|
’n Laslappie van Mieliestronk |
SEESTER:Fassinerende
roofdier sonder ’n brein
Foto’s: U.S. National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) Vir
mense lyk die seesterre dalk soos onskadelike, ietwat eienaardige bewoners
van die seebodem. Vir die skulpvisse, hul gunsteling-kos, is hulle
verskeurende roofdiere met ’n oënskynlik onversadigbare vreetlus...
Seesterre
is nie visse soos hul Engelse benaming (“starfish”) aandui nie, maar
behoort tot ’n groep diere wat die echinoderme of stekelhuidiges genoem
word. Ander lede van die groep is seekomkommers, slangsterre, veersterre
en seekastaiings. Slegs
toegerus met arms, sonder ’n kop of brein, is ’n seester werklik ’n
interessante vonds. Die meeste seesterre het vyf arms wat vanuit ’n plat
liggaam uitwaaier—hoewel sekere soorte tot vyftig arms het. Die mond is
in die middel, aan die onderkant, en lei na ’n sak-agtige maag. Daar
is baie verskillende soorte seesterre, met baie verskillende vorms en
kleure. Baie is niks groter as ’n grootmens se hand nie. Die
sleutel tot die seester se sukses as onderwater-roofdier lê in sy “voete”.
Onderaan elke arm is honderde, partykeer duisende, dun, waaiende,
strekbare buise wat buispote genoem word. By baie eindig die buispote in
klein suiertjies. Die
buispote word gebruik om oor die seebodem te kruip, om kos te vind deur
die waarneming van chemikalieë in die water en om die prooi te verstrik
en vas te hou. Seesterre vreet dikwels sponse, koraal, wurms, skaaldiere en klein vissies.
Foto met vergunning van NOAA, WHOI, Alvin Group en 2004 GOA Seamount Exploration Science Party
Baie
seesterre het ook ’n voorliefde vir tweekleppige weekdiere soos mossels
en oesters—diere wat hul skulpe toeklap wanneer hulle aangeval word. Die
seester vou die weekdier toe, heg sy buispote aan die twee kante van die
skulp—en trek. Wanneer die skulp oopgaan, druk die seester sy sak-agtige
maag deur sy mond en plaas dit in die opening tussen die skulphelftes. Die
maag stel verteringsappe vry, wat die slagoffer se sagte liggaam afbreek.
Die seester trek dan weer sy maag in, en die vloeibare inhoud word in sy
eie liggaam opgeneem. Seesterre
is regte vrate. Die volwasse dier vreet elke dag drie keer meer as wat
hulle weeg en die kleintjies omtrent tien keer meer.
|