’n Laslappie van Mieliestronk

SPESERYE:

Die prikkelende kruie wat die Kaap rêrig Hollands gemaak het
 

Vinkel en koljander—die een NIE soos die ander!

Vinkel en koljander
  
Al sou die spreekwoord ook te kenne gee dat die een net soos die ander is, is daar tog duidelike verskille tussen vinkel (Foeniculum vulgare) en koljander (Coriandrum sativum). Albei word wel vir hul blare en sade gekweek wat in die kookkuns gebruik word. 

Illustrasies uit die historiese werk Koehler's Medicinal-Plants, 1887, waarvan die kopiereg weens ouderdom verval het (“public domain”)

Speserye iewers in Indië
BO: Verskillende soorte speserye iewers in Indië. Hoewel hierdie geurige, prikkelende kruie nou ook op baie ander plekke gekweek word, is die Ooste steeds tradisioneel die wêreld van speserye, soos eeue gelede reeds. Wat meer sê, een gevolg van die Weste se destydse sug na die kosbare geursels van die Ooste was die ontdekking van die seeweg na Indië en die uiteindelike stigting in 1652 van die verversingspos aan die Kaap. Die gevolge was natuurlik, om die minste te sê, enorm. Trouens, ons kan selfs sê jy lees nou hierdie artikel in ’n taal genaamd Afrikaans wat ontstaan het as gevolg van die gewildheid van speserye!

 

Foto: Marc Shandro, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web beskikbaar stel ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie

   

EKSOTIES en geurig kan dit wees; soms pikant, partykeer getemper. Maar vir die meeste mense is die nederige speserye in die kombuiskas niks meer as prikkelende geurmiddels wat kos smaakliker maak nie. Daar was ’n tyd toe dit egter ’n heeltemal ander storie was: daar is gemoor en oorlog gemaak oor hierdie kosbare verbruiksartikel.

 

Ook die koningin van Skeba en haar gevolg het Salomo in Jerusalem kom besoek... met “kamele wat belaai was met kosbare kruie en ’n groot hoeveelheid goud en edelstene”.

 

Niemand sal vandag werklik kruie en speserye in dieselfde asem wil noem as goud en silwer en juwele nie, maar lank ná Salomo se tyd sou mense nog selfs die wapens opneem vir dié gesogte geurmiddels in hul kos.

 

Trouens, vir die naeltjies, gemmer, peper en vanielje, byvoorbeeld, wat ons as so vanselfsprekend beskou, het seevaarders lang en uitputtende reise onderneem en dikwels hul lewe gewaag—en dit baiemaal verloor.

 

Swartpeperkorrels en naeltjiesREGS: Swartpeperkorrels en naeltjies. Vandag is dié soort speserye volop en word hulle gereeld gebruik om kos te geur, maar dit was nie altyd so nie.

 

Uit die lande waar die speseryplante gekweek is of wild gegroei het, het hulle hul kosbare vragte gebring. Een gevolg van die speseryhandel was die ontdekking van die seeweg na die Ooste en die stigting in 1652 van die verversingspos aan die Kaap. En watter gevolge het dít nie vir Suid-Afrika gehad nie!

 

Die gewoonte om sterk kruie en speserye te gebruik om smaak aan kos te gee, is waarskynlik net so oud soos die kookkuns self.

 

Maar wat is speserye eintlik? Waar kom dit vandaan? Vandag kan elkeen wat sy eie tuin het, verskillende soorte speserye of kruie kweek om in sy eie behoeftes te voorsien, maar in die Middeleeue het feitlik al die speserye uit die Ooste gekom.

 

Speserye kom van verskillende dele van speseryplante—die saad, die wortels, die bas, die bessies. Baie van die bekendste soorte speserye—peper, kaneel, gemmer, neutmuskaat, vanielje, rissies en piment—is inheems in die warm, nat, tropiese dele van Asië, veral die Molukke, wat eenmaal die Speserye-eilande genoem is.

 

Vinkelblomme
  
BO: Vinkelblomme (Foeniculum vulgare).

Blom van vanielje

BO: Die blom van vanielje (Vanilla planifolia).
 
Foto’s bo en links: U.S. National Park Service

Bielie van ’n gemmerwortelLINKS: ‘n Enkele gemmerwortel wat die skaal op nagenoeg 12 kg getrek het.

 

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture (foto gewysig deur die wegsnyding van die nie-tersaaklike agtergrond)

 

Die droër Mediterreense bekken produseer weer baie aromatiese sade—koljander, fenegriek, vinkel, papawer en mosterd—terwyl die koeler Europese en Noord-Asiatiese streke karwy, dille en jenewerbessies lewer.

 

Baie eeue lank het vlote handelskepe en karavane van eers esels en later kamele die 15 000 km lange netwerk van see- en landweë van die Speseryroete tussen die Ooste en Weste deurkruis. Maklik was dit nie. Die reis het tot twee jaar geduur, met elke denkbare gevaar en probleem onderweg.

 

Die speserye moes deur die hande van talle kopers en verkopers gaan, wat elkeen sy wins bygelas het. Oral langs die roete moes tol en belastings betaal word. Teen die tyd dat die speserye in Europa aangekom het, was dit skrikwekkend duur. En tog het dit in aanvraag gebly.

 

Sakke speserye in ’n moderne pakhuisREGS: Sakke speserye in ’n moderne pakhuis.

 

Foto: U.S. Food and Drug Administration

 

Die vroegste gebruike van speserye was om kos te geur, kleur, sag te maak en te preserveer. Aanvanklik moes dit die smaak van ou kos verdoesel, maar later het baie mense, veral die Romeine, geweier om vis of vleis te eet wat nie behoorlik gegeur was nie.

 

Duisende jare lank was speserye ook die basis van baie soorte medisyne. Die speseryhandelaars het trouens uiteindelik die eerste aptekers geword.

   

Speserye was belangrike bestanddele van baie soorte parfuum, seep en kosmetiekware. Verbrand as wierook, het dit ’n rol in godsdienstige en magiese rituele gespeel. Die ou Egiptenare het speserye gebruik om hul mummies te parfumeer en te help preserveer. Verskeie soorte speserye is ook gebruik om klere te kleur.

 

Dit is nie moeilik om te begryp waarom al wat leef en beef so lank en so geesdriftig agter die wêreld se kruie aangekruie het nie. En hulle doen dit steeds!

 


Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad