’n Laslappie van Mieliestronk

 
STERRE EN PLANETE:
Wat is die verskil?

DIE  verskille tussen sterre en planete word nie altyd mooi besef nie. Ons kyk saans na die weste en bewonder die "aandster"—dikwels sonder om daaraan te dink dat dit die planeet Venus is, wat totaal anders is as, sê maar, die sterre in die konstellasie van die Suiderkruis. Maar presies hoe planete van sterre te onderskei is, kan eers begryp word as ons weet wat elkeen van hulle is…

Wat sterre is...

STERRE is sonne en ons son is ook ’n ster. Die ander sterre buiten die son is baie, baie ver van ons af—die naaste een in die hemelruim is sowat vier ligjare ver. Dit beteken dat dit sy lig vier jaar neem om ons te bereik... en lig beweeg met ’n duiselingwekkende snelheid van byna 300 000 kilometer per sekonde! ’n Mens kan jou dus skaars voorstel hoe ontsaglik ver dit moet wees.

Maar as jy daaraan dink dat sekere sterre honderde, duisende of selfs miljoene ligjare van ons af kan wees, besef jy eers werklik die onpeilbare en onmeetlike grootheid van die geskape werklikheid.

Daarteenoor neem dit die son se lig net omtrent agt minute op die aarde te bereik. Die son soos hy nou daar uitsien, is dus eintlik nie die son soos hy nou is nie, maar soos hy agt minute gelede was!

Sterre (soos ook ons son) is in der waarheid brandende gasbolle. Daar is baie vryswewende gaswolke in die heelal. Naderhand "vloei" van daardie gas op een plek saam en word so groot dat dit al hoe meer gas na hom toe aantrek.

Hoe groter die gaswolk word, hoe groter word sy aantrekkingskrag. Uiteindelik is die drukking binne-in die gaswolk so groot dat hy soos ’n waterstofbom op homself inplof en hy as gevolg van die kernreaksie met ’n groot glans begin skyn.

En so kan hy aanhou skyn tot eendag in die verre toekoms wanneer al die gas "opgebrand" het, om dit so te stel. (Dis darem nie werklik ’n kwessie van "wegbrand" nie, maar eerder van waterstofatome wat deur middel van fusie in swaarder atome en energie omgeskakel word, soos die geleerdes sê.)

Dit is haas onmoontlik om te bereken hoeveel sterre daar in die heelal is. Sterrekundiges meen dat daar tien miljoene van miljoene (tien biljoene) sterre moet wees net in die sterregroep (sterrestelsel genoem) wat ons as die Melkweg ken en waartoe ons eie son ook behoort. Maar die Melkweg is maar net een van etlike honderdmiljoen sulke sterreselsels wat deur groot moderne teleskope sigbaar is.

Dit lyk nie vir ons of die sterre in verhouding tot mekaar van posisie verander nie. Dit is omdat hulle so geweldig ver van ons is. In werklikheid is daar egter ’n enorme mate van beweging in die ruimte. Die planete, waaroor hieronder meer vertel word, se bewegings is weer duidelik waarneembaar omdat hulle soveel nader aan ons is. Die blote naam planeet kom van die Griekse woord vir "swerwer".

Wat planete is...

PLANETE is bolvormige hemelliggame wat rondom ’n son beweeg. Die enigste planete wat tot ’n klompie jare gelede bekend was, is die nege planete van ons eie sonnestelsel, genoem Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus en Pluto. Hulle is baie kleiner as ons son. Trouens, as die son ’n groot pampoen was, sou die planete maar soos ertjies en pruime gewees het wat op taamlike afstande daarom wentel.

Die eerste vier in volgorde van die son af, te wete Mercurius, Venus, die Aarde en Mars, is die sogenaamde aardagtige planete, dit wil sê hulle is rotsagtige sfere soos die Aarde. Heelwat groter is die koue gasplanete, die reusagtige Jupiter, asook Saturnus, Uranus en Neptunus. Die taamlik afgeleë Pluto is weer ’n dwergie met rotsagtige gesteentes gemeng met ligte verskuiwende streke van vermoedelik verysde stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys.

In vergelyking met die sterre doer ver is ons sonnestelsel se planete maar ’n hanetreetjie  van ons son af—net sowat 60 miljoen tot byna 6000 miljoen kilometer.

Verskeie van die planete het ook mane—hemelliggaampies wat self om hulle wentel net soos hulle op hul beurt om die son draai.

Die klaarblyklike bestaan van planete wat om ander sonne (sterre) as ons eie son wentel, is maar eers in die afgelope klompie jare bevestig. Omdat planete nie  hul eie lig uitstraal nie maar slegs die lig van hul sonne weerkaats, is dit egter onmoontlik om hulle met visuele teleskope—selfs die wentelende Hubble—op te spoor.

Onregstreekse metodes word dus gebruik soos die bepaling van die invloed van hul aanwesigheid op die bewegings van hul spesifieke sonne. Reuse-planete die grootte van ons eie Jupiter en Saturnus is al so opgespoor, maar daar word gehoop dat die tegnieke nog ook tot die vind van kleiner planete soos die Aarde sal lei.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad