’n Laslappie van Mieliestronk

SAFFRAAN:

Kosbare spesery waarvan die kat niks weet nie!
  

Saffraanblomme

Stempels
BO: Blomme van die saffraanplant Crocus sativus.
LINKS:  Die saffraanblom van naby gesien, met die drie stempels wat dikwels saam met die styl uit die blom verwyder word om daarna op panne versprei en oor houtskoolvure gedroog te word.
LINKS ONDER: ’n Bossie van versamelde saffraandrade.
REGS ONDER: Saffraanpoeier. Saffraan is ’n kosbare spesery met verskillende gebruike.

   

Saffraandrade en -poeier

  
Foto heel bo: Anna Tatti, Italië, wat die vrye gebruik daarvan vergun vir watter doel ook al.
Illustrasie middel bo aangepas uit Koehler's Medicinal-Plants, 1887—kopiereg het verval weens ouderdom (“public domain”)
Foto links bo: Rainer Zenz. wat dit tot openbare besit (“public domain”) verklaar het in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
Foto regs bo: Valentina Degiorgis van Liguria, Itallië, wat die vrye gebruik van die foto vergun vir enige doel.

MISKIEN weet jy self net so min van saffraan as wat die spreek-
woordelike kat van saffraan weet! Maar hierdie irisagtige bolpant en sy besondere produkte is al baie eeue lank aan die mensdom bekend.

 

Trouens, in die Hooglied van Salomo (hoofstuk 4, vers 14) word dit reeds saam met ander lekkerruik-kruie gelys. En vandag word die saffraan-spesery steeds in talle geregte gebruik. Vra maar vir kokke in lande aan die Middellandse See en in die Ooste.

 

Crocus sativus met sy pers blomme is die saffraanplant. 

Die blom het drie oranjerooi, prikkelende stempels, wat dikwels saam met die styl (die deel van die stamper tussen die stempels en die res van die plant) gedroog word om in kos as ’n heldergeel kleursel en geursel benut te word, of gebruik te word as ’n kleurstof vir byvoorbeeld materiaal.

 

Sowel die plant as die geursel en die kleurstof word saffraan genoem. Wanneer die plante in blom staan, is hul gemiddelde hoogte minder as 30 cm. Die saffraanplant kom nie vry in die natuur voor nie en daar word gemeen dat dit van ’n wilde plant van Kreta afstam, wat weens intensiewe kweking vir langer stempels sy vermoë verloor het om saad te produseer en nou slegs kan voorplant deur sy bolle wat deur die mens uitgegrawe, van mekaar geskei en weer geplant moet word.

 

Wanneer dit oestyd in die saffraanland is, word die blommetjies met die hand gepluk. Saffraan word veral in Spanje, Frankryk, Sicilië, Italië, Iran en Kasjmir gekweek.

 

Die nodige dele word met die hand uit elke liewe blom verwyder en daarna op panne versprei en oor houtskoolvure gedroog. Saffraan is ’n kosbare spesery met verskillende gebruike.

 

•   Die woord saffraan, wat Afrikaans uit Nederlands gekry het, het ontstaan uit die twaalfde-eeuse Oud-Franse safran, uit die Latynse safranum. Safranum kom op sy beurt van ’n Arabiese woord za’farān wat afgelei is van ’n woord wat in Arbies “geel” beteken.

 

En hoekom sonder ons in ons idioom juis die kat uit as ’n dier wat geen benul van saffraan sou hê nie? Ons weet nie presies nie, hoewel ene N. Mansvelt reeds daarvan melding maak in sy Proeve van een Kaaps-Hollandsch Iidioticon uit die Ou-Kaapse bestel. Mansvelt het dit opgeteken as: “Wat weet die kat van saffraan”.

 

Natuurlik weet ons ook dat die destydse Maleierslawe aan die Kaap groot kenners van speserye was, omdat hulle hierheen gebring is uit die Ooste wat juis beroemd was vir sy speserye. Boonop was die Kaap op die seeroete tussen Europa en die Ooste, en saffraan was dus vir die Kapenaars niks vreemds nie.

 

Dalk was ’n slaaf dus op ’n dag besig om met saffraan te werk toe ’n medeslaaf se onkundigheid oor iets hom erg geïrriteer het. En terwyl hy rondsoek na woorde om die man oor sy onkunde te berispe, kom skuur die slawe-eienaar se huiskat hier teen kom aan. Toe blaker die ongeduldige slaaf dit uit: “Man, ek sê vir jou, jy weet soveel van hierdie ding af as dié kat van saffraan!”

 

Toehoorders van die gesprek vind die vergelyking koddig—en dit bly steek in hul gedagtes en word daarna so oor en oor gebruik dat dit as ’n idioom gevestig raak.

 

Of dit wel so gebeur het, sal ons natuurlik nie weet nie, maar iets in dié trant is glad nie onmoontlik nie.

Vergelyk die Afrikaanse uitdrukking met die dialektiese Nederlands: “Hij weet er zooveel van as ’n katte van de Zeundag” (Am. Joos: Schatten uit de Volkstaal).


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad