|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|||||
SAFFRAAN:Kosbare
spesery waarvan die kat niks weet nie!
MISKIEN
weet jy self net so min van saffraan as wat die spreek-
Trouens, in die Hooglied van Salomo (hoofstuk 4, vers 14) word dit reeds saam met ander lekkerruik-kruie gelys. En vandag word die saffraan-spesery steeds in talle geregte gebruik. Vra maar vir kokke in lande aan die Middellandse See en in die Ooste. Crocus sativus met sy pers blomme is die saffraanplant. Die blom het drie oranjerooi, prikkelende stempels, wat dikwels saam met die styl (die deel van die stamper tussen die stempels en die res van die plant) gedroog word om in kos as ’n heldergeel kleursel en geursel benut te word, of gebruik te word as ’n kleurstof vir byvoorbeeld materiaal.
Sowel
die plant as die geursel en die kleurstof word saffraan genoem. Wanneer dit oestyd in die saffraanland is, word die blommetjies met die hand gepluk. Saffraan word veral in Spanje, Frankryk, Sicilië, Italië, Iran en Kasjmir gekweek.
Die nodige dele word met die hand uit elke liewe blom verwyder en daarna op panne versprei en oor houtskoolvure gedroog. Saffraan is ’n kosbare spesery met verskillende gebruike.
• Die woord saffraan, wat Afrikaans uit Nederlands gekry het, het ontstaan uit die twaalfde-eeuse Oud-Franse safran, uit die Latynse safranum. Safranum kom op sy beurt van ’n Arabiese woord za’farān wat afgelei is van ’n woord wat in Arbies “geel” beteken.
En hoekom sonder ons in ons idioom juis die kat uit as ’n dier wat geen benul van saffraan sou hê nie? Ons weet nie presies nie, hoewel ene N. Mansvelt reeds daarvan melding maak in sy Proeve van een Kaaps-Hollandsch Iidioticon uit die Ou-Kaapse bestel. Mansvelt het dit opgeteken as: “Wat weet die kat van saffraan”.
Natuurlik weet ons ook dat die destydse Maleierslawe aan die Kaap groot kenners van speserye was, omdat hulle hierheen gebring is uit die Ooste wat juis beroemd was vir sy speserye. Boonop was die Kaap op die seeroete tussen Europa en die Ooste, en saffraan was dus vir die Kapenaars niks vreemds nie.
Dalk was ’n slaaf dus op ’n dag besig om met saffraan te werk toe ’n medeslaaf se onkundigheid oor iets hom erg geïrriteer het. En terwyl hy rondsoek na woorde om die man oor sy onkunde te berispe, kom skuur die slawe-eienaar se huiskat hier teen kom aan. Toe blaker die ongeduldige slaaf dit uit: “Man, ek sê vir jou, jy weet soveel van hierdie ding af as dié kat van saffraan!”
Toehoorders van die gesprek vind die vergelyking koddig—en dit bly steek in hul gedagtes en word daarna so oor en oor gebruik dat dit as ’n idioom gevestig raak.
Of dit wel so gebeur het, sal ons natuurlik nie weet nie, maar iets in dié trant is glad nie onmoontlik nie. Vergelyk
die Afrikaanse uitdrukking met die dialektiese Nederlands: “Hij weet er
zooveel van as ’n katte van de Zeundag” (Am. Joos: Schatten
uit de Volkstaal). |
|||||