloop, maak ons dalk eendag weer so.

— Webmeester.

Klik hier vir die hoofbladsy van die Mieliestronk-werf