REGS:
Indië en die ligging van die Taj Mahal in Agra, in die noodelike
staat Uttar Pradesh.
Krediet: Gewysige kaart uit die
World Factbook van die CIA
IT was die jaar 1631 en Shah Jahan se hart was gebroke (of Sjah
Djahaan, as ons die Nederlandse klankvertaling sou navolg). Hy was
’n Mongoolse keiser van Indië en sy geliefde gunsteling-vrou het in
die kraambed gesterf. Sy het bekend gestaan het as Mumtaz Mahal, die
“Uitverkore Een van die Paleis”, en Shah Jahan wou hê die praalgraf
waar Mumtaz se oorskot sou rus, moes mooier wees as enigiets wat nog
ooit gebou is.
Hierdie wit marmergraf het bekend geraak onder ’n ander weergawe van
sy vrou se titel—Taj Mahal, die “Kroon van die Paleis”.
Die Mongoolse keisers was Moslems, en die geboue wat hulle opgerig
het, die Taj Mahal inkluis, het die tradisionele kenmerke van die
Islamitiese argitektuur geïnkorporeer. Die gepunte boog,
byvoorbeeld, was ’n simbool van die Moslem-geloof; die koepeldak het
op ’n graf daaronder gedui. Hoë torings, minarette genoem, is
gebruik om die gelowiges tot gebed op te roep.
Die Koran, die Moslem-godsdienshandboek, verbied die gebruik van
mense- en dierevorms as versiering. Dit het tot ’n versierstyl gelei
wat arabesk (Arabies-agtig) genoem word, waarin geometriese ontwerpe
en vloeiende lyne gebruik is. Arabesk en kalligrafie
(skoonskryfkuns) was wesenlike elemente van die Islamitiese
argitektuur.
REGS: In die Charminar
(betekenis “Moskee van die vier minarette’) in
Hyderabad, hoofstad van die Indiese staat Andhra
Pradesh, spreek die Islamitiese argitektuur ook
duidelik.
Foto: GSFC / NASA
Die Taj Mahal is ’n volmaak geproporsioneerde en
simmetriese struktuur van wit marmer, versier met
inlegwerk van halfedelstene en gekleurde stene. Die
gebou staan in die middel van ’n marmerplatform van byna
6 m hoog en 96 vk. m.
Die reusagtige sentrale koepel is ’n dubbele
konstruksie. Die binnekoepel is 24 m hoog; daarom heen
is ’n buitekoepel wat meer as 60 m bokant die platform
uitstyg. Die sentrale agthoekige kamer onder die koepel
word omring deur ’n tweeverdieping-deurloop met ’n
agthoekige toring op elke hoek. Die koepels bo-op die
vier torings omring die sentrale koepel.
In die middel van die agthoekige saal, volmaak in lyn
met die sentrale as van die gebou, is die senotaaf
(grafmonument) van Mumtaz Mahal en, weg van die middel
af, dié van Shah Jahan. Die senotawe word omring deur ’n
voortreflike skerm van gesnede marmer met inleg-arabesk
aan die rand. Die eintlike grafte is in ’n ondergrondse
grafkelder.
Daar is inleg-arabesk in die ruimtes bokant die vier
hoofboë. Die boë word omraam met inskripsies uit die
Koran in Arabiese skrif. Die kalligraaf (skoonskrywer)
het die illusie geskep dat die letters van die skrif
almal dieselfde grootte het soos hulle van onder af na
die bokant van die boog oploop. Dit is verkry deur die
letters ál groter te maak hoe hoër hulle teen die boog
op is.
Die Taj Mahal is volmaak simmetries beplan. Dit is ’n
vierkant van 57 m. Minarette aan elke hoek van die
platform is 41 m hoog. Die Taj Mahal is geleë in ’n
groot, reghoekige, ommuurde hof, 600 m lank en 300 m
breed. Die mausoleum (praalgraf) is aan die noordekant.
Daar is weerkaatsende poele aan die ooste- en westekant
van die gebou. Die dubbelkoepel-konstruksie beteken die
buitekoepel kon baie hoog gebou word sonder dat die
binneplafon te hoog sou lyk.
Argitekte regoor die Ooste het met mekaar gewedywer vir
die eer om die volmaakte grafgebou te ontwerp. Die plan
wat uiteindelik deur Shah Jahan goedgekeur is, het
ongetwyfeld baie van sy eie idees ingesluit.
Shah Jahan het talle uitmuntende vakmanne en kunstenaars
van regoor sy ryk gelok om aan die Taj Mahal te werk.
Die ambagspersoneel het ’n ingenieur om die koepels te
bou, edelmetaalwerkers, ontwerpers, klipkappers,
messelaars, beeldsnyers en inlegwerkers ingesluit. Die
baas-skoonskrywer se stand was so hoog soos dié van die
argitek en hy was die enigste vakman wie se handtekening
op die mure van die Taj Mahal verskyn.
Dit het tien jaar gekos om die mausoleum te voltooi,
maar die hele kompleks het nog twaalf jaar gekos. In dié
22 jaar het meer as 20 000 mense op die perseel gewerk.
’n Stad, Mumtazbad genoem, het ontstaan om die werkers
te huisves.
In 1642, die jaar toe die mausoleum voltooi is, het Shah
Jahan ’n groot gedenkdiens gehou. Mumtaz Mahal se
oorskot is uiteindelik in die wêreld se mooiste
praalgraf ter ruste gelê.
In 1658 het Shah Jahan siek geword, en sy derde seun,
wat beheer oor die ryk oorgeneem het, het sy pa laat
opsluit in die Agra-fort, waar hy met die rivier langs
kon afkyk op die Taj Mahal. Shah Jahan het in 1666
gesterf en is langs Mumtaz Mahal begrawe.
Die wit marmer van die Taj Mahal is slegs ’n bedekking.
Die gebou is in der waarheid van ru-klip gemaak en met
marmer bedek.
|
REGS:
Beroemdes en gewone toeriste van oorsee sal nie maklik
die Taj Mahal wil misloop wanneer hul Indië besoek nie.
Hier is die gewese Amerikaanse presidentsvrou Jackie
Kennedy (vrou van pres. John F. Kennedy) in 1962 by
“die mausoleum van die liefde en droefheid” afgeneem.
Dit was die jaar voordat haar man deur die
sluipmoordenaar Lee Harvey Oswald
vermoor is. Dit is ironies dat Jackie Kennedy
(1929–1994) se liefdes eweneens tragies geëindig het,
soos ook haar ongelukkige latere huwelik met die Griekse
skeepmagnaat Aristoteles Onassis. Net die dood van
Onassis het haar die verleentheid van ’n egskeiding
gespaar. Foto:
John F. Kennedy Library and Museum / U.S. Library of
Congess |
 |
DIT was in 1526 dat die Mongole
hul ryk in Indië gestig het. Teen 1707 het die ryk die
grootste gedeelte van Indië beslaan.
Shah Jahan, troonopvolger van die Mongoolse ryk, is in
1592 gebore. Hy het die beste opvoeding geniet en veral
in die argitektuur begin belang stel. Toe hy maar net
vyftien jaar was, is hy gevra om ou paleise te vervorm
en dele van nuwes te ontwerp.
Die vroue van die hof het by ’n private mark inkopies
gedoen. Mans is op spesiale dae binnegelaat. Shah Jahan
het Mumtaz gesien en dadelik op haar verlief geraak. Hy
het sy pa gevra om hom toe te laat om met Mumtaz te
trou. Prinse het destyds om politieke redes getrou, maar
Jahan is toegelaat om Mumtaz as sy bruid te neem.
In 1627 het Shah Jahan die keiser geword. ’n Poutroon,
versier met juwele, het sy rykdom verbeeld.
Mumtaz is selfs oorlog toe saam met Jahan. Sy is oorlede
nadat sy die lewe aan hul veertiende kind geskenk het.
Die Mongoolse heersers het baie koepel-mausoleums gebou.
Party het as modelle vir die Taj Mahal gedien. Die Gol
Gumbaz by Bijapur is die mausoleum van sultan Muhammad
Adil Shah (1626-56). Dit bevat een van die grootste
koepels ter wêreld.

BO:
Die Gol Gumbaz
met sy massiewe sentrale koepel.
Foto:
Ashwatham,
wat dit tot openbare besit
verklaar het by die
Engelse Wikipedia-projek (“released into the
public domain”)
|