SATELLIETE
’N
SATELLIET,
in die breë betekenis van die woord, is enige hemelliggaam wat om ’n
ander een draai. Die term is veral vroeër gebruik vir ruimtelike liggame
wat om planete wentel, met ander woorde vir die mane van die betrokke
planete. Ons maan is dus ’n satelliet van die aarde. Die planeet Mars het
op sy beurt twee satelliete of mane. Die planeet Venus het geen satelliet
nie, terwyl die reusagtige planeet Jupiter, volgens die jongste navorsing,
nie minder nie as 63 het!
Wanneer
ons vandag van satelliete praat, bedoel ons egter gewoonlik kunsmatige
satelliete. Dié is voorwerpe van wisselende grootte wat met
instrumente toegerus is en wat per vuurpyl die ruimte ingeskiet word sodat
hulle in ’n baan om die aarde sal bly wentel. Van daar af kan die
satelliete baie inligting per radio stuur, ontvang of herlei en is hulle
dus van onskatbare waarde in die moderne, tegnologiese wêreld.
Maar
hoe gebeur dit dat ’n satelliet om die aarde bly wentel en nie van die
aarde se nabyheid af wegskiet die diep ruimte in nie? As jy ’n gewiggie
voor aan ’n tou vasbind en jy swaai die tou in die rondte, wentel die
gewiggie om jou hand. Die tou keer dat dit wegspat. Net so keer die aarde
se aantrekkingskrag dat die satelliet van die aarde af padgee.
As
die vuurpyl wat ’n voorwerp die ruimte in lanseer kragtig genoeg is, sal
die voorwerp egter wel aan die aarde se aantrekkingskrag ontsnap en nie in
’n wentelbaan om die aarde bly nie. So het ons al mense maan toe gestuur
en onbemande snuffeltuie na planete soos Mars en Venus. Ons het ook al
satelliete om byvoorbeeld Mars geplaas, en die ruimtetuig Cassini wentel
tans as ’n satelliet om die planeet Saturnus.
Die
eerste kunsmatige satelliet in die geskiedenis is op 4 Oktober 1957 deur
die voormalige Sowjet-Unie gelanseer. Dit is Spoetnik I genoem.
In die
begin van die 21ste eeu was daar meer as 2600 satelliete in wentelbane om
die aarde. Etlike honderde van hierdie satelliete was steeds aktief
bedrywig. Baie van hulle is kommunikasie-satelliete, wat vir
telefoonverbindings en die versending van byvoorbeeld televisiebeelde
gebruik word. Weersatelliete is ook gedurig besig om inligting oor ons
planeet se weergesteldhede aan weerstasies op die aarde te stuur.
BO:
NOAA-18 is ’n gesofistikeerde satelliet wat om die aarde se pole wentel.
Dit is deur die Amerikaanse ruimteagentskap NASA vir die VSA se
National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) ontwikkel.
NOAA-18 se doel is om inligting oor die aarde se atmosfeer en omgewings te
versamel ten einde weervoorspellings en klimaatsnavorsing wêreldwyd te
verbeter.
Illustrasie:
NASA / STI
|