’n Laslappie van Mieliestronk

SAMBRELE:

Skerms teen die son en die reën

 

Vrou met ’n Sonsambreel deur MonetREGS: Vrou met ’n Sonsambreel, 1875, deur die Franse kunstenaar Claude Monet (1840-1926).


       
Dit reën dat dit sous, maar jy gryp jou sambreel en laat waai buitentoe. Jy natreën? Wat wou! En tog het sambrele in plekke ontstaan waar dit bloedmin reën. Wat meer sê, toe hulle uiteindelik in reënryke lande aangekom het, is die spot daarmee gedryf. En dan was daar selfs die generaal wat ’n sambreel vir ’n valskerm aangesien en daarmee uit ’n twaalf meter hoë venster in ’n vesting gespring het...

 

    

Sambreeldraers in die reën deur Gustave CaillebotteREGS: ’n Toneel van sambreeldraers in die reën deur die Franse skilder en kunsversamelaar Gustave Caillebotte (1848-1894).

 
 

DIE toneel is die strate van Londen. Die tyd, 1750. Jonas Hanway, ’n bekende handelaar en filantroop, wat pas terug is van ’n oorsese reis, loop in die pad af. ’n Sagte motreën begin uitsak. Hy gaan staan en bevoel die lug met sy hand. Toe, steeds stywe bolip en al, flerts hy sy sambreel oop en hou dit bokant sy kop.

 

Oomblikke later begin die gekoggel. “Aitsa, jou uilskuiken!” “Ha-ha-ha, jou gek!” “Hierts, jy met jou stok wat ’n onderrok dra!”

Sambreel


Dis niks vreemds om vandag iemand met ’n sambreel te sien loop nie. Maar min Londenaars van die middel van die agttiende eeu het ooit voorheen só ’n toestel gesien en om in die stad daarmee rond te loop, het vir hulle heeltemal absurd gelyk.

 

Illustrasie: The National
Agricultural  Library / U.S. Department of Agriculture ( USDA)

 

Soos baie ander innoveerders moes Hanway bespotting verduur. Trouens, party verbygangers het hom selfs met perdemis gepeper en koetsiers het glo hul swepe is sy rigting geklap.

 

En tog... slegs enkele dekades later was die sambreel so gewild dat dit een van die duursaamste mode-items geword het wat daar nog was.

 

Vreemd genoeg het die sambreel in lande ontstaan waar dit nie so dikwels reën nie en dit nogal moeilik kan wees om ’n skadukolletjie te vind. Die Afrikaanse woord sambreel kry ons juis oorspronklik uit die Maleis-Portugese soembreloe uit die Portugese sombreiro (’n breërandhoed wat die son weghou), terwyl die Engelse umbrella ontleen is aan die Italiaanse ombrella (uit ombra uit die Latynse umbra, wat “skaduwee” beteken).

 

Die sambreel is reeds in die twaalfde eeu vC ruim in China gebruik as ’n beskerming teen die son. Die Chinese sambreel se raamwerk was van bamboes of sandelhout, wat met blare of vere bedek is. Hier en regoor die Verre en Midde-Ooste het dit ’n simbool van ’n hoë stand in die samelewing geword en slegs koninklikes en adellikes is toegelaat om dit te besit.

 

Oosterse sambreelmakerREGS: Die vervaardiging van bamboessambrele... ’n eeue-oue kuns word hier deur ’n Oosterse sambreelmaker beoefen. Die bedekking is egter nie meer blare of vere nie, maar veel duursamer materiaal. 

 

Foto: The National Agricultural Library / U.S. Department of Agriculture ( USDA)

 

Nadat die sambreel na Europa gebring was, het dit, regdeur die klassieke Griekse en Romeinse tye en daarna, steeds ’n beskermer teen die son gebly. Eers in die 1730’s, toe Parysenaars sambrele van hout en oliedoek begin maak het, het dit ook ’n beskutting teen die reën geword.

 

Dog in Brittanje wou die sambreel maar net nie posvat nie, hoe hard Jonas Hanway dit ook al probeer adverteer het.

 

Dit het eers ná 1778 gewild geword toe die bereisde heer Beau MacDonald ’n sambreel van fyn sy in Londen begin dra het. Hy moes ook maar bespottings en beledigings verduur, dog hy het horn nie laat afskrik nie en binne ’n jaar het die sambreelmode in stedelike gebiede posgevat.

 

Allerhande patente vir beter sambrele is in die 1880’s uitgeneem. In baie gevalle is die swaar houtraamwerk deur walvisbeen en later metaalrame vervang. Die nuwe, ligte sambreel het gelei tot die parasol, ’n ligte sonskerm wat met fyn sy bedek en met kant omsoom is. Dit was tot in die vroeë twintigste eeu ’n gewilde mode.

 

Bra uitspattiger patente was onder meer ’n parasol met ’n weerligafleier wat sy draer teen die blitse moes beskerm, ’n sambreel wat in ’n swaard verander kon word en, vir dié wat heimlik die elmboog wou lig, een waarvan die handvatsel afgeskroef kon word om ’n houer vir alkohol aan die binnekant te ontbloot.

 

Vandag word sambrele meestal gebruik om mense teen reën en sneeu te beskerm, hoewel hulle steeds gewild is as sonskerms op die strand. Die raamwerk is meestal van metaal of plastiek, wat met plastiekmateriaal of doek bedek is. Die vorm is, soos dit altyd was, soos dié van valskerms.

 

Ene genl. Beurnonville het in 1793 selfs ’n sambreel vir ’n valskerm aangesien en dit gebruik om uit ’n twaalf meter hoë venster in die vesting van Ollmutz te spring (in die huidige Tsjeggiese Republiek). Hy was gelukkig dat hy net albei sy bene gebreek het.

 

SambreeldoringboomLINKS: Sambreelvorms is natuurliks niks vreemds in die natuur nie—en mens en dier skuil al sedert die vroegste tye daaronder om hulle teen die elemente te beskut. Hier is ’n sambreeldoringboom (Acacia tortillis) op die Afrika-savanne.

 

Foto: Gary M. Stolz / U.S. Fish & Wildlife Service

  
  


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad