Towerland van
Tasmanië
Dis ’n
droomeiland in die oortreffende trap... mere, boomvarings en
bergreekse in ’n ongerepte paradys. Maar die pragtige Tasmanië
is ook die tuiste van ’n “duiwel”—nie ’n regte een nie, dog ’n
propperse verskrikking vir al wat ’n hoender is!

BO: Welige
plantegroei in Hellyer Gorge, Tasmanië.
Foto deur
Anyaka. ’n
Veel groter weergawe daarvan verskyn op
hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die
wêreldwye web, waar dit gelisensieer word ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.0-lisensie.
REGS:
Kothuise in Tasmanië.
Foto:
Gene Carl
Feldman /
NASA / Goddard Space Fight Center
DIE Australiese
deelstaat Tasmanië... watter wonderlike plek is dit nie! Aan die
wêreld adverteer hy homself as die “Natuurstaat” en die “Eiland van
Inspirasie”, maar hy is ook al die
eiland van duisend reënboë genoem.
In hierdie asembenemende paradys, een van die
laaste ongerepte lushowe op aarde, vind ’n mens stil mere tussen heuwels wat met pynappelgras
begroei is. Bergreekse troon oor valleie waar bloekombome en
boomvarings floreer.
Die eiland en staat van Tasmanië lê sowat 240
km suid van die Australiese hoofland, aan die oostekant onderaan die
mini-kontinent. Die Bass-seestraat skei die eiland van die hoofland,
maar wetenskaplikes reken dat hulle tot omtrent 10.000
jaar gelede deur ’n landbrug aan mekaar verbind was—tot aan die
einde van die jongste ystydperk.
REGS:
Die ligging van Tasmanië in die see suid van die oostelike deel van
die Australiese hoofland.
Krediet: Earthobservatory / NASA
Die deelstaat is na verhouding nie groot
nie. Trouens,
Tasmanië—skuins duskant 70.000
vk. km—is die kleinste deelstaat in die Australiese federasie,
waarby hy hom op 1 Januarie 1901 aangesluit het. Van noord na suid
is die eiland op sy langste iets meer as 360 km en van wes na oos op
sy breedste nagenoeg 310 km. Dit is
minder as een persent van die totale oppervlakte van Australië.
Maar, soos ons gesê het, natuurskoon is
Tasmanië se trots. Met sy geraamde bevolking nie te ver van ’n
halfmiljoen nie (493.300
volgens ’n raming vir Junie 2007), beslaan wildtuine, natuurparke en
Wêrelderfenisgebiede meer as ’n derde van die staat se grondgebied.

BO: Die
eilandstaat Tasmanië uit die ruimte gesien.
NASA-foto met vergunning van Jeff Schmaltz, MODIS Land Rapid
Response Team, NASA, GSFC

BO: Hobart,
Tasmanië se hoofstad. Dit is ook die grootste stad in hierdie
Australiese deelstaat en huisves sowat 200 000 van Tasmanië se
byna halfmiljoen mense. Die stadsprofiel word oorheers deur die
berg Mount Wellington, wat 1271 m hoog is (’n hele entjie hoër
as die 1086 m van Tafelberg in die Kaap). Hobart is ’n
hawestad en lê aan die monding van die Derwentrivier.
Foto:
U.S. National Oceanic and Atmospheric Administration

BO: ’n
Bruisende waterval op die “Eiland van Inspirasie”.
Foto:
U.S. Navy / US Dod / PD

BO: Pers
landerye. Die bron dui nie die soort plant aan wat hier
aangeplant is nie, maar dit is bes moontlik laventel (nie
inheems in Tasmanië nie, maar eintlik van die wêreld om die
Middellandse See en sekere ander gebiede).
Foto:
U.S. Navy / US Dod / PD

BO: Kangaroes
teen sononder.
Gene Carl
Feldman / NASA / Goddard Space Flight Center
Pragtig soos hy is, word Tasmanië
ongelukkig ook deur ’n onvoorspelbare klimaat geteister. Binne ’n
uur kan ’n mooiweersdag in ’n dag met sneeubelaaide wolke verander, en só ’n onstabiliteit kan enige tyd van die jaar ondervind word.
Hierdie klimaatskommeling, tesame met ’n sekere gebrek aan
werkgeleenthede, is stellig onder die redes hoekom die ''paradys''
nie deur mense oorstroom word nie.
Europeërs was nie die eerste bewoners van
die eiland nie.
Voordat die gewese landbrug tussen die Australiese vasteland en
Tasmanië destyds in die gryse verlede deur ’n stygende
see oorstroom is, het Australiese inboorlinge al soontoe uitgewyk.
Daarna is hulle van hul verwante op die vasteland afgesny.
Die Nederlandse ontdekkingsreisiger Abel Tasman het Tasmanië op 24
November 1642 ontdek, tien jaar voordat Jan van Riebeeck met sy
verversingspos by die suidpunt van Afrika begin het. Die
oorspronklike inboorlingbevolking van Tasmanië, ’n geraamde sowat
5000 siele voor die koms van die Europeërs, is feitlik uitgewis,
onder meer weens verwoede botsings en die oordrag van siektes.

BO: ’n Ou foto wat omstreeks in die
dekade van 1860 geneem is. Die viertal word beskryf as die laaste
oorlewende Tasmaniese inboorlinge.
Kopiereg het verval vanweë
die ouderdom van die foto.
Vandag setel die Tasmaniese
regering in ’n hoër- en laerhuis en bestaan die deelstaat uit 29
munisipale gebiede. Wol, hops, groente, beesvleis, vetlammers
en suiwelprodukte is tradisioneel belangrike komponente van die
Tasmaniese ekonomie.
Maar Tasmanië se vinnige opgang as ’n toeriste-attraksie is nou
verweef met volgehoue en intense pogings om sy natuurskoon te
bewaar. Hoe die droomeiland ’n magtige stroom toeriste moet hanteer
en steeds sy ongereptheid kan behou, is ’n uitdaging wat steeds groot eise aan die regeerders stel.
Taz—Tasmanië se derduiwel van ’n duiwel!
BAIE van
die kleinspan ken hom maar alte goed: daardie hygende,
snorkende woestaard van die kort animasiefilms, wat deur sy
aanhangers sommer kortweg “Taz'” genoem word [REGS]. Hierdie derduiwel is
natuurlik ’n Tasmaniese duiwel. En as jy hom hoor raas en blaas en
na ’n regte Tasmaniese duiwel se onaardse geluide luister, klink
hulle nogal baie dieselfde. Dis of die strokieskarakter en sy neef
van vlees en bloed altwee met ’n ronkende benoudebors in hul raserny
stik!
Maar die regte Tasmaniese duiwel [ONDER] van die Australiese
eilandstaat Tasmanië is ’n baie interessanter karakter—en eintlik
meer skugter as wreed. Hy is ’n vleisvretende buideldier, ’n
soogdier waarvan die kleintjies in ’n buidel ontwikkel, soos dié van
die kangaroe. Daar is gewoonlik vier kleintjies in ’n werpsel.
Getekende karakter Taz van LOONEY TUNES: © Warner Bros.
Entertainment Inc.
Foto van Tasmaniese duiwel deur
Wayne McLean,
wat kopiëring
vergun op
hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye
web, ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie.
Kortom, gebruik word toegelaat mits die kopierereghouer behoorlik
erken word en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie
soortgelyk aan hierdie een.
Amptelike lisensie

BO: ’n Tasmaniese duiwel. Hy maak onaardse geluide en lyk
omtrent soos ’n kruising tussen ’n vlermuis en ’n
miniatuur-beer. Sy ore word rooi wanneer hy opgewonde
raak.
Die Tasmaniese duiwel is omtrent so groot soos ’n bonkige
foksterriër, met die mannetjies om en by 9 kg swaar en die wyfies 7 kg.
Die pels is swart met oneweredige wit kolle. Sy kake is werklik
kragtig. Hy kan wallabies, buidelrotte en paddas, maar ook lammers,
hoenders en ander kleinerige diere aanval en heelhuids opvreet—net die grootste bene word gelos. Hy kom gewoonlik snags uit sy gate
uit.
Hoewel hy vandag net in Tasmanië voorkom, het hy vroeër ook op die
Australiese vasteland gelewe. Die see wat die landbrug tussen die
vasteland en Tasmanië oorspoel het, het die diere in Tasmanië
geïsoleer. Maar op die vasteland is die Tasmaniese duiwel uitgewis
deur die dingo, ’n soort hond wat waarskynlik deur die inboorlinge
soontoe gebring is toe hulle hulle duisende jare gelede in Australië
gevestig het.
Dit was die ou Europese setlaars
wat die Tasmaniese duiwel ’n duiwel begin noem het toe hul hoenders en ander kleiner
plaasdiere dit moes ontgeld.
Tasmaniese duiwels is gewoonlik alleenlopers, selfs al woon hulle saam
in gate. Die geslagte kom in Maart saam vir ’n kort paartyd
waartydens hulle nie vreet nie. Die kleintjies maak drie weke later
hul opwagting en word tot Augustus in hul ma se buidel rondgedra.
Daarna word hulle nog tot Februarie van die volgende jaar versorg,
wanneer hulle gespeen word om die wêreld op eie houtjie aan te durf.
Die Tasmaniese duiwel is Sarcophilus harrisii van die familie
Dasyuridae. (Sarco- beteken vleis en -philus beteken liefhebber.)
|
 |
Uitgestorwe
verskrikking
LINKS:
Nog ’n vreesaanjaende dier van Tasmanië was die
sogenaamde Tasmaniese tier, Thylacinus
cyanocephaplus. Hy was egter geen tier nie,
maar ’n vleisvretende
buideldier, net soos die Tasmaniese duiwel. En hy
het veel eerder soos
’n skreeulelike hond of ’n wolf gelyk as na ’n tier.
Regdeur die negentiende eeu het Britse setlaars duisende
van die Tasmaniese tiers doodgeskiet om hul skape te
beskerm, en toe was Thylacinus cyanocephaplus se
doppie geklink.
Die laaste
een is in 1936 in ’n dieretuin dood. |
|