|
ERSKILLENDE
diere se tande verskil en ons kan baie te wete kom van ’n dier
se gewoontes deur eenvoudig na sy tande te kyk.
Die
verskille tussen die tande van soogdiere en reptiele en visse is
dramaties, om nie eens te praat van hoe hul “beenbekke” en die
anderwêreldse chitien-monde van sekere insekte van mekaar verskil
nie. Dan het alle moderne voëls geen tande nie. Hul snawels is
immers hard en skerp genoeg om hul kos fyn te maak en dit in
hul kroppe te kry.
Klein
voëltjies kom wel in die wêreld met ’n “eiertandjie” wat
hulle gebruik om deur hul eiers te pik, dog dit val af kort nadat
hulle uitgebroei het.
Maar
ook verskillende soogdiere se tande kan onderling nogal aanmerklik
van mekaar verskil. ’n Mens sou tog nie verwag dat byvoorbeeld
’n kat dieselfde soort tande as, sê, ’n skaap moet hê nie.
Alle
soorte katte (leeus, luiperds, tiere, wildekatte, huiskatte) het
die tande van ’n vleisvreter—hoofsaaklik instrumente om mee te
steek, te sny en te skeur.
Die
tande van ’n plantvreter, sê maar ’n wildsbok, ’n bees of
’n skaap, is weer hoofsaaklik maalklippe waarop veselagtige
plantmateriaal fyngemaal word.
Mense
eet sowel vleis as groente, en hulle het dus tande wat al dié
soorte werksaamhede verrig.
In
die wetenskaplike klassifikasie praat ons van:
-
Herbivore
— plantvretende diere (bv. die skaap en bees);
-
Karnivore
— vleisvretende diere (bv. katte);
-
Omnivore
— diere wat plante sowel as vleis verorber (bv. die
bobbejaan), ook die mens.
Dit
is egter belangrik dat ons allereers moet begryp hoe die gebitte
van soogdiere saamgestel is. Dit bestaan naamlik uit
sogenaamde snytande, oogtande, voorkiestande en kiestande. Die
hoeveelheid tande van elke soort wat by ’n mens of dier voorkom,
word geskryf as ’n formule vir een kant van die mond, met die
botande en ondertande in afsonderlike rye.
Die
mens se tandformule is:
In
die helfte van die menslike mond LINKS
ONDER is daar dus van
voor na agter (bo en onder) twee snytande, een oogtand, twee
voorkiestande en drie kiestande.
Illustrasie met
vergunning: 3Dscience.com
|
Tande
van die mens 
|
Bobbejaan se
gebit
|
Dit
geld ook vir byvoorbeeld die bobbejaan (’n primaat en Ou Wêreldse
aap), maar sy oogtande is natuurlik baie prominent REGS
BO. Hy het dit nodig vir
verdediging en dan en wan om ’n prooidier te verskeur, hoewel hy
in die reël eerder plantkosse vreet en baie van sy proteïene
inkry deur byvoorbeeld goggas soos skerpioene te verslind (nadat
hy die angels vinnig afgebreek het).
Die tandformule van katte is
weer as volg:
Die
oogtande van die karnivoriese huiskat is yslik prominent en skerp, soos die foto
REGS toon. Sy laaste bo-voorkiestand en eerste onder-kiestand word
skeurtande genoem omdat hulle gebruik word om die vleis
van prooidiere te skeur.
Foto
van kat deur "Vale". Foto onderhewig aan kopiereg, maar
fotograaf laat (paradoksaal) die vrye gebruik daarvan toe.
Op
hul beurt is beeste, skape en antilope plantvreters van die
familie Bovidae.
By
hierdie familie is die boonste snytande afwesig. Aan die onderkaak
is daar drie snytande aan elke kant van die kakebeen en
daarbenewens lyk die oogtande (gewoonlik afwesig aan die bokaak)
soos ’n ekstra paar snytande (een aan elke kant). ’n Goed
ontwikkelde diasteem (tandgaping) skei die onderste snytande en
die onderste voormaaltande.
Die
plantevreters van die familie Bovidae kan 30 of 32 tande hê,
afhangende van die spesie. Skape en beeste se tandformule is:
Dit
is 16 tande bo en onder aan elke kant van die mond— altesaam 32.
Op die foto REGS
kan sekere van die permanente ondertande van ’n volwasse bees
gesien word.
Foto: The
Canadian Food Inspection Agency
Ook
die volwasse mens het 32 tande in sy mond. (Dis egter nie altyd
waarneembaar nie. Die sogenaamde verstandtande in die agterkieste wat by
jong mense uitkom, is partymaal nie sterk genoeg om deur die
tandvleis te beur nie en sit dus lewenslank weggesteek!)
As
babas is ons tandeloos
REGS, maar ons begin so op vyf tot agt maande
reeds tandjies sny vir een melktandstel van twintig tandjies. Dié
begin egter teen min of meer sesjarige leeftyd uitval, waarna ’n
nuwe stel permanente tande met verdrag hul verskyning maak.
Illustrasie met
vergunning:
3Dscience.com
Af
en toe word babas tog met ’n tandjie of wat gebore. Só word
vertel dat koning Lodewyk XIV van Frankryk in 1638 die eerste
lewenslig met twee tande aanskou het.
Dit
is nie net die mens wat twee stelle tande in sy lewe kry nie.
Trouens, daar is baie soogdiere wat tande wissel.
LINKS is
byvoorbeeld die volle stel onderste melktande van ’n beeskalf. Maar daar
is ook soogdiere, soos die eendbekdier, wat in hul hele lewe met slegs
een stel tande moet regkom.
Foto: The
Canadian Food Inspection Agency
Dis
byna ongelooflik, maar tande, soos naels, is eintlik maar net ’n
soort verharding van die vel. By soogdiere bestaan dit uit ’n
baie harde buitelagie van emalje, met ’n lagie sagter dentien
daaronder, en dan bloedvate en vesels aan die binnekant. Kyk
illustrasie REGS. Emalje
is, terloops, die hardste stof wat in die liggaam voorkom—dis
selfs harder as die hardste been. Dentien, ’n stof wat baie net
soos been is, is sagter.
Illustrasie met
vergunning:
3Dscience.com
Anders
as soogdiere het die meeste ander gewerwelde diere egter nie
emalje op die tande nie, maar wel ’n stof wat vitrodentien
genoem word. Dié is byna net so hard as emalje.
Niemand
behoort selfs eens te probeer om ons te oortuig watter gewigtige
saak dit is om ons tande in ’n goeie toestand te hou nie. Ons
behoort dit vanself te weet, omdat die erns van mondhigiëne van
kleins af by ons ingeskerp word.
’n
Geborsel per dag laat immers die tandarts wag!
Maar
dit is tog belangrik dat ons elke af en toe weer aan goeie
tandesorg herinner sal word—en dit is die hoofrede vir ons
slotafdeling hieronder.
Tandesorg
ONS
het hierbo gesien dat tand-emalje die hardste stof in die liggaam
is. En tog kan daardie emalje deur suur weggevreet word sodat ons
mettertyd met ’n hele mondvol pynlike en selfs ontsierende
probleme sit. Die suur wat hier ter sprake is, word deur die
inwerking van bakterieë op voedselkoolhidrate gevorm.
Sogenaamde
tandplaak is die vernaamste oorsaak van tandbederf (tandkariës).
Tandplaak is ’n taai stof wat aan tande vorm wat nie behoorlik
skoongehou word nie. Plaak bestaan uit voedselreste,
mukus-speeksel-afvalprodukte en die lewende bakterieë in die
mond.
Hierdie
bakterieë teer veral op die gisbare koolhidrate in kos. Gisbare
koolhidrate is bloot die eenvoudige suikers en stysels wat in ons
dieet voorkom. Wanneer die kooldidrate afbreek word, vorm ’n
suur wat die emalje geleidelik vernietig. Die gevolg is dat ’n
gaatjie gelaat word wat — as daar niks aan gedoen word nie —
groter word namate die dentien weggevreet word.
Dit bring mee dat bakterieë in die murg binne-in die tand
kan indring.
Tande
kan gesond gehou word deur gereeld stewige kos te kou, ’n dieet
ryk aan kalsium te volg en ten minste daagliks te borsel en vlos.
Daarbenewens moet ’n tandarts minstens twee keer per jaar besoek
word sodat hy bestaande tandprobleme kan herstel of toekomstige
probleme kan voorkom.
Met
tandesorg word eintlik mondhigiëne bedoel, dit wil sê gereelde
stappe om nie net vir die gesondheid van die gebit te sorg nie,
maar ook die tandvleis teen infeksie te beskerm. |