|
|
||||
|
Die
goue stof van die lewe lyk heel anders onder die elektronmikroskoop...
|
Dit
is die baie bekende geel poeier wat soveel rooi neuse veroorsaak... ook
nie verbasend as ’n mens die groteske vorms van stuifmeelkorrels onder
die elektronmikroskoop bekyk nie. Wat ewe interessant is, is dat elke
blomdraende plant se stuifmeelkorrels ’n unieke patroon het, net soos
die vingerafdrukke van ’n mens...
|
|||
TUIFMEEL
is -- só is al bereken -- vir omtrent een uit elke veertien mense die geel
verpesting. Die titaniese teisteraar van die hooikoorslyers. Wanneer die groendoringbome, die denne
of duisende ander blomdraende plante hul poeiers begin strooi, begin
daardie arme allergiese mense se groot ellende. Dan loop die dokters se spreekkamers vol van die snuiwers en
die proesers. Dat
juis stuifmeel ’n mens hooikoors moet gee, is ’n jammerlike
frats van die natuur. Welbeskou is dit immers goue wolke van lewe. Op
die winde gedra vanaf die natuur se baie blomme -- of deur insekte
vervoer -- daal dit neer op ander bloeisels vir ’n wonderbaarlike
huwelik waaruit nuwe plante gebore word. Nie
alle plante plant met stuifmeel voort nie. Maar sonder dié wat dit wel
doen, sou ons aardse bestaan baie armer gewees het.
Ons
sou geen papier gehad het nie, ook nie houtmeubels, katoenklere, bier en
wyn nie. Ons
sou boonop tevrede moet gewees het met kosse soos aartappels, uie,
piesangs en -- as ons die smaak vir só iets kon ontwikkel -- mosse,
seegras en varings. Dit is plante wat ondergronds of deur spore of
andersins vermeerder, maar nie deur stuifmeel nie. Die
wêreld om ons is werklik propvol stuifmeel. ’n Enkele denneboom kan
oor ’n lewenstyd van vyftig jaar meer as 320 duisend miljoen
stuifmeelkorrels voortbring. ’n Korrel kan baie klein of groterig
wees, na gelang van die soort plant. Party kan dalk met die blote oog
gesien word, as jy weet dit is daar, goeie oë het en baie fyn kyk.
(Maar
nie ’n vergeet-my-nietjie se stuifmeelkorrel nie. Jy sou byna
tienduisend daarvan op ’n speldekop kon inpas!) Die
meeste van die stuifmeel wat in die lug gestrooi word, vind nooit hul
teiken nie. Dit kan ’n meter ver trek of drieduisend kilometer en dan
tot rus kom in die grond, waar dit sterf, maar soos fossiele bly
voortbestaan. Die
stuifmeelkorrel se feitlik onverwoesbare dop, die eksien genoem,
deurstaan eeue der eeue van verskuiwende vastelande, ystydperke, die
vorming van seë en van bergreekse. Dit is hoekom stuifmeelkenners
antieke korrels -- party daarvan uit die babadae van die aarde -- op
sulke vreemde plekke soos die onherbergsame Antarktika, seebeddings en
woestyne kan soek om te ontleed. VIR
sulke geleerdes is stuifmeel beslis nie net stuifmeel nie.
Wat vir ons na ’n gelerige poeier lyk, verander byvoorbeeld heeltemal
van gedaante wanneer ’n mens dit onder die aftas-elektronmikroskoop
bekyk. Kyk ’n mens na foto’s soos dié bo-aan hierdie artikel en die
een hieronder, kan
jy goed begryp dat sulke "gedrogte" jou neus kan kielie.
Reeds
in 1735 het die Sweedse natuurkundige
Carolus Linnaeus (of Von Linné) stuifmeelkorrels ondersoek en vasgestel
het dat stuifmeel spesie-spesifiek is -- dit wil sê dat elke plantsoort
se stuifmeelkorrels anders lyk. Die
vleiblom, die lelie, die kanferfoelie, die hibiskus, die sydissel, die
den, die viooltjie, noem maar op, elkeen se stuifmeelvorm is so eie aan
hom soos ’n mens se vingerafdrukke. Maar
met die toerusting van daardie tyd kon Linnaeus nie die besonderhede
sien wat ons vandag onder die elektronmikroskoop kan waarneem nie. Ewe
min kon hy dit op film vaslê sodat almal hierdie klein korreltjies se
ware aard kon sien. Die
feit dat stuifmeelkorrels so verskil, is vir die wetenskap van groot
waarde. Vir die plantkundige beteken dit dat hy twee plante wat feitlik
identies lyk, op grond van hul stuifmeelkorrels kan onderskei. Vir die
paleontoloog wat die oerlewe op aarde bestudeer, beteken dit dat hy
versteende stuifmeelkorrels kan ondersoek en sodoende kan vasstel watter
plantsoorte in die verlede in ’n spesifieke gebied gegroei het. Soos
Linnaeus destyds kan ons vandag nog uitroep: "Natura in minimis
maxima!" --
die grootsheid van die natuur is in sy kleinste deeltjies. Maar noudat ons so naby na
stuifmeel gekyk het, wat is dit eintlik? STUIFMEEL ontstaan altyd, soos ons hierbo gesien het, in
blomme. Die voortplantingsorgane van ’n blomdraende plant maak deel
uit van die blom van die plant. Die manlike voortplantingsorgane word
meeldrade genoemd, die vroulikes staan bekend as stampers. ’n
Meeldraad bestaan uit ’n helmdraad en ’n helmknop. In die helmknoppe
ontstaan die stuifmeelkorrels.
Reg
in die middel van die meeldrade staan een of meer steeltjies. Hulle vorm
deel van die stamper. Die steeltjie word die styl genoem, en op die styl
is 'n knoppie wat as die stempel bekend staan. Die stempel is daar om
die stuifmeel van die manlike meeldrade op te vang. Aan die onderpunt
van die styl is die vrugbeginsel waarin die saadknoppe is.
Die
punt van die buis bars oop en stel twee spermselle vry. Een van hulle
versmelt met die eiersel en vorm ’n embrio terwyl die ander een die
voedingstowwe vorm waarop die embrio teer. En
só word die weg gebaan vir die ontwikkeling van 'n nuwe plant of
plante. Bestuiwing
vind nie net deur die wind of met behulp van insekte soos bye plaas nie,
maar ook deur voëls, vlermuise en op ander maniere. Trouens, die rol
van voëls in bestuiwing word baiemaal onderskat. Selfs jy, as jy
byvoorbeeld tussen ’n plaat veldblomme deurloop, kan onbedoeld
bestuiwing met jou beweging laat plaasvind sonder dat jy ooit daaraan
dink. Dit
spreek vanself dat blomme wat hul stuifmeel deur middel van die wind
versprei, geweldig baie stuifmeelkorrels moet produseer om hul
teiken-stampers van dieselfde spesie elders te kan vind. Só vervaardig
’n enkele manlike plant van die onkruid Mercurialis annua ’n
ongelooflike sowat 1250 miljoen stuifmeelkorrels om op die lugstrome
voortgedra te word. Só kan die goue wolke van die lewe van verskillende soorte plante soms tot rus kom om hele sypaadjies in ’n geel kombers te hul... ’n duidelike bewys van die natuur se oordadige skilderkwas om die oorlewing van sekere spesies te verseker. As daardie geel goed nou net nie soveel rooi neuse veroorsaak het nie... Klik hier vir ’n groot foto van meeldrade en stamper wat jy op jou drukker kan uitdruk. (Maak oop in ’n nuwe venster.) Foto: PDHOTO.ORG |
||||