Die goue stof van die lewe lyk heel anders onder die elektronmikroskoop...
Stuifmeel
-- vir elke plant ’n ander patroon


  Dit is die baie bekende geel poeier wat soveel rooi neuse veroorsaak... ook nie verbasend as ’n mens die groteske vorms van stuifmeelkorrels onder die elektronmikroskoop bekyk nie. Wat ewe interessant is, is dat elke blomdraende plant se stuifmeelkorrels ’n unieke patroon het, net soos die vingerafdrukke van ’n mens...

 
 





 

S

TUIFMEEL is -- só is al bereken -- vir omtrent een uit elke veertien mense die geel verpesting. Die titaniese teisteraar van die hooikoorslyers. Wanneer die groendoringbome, die denne of duisende ander blomdraende plante hul poeiers begin strooi, begin daardie arme allergiese mense se groot ellende. Dan loop die dokters se spreekkamers vol van die snuiwers en die proesers.

Dat juis stuifmeel ’n mens hooikoors moet gee, is ’n jammerlike frats van die natuur. Welbeskou is dit immers goue wolke van lewe. Op die winde gedra vanaf die natuur se baie blomme -- of deur insekte vervoer -- daal dit neer op ander bloeisels vir ’n wonderbaarlike huwelik waaruit nuwe plante gebore word.

Nie alle plante plant met stuifmeel voort nie. Maar sonder dié wat dit wel doen, sou ons aardse bestaan baie armer gewees het. Ons sou geen papier gehad het nie, ook nie houtmeubels, katoenklere, bier en wyn nie.

Ons sou boonop tevrede moet gewees het met kosse soos aartappels, uie, piesangs en -- as ons die smaak vir só iets kon ontwikkel -- mosse, seegras en varings. Dit is plante wat ondergronds of deur spore of andersins vermeerder, maar nie deur stuifmeel nie.

Die wêreld om ons is werklik propvol stuifmeel. ’n Enkele denneboom kan oor ’n lewenstyd van vyftig jaar meer as 320 duisend miljoen stuifmeelkorrels voortbring. ’n Korrel kan baie klein of groterig wees, na gelang van die soort plant. Party kan dalk met die blote oog gesien word, as jy weet dit is daar, goeie oë het en baie fyn kyk. (Maar nie ’n vergeet-my-nietjie se stuifmeelkorrel nie. Jy sou byna tienduisend daarvan op ’n speldekop kon inpas!)

Die meeste van die stuifmeel wat in die lug gestrooi word, vind nooit hul teiken nie. Dit kan ’n meter ver trek of drieduisend kilometer en dan tot rus kom in die grond, waar dit sterf, maar soos fossiele bly voortbestaan.

Die stuifmeelkorrel se feitlik onverwoesbare dop, die eksien genoem, deurstaan eeue der eeue van verskuiwende vastelande, ystydperke, die vorming van seë en van bergreekse. Dit is hoekom stuifmeelkenners antieke korrels -- party daarvan uit die babadae van die aarde -- op sulke vreemde plekke soos die onherbergsame Antarktika, seebeddings en woestyne kan soek om te ontleed.

VIR sulke geleerdes is stuifmeel beslis nie net stuifmeel nie. Wat vir ons na ’n gelerige poeier lyk, verander byvoorbeeld heeltemal van gedaante wanneer ’n mens dit onder die aftas-elektronmikroskoop bekyk. Kyk ’n mens na foto’s soos dié bo-aan hierdie artikel en die een hieronder, kan jy goed begryp dat sulke "gedrogte" jou neus kan kielie.

REGS: Die bekende blom van die hibiskus en sy vergrote stuifmeelkorrel. Die oorspronklike swart-wit foto van die stuifmeelkorrel is hier geel gekleur vir die effek.

Reeds in 1735 het die Sweedse natuurkundige Carolus Linnaeus (of Von Linné) stuifmeelkorrels ondersoek en vasgestel het dat stuifmeel spesie-spesifiek is -- dit wil sê dat elke plantsoort se stuifmeelkorrels anders lyk.

Die vleiblom, die lelie, die kanferfoelie, die hibiskus, die sydissel, die den, die viooltjie, noem maar op, elkeen se stuifmeelvorm is so eie aan hom soos ’n mens se vingerafdrukke.

Maar met die toerusting van daardie tyd kon Linnaeus nie die besonderhede sien wat ons vandag onder die elektronmikroskoop kan waarneem nie. Ewe min kon hy dit op film vaslê sodat almal hierdie klein korreltjies se ware aard kon sien.

Die feit dat stuifmeelkorrels so verskil, is vir die wetenskap van groot waarde. Vir die plantkundige beteken dit dat hy twee plante wat feitlik identies lyk, op grond van hul stuif­meelkorrels kan onderskei. Vir die paleontoloog wat die oerlewe op aarde bestudeer, beteken dit dat hy versteende stuifmeelkorrels kan ondersoek en sodoende kan vasstel watter plantsoorte in die verlede in ’n spesifieke gebied gegroei het.

Soos Linnaeus destyds kan ons vandag nog uitroep: "Natura in minimis maxima!" -- die grootsheid van die natuur is in sy kleinste deeltjies.

Maar noudat ons so naby na stuifmeel gekyk het, wat is dit eintlik?

STUIFMEEL ontstaan altyd, soos ons hierbo gesien het, in blomme. Die voortplantingsorgane van ’n blomdraende plant maak deel uit van die blom van die plant. Die manlike voortplantingsorgane word meeldrade genoemd, die vroulikes staan bekend as stampers. ’n Meeldraad bestaan uit ’n helmdraad en ’n helmknop. In die helmknoppe ontstaan die stuifmeelkorrels.

Om te kan voortplant moet die stuifmeelkorrels op die een of ander manier by die stamper van ’n ander blom of by die stamper van dieselfde blom uitkom. Hierdie oordra van die stuifmeelkorrels word bestuiwing genoem.

Reg in die middel van die meeldrade staan een of meer steeltjies. Hulle vorm deel van die stamper. Die steeltjie word die styl genoem, en op die styl is 'n knoppie wat as die stempel bekend staan. Die stempel is daar om die stuifmeel van die manlike meeldrade op te vang. Aan die onderpunt van die styl is die vrugbeginsel waarin die saadknoppe is.

LINKS: Meeldrade en stamper
  
Foto: PDPHOTO.ORG

Sodra ’n stuifmeelkorreltjie op ’n ryp stempel beland, ontwikkel die korreltjie 'n stuifmeelbuis wat in die styl afgroei totdat dit die eiersel bereik.

Die punt van die buis bars oop en stel twee spermselle vry. Een van hulle versmelt met die eiersel en vorm ’n embrio terwyl die ander een die voedingstowwe vorm waarop die embrio teer.

En só word die weg gebaan vir die ontwikkeling van 'n nuwe plant of plante.

Bestuiwing vind nie net deur die wind of met behulp van insekte soos bye plaas nie, maar ook deur voëls, vlermuise en op ander maniere. Trouens, die rol van voëls in bestuiwing word baiemaal onderskat. Selfs jy, as jy byvoorbeeld tussen ’n plaat veldblomme deurloop, kan onbedoeld bestuiwing met jou beweging laat plaasvind sonder dat jy ooit daaraan dink.

Dit spreek vanself dat blomme wat hul stuifmeel deur middel van die wind versprei, geweldig baie stuifmeelkorrels moet produseer om hul teiken-stampers van dieselfde spesie elders te kan vind. Só vervaardig ’n enkele manlike plant van die onkruid Mercurialis annua ’n ongelooflike sowat 1250 miljoen stuifmeelkorrels om op die lugstrome voortgedra te word.

Só kan die goue wolke van die lewe van verskillende soorte plante soms tot rus kom om hele sypaadjies in ’n geel kombers te hul... ’n duidelike bewys van die natuur se oordadige skilderkwas om die oorlewing van sekere spesies te verseker. As daardie geel goed nou net nie soveel rooi neuse veroorsaak het nie...

Klik hier vir ’n groot foto van meeldrade en stamper wat jy op jou drukker kan uitdruk.  (Maak oop in ’n nuwe venster.)    Foto: PDHOTO.ORG

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad