|
Stomend op die wenpad Die s-s-s-s-suksesverhaal van die stoomenjin
Illustrasie: Stephenson se "Rocket", 1829 |
||||||
IE
ontsettende krag van stoom.... hoe is dit ontdek? Duisende jare het
verloop sedert die mens die eerste keer hitte gebruik het om water te
laat kook. In die loop van millenniums is ontelbare potte en ketels op
vure geplaas, en miljoene der miljoene mense moes baie duidelik met hul
eie oë gesien het dat daar ’n magtige krag aan werk is. Hulle
het aanskou hoe die stoom uit die kookwater ontsnap en gehoor hoe die
deksels van die waterhouers kletter omdat die stoom die deksels laat
beweeg het. Maar hulle het nie besef presies wat binne-in die houers aan
die gebeur was nie—dat die water besig was om in gas te verander en
dus uitgesit het en meer ruimte nodig gehad het nie. As net een
mens in elke duisend ernstig daaroor nagedink het, sou die mensdom bes
moontlik spoedig geweet het dat water in sy gastoestand 1600 keer meer
ruimte nodig het as water in sy vloeistofvorm. Die mensdom sou dan reeds
’n hele klomp eeue gelede al uitgewerk het hoe om ’n stoommasjien te
bou en ons beskawing kon veel meer gevorderd gewees het.
Maar
’n baie lang tyd lank het niemand blykbaar op Hero se vindingryke
begin voortgebou nie. Die eeue het gekom en gegaan en sowat 1700 jaar
sou moes verstryk voordat enige vordering met die gebruik van stoomkrag
gemaak is. Geslagte op geslagte van mense het water bly kook, maar nooit
gedink aan die reuse-krag wat elke keer geborrel en gegons het asof dit
freneties die aandag op homself wou vestig nie. Selfs
vandag—terwyl ons moderne lewens deur stoom gereël word, soos ons
verder in hierdie artikel sal lees—besef ons dit nie altyd werklik
hoe belangrik stoom steeds vir ons is nie. Stoom
is water in die vorm van gas. Dit is kleurloos, onsigbaar en elasties.
Soos by alle ander gasse veroorsaak hierdie veerkrag dat dit uitsit
totdat dit enige houer vul waarin dit beland. Die wit wolkie wat ons by
die ketel se tuit sien uitkom, is streng gesproke nie stoom nie, maar
stoom wat verkoel is deurdat dit met die lug in aanraking gekom het. As
die ketel kook en ons naby die tuit kyk, sien ons niks nie. Die stoom
raak eers ’n entjie van die opening af sigbaar. Dit
is die veerkrag of elastisiteit van stoom wat dit so waardevol vir die
mensdom maak. Wanneer dit uitsit, druk dit teen die kante van enige
houer waarin dit gehul is. In die stoommasjien word die stoom in ’n
silinder ingevoer wat ’n skyf bevat wat ’n suier (Engels: piston)
genoem word. Die stoom wat vanweë sy elastisiteit teen die suier
aandruk, druk die suier in die silinder vorentoe, en daardeur kry ons
beweging. Dit is alles heel eenvoudig, wanneer ’n mens vasgestel het
hoe dit gedoen word. WAT
is dit dan wat die treine kruis en dwars en vol goedere deur ons land
laat loop? En watter krag hou die wiele van fabrieke, trouens van ons
hele verwikkelde moderne samelewing aan die draai? Die antwoord is
stoom. Maar
stoomtreine bestaan kwalik nog in ons land, sê jy waarskynlik. Ons
treine loop mos hoeka met elektrisiteit. Goed en wel, maar elektrisiteit
word in Suid-Afrika steeds veelal deur stoom opgewek, of dit nou deur
steenkool- of kernkrag-verhitting geskied. Ons is steeds volstoom in die
era van stoom, kan ’n mens tereg sê, en is so daarvan afhanklik dat
ons geïndustraliseerde samelewing daarsonder dadelik tot stilstand sal
knars. Dit is stoomkrag wat die turbines in ons kragsentrales laat draai en waarsonder jy nie eens hierdie woorde op jou rekenaarskerm sou kon gelees het nie!
HOEWEL
die mens eeue lank besef het dat stoom ’n besonderse krag besit—en
hy tog so lank niks besonders gedoen om dit tot sy voordeel aan te wend
nie—het dinge darem so drie, vier eeue gelede stadig begin verander. In
1629 het Giovanni Branca, ’n Italiaan, vorendag gekom met ’n eienaardige
stoommasjientjie wat nogal nuttige werkies kon verrig. Een van die
werkies was om kruie te stamp. Die ketel waarin die water gekook is, was
in die vorm van ’n mensekop en met die kook van die water het die kop
stoom teen ’n wiel geblaas. Dit het die wiel laat draai en dié het op
sy beurt die stampers laat werk. Al was dit eintlik ook maar ’n
speelding, soos Hero se toestelletjie van ouds, was dit tog geen nietige
ontwikkeling in die stoomverhaal nie. Trouens, in beginsel was Banca se
masjientjie ’n soort stoomturbine soos dié wat later in groot
stoomskepe gebruik sou word. Die
volgende vermeldingswaardige naam in die stoomverhaal is dié van
Christiaan Huygens, einste die Nederlandse natuurkundige na wie die
onbemande snuffeltuig Huygens genoem is wat in Januarie 2005
op die maan Titan
van die planeet Saturnus geland het. Die mens Huygens
het in 1680 ’n masjien met ’n silinder en suier beskryf. Hy wou
hierdie masjien laat werk deur kruit op gereelde oomblikke te laat
ontplof. Sy idee was die voorloper van dit wat vandag in ons motors se
masjiene gebeur vanweë die ontploffing van petrol. Hierna het Denis Papin, ’n Franse vlugteling, wat ’n assistent en vriend van Huygens was, en later ook in Engeland gewerk het, ’n masjien ontwerp waarin stoom, pleks van kruit, in ’n silinder aangewend is om die suier te stoot. Papin het boonop die veiligheidsklep uitgevind wat keer dat stoomketels bars weens ’n te groot drukking van die stoom aan die binnekant. Hierdie vernuftige Fransman, wat desondanks as ’n brandarm man oorlede is, het met sy planne eintlik die grondslag vir die stoomlokomotief gelê.
Maar
dit was ’n man van Engeland wat op Papin se ontwerpe voortgebou en hulle
verbeter het. Sy naam was Thomas Newcomen, wie se pompmasjien om water uit
myne te pomp teen 1711 reeds algemeen in gebruik was. Dit was die eerste
doelmatige stoommasjien met ’n suier en silinder. Tog moes die krane wat
die stoom- en watertoevoer na die silinders gereël het, nog met die hand
oop- en toegemaak word, en omdat dit so ’n eenvoudige (en eentonige) werk
was, is dit gewoonlik deur jong seuns gedoen. Daar
word vertel dat een van die seuns, ene Humphrey Potter, liewer wou speel
as om só ’n vervelige werk te doen en toe met toutjies en hakies ’n
manier geprakseer het om die toevoerkrane op die regte tye outomaties te laat
oop- en afsluit. Dié vindingryke knaap se uitvindsel het toe ’n deel
geword van al die masjiene wat hierop gevolg het. Die
lokomotief was egter steeds nie in sig nie. Die geniale breine wat dit
moes verwesenlik, was nog nie daar nie. Maar toe word ’n jong Skot met
die naam James Watt in 1736 gebore, ’n groot denker wat in sy lewe vir ’n
opwindende vernuwings sou sorg. Daar is die bekende verhaaltjie van hoe
Watt as jong seun geboei is deur die stoom wat die dekseltjie van sy ma se
ketel so vinnig op en af laat beweeg het en hoe hy gewonder
het hoe hy daardie krag kon gebruik. Hy
het hom as ’n instrumentemaker in Glasgow gevestig toe ’n dosent hom
op ’n dag ’n modelletjie van Newcomen se masjien stuur om te herstel.
Watt het dit uitmekaar gehaal en met groot aandag daarna gekyk. Hy het
agtergekom dat die masjientjie stoom verspil en die krag nie ten volle
gebruik nie. Hy kan mos ’n beter
een maak, besluit hy. En hy voeg die daad by die woord.
In
Watt se masjien is die stoom nie in die silinder afgekoel en gekondenseer
nie, maar in ’n afsonderlike kompartement. Boonop het hy ’n opening
vir die toevoer van die stoom in die bo- en onderent van
die
silinder gemaak. Die stoom wat onder inkom, stoot die suier op en word
weer verwyder; die stoom deur die boonste opening gee die suier dan sy
neergaande slag. Daar was dus dubbele dryfkrag vir die suier pleks van net
in een rigting, soos wat in Newcomen se masjien die geval was. Watt
se masjien het die ontwerp geword waarop alle moderne stoommasjiene
gegrond is en meegehelp om die Industriële Revolusie teweeg te bring. Die
volgende stap was egter nou om die masjien ook ’n wiel te laat draai,
sodat dit ook vir ander werk gebruik kon word en nie slegs vir die pomp
van water nie. Maar steeds was daar nog geen masjien wat op wiele geloop
en deur stoom aangedryf is nie. Toe ontpop ’n ander vindingryke kêrel
in die persoon van William Murdock, wat in 1754 in ’n dorpie in
Ayrshire, Suidwes-Skotland, gebore is. Murdock het in 1785 ’n stoommodelletjie gemaak wat met sy eie krag
geloop het en wat hy saans op die paaie uitgetoets het. Op ’n sekere
aand het die klein vuurspuwende monstertjie van hom weggehardloop en koers
gekies na die kerk waar die ou predikant hom glo boeglam daarvoor geskrik
het, oortuig dat dit ’n manifestasie van Satan was. ’n
Jaar of sestien jaar voordat Murdock sy masjientjie
gebou, het
’n Fransman, Nicholas Joseph Cugnot, inderdaad daarin geslaag om ’n stoomwa te bou
wat met vier passasiers teen nagenoeg 3 km/h deur die Paryse strate
aangekruie het. Die affêre was egter so lomp dat dit in die straat
omgeslaan het—en die ongelukkige Cugnot tronk toe gestuur is. Hy is ook
verbied om verder aan sy uitvindsel te werk. Murdock
het nie die geld gehad om sy proefnemings voort te sit nie, maar sy vriend
Richard Trevithick ("Captain Dick" soos hy genoem is in Redruth,
Suidwes-Engeland,
naby die plek waar hy in 1771 gebore is) het in 1803 ’n sterk lokomotief
gebou wat tien ton yster en sewentig mense kon trek. Ook Trevithick en sy
masjien is een aand aangesien vir die duiwel wat die wêreld met vuur en
swael kom teister. Trevithick
het sy toetsritte in Londen se strate onderneem, maar toe besef dat sy
lokomotief beter sou vaar as dit op ’n spoor loop. Hy het lokomotiewe
begin bou om steenkooltrokke in die koolmyne te trek. Trevithick se plan
om stoomkoetse te bou is deur ander mense oorgeneem, wat ’n kwaai stryd
gevoer het om die koetse as algemene vervoermiddel op die paaie toegelaat
te kry. Verbete teenstand deur beswaardes wat aangevoer het dat hulle
gevaarlik vir mens en dier is en die paaie beskadig, het tot ’n wet
gelei wat hulle verbied het om vinniger as sowat 6 km/h te ry en boonop
gestipuleer het dat ’n man met ’n rooi vlag sestig tree voor elke koets moes loop. Dit het die stoomkoets
se einde beteken. Dick
Trevithick was die eerste mens wat ’n praktiese stoomlokomotief gebou
het. Maar sy masjiene was bra primitief. Die
tyd was nou ryp vir ’n praktiese en vernuftige man wat die beste dele
uit al die bestaande maar ondoeltreffende stoommasjiene kon neem en dit
tot ’n werklik goeie lokomotief kon saamsnoer. Die man wat dit vermag het,
was George Stephenson. STEPHENSON,
wat die aangesig van die wêreld sou verander, is in 1781 in groot armoede
gebore op ’n dorpie in die distrik Newcastle in Engeland. As kind het
nooit ’n skool bygewoon nie en hy kon aanvanklik nie lees en skryf nie.
Hy het ’n paar pennies per week verdien deur rape te skoffel, koeie op
te pas en uiteindelik die oppasser te word van ’n perd by die
steenkoolmyn waar sy pa ’n masjinis was.
Die
werk by die myn het hom die geleentheid gebied om die stoommasjien te
bekyk wat water uit die myn gepomp het. Dit het hom gefassineer en hy het
selfs kleimodelle van die masjien gemaak. Van Watt, Murdock, Trevithick en
die ander uitvinders het hy niks geweet nie, maar hy wou self alles van
’n stoommasjien weet wat daar te weet is. ’n
Klompie jare daarna het hy by ’n naburige myn ’n Newcomen-pomp
probeer herstel wat al langer as ’n jaar stukkend was. Twee dae later
was die myn drooggepomp en kon die ontginning van steenkool daar
voortgesit word. Stephenson
het eers leer lees en skryf toe negentien jaar oud was, terwyl sy seun
Robert hom jare later saans onderrig het om sy kennis te verbreed. Maar
as ’n kranige hersteller van stoommasjiene het hy vroeg-vroeg naam
gemaak. Hy
het self ook lokomotiewe
begin
bou, en op 27 September 1825 sy eie lokomotief bestuur op die sowat spoor
van sowat 40 km van Stockton na Darlington. Sy lokomotief het omtrent 35
waens met passasiers en steenkool getrek, altesaam 90 ton in gewig, en
’n snelheid van tot nagenoeg 24 km/h bereik. Dit was die eerste keer dat
passasiers en goedere vervoer is op ’n openbare spoor en getrek deur ’n
lokomotief —’n groot dag
in die geskiedenis van die spoorweë.
Hierna
is ander spore op verskillende plekke aangelê... en kort voor lank in
baie ander lande tot by die eindes van die aarde. Nie dat liggelowige
mense altyd die nuwigheid verwelkom het. Bewerings dat die lokomotiewe sou
bars en mense die ewigheid sou inslinger, dat die wol op die skape sou
verskroei of dat voëltjies dood sou neerval as hulle naby die treine
vlieg, was maar net party van die vrese wat besweer moes word.
Verskillende
bouers van lokomotiewe is gevra om mee te ding om ’n prys van 500 pond
met die opening van die spoor tussen Manchester en Liverpool. Stephenson
het in 1829 as die wenner wegstap met sy beroemde "Rocket",
wat teen nagenoeg 40 km/h stof (of liewer rook) in die oë van twee
mededingers geskop het. Só
het stoom hom op die treinspoor op land gevestig. Sy verowering van die
see met stoomskepe is weer ’n ander verhaal. En sy rol as kragopwekker
vir nywerhede is nog lank nie uitgespeel nie. Ons kan maar sê stoom stoom voort—en dis goed so, want ons moderne lewe wentel steeds baie doeltreffend om hierdie onsigbare vorm van water.
Foto: US Union Pacific Museum archives / PD |
||||||
|
Pret met stoom Maak jou eie stoombootjie ’N DOODEENVOUDIGE speelgoedbootjie van hout kan met ’n leë kondensmelkblikkie, twee houtstutjies en ’n kers in ’n werkende stoomboot omskep word.
Ná ’n rukkie begin die water in die blikkie kook, stoom stroom by die gaatjie uit en die bootjie beweeg. Dit is dieselfde soort stukrag wat vuurpyle aandryf. BAIE BELANGRIK: Hierdie proef moet met die nodige sorg onder volwasse toesig gedoen word. As enige waterhouer sonder ’n behoorlike uitlaat verhit word, kan dit natuurlik bars. Mieliestronk.com of die skrywer kan op geen wyse aanspreeklik gehou word vir enige beserings, verlies of skade wat kan volg op hierdie proef of enige ander op hierdie CD-ROM nie. |
||||||