|
Soen
...
|
|
IT word vandag—70 jaar later—steeds as een van die top-soene in die
ganse bestaan van rolprente beskou. In "Scarlett,"
sê hy, "ek het jou liewer as wat ek ooit enige vrou liefgehad het.
En ek het langer vir jou gewag as wat ek ooit vir enige vrou gewag het.
Hier’s ’n soldaat van die Suide wat jou liefhet. Jy’s ’n vrou
wat besig is om ’n soldaat na sy dood te stuur met ’n pragtige
herinnering. Scarlett, soen my, soen my, een maal." Geslagte
van bioskoopgangers het al in vervoering gesug by die aanskoue van
daardie liefdestoneel... sonder om te dink aan die nare gerug wat
versprei word dat die hartebreker Clark Gable se, wel, minder vars asem
soms sy filmminnaresse vanuit sy greep wou laat terugdeins.
Wolhaarstorie of te nie, selfs
Gable kon stellig nie op ’n romantiese aandjie gehoop het as hy ’n
maaltyd ryk aan knoffel en uie genuttig het nie. Of as sy asem glo
gedurig na ou twak en alkohol geruik het nie. ’n
Mens moet onthou dat selfs ’n miljardste deeltjie van ’n stuk ui
deur ons reuksintuig waargeneem kan word. As jou hond dus skielik weier
om langs jou te sit—om van jou geliefde nie eens te praat nie—is
dit dalk tyd om te wonder of jy nie self aan halitose ly nie. Halitose
is die geleerde woord vir ’n jiggie wasem in jou asem.
Dit kan verskillende oorsake hê. Maar daar is raad. Soos
’n webmeester(es), wat gratis "zoentips" uitdeel, dit so
grafies op ’n Nederlandse webblad stel: "Niets is zo vies als
zoenen met iemand die een slechte adem heeft. Verzorg je tanden daarom
goed: poets en flos ze regelmatig. Heb je net wat gegeten of ben je bang
dat de tandpasta al lang is uitgewerkt? Geen nood, je hebt keuze genoeg
uit kauwgom, mondspray of pepermuntjes. Zorg dus dat je altijd wat bij
je hebt." Natuurlik
is dit nie net jou geliefde—en dalk ou Wagter—wat afgeskrik sal
word deur onaangename walms vanuit jou onmiddellike dampkring nie.
Soene, ofskoon van ’n ander soort as dié tussen minnaars, word immers
in ons kultuur soos lekkergoed aan almal in ons familie- en vriendekring
uitgedeel. Iemand het al selfs bereken dat ons in ’n gemiddelde
leeftyd twee weke lank aan soene bestee. Daar is boonop vasgestel dat
’n derde van ons mense op die verkeerde manier soen—en dit is op
sigself ’n ander interessante storie... HOE
om ’n soen te doen het ’n lang geskiedenis, al dink die stomende
jongklomp in die TV se 7de Laan soms—en ter beskaming van die ouer
garde—dat hulle dit alleen uitgevind het. Die vroeë
Christene het mekaar gekus wanneer hulle ook al bymekaar gekom het. Die
bruid en bruidegom soen in party kerke nadat die predikant hulle getroud
verklaar het. Eskimo’s en
Polinesiërs soen deur neusie-neusie te speel, terwyl die mense van
Suidoos-Indië hul weergawe van die soen ten toon stel deur die neus
teen die wang te druk, terwyl die doener diep asemhaal. Aaaaaaaa.... Dan is daar natuurlik ook die "Franse" vat-soen (nie te verwar met fatsoen nie) waar koorsige soeners mekaar nie net aanhoudend met die lippe vat-vat nie, maar ook met die tonge. Dis die tongtippie-toets... dog kom ons roep liewer net daar halt voordat ons dalk self te ver gaan. Maar
waar het die mensdom dan met sy gesoen begin? Volgens een teorie kom dit
van ’n antieke gebruik waar ma’s eers hul babas se kos fyngekou het
voordat hulle dit in hul bloedjies se wagtende mondjies ingedruk het.
Gaan vertel dit vir die voëls, sal party mense sê. Of dalk is dit nie
nodig nie, die voëls doen dit immers lankal op hierdie manier...
Foto: Glenn Grant / U.S. Antarctic Program / U.S. National Science Foundation Nog
’n teorie is dat soeners naby genoeg aan mekaar kom om mekaar se buie,
broodkrummels, onlangse kaperjolle en erotiese chemie te ruik sodat
hulle kan uitwerk hoe om mekaar te hanteer. Volgens ’n derde teorie
sou dit ontstaan het by ’n ou geloof dat die siel in ’n mens se asem
leef. Met ’n soenery sou die asems saamgevoeg en die twee siele vir
ewig verenig word. Nogal ’n mooi gedagte, maar natuurlik kan nie een
van die drie teorieë werklik bewys word nie. Daarteenoor
het party mense al gedink dat soenery ’n onheilige onding is. In die
Amerikaanse staat Indiana is selfs ’n wet aangeneem wat dit onwettig
vir ’n man met ’n snor maak om "om uit gewoonte mense te
soen". In Hartford in die Amerikaanse staat
Connecticut is dit steeds onwettig vir ’n man om sy vrou op
’n Sondag te soen. En in Napels in Italië kon ’n mens jou in die
sestiende eeu die doodstraf op die hals haal deur te soen. Hoe
ook al, jy kan die moderne mens ewe min belet om te soen as wat jy ’n
hond kan belet om te blaf. Maar hoe kan daar dan ’n "verkeerde
manier wees om te soen", soos ons hierbo gesê het? Volgens
Onur Gunturkun van die Ruhr-Universiteit in Bochum, Duitsland, is daar
wel. Sy spesialiteit is om die verskille tussen die linker- en
regterhelfte van die brein by verskillende soorte voëls en diere te
bestudeer. Op ’n dag, toe hy ses uur lank op die lughawe van Chicago
gestrand was, het hy opgemerk dat paartjies mekaar soen deur elk die kop
regs te swenk sodat elkeen se neus regs van die ander party se neus is. Met
sy links-regs-belangstelling het hy toe in
die volgende twee en ’n halwe jaar inligting oor soeners op lughawens,
in parke, op strande en op spoorwegstasies versamel. Sy slotsom was dat
twee derdes van die mense mekaar na regs soen. Waarop dit neergekom het,
is natuurlik dat ’n derde van ons dit op die verkeerde manier doen. Klink straks eienaardig. Totdat ’n mens na die oorheersende "regsgesindheid" van die mens in die algemeen kyk. Sowat negentig persent van ons is naamlik regshandig, maar sowat twee derdes verkies dit om die regtervoet, regteroog en regteroor te gebruik. Boonop
is babas geneig om hul koppies in die laaste weke in die baarmoeder en
die eerste ses maande nadat hulle gebore is na die regterkant toe te
draai. Maar miskien is
dit sinloos om soene werklik wetenskaplik te wil ontleed. Ons is wesens
van die lippe—iets wat ons
anders maak as byna alle ander lewensvorme. Dalk moet ’n mens
dus bloot volstaan met die volgende aanhaling uit die pen van die
Victoriaanse digter Robert Browning
(1812-1889):
The moment eternal —just that and no more — Goeienag, my soetelief... XXXXXXXX |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |