’n Laslappie van Mieliestronk

  
SFINKS:

Die stryd om kop bo sand te hou

 

Dis ’n eeue-oue stryd teen verwering en die waaisande van die woestyn. Die Groot Sfinks by Giza in Egipte is veronderstel om ewig oor die piramides in sy omgewing te waak, maar as hy kon praat, sou hy kon vertel hoe moeilik dit is om in hierdie omstandighede kop bo water—ekskuus, kop bo
sand—te hou
... 

Die Groot Sfinks in die negentiende en vroeë twintigste eeu

   

BO: Drie historiese foto’s uit die negentiende en vroeë twintigste eeu toon ’n baie gehawende Sfinks... weliswaar nie “kop onder die sand” nie, maar om die woordspelings verder te voer, wel “pens en pootjies” begrawe! Op die foto REGS (’n digitale verkleuring van nog ’n historiese foto) is die einste pens en pote egter reeds weer onder die sand uitgegrawe. ONDER is die Sfinks vandag. Onder die sand uitgegrawe — die Sfinks se voorpote

Die Sfinks vandag

 

Foto’s: Die historiese foto’s word vanweë die verstryking van kopiereg as openbare besit (“public domain”) beskou. Die kleiner foto van die Sfinks soos hy vandag lyk, is met vergunning van USAID.

... En in 1988 het ’n blok van 130 kg van die Sfinks se regterskouer op die grond neergestort. Dit het die mense wat vir hom sorg, oortuig dat dit tyd vir ’n hernieude herstelpoging was. Danksy die koms van die rekenaar het die antieke beeld toe kort voor die afgelope eeuwisseling ’n dramatiese verjongingskuur ondergaan. Dog dit lyk of reparasiewerk maar kort-kort weer nodig kan wees...

DIE jaar: 1400 vC. Die plek: die woestynsand naby Giza in Egipte. Die slapende jong prins Thoetmoses word wakker en vryf sy oë. Watter vreemde droom het hy nie gehad nie! Die Groot Sfinks, ’n enorme beeld waarvan die lyf in die sand begrawe lê, het soos ’n mitologiese god voor hom verskyn en hom belowe hy sal eendag die farao wees. Maar prins Thoetmoses moet eers die beeld se lyf uit die sand kry.

 

Dit, só lui die legende, is hoe die eerste restourasie van die Groot Sfinks gebeur het. Die prins het gelas dat die sand van die beeld weggegrawe word, klipblokke rondom sy liggaam laat opbou en dit toe verskeie kleure geverf. En, soos die Sfinks sou voorspel het, het prins Thoetmoses toe ’n farao, Thoetmoses IV, geword.

 

Die Groot Sfinks, ’n massiewe kalksteenbeeld, is vermoedelik as ’n beskermer van die piramides opgerig. Dit het die kop van ’n mens en die lyf van ’n leeu, en is sowat 20 m hoog en 73 m lank.

 

Die Sfinks is in sy lang geskiedenis verskeie kere gerestoureer. Die beeld is vermoedelik in die vierde dinastie op bevel van die farao Chafre gebou, maar is verinneweer deur vandale, grafrowers wat na versteekte ingange gesoek het, verskuiwende sand, lugbesoedeling en wind-erosie.

 

In 1988 het ’n blok van 130 kg van die beeld se regterskouer op die grond neergestort, wat die owerheid oortuig het dat dit tyd was vir ’n hernieude herstelpoging. Met die hulp van ’n rekenaar het die restourasiespan die lapplekke opgespoor wat oor die millenniums aangebring is en ’n model van die Sfinks gemaak soos hy oorspronklik moet gelyk het.

 

Met hierdie inligting was hulle in staat om nuwe kalksteenblokke uit te kap met die presiese afmetings van die oorspronklikes. In die voorafgaande dekade was die Sfinks toe agter ’n spul steiers weggesteek. Maar kort voor die eeuwisseling is die steiers verwyder en ’n verjongde Sfinks het te voorskyn gekom, wat daarna dan ook luisterryk onthul is.

 

Slegs die neus— wat in die vyftiende eeu deur vandale verwoes is— is nie herstel nie. Die gevorderde tegnologie het nou wel die Groot Sfinks ’n besondere “gesigsontrimpeling” besorg, maar dis steeds neusie verby vir daardie neus tot miskien êrens in die toekoms!

 

LINKS: Die Groot Sfinks by Giza, naby die moderne Kaïro, sal bes moontlik maar kort-kort weer ’n opknapping nodig hê. Dit is in elk geval verstommend dat hy ’n paar duisend jaar lank (reeds van voor 2500 v.C. af) staande kon bly in die vretende winde van die woestyn. Saam met die piramides waarin die farao’s Khoefoe, Chafre en Menkaure ter ruste gelê is, vorm die Sfinks ’n deel van die Memphis-kompleks, wat in 1979 deur UNESCO*) tot Wêrelderfenisgebied verklaar is. Gelukkig het mense wat vandag omgee hulle dus verbind om ook die Groot Sfinks met alle moontlike middele vir die nageslag te bewaar.

 

*)  UNESCO (United Nations Educational, Scientific, and Cultural Organization) is ’n liggaam van die Verenigde Nasies wat hom onder meer wêreldwyd met kulturele en opvoedkundige aangeleenthede bemoei.

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad