VOLGENS
die ou gesegde moet ’n mens eers ’n sak sout saam met iemand opeet
voordat jy die persoon werklik sal ken. Maar moet dit asseblief net nie
rêrig probeer doen nie.
Feit is, as jy ’n sak sout saam met iemand wegsluk, gaan julle altwee
lepel in die dak steek. Dis dalk ’n vermenging van die metafore, maar
dis ongelukkig baie waar!
Al is sout ook hoe lekker vir
jou, sal so ’n vreeslike oormaat daarvan jou metabolisme onherstelbaar
beskadig. En die dood is jou voorland. Dis so seker as wat die see sout
is.
Maar natuurlik wil ons nie
daarmee afbreuk doen aan die waarde van hierdie gesogte verbruiksartikel
nie. ’n Matige hoeveeldheid sout is immers lewensnoodsaaklik vir die
mens se liggaamswerking.
Die rol van hierdie mineraal in
die mensegeskiedenis kan dan ook kwalik oorskat word. Die vestiging van
vroeë nedersettings, die opkoms en ondergang van beskawings, die
verskuiwings van volkere en die ontwikkeling van die landbou was deur
die eeue heen onafskeidbaar verweef met die beskikbaarheid van sout.
Die beheer oor ’n nasie se
soutvoorraad was ’n beheer oor die lewe en die dood. Wisselvallige
veranderings in die seevlak, veral in die gebied van die Middellandse
See, het verhinder dat party van hierdie beskawings ’n bestendige
voorraad sout ontvang. Die gevolg was dat hulle moes wegtrek of kwyn,
ander volkere moes onderwerp of self onderwerp word.
Dit verbaas ’n mens daarom nie
dat sout ook die wêreld se tale ryklik met idome gekrui het nie. Daarvan
kry ons selfs die bekende woord
salaris. In ou Rome het die soldate naamlik letterlik hul sout
verdien: hulle het ’n salarium of soutrantsoen ontvang.
Steeds by die Romeine: die
vernaamste hoofweg van Rome is die Via Salaria (Soutweg) genoem. Soldate
het eeue lank groot hoeveelhede sout met die Tiberrivier van die
soutpanne by Ostia aangebring.
Ook in Afrika was sout eenmaal so
gesog dat hoofmanne glo selfs bereid was om hul vroue en kinders vir ’n
bietjie daarvan te ruil.
En tot Westerse konings was in
die verlede gesoute uitbuiters. Toe Frankryk nog ’n monargie was, is die
gepeupel (maar nie die adel nie) verplig om hul sout van sy majesteit
koop. Wanneer die koning se skatkis dan ’n bietjie leeg geraak het, het
hy eenvoudig die kwota sout verhoog wat elke gesin moes koop.
Die gehate gabelle, of
soutbelasting, was uiteindelik een van die oorsake van die Franse
Revolusie.
Dit blyk uit ou geskrifte van
China en Indië dat soutmyne honderde eeue voor die geboorte van Christus
bestaan het. Ou-wêreldse filosowe soos Plato het dit “’n stof wat
kosbaar is vir die gode” genoem. En in Suid-Amerika het die Asteke, ’n
uitstorwe Indiane-stam, inderdaad ’n god van sout aanbid.
Baie heidense gode is met
soutoffers gehuldig. Vandag word ’n akkoord onder die Jode nog met die
uitruil van sout beklink, terwyl die wywater van die Rooms-Katolieke
daarmee behandel en sout met die doop in die mond geplaas word.
In Levitikus in die Bybel lees
ons: “Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond
met jou God . . .” En in Matteus sê Jesus: “Julle is die sout van die
aarde. Maar as die sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?”
In Genesis word vertel van Lot se
vrou wat in ’n soutpilaar verander is as straf vir haar ongehoorsaamheid
aan God.
Sout, sout, sout . . . die wêreld
is baie beslis ondenkbaar daarsonder.
MAAR wat is sout eintlik? Chemies
is daar baie verskillende soorte soute, maar sout in die gewone sin van
die woord (en die een wat in hierdie artikel ter sprake is) is natuurlik
tafelsout—’n verbinding van die hoogs toksiese sagte metaal natrium en
die dodelike, verstikkende geelgroen gas chloor.
Dis verbasend dat hierdie twee
uiters giftige bestanddele mekaar so kan komplementeer dat hulle saam ’n
aangename en lewensnoodsaaklike produk (natriumchloried) vorm .
Sout smelt teen 804 grade C en begin teen ’n ietsie warmer temperatuur
verdamp. En, raar maar waar, dit is die tweede hardste mineraal wat aan
die mens bekend is. Net diamante is harder. Dit is die rede waarom dit
plek-plek ’n gesogte materiaal vir die bou van paaie is. In die
Amerikaanse staat New York is byvoorbeeld ’n pad gemaak wat feitlik
heeltemal van sout is.
Dit kom opgelos in seewater voor in ’n konsentrasie van sowat 30 gram
per liter, wat beteken dat dit nagenoeg drie persent van die massa van
seewater vorm. Trouens, daar is al bereken dat daar genoeg sout in die
oseane van die wêreld is om die hele Suid-Afrika 9 km diep te kan
begrawe.
Dit kom ook wyd verspreid in mindere of meerdere konsentrasies voor in
baie riviere en binnelandse mere. Die mineraal haliet, meer algemeen
bekend as klipsout, word aangetref in die besinkels van antieke,
opgedroogde watermassas.

BO: Klipsout,
een van die vorms waarin
sout in die natuur voorkom.
Foto: U.S. House.gov
Ofskoon sout nog op baie plekke oor die wêreld heen uit natuurlike panne
gehaal word, word dit in Suid-Afrika hoofsaaklik uit die see gewin.
Seewater word in mensgemaakte panne ingelei waar die son en wind die
water laat verdamp. Die sout kristalliseer dan uit.
Dit is nie algemeen
bekend dat maar net sowat vyf persent van die wêreldproduksie van sout
as ’n smaakmidddel op die tafel eindig nie. Verreweg die meeste
geproduseerde sout word na groot fabrieke gekanaliseer waar dit in die
vervaardiging van ’n duisternis verskillende chemikalieë gebruik word.
Sout is belangrik in
die vervaardiging van onder meer glas, plastiek, staal, leergoedere,
farmaseutiese produkte en selfs televisiestelle.
Dit het trouens,
sover bekend, meer as 14 000 gebruike. En die hoeveelheid sout wat ’n
land gebruik, is in der waarheid ’n goeie aanduiding van hoe
geïndustraliseerd daardie land is.
Amerika is dan ook die voorloper onder die soutproduserende lande, met
45 miljoen ton uit ’n wêreldtotaal van 209 miljoen ton in 1999.
Soos vlugtig in die
begin van hierdie artikel gesê is, speel sout ’n uiters belangrike rol
in die menslike gestel. ’n Grootmens het elke dag 1,4 gram daarvan
nodig. Dit is betrokke by spiersametrekking, senu-impulse en die
vertering van proteïen. Dit reguleer ook die watervloei na en van die
selle.
REGS:
Soutpanne, waar sout deur die verdamping van die water gewin
word.
ONDER: Kleiner hope sout kan byeengebring word om massiewe
southope by verwerkingsaanlegte te vorm.
Foto: GSFC / NASA |
 |
|
 |
REGS:
Soutpanne in Namibië, uit die ruimte gesien.
Foto: GSFC / NASA
Ook diere het sout
nodig. Dié wat van plante of gras lewe, word dikwels by plekke gevind
waar daar natuurlike sout is wat hulle kan oplek. Karnivore soos honde
en katte het weer geen sin daarin nie—hulle kry immers genoeg daarvan in
deurdat hulle die vleis van grasvreters vreet.
VOOR die koms van
die moderne skeikunde het die mensdom sout reeds baie goed geken, maar
steeds geen sout of water van sy interne samestelling geweet nie. Onder
die mikroskoop lyk dit nogal taamlik anders as op die etenstafel.
In sy suiwerste vorm
is dit ’n kleurlose verbinding, wat in netjiese kubusse
uitkristalliseer.
LINKS:
Soutkristalle... blokkies onder die mikroskoop.
As ons ’n paar korrels onder die mikroskoop bekyk, sal ons oplet dat al
die korreltjies, ongeag hul grootte, min of meer die kubusvorm het.
Indien ons hierdie korrels versigtig sou vergruis, sal die kleiner
stukkies steeds die kubusvorm aanneem.
Dit maak trouens nie
saak hoe fyn ’n mens die sout maal nie, die korrels sal altyd hierdie
kenmerkende vorm hê. Uit hierdie eenvoudige proef
leer ons dat sout ’n vaste kristalvorm het, en dat dit hierdie vorm
behou al word dit ook verpoeier.
Sout is eintlik
kubusties tot in sy molekulêre struktuur, en vroeg in die twintigste eeu
is bewys dat dit uit ’n rasterwerk van natrium- en chlooratome bestaan
wat ewe ver van mekaar geleë is
(REGS).
Die leerder moet
nogal sy sout werd wees om dit alles mooi te begryp!
• Hoe sout is
die see? Klik hier
|