|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|||
|
Die stryd om kop bo sand te hou
|
|||
|
Foto’s: Die historiese foto’s word vanweë die verstryking van kopiereg as openbare besit (“public domain”) beskou. Die kleiner foto van die Sfinks soos hy vandag lyk, is met vergunning van USAID. |
|||
|
... En in 1988 het ’n blok van 130 kg van die Sfinks se regterskouer op die grond neergestort. Dit het die mense wat vir hom sorg, oortuig dat dit tyd vir ’n hernieude herstelpoging was. Danksy die koms van die rekenaar het die antieke beeld toe kort voor die afgelope eeuwisseling ’n dramatiese verjongingskuur ondergaan. Dog dit lyk of reparasiewerk maar kort-kort weer nodig kan wees... |
|||
|
DIE
jaar: 1400 vC. Die plek: die woestynsand naby Giza in Egipte. Die slapende
jong prins Thoetmoses word wakker en vryf sy oë. Watter vreemde droom het
hy nie gehad nie! Die Groot Sfinks, ’n enorme beeld waarvan die lyf in die
sand begrawe lê, het soos ’n mitologiese god voor hom verskyn en hom
belowe hy sal eendag die farao wees. Maar prins Thoetmoses moet eers die
beeld se lyf uit die sand kry. Dit,
só lui die legende, is hoe die eerste restourasie van die Groot Sfinks
gebeur het. Die prins het gelas dat die sand van die beeld weggegrawe
word, klipblokke rondom sy liggaam laat opbou en dit toe verskeie kleure
geverf. En, soos die Sfinks sou voorspel het, het prins Thoetmoses toe ’n
farao, Thoetmoses IV, geword. Die
Groot Sfinks, ’n massiewe kalksteenbeeld, is vermoedelik as ’n beskermer
van die piramides opgerig. Dit het die kop van ’n mens en die lyf van ’n
leeu, en is sowat 20 m hoog en 73 m lank. Die
Sfinks is in sy lang geskiedenis verskeie kere gerestoureer. Die beeld is
vermoedelik in die vierde dinastie op bevel van die farao Chafre gebou,
maar is verinneweer deur vandale, grafrowers wat na versteekte ingange
gesoek het, verskuiwende sand, lugbesoedeling en wind-erosie. In
1988 het ’n blok van 130 kg van die beeld se regterskouer op die grond
neergestort, wat die owerheid oortuig het dat dit tyd was vir ’n hernieude
herstelpoging. Met die hulp van ’n rekenaar het die restourasiespan die
lapplekke opgespoor wat oor die millenniums aangebring is en ’n model van
die Sfinks gemaak soos hy oorspronklik moet gelyk het. Met
hierdie inligting was hulle in staat om nuwe kalksteenblokke uit te kap
met die presiese afmetings van die oorspronklikes. In die voorafgaande
dekade was die Sfinks toe agter ’n spul steiers weggesteek. Maar kort voor
die eeuwisseling is die steiers verwyder en ’n verjongde Sfinks het te
voorskyn gekom, wat daarna dan ook luisterryk onthul is. Slegs
die neus— wat in die vyftiende eeu deur vandale verwoes is— is nie
herstel nie. Die gevorderde tegnologie het nou wel die Groot Sfinks ’n
besondere “gesigsontrimpeling” besorg, maar dis steeds neusie verby vir
daardie neus tot miskien êrens in die toekoms!
*) UNESCO (United Nations Educational, Scientific, and Cultural Organization) is ’n liggaam van die Verenigde Nasies wat hom onder meer wêreldwyd met kulturele en opvoedkundige aangeleenthede bemoei.
|
|||