Illustrasie met vergunning: 3Dscience.com

“DIe kinders tel al weer tande,” is veral in die verlede dikwels gesê. Daarmee is spreekwoordelik te kenne dat sulke kinders onwelkome agies in die geselskap van die grootmense was. Maar met ’n regte tandetellery sou niemand nog ooit baie ver kon gekom het nie. Dis immers ’n biologiese feit dat die deursnee-mens ten minste aan­vanklik ’n vaste hoeveelheid tande in sy mond het: in die reël 20 melktande wanneer hy klein is en 32 permanente tande as vol­wassene. Dog by verskillende diere is dit weer ’n ander storie, en dan is die meeste van die kreature boonop heeltemal anders gebek as die mens…

V

ERSKILLENDE diere se tande verskil en ons kan baie te wete kom van ’n dier se gewoontes deur eenvoudig na sy tande te kyk.

Die verskille tussen die tande van soogdiere en reptiele en visse is dramaties, om nie eens te praat van hoe hul “beenbekke” en die anderwêreldse chitien-monde van sekere insekte van mekaar verskil nie. Dan het alle moderne voëls geen tande nie. Hul snawels is immers hard en skerp genoeg om hul kos fyn  te maak en dit in hul kroppe te kry.

Klein voëltjies kom wel in die wêreld met ’n “eiertandjie” wat hulle gebruik om deur hul eiers te pik, dog dit val af kort nadat hulle uitgebroei het.

Maar ook verskillende soogdiere se tande kan onderling nogal aanmerklik van mekaar verskil. ’n Mens sou tog nie verwag dat byvoorbeeld ’n kat dieselfde soort tande as, sê, ’n skaap moet hê nie.

Alle soorte katte (leeus, luiperds, tiere, wildekatte, huiskatte) het die tande van ’n vleisvreter—hoofsaaklik instrumente om mee te steek, te sny en te skeur.

Die tande van ’n plantvreter, sê maar ’n wildsbok, ’n bees of ’n skaap, is weer hoofsaaklik maalklippe waarop veselagtige plantmateriaal fyngemaal word.

Mense eet sowel vleis as groente, en hulle het dus tande wat al dié soorte werksaamhede verrig.

In die wetenskaplike klassifikasie praat ons van:

  • Herbivore — plantvretende diere (bv. die skaap en bees);

  • Karnivore — vleisvretende diere (bv. katte);

  • Omnivore — diere wat plante sowel as vleis verorber (bv. die bobbejaan), ook die mens.

Dit is egter belangrik dat ons allereers moet begryp hoe die gebitte van soogdiere saamgestel is. Dit bestaan naamlik uit sogenaamde snytande, oogtande, voorkiestande en kiestande. Die hoeveelheid tande van elke soort wat by ’n mens of dier voorkom, word geskryf as ’n formule vir een kant van die mond, met die botande en ondertande in afsonderlike rye.

Die mens se tandformule is:

2.1.2.3

2.1.2.3

In die helfte van die menslike  mond LINKS ONDER is daar dus van voor na agter (bo en onder) twee snytande, een oogtand, twee voorkiestande en drie kiestande.  Illustrasie met vergunning: 3Dscience.com

 Tande van die mens

     
Bobbejaan se gebit
  

 

Dit geld ook vir byvoorbeeld die bobbejaan (’n primaat en Ou Wêreldse aap), maar sy oogtande is natuurlik baie prominent REGS BO. Hy het dit nodig vir verdediging en dan en wan om ’n prooidier te verskeur, hoewel hy in die reël eerder plantkosse vreet en baie van sy proteïene inkry deur byvoorbeeld goggas soos skerpioene te verslind (nadat hy die angels vinnig afgebreek het).

Die tandformule van katte is weer as volg:

3.1.3.1

3.1.2.1

Die oogtande van die karnivoriese huiskat is yslik prominent en skerp, soos die foto REGS toon. Sy laaste bo-voorkiestand en eerste onder-kiestand word skeurtande genoem omdat hulle gebruik word om die vleis van prooidiere te skeur.

Foto van kat deur "Vale". Foto onderhewig aan kopiereg, maar fotograaf laat (paradoksaal) die vrye gebruik daarvan toe.

Op hul beurt is beeste, skape en antilope plantvreters van die familie Bovidae.

By hierdie familie is die boonste snytande afwesig. Aan die onderkaak is daar drie snytande aan elke kant van die kakebeen en daarbenewens lyk die oogtande (gewoonlik afwesig aan die bokaak) soos ’n ekstra paar snytande (een aan elke kant). ’n Goed ontwikkelde diasteem (tandgaping) skei die onderste snytande en die onderste voormaaltande.

Die plantevreters van die familie Bovidae kan 30 of 32 tande hê, afhangende van die spesie. Skape en beeste se tandformule is:

0.0.3.3

3.1.3.3

Dit is 16 tande bo en onder aan elke kant van die mond— altesaam 32. Op die foto REGS kan sekere van die permanente ondertande van ’n volwasse bees gesien word. Foto: The Canadian Food Inspection Agency  

Ook die volwasse mens het 32 tande in sy mond. (Dis egter nie altyd waarneembaar nie. Die sogenaamde verstandtande in die agterkieste wat by jong mense uitkom, is partymaal nie sterk genoeg om deur die tandvleis te beur nie en sit dus lewenslank weggesteek!)

As babas is ons tandeloos REGS, maar ons begin so op vyf tot agt maande reeds tandjies sny vir een melktandstel van twintig tandjies. Dié begin egter teen min of meer sesjarige leeftyd uitval, waarna ’n nuwe stel permanente tande met verdrag hul verskyning maak. Illustrasie met vergunning: 3Dscience.com

Af en toe word babas tog met ’n tandjie of wat gebore. Só word vertel dat koning Lodewyk XIV van Frankryk in 1638 die eerste lewenslig met twee tande aanskou het.

Dit is nie net die mens wat twee stelle tande in sy lewe kry nie. Trouens, daar is baie soogdiere wat tande wissel.

LINKS is byvoorbeeld die volle stel onderste melktande van ’n beeskalf. Maar daar is ook soogdiere, soos die eendbekdier, wat in hul hele lewe met slegs een stel tande moet regkom. Foto: The Canadian Food Inspection Agency

Dis byna ongelooflik, maar tande, soos naels, is eintlik maar net ’n soort verharding van die vel. By soogdiere Tande en hul verskillende dele bestaan dit uit ’n baie harde buitelagie van emalje, met ’n lagie sagter dentien daaronder, en dan bloedvate en vesels aan die binnekant. Kyk illustrasie REGS. Emalje is, terloops, die hardste stof wat in die liggaam voorkom—dis selfs harder as die hardste been. Dentien, ’n stof wat baie net soos been is, is sagter. Illustrasie met vergunning: 3Dscience.com

Anders as soogdiere het die meeste ander gewerwelde diere egter nie emalje op die tande nie, maar wel ’n stof wat vitrodentien genoem word.  Dié is byna net so hard as emalje.  

Niemand behoort selfs eens te probeer om ons te oortuig watter gewigtige saak dit is om ons tande in ’n goeie toestand te hou nie. Ons behoort dit vanself te weet, omdat die erns van mondhigiëne van kleins af by ons ingeskerp word.

’n Geborsel per dag laat immers die tandarts wag!

Maar dit is tog belangrik dat ons elke af en toe weer aan goeie tandesorg herinner sal word—en dit is die hoofrede vir ons slotafdeling hieronder.

Tandesorg

ONS het hierbo gesien dat tand-emalje die hardste stof in die liggaam is. En tog kan daardie emalje deur suur weggevreet word sodat ons mettertyd met ’n hele mondvol pynlike en selfs ontsierende probleme sit. Die suur wat hier ter sprake is, word deur die inwerking van bakterieë op voedselkoolhidrate gevorm.

Sogenaamde tandplaak is die vernaamste oorsaak van tandbederf (tandkariës). Tandplaak is ’n taai stof wat aan tande vorm wat nie behoorlik skoongehou word nie. Plaak bestaan uit voedselreste, mukus-speeksel-afvalprodukte en die lewende bakterieë in die mond.

Hierdie bakterieë teer veral op die gisbare koolhidrate in kos. Gisbare koolhidrate is bloot die eenvoudige suikers en stysels wat in ons dieet voorkom. Wanneer die kooldidrate afbreek word, vorm ’n suur wat die emalje geleidelik vernietig. Die gevolg is dat ’n gaatjie gelaat word wat — as daar niks aan gedoen word nie — groter word namate die dentien weggevreet word.  Dit bring mee dat bakterieë in die murg binne-in die tand kan indring.

Tande kan gesond gehou word deur gereeld stewige kos te kou, ’n dieet ryk aan kalsium te volg en ten minste daagliks te borsel en vlos. Daarbenewens moet ’n tandarts minstens twee keer per jaar besoek word sodat hy bestaande tandprobleme kan herstel of toekomstige probleme kan voorkom.

Met tandesorg word eintlik mondhigiëne bedoel, dit wil sê gereelde stappe om nie net vir die gesondheid van die gebit te sorg nie, maar ook die tandvleis teen infeksie te beskerm.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad