’n Laslappie van Mieliestronk

SEESTER:

Fassinerende roofdier sonder ’n brein
  

Verskillende seesterre

BO: Seesterre kom in die boeiendste verskeidenheid van vorms en kleure voor.

Foto’s: U.S. National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA)

 

Vir mense lyk die seesterre dalk soos onskadelike, ietwat eienaardige bewoners van die seebodem. Vir die skulpvisse, hul gunsteling-kos, is hulle verskeurende roofdiere met ’n oënskynlik onversadigbare vreetlus...

 

Geel seesterLOOP op enige strand langs en jy sal dit waarskynlik sien: ’n seester of twee wat deur die laagwater op die sand gelaat is, of wat stadig oor die bodem van ’n rotspoeletjie kruip.

 

Seesterre is nie visse soos hul Engelse benaming (“starfish”) aandui nie, maar behoort tot ’n groep diere wat die echinoderme of stekelhuidiges genoem word. Ander lede van die groep is seekomkommers, slangsterre, veersterre en seekastaiings.

 

Slegs toegerus met arms, sonder ’n kop of brein, is ’n seester werklik ’n interessante vonds. Die meeste seesterre het vyf arms wat vanuit ’n plat liggaam uitwaaier—hoewel sekere soorte tot vyftig arms het. Die mond is in die middel, aan die onderkant, en lei na ’n sak-agtige maag.

 

Daar is baie verskillende soorte seesterre, met baie verskillende vorms en kleure. Baie is niks groter as ’n grootmens se hand nie. Daarteenoor is die grootste meer as 1,3 meter in deursnee.

 

Die sleutel tot die seester se sukses as onderwater-roofdier lê in sy “voete”. Onderaan elke arm is honderde, partykeer duisende, dun, waaiende, strekbare buise wat buispote genoem word. By baie eindig die buispote in klein suiertjies.

 

Die buispote word gebruik om oor die seebodem te kruip, om kos te vind deur die waarneming van chemikalieë in die water en om die prooi te verstrik en vas te hou.

 

Seesterre vreet dikwels sponse, koraal, wurms, skaaldiere en klein vissies.

 

Seester vreet koraalREGS: ’n Seester besig om koraal te vreet.

 

Foto met vergunning van NOAA, WHOI, Alvin Group en 2004 GOA Seamount Exploration Science Party

 

Baie seesterre het ook ’n voorliefde vir tweekleppige weekdiere soos mossels en oesters—diere wat hul skulpe toeklap wanneer hulle aangeval word.

 

Die seester vou die weekdier toe, heg sy buispote aan die twee kante van die skulp—en trek. Wanneer die skulp oopgaan, druk die seester sy sak-agtige maag deur sy mond en plaas dit in die opening tussen die skulphelftes.

 

Die maag stel verteringsappe vry, wat die slagoffer se sagte liggaam afbreek. Die seester trek dan weer sy maag in, en die vloeibare inhoud word in sy eie liggaam opgeneem.

 

Seesterre is regte vrate. Die volwasse dier vreet elke dag drie keer meer as wat hulle weeg en die kleintjies omtrent tien keer meer.

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad