Soen ...
Die spel van die lippe

Lippe’n Lighartige vertelling oor die moontlike herkoms van dié onsterflike ritueel… en hoekom ’n navorser sê dat ’n derde van ons dit eintlik op die verkeerde manier doen!

Juliet en Romeo soen mekaar

BO: Juliet en Romeo soen mekaar in ’n skildery deur sir Frank Dicksee (1853-1928), ’n Engelse Victoriaanse kunstenaar. Die twee tieners is die hoofkarakters in die Engelse dramaturg William Shakespeare se beroemde tragedie oor jong liefde, Romeo and Juliet, wat in sy leeftyd (1564–1616) een van sy gewildste dramas was. Hy het dit vermoedelik tussen 1591 en 1595 geskryf.

Krediet: Histories (“PD Old”)


D

IT word vandag—70 jaar later—steeds as een van die top-soene in die ganse bestaan van rolprente beskou. InDaardie soen in Gone With The Wind die epiese film Gone With The Wind van 1939 trek Rhett Butler (Clark Gable) vir Scarlett O’Hara (Vivien Leigh) nader en bely hy sy onsterflike liefde aan haar [REGS].

"Scarlett," sê hy, "ek het jou liewer as wat ek ooit enige vrou liefgehad het. En ek het langer vir jou gewag as wat ek ooit vir enige vrou gewag het. Hier’s ’n soldaat van die Suide wat jou liefhet. Jy’s ’n vrou wat besig is om ’n soldaat na sy dood te stuur met ’n pragtige herinnering. Scarlett, soen my, soen my, een maal."

Geslagte van bioskoopgangers het al in vervoering gesug by die aanskoue van daardie liefdestoneel... sonder om te dink aan die nare gerug wat versprei word dat die hartebreker Clark Gable se, wel, minder vars asem soms sy filmminnaresse vanuit sy greep wou laat terugdeins. Wolhaarstorie of te nie, selfs Gable kon stellig nie op ’n romantiese aandjie gehoop het as hy ’n maaltyd ryk aan knoffel en uie genuttig het nie. Of as sy asem glo gedurig na ou twak en alkohol geruik het nie.

’n Mens moet onthou dat selfs ’n miljardste deeltjie van ’n stuk ui deur ons reuksintuig waargeneem kan word. As jou hond dus skielik weier om langs jou te sit—om van jou geliefde nie eens te praat nie—is dit dalk tyd om te wonder of jy nie self aan halitose ly nie. Halitose is die geleerde woord vir ’n jiggie wasem in jou asem.  Dit kan verskillende oorsake hê. Maar daar is raad.

Soos ’n webmeester(es), wat gratis "zoentips" uitdeel, dit so grafies op ’n Nederlandse webblad stel: "Niets is zo vies als zoenen met iemand die een slechte adem heeft. Verzorg je tanden daarom goed: poets en flos ze regelmatig. Heb je net wat gegeten of ben je bang dat de tandpasta al lang is uitgewerkt? Geen nood, je hebt keuze genoeg uit kauwgom, mondspray of pepermuntjes. Zorg dus dat je altijd wat bij je hebt."

Natuurlik is dit nie net jou geliefde—en dalk ou Wagter—wat afgeskrik sal word deur onaangename walms vanuit jou onmiddellike dampkring nie. Soene, ofskoon van ’n ander soort as dié tussen minnaars, word immers in ons kultuur soos lekkergoed aan almal in ons familie- en vriendekring uitgedeel. Iemand het al selfs bereken dat ons in ’n gemiddelde leeftyd twee weke lank aan soene bestee. Daar is boonop vasgestel dat ’n derde van ons mense op die verkeerde manier soen—en dit is op sigself ’n ander interessante storie...

HOE om ’n soen te doen het ’n lang geskiedenis, al dink die stomende jongklomp in die TV se 7de Laan soms—en ter beskaming van die ouer garde—dat hulle dit alleen uitgevind het.

Die vroeë Christene het mekaar gekus wanneer hulle ook al bymekaar gekom het. Die bruid en bruidegom soen in party kerke nadat die predikant hulle getroud verklaar het. Eskimo’s en Polinesiërs soen deur neusie-neusie te speel, terwyl die mense van Suidoos-Indië hul weergawe van die soen ten toon stel deur die neus teen die wang te druk, terwyl die doener diep asemhaal. Aaaaaaaa....

Dan is daar natuurlik ook die "Franse" vat-soen (nie te verwar met fatsoen nie) waar koorsige soeners mekaar nie net aanhoudend met die lippe vat-vat nie, maar ook met die tonge. Dis die tongtippie-toets... dog kom ons roep liewer net daar halt voordat ons dalk self te ver gaan.

Maar waar het die mensdom dan met sy gesoen begin? Volgens een teorie kom dit van ’n antieke gebruik waar ma’s eers hul babas se kos fyngekou het voordat hulle dit in hul bloedjies se wagtende mondjies ingedruk het. Gaan vertel dit vir die voëls, sal party mense sê. Of dalk is dit nie nodig nie, die voëls doen dit immers lankal op hierdie manier...

Kafoefelende keiserpikkewyne

BO: Voëls kan mekaar ook in die liefdespel kus... soos hierdie paar kafoefelende keiserpikkewyne van Antarktika.

Foto: Glenn Grant / U.S. Antarctic Program / U.S. National Science Foundation

Nog ’n teorie is dat soeners naby genoeg aan mekaar kom om mekaar se buie, broodkrummels, onlangse kaperjolle en erotiese chemie te ruik sodat hulle kan uitwerk hoe om mekaar te hanteer. Volgens ’n derde teorie sou dit ontstaan het by ’n ou geloof dat die siel in ’n mens se asem leef. Met ’n soenery sou die asems saamgevoeg en die twee siele vir ewig verenig word. Nogal ’n mooi gedagte, maar natuurlik kan nie een van die drie teorieë werklik bewys word nie.

Daarteenoor het party mense al gedink dat soenery ’n onheilige onding is. In die Amerikaanse staat Indiana is selfs ’n wet aangeneem wat dit onwettig vir ’n man met ’n snor maak om "om uit gewoonte mense te soen". In Hartford in die Amerikaanse staat Connecticut is dit steeds onwettig vir ’n man om sy vrou op ’n Sondag te soen. En in Napels in Italië kon ’n mens jou in die sestiende eeu die doodstraf op die hals haal deur te soen.

Hoe ook al, jy kan die moderne mens ewe min belet om te soen as wat jy ’n hond kan belet om te blaf. Maar hoe kan daar dan ’n "verkeerde manier wees om te soen", soos ons hierbo gesê het?

Volgens Onur Gunturkun van die Ruhr-Universiteit in Bochum, Duitsland, is daar wel. Sy spesialiteit is om die verskille tussen die linker- en regterhelfte van die brein by verskillende soorte voëls en diere te bestudeer. Op ’n dag, toe hy ses uur lank op die lughawe van Chicago gestrand was, het hy opgemerk dat paartjies mekaar soen deur elk die kop regs te swenk sodat elkeen se neus regs van die ander party se neus is.

Met sy links-regs-belangstelling het hy toe in die volgende twee en ’n halwe jaar inligting oor soeners op lughawens, in parke, op strande en op spoorwegstasies versamel. Sy slotsom was dat twee derdes van die mense mekaar na regs soen. Waarop dit neergekom het, is natuurlik dat ’n derde van ons dit op die verkeerde manier doen.

Klink straks eienaardig. Totdat ’n mens na die oorheersende "regsgesindheid" van die mens in die algemeen kyk. Sowat negentig persent van ons is naamlik regshandig, maar sowat twee derdes verkies dit om die regtervoet, regteroog en regteroor te gebruik.

Boonop is babas geneig om hul koppies in die laaste weke in die baarmoeder en die eerste ses maande nadat hulle gebore is na die regterkant toe te draai.

Maar miskien is dit sinloos om soene werklik wetenskaplik te wil ontleed. Ons is wesens van die lippe—iets wat ons anders maak as byna alle ander lewensvorme. Dalk moet ’n mens dus bloot volstaan met die volgende aanhaling uit die pen van die Victoriaanse digter Robert Browning (1812-1889):

The moment eternal —just that and no more —
When ecstasy’s utmost we clutch at the core
While cheeks burn, arms open, eyes shut, and lips meet!

Goeienag, my soetelief...

XXXXXXXX


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad