IER
klap-klap, daar klap-klap, doef-daf, trap jou kaf! Die sowat
halfdosyn manne in oorpakke, harde hoede en rubberstewels voer hul
danspassies verstommend gelyk en eenders uit. Met ingewikkelde
ritmes slaan hulle teen hul stewels, stamp hulle met hul voete,
reageer hulle op ’n fluitjie, draai en swaai hulle met ’n lyflike
dissipline wat die toeskouers verstom.
Die rubbersteweldans (of gumboot dance soos dit algemeen genoem word) is so uniek
Suid-Afrikaans as die vuvuzela. Of is dit? Daar is navorsers wat
reken dat die geklap teen die gestewelde bene ’n goeie klap weg het
van die Schuplatter-dans van Oostenryk, soos
dit vanmelewe gedans is deur jong kêrels wat hubare nooientjies wou
imponeer.
Die Oostenrykse
rooihakskeen-jongetjies het kenmerkend ritmies teen hul dye, knieë
en voetsole geklap en met hul voete gestamp vir die meisies. Toe
word die dansstyl glo deur Oostenrykse sendelinge oorgedra na die
amaBhaca, ’n
etniese groep wat meestal by Mount Frere en Umzimkhulu gekonsentreer
is. Oostenrykse sendelinge het onder hulle gewerk.
Hoe ook al, manne van
die amaBhaca sou mettertyd as trekarbeiders
by die Durbanse hawe
en spoorweë gewerk en die kloppetie-klappetie-doef-doef-dans met
hulle saamgebring het. Later is hulle na Randse goudmyne—steeds al
klappende en dansende met die stewels. En toe werk die dans
aansteeklik in op mynwerkers van ander etniese groepe in die
kampongs. Uiteindelik word dit ’n hele multi-kulturele opskop.
Die stewels was,
na vertel word, oorspronklik nie van rubber nie, maar van leer, en
dit is gedra deur mense wat ver afstande met dapper en stapper moes
aflê. Maar in die negentiende eeu reeds is die leerstewels vervang
deur die Wellington-rubberstewels of gumboots, soos ons hulle
vandag nog ken.
AAN
die rubbersteweldans word daar ongelukkig egter vandag ’n politieke
konnotasie geheg wat doodeenvoudig nie met die waarheid strook nie,
meen sommige waarnemers. Die dans word taamlik dikwels aan
toeskouers voorgehou as ’n unieke kunsvorm wat uit die worstelstryd
van onderdrukte mynwerkers gebore is.
Die swart
mynwerkers van weleer word feitlik voorgestel as willose slawe wat
selfs in hul ondergrondse werkstasies vasgeketting is, verbied is om
met mekaar te praat en vir mekaar geheime boodskappe moes uittik op
hul stewels. Daaruit sou die danse ontstaan het—as ’n soort
kommentaar teen die verskriklike onreg wat hulle in die myne onder
hul hardvogtige base moes ly.
Geen sprake
daarvan nie, sê ’n gewese hoofinspekteur van myne aan Mieliestronk.
Hy weet presies wat in ons myne aangegaan het, want hy was in baie
van hulle tydens sy inspeksies. Dit is byvoorbeeld die grootste
onsin dat die mynwerkers verbied is om met mekaar te praat of
hoegenaamd in kettings moes werk. En wat
die danse aanbetref—dié het doodeenvoudig ontwikkel uit die
swartmense se mynervarings, en tradisionele voetegestamp, gemeng met
buite-invloede (soos straks dié uit Oostenryk). Die klappe op en
stampe met die rubberstewels sou ’n nuttige doel dien om die ritme
te aksentueer by gebrek aan iets soos tromme. Dit is by verskillende
myne aangebied om besoekers te vermaak.
Die kenner
gee toe dat die mynwerkers wel in die apartheidstyd nie hul vrye tyd
kon bestee soos vandag nie en vanweë hul inperking ’n uitlaat in
danse gevind het. Maar om die rubbersteweldans in sy totaliteit te
bestempel as ’n “struggle”-skepping, is volgens hom ’n verwringing
van die geskiedenis.
ANDER
waarnemers sê weer dat almal moet saamstem dat die mynomgewing in
die danse verbeeld word. Die gesagsverhouding tussen die
werkspanleier (Basesboyi of Baas
se jong) en ander werkers is immers klinkklaar waar te neem in die
wisselende roepe en antwoorde van die dansleier en die ander
dansers. Die bevele van die leier word meestal deur die geluid van
’n fluitjie versterk.
Tog is dit nie net
alles myndanse nie. Ander gewone of snaakse belewenisse vorm dikwels
ook ’n deel van die repertoire.
Daarby is
die uitvoering van die rubbersteweldans nie staties nie. Elders in
stede en dorpe van ons land is dansgroepe besig om hul eie stempels
daarop af te druk, ook ver weg van enige hawe of myn, en ander, nuwe
lewenservarings word verbeeld. Onder die getokkel van ghitare of die
klanke van konsertinas word musikale begeleidings anders as deur
mensestemme verskaf. Daar is selfs elemente van hansworstery.
Jeuggroepe
voer die danse in die strate van die stede uit om ’n bietjie geld
van toeriste en ander omstanders te bekom. By bekende
toeriste-plekke in die land, soos die Waterfront in die Kaap, is
rubbersteweldansers ’n algemene gesig. Party mynwerkers dans wel vandag
nog met die stewels.
.
Die
rubbersteweldans—of isicathulo, soos dit in
isiZulu genoem word,
met verwysing na die leerstewels van destyds—is reeds wêreldwyd
bekend. Dit word gereeld ingesluit in die vertonings van
Suid-Afrikaanse dansgroepe wat in die buiteland reis. En al is hulle
weliswaar nie so bekend as die vuvuzela, wat vanweë 2010 se
Wêreldbekertoenooi uit honderde miljoene TV-stelle gegons het nie,
het die rubbersteweldansers vir hulle ’n vastrapplek op die groot
verhoë in wêreldstede verwerf.
Een van die
beroemde plaaslike dansgroepe is die Rishile Gumboot Dancers van
Soweto, onder aanvoering van Zenzi Mbuli, wat oral in Suid-Afrika
bekendheid verwerf het, maar die wêreldtoneel betree het met hul uitvoering Gumboot – Rhythm
is a language, wat in 1999 ontwikkel is. Hulle het al by feeste in Brittanje, Oostenryk, Amerika, Kanada
en Frankryk opgetree.
Uit
Zimbabwe is daar die groep Black Umfolosi, wat as een van Afrika se
beste volksdansgroepe gereken word. Ook die Drakensberge Seunskoor
gebruik rubbersteweldanse in hul optredes.
Op die koop
toe het die styl werklik reeds Westerse komponiste beïnvloed. Só het
die Brits-Amerikaanse komponis David Bruce ’n Klarinet-kwintet
geskryf wat deur rubbersteweldanse geïnspireer is. Die Amerikaanse
pop-sanger Paul Simon het weer ’n lied genaamd Gumboots by sy
album Graceland ingesluit, wat in die styl van die
Suid-Afrikaanse township jive (mbaqanga) uitgevoer word.
Maar, soos die
myninspekteur te kenne gegee het, hoekom die betekenis van so ’n
aanskoulike danskuns soos dié met die gomlastiekstewels verdraai
moes word vir ’n bedenklike politieke agenda, is onverstaanbaar.
Lank
lewe die isicathulo, sonder die oordrewe reklame...
gestroop van buitensporige staaltjies van mynwerkers wat konsuis
drie maande lank in stikdonkerte in die myne moes wurg sonder om
met mekaar te durf gesels—en die rubberstewels ontvang het omdat
die mynbase kamma te suinig sou gewees om die myne te dreineer.
Nee, viva die
isicathulo, net soos hy is!
Viva die
Afrika-ritme!