|
’n Laslappie van Mieliestronk |
||
|
SEKRETARISVOËL: Slang se doodsteek, boer se vriend
Foto: Gary M. Stolz / U.S. Fish & Wildlife Service STEL
jou voor jy is besig om tuis te rus en meteens voel jy hoe die aarde bewe.
Jy hardloop buitentoe, net om ’n monster so groot soos ’n wolkekrabber
bokant jou te sien uittoring. Jy slaan voet in die wind, maar ’n swaar
poot kom soos ’n ton bakstene op jou neer en skop jou katswink. Een trap
op jou ruggraat en jy's bokveld toe! Klink
dit soos ’n nagmerrie? Wees dan net dankbaar dat jy nie ’n slang is
wat deur ’n sekretarisvoël gejag word nie, want dis seker soos dit vir
hom moet voel. Sekretarisvoëls,
langbeen-roofvoëls van die grasvlaktes van Afrika, vreet hoofsaaklik
groot insekte, akkedisse, skilpadjies, soogdiertjies en ander voëls, maar
hulle is veral bekend om die voorliefde wat baie van hulle vir slange het. Die
sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius) loop meestal met lang,
stywe treë deur die gras en trappel elke af en toe op die grond om
verskrikte prooidiere uit hul skuilplekke op te jaag. Die toekomstige
slagoffer word dan so al slingerende agternagesit, terwyl die voël met sy
vlerke klap om hom nog verder te verwar. Die meeste prooidiere word summier opgepik en ingesluk. Maar wanneer die sekretarisvoël slange aanval, trap hy sy slagoffer net agter die kop om sy rugstring te breek. Partykeer trap hy so kwaai dat hy die slang se vel letterlik afstroop terwyl hy nog leef. Omdat
hulle so lief vir slange is, beskou boere hierdie roofvoëls as hul
vriende. Party hou mak sekretarisvoëls aan om van kobras, pofadders en
rotte in hul landerye ontslae te raak. ’n Mens kan tereg wonder waar die sekretarisvoël aan sy naam kom. Wat het ’n gevleuelde dier dan met sekretariële dinge uit te waai? Baie gesaghebbendes beweer hierdie ongewone naam kom van die bossie swartpunt-penvere aan sy agterkop wat ’n mens glo herinner aan die veerpenne wat agttiende-eeuse regsekretarisse en klerke agter hul ore gedra of in hul pruike gesteek het. In werklikheid, meen een baie gesaghebbende bron, is die benaming ’n foutiewe uitspraak van die Arabiese naam vir dié voël.
Miskien is dit egter nog op ’n manier terug te voer na die wetenskaplike name Sagittarius (“boogskutter met pyle”) en serpentarius (“slangvreter”), wat albei maklik by die leek en in die volksmond “sekretaris” kon geword het. Maar ons sou steeds nie werklik weet nie. Dit lyk in elk geval of die voël oorspronklik deur die vroeë Westerlinge in ons wêrelddeel—en heel gepas—bloot ’n “slang(en)vre(e)ter” genoem is. Die
sekretarisvoël, met sy rooi-oranje, arendagtige gesig, skraal bene en
lang stert , word langer as ’n meter. Sy hougebied is die gras- en
bosveld van Afrika suid van die Sahara.
Sekretarisvoëls bou hul neste van stokke en takkies in bome. Hulle
paar vermoedelik vir ’n leeftyd. Die wyfie lê twee of drie eiers oor ’n
tydperk van ’n paar dae, hoewel slegs een jong voël gewoonlik tot
volwassenheid bly lewe.
|
||