|
Die een oomblik was die see ’n toonbeeld van kalmte. Die volgende het reuse-golwe teen die vissersboot geslaan. Paniekbevange het die skipper en vissers hulle na die dek gehaas... om een van die natuur se ontsagwekkendste skouspele te sien: die geboorte van ’n eiland! Teks uit
Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Altwee foto’s hierbo deur US National Oceanic & Atmospheric Adminstration (NOAA) Foto LINKS BO: Die eiland Surtsey, net sowat 8 km suid van Ysland, soos dit gelyk het drie dae nadat dit op 14 November 1963 uit die see verrys het. Foto REGS BO: Surtsey sestien dae ná sy geboorte. Die uitbarsting het tot 5 Junie 1967 geduur, toe die eiland sy maksimum-grootte van 2,7 vk. km bereik het. Sedertdien het dit geleidelik kleiner geword as gevolg van wind- en golf-erosie en nie te lank gelede is bereken dat dit nog maar slegs 1,4 vk. km beslaan. Surtsey is ’n klassieke plek vir die studie van bio-kolonisasie—die vestiging van stigter-organismes wat van elders, soos op die wind en die golwe, in ’n nuut gevormde woongebied aankom. Slegs ’n klompie wetenskaplikes word toegelaat om op Surtsey te land en die enigste manier waarop andere die eiland van naderby kan besigtig, is met ’n klein vliegtuigie. |
|||||
|
Foto: Mary Chapman / USGS
IT was ’n
ontsagwekkende toneel wat hom daardie oggend voor die vissers afgespeel
het. Toe hulle nog so ewe rustig in die see aan die suidweskus van
Ysland vaar, bars ’n eiland sommer net hier voor hul oë uit die
water. Te midde
van ’n kokende see en swaweldampe het die manne van die klein Yslandse
vissersboot Isterfull gesien hoe rook en stoom honderde meters in die
lug uitgolf. En hoe ’n
reusagtige swart hoop magma uit die blou oseaan verrys om fors en magtig
sy plek bo die deining in te neem. Dit was op
14 November 1963 dat die eiland Surtsey só gebore is. Dit het
wetenskaplikes in staat gestel om vir die eerste keer die ontstaan van ’n
eiland te bestudeer, en om na te vors hoe die plante- en dierelewe hulle
algaande op só ’n barre nuwe stuk land begin vestig. Selfs
voordat die lawa heeltemal afgekoel het, het navorsers reeds gesien hoe
seevoëls daar neerstryk. Dit was asof hulle kom kyk het of dit ’n
goeie plek is om later huis op te sit. En voordat
die swaweldampe heeltemal opgehou het met uitborrel, het korsmosse al
hul verskyning op die rotse begin maak. En toe bring die voëls sade
soontoe. En ’n stuk dryfhout bring die eerste spinnekop. Kort voor
lank het Surtsey (genoem na Sutur, die mitologiese vuurgod van die
Yslanders) sy eie unieke ekosisteem gehad... was hy ’n lewende,
bedrywige, selfonderhoudende wêreldjie—en die mens het niks met sy
skepping te doen gehad nie. NIE alle vulkaniese uitbarstings in die see het eilande tot gevolg nie, slegs daar waar die aarde genoeg vulkaanrots daarvoor uitspuug. Die aarde se jongste eiland is ook nie Surtsey nie, maar vermoedelik een waarvan die geboorte in Junie 2000 aangekondig is. Dit was nadat dit deur die vulkaan Kawatsji in die Stille Oseaan tussen Paoea-Nieu-Guinee en die Solomons-eilande geskep is.
Foto beskikbaar getel deur NOAA, met vergunning van dr. Brent McInnes, hoofwetenskaplike van die Commonwealth Scientific and Industrial Research Organization (CSIRO) in Australië Sommige
eilande is rondom een of twee vulkaniese openinge opgebou (soos Tristan
da Cunha met sy een keël), terwyl ander (soos Tahiti) deur ’n reeks
keëls gevorm is. Nie alle
eilande het ’n vulkaniese oorsprong nie. Grotes soos dié van die
Britse Eilande, Nieu-Seeland en die Seychelle is bloot ’n voortsetting
van die landmassas naby hulle, maar hulle word tog deur die see van die
hoofland geskei. Hulle staan bekend as kontinentale eilande. Party
eilande is "enkelinge"; ander kliek heel gesellig saam in
argipels (bv. die Kanariese Eilande en Fidji). Heel klein eilandjies
word weer gevorm deur die erosie en woelinge van die see. ’n Eilandjie
soos Robbeneiland aan die Kaap is ook maar net ’n deel van die
Skiereiland se geologiese kompleks en was eenmaal deel van die hoofland.
Jy sou droogvoets van Tafelberg af tot by die huidige Robbeneiland kon
geloop het. Maar dis
by die ontstaan van vulkaaneilande dat die groot dramas plaasvind. En
ironies genoeg is hierdie landjies met al hul geboortelike bravade reeds
van hul begin af gedoem om weer onder te gaan. Want is
hul lewensduur geologies gesproke nie jammerlik kort nie? Dis veral só
as die vulkaanrots waaruit hulle gevorm is, sag is. See, wind en weer
sal hulle van meet af stadigaan aftakel. Dis selfs moontlik om die ouderdom van só ’n eiland te bepaal deur na sy samestelling te kyk. Melkbaarde soos Tristan da Cunha het volmaak gevormde keëls en kraters en ’n gebrek aan diep sand. Hardebaarde soos St. Helena het hul keëls deur erosie verloor en die grond is vrugbaar. MAAR vulkaaneilande kan darem ook ’n rare klein bondgenootjie hê
wat hulle teen die ewige aanslag van die see help beskerm. Dit is die
koraalpoliep wat die koraalriwwe bou. Lesers wat byvoorbeeld
al op Mauritius was, sal weet hoe hierdie eiland knus en
rustig beskut word deur ’n pantser van koraal waar hordes kleurryke
visse rondswem en eksotiese plante wieg. Koraal,
wat ’n soort kalksteen is, maar ook allerhande “takkerige”
vorms kan aanneem, is die geraamtetjies van die poliepe wat, namate
hulle doodgaan, die een op die ander gestapel word. JONG vulkaan-eilande is onherbergsaam, die ene steriele rots en
vulkaan-as. Hoe word hulle dan verander om lewe te onderhou? Een van
die eerste skakels in die lewensketting is die mis van die seevoëls,
waarin swamme en bakterieë kan gedy om die grond te verryk. Hierna kom
die korsmosse, mosse, lewermosse. Die grond ondergaan ’n verdere
verryking as hierdie mosse ontbind. Intussen
is die lug ook vol swewende saadjies en spore, insekte en spinnekoppe.
Baie van hulle swewe natuurlikerwys tot honderde kilometers ver op
lugstrome, ander word deur die wind opgeskep en voortgedra. Landvoëls
raak tydens storms verwar en beland op die nuwe eilande. Daar laat hulle
saadjies van die vasteland agter wat in hul mis was of aan hul vlerke
gekleef het. Seevoëls—veral meeue—en vlermuise is die grootste
koloniseerders van afgeleë eilande. Op die Asore en Kanariese Eilande
is baie soorte vlermuise wat ook in Europa en Afrika aangetref word. Nuwe lewe kom ook al dobberend op die golwe by die maagdelike vulkaniese eilande aan. Baie plantsade, soos kokosneute, dryf op die seestrome na sulke afgeleë plekke.
Dryfhout
is nuttige vaartuie vir eiers en selfs volwasse ongewerwelde diere. Hoewel dit nie sommer gebeur dat groot diere ’n seereis op ’n stuk dryfhout oorleef nie, is daar op ’n plek soos die Galapagos (links van die bopunt van Suid-Amerika) wel krappe, skilpaaie en likkewane. Die
feit dat die krap (Geograpsus lividus) daar uit die water land
toe gekom en die likkewane hulle tot die see gewend het om seegras te
kan vreet, toon hoe dié diere nuwe weë vir oorlewering in dié afgesonderde wêreldjie moes
vind. Alles baie
interessant, maar pragtige aanskouingslesse in aanpassing en die natuur
se kolonisasie wag steeds op toekomstige geslagte wat sal kan dophou wat
verder met die nuwe eiland Surtsey gebeur. Moeilik
bereikbaar en deur stormwinde geteister—met loodregte kranse en ’n
verlate, byna steriele atmosfeer—mag slegs kiemvrye wetenskaplikes
daar tussen die nuwe lewe loop en dan moet hulle letterlik in hul spoor
trap. Sodat nie
net die geboorte van ’n eiland nie, maar sy hele groei en ontwikkeling
nagespeur kan word. En sodat ons meer kan verstaan van ons wonderlike wêreld. |
|||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |