•
Noord-Sotho
•
Suid-Sotho
•
Tswana
Die Sotho
van Suidelike Afrika
ULLE
is die mense van die berge, van die tropiese swoeltes en van die
dorsland... en elk van die Sotho-volkere van Suidelike Afrika het sy eie
gebeurtenisryke geskiedenis. Hulle het betreklike welvaart belewe, maar
ook verskriklike armoede, oorwinnings gesmaak, maar ook die pynlikste
vernederings ervaar. In die onstuimige eeue wat verby is,
het die Sotho-volkere diep spore op die binnelandse landskap getrap...
Suid-Afrika is die tuiste van oor die elf miljoen mense wat seSotho en verwante tale praat. Nog sowat drie
en ’n half miljoen Sotho’s en verwante volkere woon in Suid-Afrikaanse buurlande. Die
uiteenlopende Sotho-bevolking sluit die Noord-Sotho (Pedi), die Suid-Sotho en die Tswana (BaTswana) in, wat elk
’n heterogene
groepering is.
Volgens geskiedkundiges het die voorouers van vandag se
Sotho’s hulle in die vyftiende eeu in die streek kom vestig.
Soos die ander swart volkere van Suid-Afrika was hulle boere wat van verder
noord op vasteland gekom het. Dit
was egter blykbaar nie een massiewe volksverhuising, soos voorheen gemeen
is nie. Kleinerige groepies mense was telkens betrokke—mense wat hul
nedersettings verdeel en onderverdeel en na nuwe gebiede versit het. Dit
geld ook vir die Sotho’s.
Die
verskillende Sotho-groepe word vanweë taalkundige ooreenkomste
saamgegroepeer.
Uiteindelik
het die Noord-Sotho gevestig geraak in die huidige Limpopo en Mpumalanga;
die Wes-Sotho (Tswana) in Botswana, die Noord-Kaap, Noordwes en die
Wes-Vrystaat; en die Suid-Sotho in
Lesotho en die Vrystaat.
Soos baie mense van die naburige
Nguni, het die Sotho’s tradisioneel
’n gemengde boerdery bedryf deur sowel vee
aan te hou as gewasse te verbou. Die vee was beeste, bokke en skape,
terwyl graan en tabak gekweek is. Die Sotho’s was bekend vir
hul metaalwerk, leerbewerking en hout- en ivoorsnywerk.
Die meeste Sotho’s het,
ook soos die Nguni, in klein kapteinskappe gewoon, waarin ’n mens se
status deels deur jou verwantskap met die hoofman bepaal is. Anders as wat
aanvanklik by die Nguni die geval was, was die Sotho-huishoudings in statte
saamgegroepeer, waar die ekonomiese verantwoordelikhede in die reël deur die stat se bewoners
gedeel is. Statte is in wyke of woonbuurte verdeel, wat dikwels deur lede van meer
as een patrilinieêre familiegroep (familie volgens die manlike linie)
bewoon is.
Die hoofman van die stat—wat
sy posisie geërf het—het gewoonlik wykleiers aangewys, wie se hutte
rondom die hoofman se hut saamgetros het. Sotho-statjies het soms tot
groot dorpe van etlike duisende mense aangegroei. Die landerye was
gewoonlik buite die stad en nie teenaan die hutte nie. Hierdie
statsorganisasie kon die Sotho’s dalk in staat gestel het om hulle
doeltreffender te verdedig as wat die geval met verspreide huishoudings
sou gewees het, terwyl dit waarskynlik ook die hoofman se beheer oor die
wykleiers vergemaklik het.
Sotho-statte is ook in
ouderdomsgroepe ingedeel—groepe mans of vroue van naastenby dieselfde
leeftyd. Elke ouderdomsgroep het spesifieke verantwoordelikhede gehad. Die
mans, afhangende van hul portuurgroep, was in beheer van oorlogvoering en
veewagtery, die vroue vir die kweek van gewasse en religieuse take. ’n
Hele portuurgroep het gewoonlik van die een taak tot die volgende
gevorder, terwyl die stat dikwels die verandering met ’n reeks rituele
gevier het en, in sommige gevalle, met ’n inlywingsplegtigheid of
inisiasieseremonie.
Reëls oor afstamming was
belangrik by die Sotho. Stamme is dikwels op die totemisme gegrond, dit
wil sê die mistieke opvatting dat die stam aan ’n natuurding of dier
verwant is. Vername Sotho-stamme was onder meer dié van die Leeu
(Taung), Vis (Tlhaping), Olifant (Tloung) en Krokodil (Kwean).
Teen die vroeë twintigste
eeu het baie Sotho-statte reeds hul aansprake op grond verloor in
mededinging met blankes wat ook in daardie gebiede gewoon het. Veeboerdery
het moeiliker geraak en, namate die Westerse ekonomiese druk verhewig het,
het ál meer Sotho’s van Lesotho en Suid-Afrika hulle tot die myne
gewend om werk te kry. Nie baie lank gelede nie is geraam dat daar sowat
100 000 Sotho-werkers in Suid-Afrikaanse myne is, terwyl baie ander
regdeur die land in stede werk.
•
Noord-Sotho
DIE
heterogene Noord-Sotho word dikwels die Pedi (of BaPedi) genoem, omdat die
Pedi die grootste van die Noord-Sotho-groepe is. Hul taal is sePedi (ook
genoem seSotho sa Leboa of Noord-Sotho). Volgens die sensus van 2001 was
9,4 persent (of sowat 4,2 miljoen) van Suid-Afrika se 44 819 778 mense
sePedi-sprekend.
| |

BO: Wyle Modjadi
VI (oorlede Junie 2005)
Die
Ryk van die
Reënkoningin
DIE
"reënkoningin" van die Lobedu word die Modjadji
genoem, ’n erflike titel wat—vreemd aan die swart volkere
van Suid-Afrika—in die moederlike linie voortgedra word.
Maar
die troon is nou weer vakant. Die jongste Modjadji, Modjadji VI,
wat haar ouma opgevolg het wat in
2001 oorlede is, is self in Junie 2005 tragies dood. Sy was maar
’n jeugdige 27 jaar oud.
Die
reënkoningin van die Lobedu sou in staat wees om die wolke te
beheer en reën te maak. Haar
grondgebied in die newels van die Letaba-vallei, naby Tzaneen in
Limpopo, bevat die wêreld se grootste versameling broodbome.
Die
mistieke wêreld van die Modjadji, wat haar lewe in betreklike
afsondering slyt, het tot ’n groot toeriste-attraksie
ontwikkel. Haar posisie verg egter ook yslike opofferinge van die monarg. Sy mag byvoorbeeld nie
trou nie, hoewel sy toegelaat word om diskreet met mans te
verkeer en natuurlik kinders te kry ten einde haar dinastie
voort te sit. Boonop het sy ’n aantal "vroue", wat
na haar politieke belange omsien.
Maar waar het
die dinastie van die reënkoningin eintlik begin? Volgens
oorlewering is ’n hoofman met die naam Mugodo
omstreeks 1800 deur die voorvaderlike geeste gewaarsku dat sy
seuns met ’n sameswering besig was om sy heerskappy omver te
werp. Hy het hulle almal doodgemaak en aan sy dogter gesê dat
die geeste wou hê dat sy hom ná sy dood moes opvolg. Die
voorvaderlike geeste sou verorden het dat ’n dinastie van
vroue gevestig moes word.
Toe sy die
lewe aan ’n seun skenk, is hy verwurg. Haar tweede kind was ’n
dogtertjie en só het die vroulike vorstelike linie begin.
Die Modjadji—en
opeenvolgende Mopdjadji’s—het in volslae afsondering diep in
die bos bly woon en reënmaak-rituele uitgevoer wat die Modjadji
regoor Suid-Afrika bekend gemaak het. Gesante het van heinde en
ver gekom om die reënkoningin te raadpleeg—almal natuurlik met ’n heilige
ontsag omdat hulle gevrees het dat sy hulle dalk met droogtes
kon straf as hulle haar kwaad maak. Selfs in die jongste tyd sou
provinsiale premiers die Modjadji op hul knieë nader nadat hulle eers
hul skoene uitgetrek het.
En oud-pres.
Nelson Mandela, wat in 1994 ’n oudiënsie by die toenmalige
Modjadji aangevra
het, het net met haar gepraat wanneer sy hom aangespreek het en
dan ook slegs deur ’n tussenganger. Eers ná ’n paar besoeke
kon hy regstreeks met haar praat.
Daardie
Modjadji se ouma het ’n lang heerskappy gehad en wel van 1896
tot 1959. Sy self het in 1982 die reënkoningin
geword en is in 2001 oorlede. Haar enigste oorlewende dogter wat
haar kon opvolg, is net twee dae voor haar dood, met die gevolg
dat haar 25-jarige kleindogter die troon geërf het—die
jongste Modjadji nog en die enigste met skoolopleiding. Sy is in
2003 deur koning Mphephu van Venda gekroon.
Maar nou is
hierdie Modjadji ook oorlede. ’n Donker sluier is oor die
oorsaak van haar dood getrek en dit was onvermydelik dat baie
mense sou bespiegel of sy aan vigs gely het.
Wyle Modjadji
VI laat ’n babadogter en ’n seun van agt agter.
Daar word gegis of die dogtertjie haar ma sal opvolg, wat kan
beteken dat ’n regent aangestel sal moet word om te regeer
totdat sy volwasse is. Maar die ringkoppe van die Lobedu laat
hulle nie aanjaag nie en hul besluit oor ’n opvolger was nog nie
geneem toe hierdie artikel geskryf is nie. |
Hierdie gemeenskap het
volgens geskiedkundiges sy beslag in die
teenswoordige Limpopo-provinsie
gekry, toe ’n konfederasie van klein kapteinskappe die een of ander tyd
voor die sewentiende eeu gevorm is. ’n Reeks sterk Pedi-hoofmanne het
die beheer oor kleiner kapteinskappe oorgeneem en kon verskeie geslagte
lank die belangrike handelsroetes tussen die binnelandse plato en die
Indiese Oseaan domineer.
In die negentiende eeu is Pedi-leërs
deur die Natalse leërs van Mzilikazi verslaan, maar toe weer opgehef deur
’n Pedi-hoofman,
Sekwati. Afrikaner-Voortrekkers van Transvaal het sekere Pedi-grond
vreedsaam verkry, maar later oor verdere grondeise met hulle in botsing
gekom.
Die kleiner Lobedu-bevolkingsgroep
vorm nog ’n subgroep van die Noord-Sotho. Die Lobedu is naby verwant aan
die Shona, die grootste etniese groep in Zimbabwe, maar die Lobedu word
veral vanweë taalooreenkomste by die Sotho ingedeel. Die Lobedu is
intensief bestudeer deur die vroeg-twintigste-eeuse antropoloog J.D.
Krige, wat die unieke magiese kragte beskryf het wat aan die heerseres van die Lobedu toegedig word. Sy word deur buitestaanders die
reënkoningin genoem—vanweë haar veronderstelde vermoë om reën te
bewerk (lees afsonderlike artikeltjie hieronder).
Die Noord-Sotho se tuisland
Lebowa is in 1972 tot ’n "selfregerende" gebied (nie ’n
onafhanklike staat nie) verklaar. Ekonomiese probleme het egter die arm
tuisland geteister en die bevolking kon nie deur ’n sterk etniese
saamhorigheid verenig word nie. Met die afskaffing van die tuislande in
die nuwe Suid-Afrika het Lebowa ook as ’n staatkundige entiteit
verdwyn.
•
Suid-Sotho
DIE
Suid-Sotho is ’n uiteenlopende groep van sowat 3,5 miljoen
Suid-Afrikaners, van wie baie in die omstreke van Lesotho woon, asook die
geraamde 1,8 miljoen inwoners van die bergkoninkryk Lesotho.
Die Suid-Sotho is in die
1830’s tydens die heerskappy van koning Moshoeshoe I (Mosjesj) verenig. Moshoeshoe
het die beheer verkry oor verskeie groepies Sotho-sprekers wat deur
die mfecane verstrooi is. Die mfecane (in Sotho bekend as
die difaqane) was ’n tydperk van oorlogvoering en gedwonge
verhuisings van Suid-Afrikaanse volkere wat deur die miltante Zoeloekoning
Shaka begin is. Dit het van 1818 tot 1840 geduur.

BO:
Koning Moshoeshoe I (omstreeks 1786–1870). Sy naam word Mo-sjwe-sjwe
uitgespreek, wat verklaar hoekom dit dikwels in ou geskiedenisboeke as
Mosjesj aangedui word (soos dit trouens vervorm is deur die
Trekkers wat nie sy taal geken het nie). Daar word vertel dat hy in sy
jeug 'n beesstrooptog uitgevoer het en daarna—soos die tradisie was—sy
eie lof in besing het in 'n gedig wat hy gemaak het. Daarin het hy
gespog dat hy soos 'n skeermes was al sy slagoffer, ene Ramonaheng, se
baard afskeer het. In sy taal was ’n skeermes shoeshoe
(uitgespreek sjwe-sjwe), na die klank wat dit maak wanneer 'n mens
daarmee skeer. Daarna is hy goedig Moshoeshoe (Die Skeerder) genoem.
Sommige van die
Suid-Sotho-gemeenskappe het verbintenisse gehad met San-gemeenskappe wat
net wes van Moshoeshoe se gebied gewoon het. Gevolglik het die taal van
die Suid-Sotho, anders as dié van die Noord-Sotho, ’n aantal klapklanke
wat met Khoisan-tale geassosieer word.
Die Suid-Sotho van
Suid-Afrika is in die apartheidsjare tot die klein tuislandjie QwaQwa
gerelegeer, wat aan Lesotho grens. QwaQwa is in 1974 tot
"selfregerende" gebied verklaar, maar hoofminister Kenneth Mopeli
het onafhanklikheid verwerp op grond daarvan dat die tuisland nie ’n
lewensvatbare ekonomie het nie. In die 1980’s het net sowat 200.000
Sotho’s in QwaQwa gewoon.
Botshabelo, ’n gemeenskap
van meer as 300.000 mense, is in 1987 by QwaQwa
ingelyf. Amptenare van die tuisland se hoofstad, Phuthaditjhaba, en baie
inwoners van die tuisland het beswaar gemaak teen die stap, en Botshabelo
is kort daarna ingevolge ’n hofbeslissing aan die Vrystaat teruggegee.
Die tuisland het ’n oorbevolkte enklave van brandarm mense gebly totdat
die tuislande in 1994 ontbind is.

BO:
Die magtige Drakensberg... in hierdie bergagtige wêrelddeel, in die
voetheuwels aan die westekant, het Moshoeshoe I in die jare dertig
van die negentiende eeu talle Sotho-sprekende verstrooides van die
mfecane tot ’n volk verenig.
Foto: JPL / NASA
•
Tswana
DIE Tswana (BaTswana),
na wie soms as die Wes-Sotho verwys word, is ’n heterogene groep, wat
nakomelinge insluit van die eens groot gemeenskappe van die Tlhaping en Rolong, asook
die Hurutshe, Kwena en ander klein groepies.
Hul taal, seTswana, is naby
verwant aan seSotho, en in die meeste gebiede kan die mense mekaar oor en
weer verstaan. Volgens die sensus van 2001 was 8,2 persent (of sowat 3,7
miljoen) van Suid-Afrika se 44 819 778 mense seTswana-sprekend. Daar is
ook ’n geraamde sowat 1,5 miljoen Tswanas in Botswana.
In Suid-Afrika woon baie BaTswana
in die talle segmente van die gewese tuisland Bophuthatswana, asook in die
naburige gebiede van Noordwes en die Noord-Kaap. Noemenswaardige aantalle Tswanas
word ook in die meeste stedelike gebiede regoor Suid-Afrika aangetref.
Teen die negentiende eeu
was verskeie Tswana-groepe polities afhanklike, losweg geaffilieerde
kapteinskappe wat herhaaldelik met Afrikaners in die teenswoordige
Limpopo-provinsie gebots het. In die laat negentiende eeu het amptenare
van die Boere en die Britte beslag gelê op feitlik al die grond van die
Tswanas en dit tussen die Kaapkolonie, Boererepublieke en Britse gebiede
verdeel. In 1910, toe Kaapland en Transvaal provinsies van die Unie van
Suid-Afrika geword het, het die Tswana-hoofmanne die meeste van hul
oorblywende magte verloor, terwyl die Tswanas gedwing is om belasting aan
die Britse kroon te betaal. Hulle het geleidelik trekarbeiders geword en
veral in die myne gaan werk om ’n bestaan te maak.
Die Tswana-kultuur kom in
baie opsigte ooreen met dié van die verwante Sotho-volkere. Die kultuur
word onder meer gekenmerk deur ’n ingewikkelde regstelstel, met ’n
hiërargie van howe en bemiddelaars, en kwaai strawwe vir oortreders.
Bophuthatswana is in 1977
"onafhanklik" verklaar, hoewel geen land buiten Suid-Afrika die
onafhanklikheid erken het nie. Die tuisland het meestal bestaan uit sewe
losstaande enklaves naby of aan die grens tussen Suid-Afrika en Botswana.
Sy bevolking van sowat 1,8 miljoen in die laat 1980’s het na skatting
uit 70 persent Tswanas bestaan. Die res was ander Sotho’s, asook Xhosas,
Zoeloes en Shangaans. Nog 1,5 miljoen Tswanas het elders is Suid-Afrika
gewoon.
Bophuthatswana se inwoners
was baie arm, ondanks die gebied se mineraalrykdom. Die meeste werkers het
dan ook elke dag na Suid-Afrika gereis om te gaan werk.
In 1988 was daar ’n
opstand toe lede van Botswana se weermag geprobeer het om van die tuisland
se president, Lucas Mangope, ontslae te raak. Bophuthatswana het in die
jare negentig weer ’n deel van Suid-Afrika geword en die tuisland is
amptelik tot niet gemaak ná die Suid-Afrikaanse verkiesing van April
1994.
|