’n Laslappie van Mieliestronk

SKOENE EN SKOEISELS:

’n Kort oorsig van die mens se voetbekleedsels deur die eeue

 

Sandaal

Ou skoen

Van krokodilvel tot plastiek

BO, REGS BO en REGS: ’n Moderne sandaal, ’n leerskoen van die verlede en twee skoene van krokodilvel... daar is ’n interessante storie agter elke skoen.

  

Foto’s van sandaal en krokodilvelskoene onderskeidelik deur Callista Lockhart en Adrian Pingstone, wat hul kopiereg opgehef en die foto’s tot openbare besit (“public domain”) verklaar het. Foto van ou skoen: U.S. National Park Service.

Krokodilvelskoene

DIE stomme mevrou Viljoen wat tot ’n sukkelbestaan in ’n skoen gedoem is! En dit nogal met soveel kinders dat sy hoegenaamd geen huis met hulle kan hou nie. Ons het seker almal kleintyd in die bekende kleuterrympie met haar kennis gemaak.

 

Dit sê egter nie veel vir die skoen deur hom só met ’n plakkerswoning te vergelyk nie. Eintlik is skoene in baie kulture, veral vroeër dae, juis met status vereenselwig.

 

Op ’n baie ou Egiptiese muurskildering sien ons byvoorbeeld ’n edelman wat kaalvoet loop, gevolg deur ’n slaaf wat die baas se skoene dra sodat hy dit kan aantrek wanneer nodig. Die slaaf, onbegunstigde skepsel, besit natuurlik geen skoene nie. Dit sal mos nie deug dat hy hom klee soos sy heer nie.

 

Natuurlik is skoene ook deur al die eeue ter beskerming gedra—teen die koue, teen ongemaklike oppervlakke, teen bytende diere, dorings, al sulke dinge.

 

Maar die verskillende skoenstyle is veral deur een ding beïnvloed: die mens se ydelheid. Deur die geskiedenis heen het die drang om in die mode te wees in die skoeiselbedryf tot elke denkbare vorm en styl gelei.

 

Skoene van gisterDie geskiedenis van skoene hang nou saam met die geskiedenis van die mens. Hier is ’n seleksie van ’n aantal interessante foto’s rondom skoene.

 

 1    Hierdie skoene van een van die drenkelinge wat in 1912 gesterf het toe die luukse-skip die Titanic ’n ysberg getref en vergaan het, is in 2004 (meer as negentig jaar later) onder in die see gevind.

 

Foto: NOAA

  
 2 
   X-straalfoto’s was nog ’n hele aardigheid in die laat 1890’s toe hierdie een van ’n vrouevoet en -skoen geneem is. X-strale is in 1895 deur die Duitse fiskikus Wilhelm Conrad Röntgen ontdek.

 

Foto: U.S. National Library of Medicine

 

 3    Vier skoenmakers wat hulle tussen 1840 en 1860 laat afneem het, sou stellig heel trots gewees het om ander mense se voete te klee met die beste gelooide diervelle wat destyds tot hul beskikking was.

  

Foto: U.S. Library of Congress

 

 4    Skoene van blare uit ’n vervloë tyd.

  

Foto: U.S, National Park Service

 

 5    ’n Werkster in ’n skoenherstelwinkel. Die twintigste eeu met al sy tegnologiese nuwighede het uiteindelik ’n sofisikasie na die skoenmakersbedryf gebring waarvan voorheen nooit eens gedroom kon word nie.

 

Foto: U.S. Library of Congress

 

AFHANGENDE van die klimaat, die soort terrein, die volksgebruike en soort grondstowwe wat beskikbaar was, het verskillende soorte skoene in verskillende wêrelddele ontwikkel.

 

Die vroegste skoeisel was waarskynlik sandale, wat in warm streke gedra is. Dit was van blare, hout of diervelle, wat so min of meer volgens die vorm van die voetsole gesny en met leerrieme of linnebande aan die voete vasgemaak is.

 

Die antieke Egiptenare het van omstreeks 3700 vC af sandale met sole van leer of gevlegte papirus gedra, en die ou Grieke en Romeine se sandale was van geweefde palmblare, plantvesels of leer.

 

Die Egiptenare, Grieke en Romeine het later ook toe-skoene gemaak deur leer om die voet te draai en dit kruis en dwars met ’n bindriem in posisie te hou.

 

Vroeë Griekse akteurs en komediante het onder hul skoene ’n enkelhoë bedekking van gebreide stof of doek gedra. Dit is ’n soccus genoem,  waar ons woord "sokkie" vandaan kom.

 

In koue streke was die eerste skoene waarskynlik pels waarin die voete toegewikkel is. Daar was ook die bygeloof dat die dier se eienskappe—soos sy krag, moed en jagvaardigheid—aan die draer oorgedra sou word.

 

Die Indiane van Noord-Amerika het mokassins van diervelle gemaak. Dié wat in die verre noorde gewoon het, het robvelle om hul voete en bene gedraai en só ’n soort stewel gemaak.  

 

LINKS: ’n Mokassin.

  

Foto: The Lewis Henry Morgan Collection / The New York State Museum

   

Die Sami (of Laplanders) en die Inuit (Eskimo’s) maak ook stewels met rob-, walrus- en ysbeervelle.

 

Stewels het ook in Europa en Wes-Asië gewild geraak, veral by soldate en ruiters. As jong seun het koning Charles I van Engeland (1600-49) aan swak bene gely weens die siekte ragitis. Vandat hy agt was, het hy versterkte stewels gedra om sy bene te steun. Dit het die gier laat ontstaan om stewels te dra, ’n mode wat deur sy hele regeringstyd in swang gebly het.

 

Die houtskoen of klomp is in die Ooste ontwikkel en het na Europa versprei. Hoewel hout sy nadele het—dit kan nie buig nie en beperk die beweging van die voet—is dit tog taamlik waterdig en hou dit die voete droog.

 

In die dae voor teerpaaie en sypaadjies het die vroue in Frankryk, die Nederlande en later Brittanje ’n hoë houtsool onder hul goeie skoene vasgebind om te keer dat die modder dit besmeer. Houtklompe word vandag nog in sekere dele van Nederland gedra.

 

HoutklompeREGS:  Houtklompe in Amsterdam, Nederland.

 

Foto: U.S. National Institute of Science and Technology (NIST) (detail)

 

Die Romeine het ’n ander gebruik vir houtsole gevind—hulle het dit aan die voete van hul gevangenes vasgebind om dit vir hulle moeilik te maak om te ontsnap.

 

DEUR die eeue heen het die drang om modieus gekleed te wees tot ’n groot verskeidenheid van skoenstyle gelei—party nogal taamlik verstommend.

 

Kol-kol in die dertiende en veertiende eeu was skoene met lang punte baie gewild onder die mans. Hulle is in Engeland crackowes genoem en in Frankryk poulaines.

 

LINKS: Die koddige puntskoene van weleer.

 

Party was so lank dat die skoenpunte met kettings aan kousbande by die knieë verbind moes word om te keer dat die modegekke daaroor struikel. Selfs die punt van ’n ridder se gepantserde stewel is opgehou met ’n ketting wat aan die knie vas was.

 

Karel V van Frankryk het met afkeer daarna verwys as “ ’n oordrewe vergryp teen goeie maniere en ’n bespotting teen God en die kerk, ’n wêreldse ydelheid en ’n gekke onbeskaamdheid”.

 

Partykeer is die punte wat boontoe gewys het, met silwer klokkies versier.

 

Prag-en-praalwette (wette wat uiterlike vertoon aan bande lê) is uitgevaardig om reëls oor die lengte van die skoenpunte neer te lê: ’n “halwe voet” vir ’n burger, “een voet” vir ’n heer en “twee voet of meer” vir die adellikes.

 

Tydens die Renaissance is die puntskoen laat vaar en het die mode na die ander uiterste geswaai. Die skoenpunte het so breed geraak—om plek te maak vir die tone van die adellikes wat weens voetjig vergroot het—dat daar in die middel van die sestiende eeu wette uitgevaardig is wat hul breedte tot ’n halwe voet (15 cm) beperk het.

 

Van die 1300’s tot die 1700’s het party vroue se skoensole so dik geraak dat dit onmoontlik was om te loop sonder die een of ander stut.

 

Die houtklomp, wat ontwerp is om te keer dat goeie skoene vuil word wanneer die draer deur die modder ploeter, het in die Middeleeue mode geword. Die modebewuste aristokrate het dit ál hoër laat maak totdat hulle byna op stelte aangewaggel het.

 

Het jy geweet?

 

   Een van die kriminele aanklagte teen die jeugdige Franse heldin Jeanne d’Arc (Eng. “Joan of Arc”; 1412-1431) was dat sy stewels gedra het—dié was mos net vir mans bedoel.

   Die woord “sabotasie” se oorsprong is die “sabot” (houtskoen). In die feodale tydperk het die landvolk, wanneer hulle onregverdig deur hul heer behandel is, sy gesaaides met dié soort skoene vertrap.

 

LINKS: En as ’n “voetnoot”—skoene vir die maan! Voordat Neil Armstrong in 1969 die mens se eerste bemande sending na die maan gelei het, is selfs die skoene van sy ruimtepak met X-strale ondersoek. Dit is gedoen om seker te maak dat daar geen skerp punte of uitsteeksels was wat sy ruimtepak met noodlottige gevolge sou kon beskadig nie.

Foto: NASA

   


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad