SAMBRELE:
Skerms
teen die son en die reën
REGS:
Vrou met ’n Sonsambreel, 1875, deur die Franse kunstenaar Claude Monet
(1840-1926).
Dit
reën dat dit sous, maar jy gryp jou sambreel en laat waai buitentoe. Jy
natreën? Wat wou! En tog het sambrele in plekke ontstaan waar dit bloedmin
reën. Wat meer sê, toe hulle uiteindelik in reënryke lande aangekom het,
is die spot daarmee gedryf. En dan was daar selfs die generaal wat ’n sambreel
vir ’n valskerm aangesien en daarmee uit
’n twaalf meter hoë venster in ’n vesting gespring het...
REGS:
’n Toneel van sambreeldraers in die reën deur die Franse skilder en
kunsversamelaar Gustave Caillebotte (1848-1894).
DIE
toneel is die strate van Londen. Die tyd, 1750. Jonas Hanway, ’n bekende
handelaar en filantroop, wat pas terug is van ’n oorsese reis, loop in die
pad af. ’n Sagte motreën begin uitsak. Hy gaan staan en bevoel die lug
met sy hand. Toe, steeds stywe bolip en al, flerts hy sy sambreel oop en hou
dit bokant sy kop.
Oomblikke
later begin die gekoggel. “Aitsa, jou uilskuiken!” “Ha-ha-ha, jou gek!”
“Hierts, jy met jou stok wat ’n onderrok dra!”
Dis
niks vreemds om vandag iemand met ’n sambreel te sien loop nie. Maar min
Londenaars van die middel van die agttiende eeu het ooit voorheen só ’n
toestel gesien en om in die stad daarmee rond te loop, het vir hulle
heeltemal absurd gelyk.
Illustrasie:
The National
Agricultural Library / U.S. Department of Agriculture ( USDA)
Soos
baie ander innoveerders moes Hanway bespotting verduur. Trouens, party
verbygangers het hom selfs met perdemis gepeper en koetsiers het glo hul
swepe is sy rigting geklap.
En
tog... slegs enkele dekades later was die sambreel so gewild dat dit een van
die duursaamste mode-items geword het wat daar nog was.
Vreemd
genoeg het die sambreel in lande ontstaan waar dit nie so dikwels reën nie
en dit nogal moeilik kan wees om ’n skadukolletjie te vind. Die Afrikaanse
woord sambreel kry ons juis oorspronklik uit die Maleis-Portugese soembreloe
uit die Portugese sombreiro (’n breërandhoed wat die son weghou),
terwyl die Engelse umbrella ontleen is aan die Italiaanse ombrella
(uit ombra uit die Latynse umbra, wat “skaduwee”
beteken).
Die
sambreel is reeds in die twaalfde eeu vC ruim in China gebruik as ’n
beskerming teen die son. Die Chinese sambreel se raamwerk was van bamboes of
sandelhout, wat met blare of vere bedek is. Hier en regoor die Verre en
Midde-Ooste het dit ’n simbool van ’n hoë stand in die samelewing
geword en slegs koninklikes en adellikes is toegelaat om dit te besit.
REGS:
Die vervaardiging van bamboessambrele... ’n eeue-oue kuns word hier deur
’n Oosterse sambreelmaker beoefen. Die bedekking is egter nie meer blare
of vere nie, maar veel duursamer materiaal.
Foto:
The National Agricultural Library
/ U.S. Department of Agriculture ( USDA)
Nadat
die sambreel na Europa gebring was, het dit, regdeur die klassieke Griekse en Romeinse
tye en daarna, steeds ’n beskermer teen die son gebly. Eers in die 1730’s,
toe Parysenaars sambrele van hout en oliedoek begin maak het, het dit ook ’n
beskutting teen die reën geword.
Dog
in Brittanje wou die sambreel maar net nie posvat nie, hoe hard Jonas Hanway
dit ook al probeer adverteer het.
Dit
het eers ná 1778 gewild geword toe die bereisde heer Beau MacDonald ’n
sambreel van fyn sy in Londen begin dra het. Hy moes ook maar bespottings en
beledigings verduur, dog hy het horn nie laat afskrik nie en binne ’n jaar
het die sambreelmode in stedelike gebiede posgevat.
Allerhande
patente vir beter sambrele is in die 1880’s uitgeneem. In baie gevalle is
die swaar houtraamwerk deur walvisbeen en later metaalrame vervang. Die
nuwe, ligte sambreel het gelei tot die parasol, ’n ligte sonskerm wat met
fyn sy bedek en met kant omsoom is. Dit was tot in die vroeë twintigste eeu
’n gewilde mode.
Bra
uitspattiger patente was onder meer ’n parasol met ’n weerligafleier wat
sy draer teen die blitse moes beskerm, ’n sambreel wat in ’n swaard
verander kon word en, vir dié wat heimlik die elmboog wou lig, een waarvan
die handvatsel afgeskroef kon word om ’n houer vir alkohol aan die
binnekant te ontbloot.
Vandag
word sambrele meestal gebruik om mense teen reën en sneeu te beskerm,
hoewel hulle steeds gewild is as sonskerms op die strand. Die raamwerk is
meestal van metaal of plastiek, wat met plastiekmateriaal of doek bedek is.
Die vorm is, soos dit altyd was, soos dié van valskerms.
Ene
genl. Beurnonville het in 1793 selfs ’n sambreel vir ’n valskerm
aangesien en dit gebruik om uit ’n twaalf meter hoë venster in die
vesting van Ollmutz te spring (in die huidige Tsjeggiese Republiek). Hy was
gelukkig dat hy net albei sy bene gebreek het.
LINKS:
Sambreelvorms is natuurliks niks vreemds in die natuur nie—en mens en dier
skuil al sedert die vroegste tye daaronder om hulle teen die elemente te
beskut. Hier is ’n sambreeldoringboom (Acacia
tortillis) op die Afrika-savanne.
Foto:
Gary M. Stolz / U.S. Fish & Wildlife Service
|