|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
SPYSVERTERING: JOU
liggaam is nie in staat om, sê nou maar, die stukkie brood wat jy in jou
mond geprop, gekou en gesluk het, sommerso op te neem nie. Dit moet eers
tot ander stowwe omgeskakel (gewysig) word wat jou liggaam wel kan opneem.
Dit gebeur danksy jou spysverteringstelsel.
Almal
weet dat ons nie sonder kos kan lewe nie. Dit verskaf immers brandstof en
opbouende minerale wat uiters noodsaaklik vir die liggaam is. Boonop help
sorg die spysverteringstelsel ook dat onverteerbare stowwe soos vesels en
velletjies, wat jou liggaam nie nodig het nie, na buite toe uitgewerk
word. Die
spysvertering geskied in ’n aaneenlopende spysverteringskanaal. Dit
bestaan uit die mond, keel, esofagus (slukderm), maag, duodenum (deel van
die dunderm wat direk op die maag volg), jejunum, ileum,
sekum, dikderm (kolon), rektum en anus. Daar is ook bykomstige organe wat
spysverteringsappe uitskei, soos die speekselkliere, lewer en pankreas. Kos
word met behulp van onwillekeurige sametrekkings van die
spysverteringskanaal van die slukderm tot by die anus voortgestu. Dié
onwillekeurige aksie word peristalsis genoem. Buiten
die meeste minerale en vitamiene, asook water, moet al die ander
voedingstowwe in die menslike dieet—hetsy proteïene, koolhidrate of
vette—tot kleiner molekules afgebreek word voordat dit uit die
spysverteringskanaal in die bloedstroom geabsorbeer kan word. Hierdie
afbreking geskied eers meganies—die koubewegings van die tande en ’n
gemaal deur die maag—maar is hoofsaaklik van ensieme, sure en soute
afhanklik. Die
wysiging van koolhidrate (stysels en suikers) tot maltose begin reeds in
die mond onder inwerking van amilase, ’n ensiem in speeksel. Uiteindelik
word koolhidrate in die dunderm met behulp van sukrase, maltase en laktase
in pankreassap in drie eenvoudige suikers,
naamlik glukose, fruktose en galaktose, omgesit. Proteïen
word deur soutsuur en pepsien in die maag en tripsien van die pankreas en
peptidase van die dunderm afgebreek tot polipeptiede, peptiede en
aminosure. Vette
word deur lipase (pankreas), galsoute en -sure van die lewer (geberg in
die galblaas) afgebreek tot gliserol, gliseriede en vetsure. Onderwyl
die afbraakprodukte van die spysvertering deur die dunderm afbeweeg, word
dit deur die dun binnewand in bloed- of limfvate geabsorbeer. Onverteerbare
voedsel (hoofsaaklik vesel) en water bereik die kolon (dikderm). Die
onverteerde voedsel word in die kolon tot ’n soliede massa omgevorm deur
die herabsorpsie van water na die liggaam. Die grootste volume water word
uit die kolon geabsorbeer, die res word in die feses deur die rektum en
die anus uitgeskei. As
kolonspiere die uitskeidingsmassa te vinnig deur die kolon stuur, bly dit
’n semi-vloeistof. Die gevolg is diarree. Daarteenoor lei ’n trae
aktiwiteit van die kolonspiere tot konstipasie.
* Hoofbron: Dokter in die Huis
deur dr. Jan van Elfen, volledig hersien deur dr. Don du Toit.
Tafelberg-uitgewers. ISBN 0 624 039 633. |