|
VOORAF: Nadat die artikel hieronder geskryf was, is efedrien, die
hoofbestanddeel van tik, tot ’n bylae 6-medisyne te verklaar. Dit
beteken dat dit nou slegs op voorskrif gekoop kan word. Hierdie stap
is allerweë verwelkom omdat dit ten minste beteken dat die klein
vervaardiger van tik dit in die praktyk ál moeiliker sal vind om dié
sleutelbestanddeel te bekom. Ongelukkig—skryf die Kaapse koerant Die
Burger in sy kommentaar op 2 April 2008—maak dit geen duik aan die
groot sindikate nie aangesien hulle in elk geval hul efedrien in die
sluikhandel koop.
Die dwelm (metamfetamien) wat in kombuise gemaak word... en reeds soveel verskrikking gesaai het onder kinders in die Kaap
TIK—die tikkende tydbom
Wat is hierdie verslawende dwelm wat die gebruiker aanvanklik so ekstaties gelukkig maak—net om hom mettertyd te laat hallusineer en dalk sy brein en sentrale senustelsel onherstelbaar kan beskadig?
•
Lees ook die Mieliestronk-artikel oor
dwelmverslawing
IK… jy raak ręrig ge-tik, man. Jy dink jy’t reeds die ewige geluksaligheid sommer net hier op die aarde beërwe, en etlike ure lank sweef jy op ’n wolk van euforie. Jy voel so opgekikker en energiek soos ’n windhond op ’n wildplaas. Jy kan maklik ’n hele nag lank wakker bly, en jy raak ook nie eintlik honger nie.
Hierdie lewendige beskrywing deur iemand wat die uitwerking van die dwelm “tik” op die menslike psige bestudeer het, is tot op hierdie punt al heeltemal ontstellend genoeg. Maar dan gaan die verteller verder.
“Die swartgalligheid is ontsettend,” sę hy. “Jy hunker na die verruklike gevoel wat jy vantevore ondervind het en wend jou nogmaals tot tik—en gebruik dit weer en weer en weer. Maar die probleem is dat jy al hoe meer van die dwelm nodig het om ‘hoog’ te raak. Dog hoe hard jy ook al probeer, jy kan nooit weer presies op dieselfde welbehaaglike ‘hoogte’ kom as vroeër nie. Uiteindelik kan jy psigoties raak, waanbeelde sien, jou brein en sentrale senustelsel of jou hart kan selfs onherstelbaar beskadig raak. Dan is jy ’n jammerlike wrak van ’n mens. Jou lewe is onherroeplik deur ’n verfoeilike dwelm verwoes.”
“Die deel van jou brein wat genietinge ervaar, is afgestomp. Jy kan beswaarlik nog genot in enigiets ervaar. Jy geniet nie meer jou gunsteling-kos nie. ’n Middag saam met jou vriende is geen plesier meer nie.
“Nog erger: daardie tik kan jou jou
lewe kos...”
In die geneeskunde sou metamfetamien wel sekere voordele kon hę indien dit as medisyne in goed beheerde en baie matige hoeveelhede gebruik word. Maar as onbeheerde dwelm is dit ’n euwel waarvoor daar geen regverdiging kan wees nie.
Metamfetamien stel baie groot hoeveelhede van die hormoon dopamien vry, wat die breinselle stimuleer. Die chroniese misbruik van metamfetamien verander die manier waarop die brein funksioneer.
Die middel is verkrygbaar in verskillende vorms, van ’n fyn poeier tot groter kristalle. As kristalle word dit dikwels in strooitjies verkoop, en dit kan ingesnuif, ingesluk, ingespuit of gerook word. In Suid-Afrika word dit meestal gerook. Die dwelm word gerook vanuit ’n gloeilamp waarvan die binnedeel verwyder is of deur ’n glasbuis met ’n bol aan die een ent. Die bol word met ’n sigaretaansteker verhit en die roker trek dan die dampe in sy of haar longe in.
’n Groot probleem is dat dit so goedkoop is in vergelyking met ander dwelms—miskien so R40 tot R60 vir ’n dosis—en dat dit boonop so maklik verkrygbaar is. Daar is in die 1990’s bekend gemaak dat dit selfs natuurlik voorkom in minstens een soort Amerikaanse akasiaboom. Dit word egter sinteties uit die stimulant efedrien berei, soos reeds in 1893 die eerste keer deur ’n skeikundige in Japan. Só word tik steeds gemaak met efedrien en ander bestanddele wat vrylik te kry is.
Soos een dwelmbestryder in die Suid-Afrikaans Polisiediens dit stel: “Dit is ’n dwelm wat jy in jou kombuis kan berei uit bestanddele wat jy oor die toonbank kan koop.” In aansluiting hierby vertel ’n universiteitsdosent dat ’n gewetenlose bereider ’n heel winsgewende besigheid daarvan kan maak en maklik R4000 per dag in sy sak kan steek. Omdat dit tuis vervaardig kan word, beskou baie mense dit boonop nie as onwettig nie en dink hulle nie daaraan as ’n dwelm nie.
DIE gebruiker se betreklik kort euforie tydens sy eerste kennismaking met tik is dikwels die begin van ’n langtermyn-hel. Tikslawe vernietig nie net hulself nie, maar kan hele gesinne vernietig, soos wanneer die gebruikers begin steel om die tik te kan bekostig. Pa’s jaag hulle weens hul lang vingers uit die huis om self te sien kom klaar. Ma’s ontferm hulle oor die kinders en draai teen die pa’s wat hulle as te hardvogtig beskou. Die uiteinde is ’n tragedie wat verskillende lewens baie nadelig raak.
Maar presies wanneer verander misbruik in verslawing? Dis asof daar ’n spreekwoordelike “skakelaar” in die brein is wat op ’n sekere tydstip “aanskakel”. Die punt wanneer dit gebeur, wissel van mens tot mens, maar met hierdie “aanskakeling” verander die dwelmgebruiker in ’n willose dwelmslaaf.
Die vraag kan gestel word waarom soveel jong gebruikers nog willens en wetens met tik eksperimenteer—en verslaaf raak—ten spyte van ernstige veldtogte om die gevare vir hulle uit te spel. Dit is nie anders as met ander soorte dwelms nie. Verskillende faktore kan daartoe lei, soos groepsdruk, huislike omstandighede, depressie, verveeldheid, ’n slegte selfbeeld, onkunde, die lys is lank.
• Die kind is aggressief, waar hy voorheen nie aanvallend van aard was nie; • hy kom beangs voor; • hy praat vinnig en miskien selfs ’n ander soort “taal” as voorheen (die groepsdialek van sy maats wat ook met dwelms deurmekaar is); • die gewoonlik ingetoë kind borrel nou oor van die selfvertroue; • hy dwaal snags rond, in die huis of elders, omdat hy nie kan slaap nie; • hy kla dikwels van hoofpyn; • hy eet baie min en kan self maer word as gevolg daarvan; • die kykers in sy oë is groot; • hy hallusineer of sy gedrag is andersins sielkundig afwykend; • jy ontdek sekere voorwerpe by hom of in sy kamer wat met tik-gebruikers verselwig word, soos gloeilampe en rondeboom-glasbuise. |
|
|
Wat is dwelms? Die basiese verduideliking DWELMS is chemikalieë wat dele van die brein aktiveer wat vir heeltemal ander doeleindes ontwerp is, naamlik om ’n gevoel van beloning te verskaf vir gewone behoeftes wat op gesonde maniere bevredig is. Die brein het weinig middele om ’n mens teen hierdie chemiese bedrog te verweer. |
|