|
N
DIE AFGELOPE tyd het opwindende dinge op die gebied van
ruimteverkenning gebeur. Maar die mens van die 21ste eeu het
reeds blasé begin raak oor al sulke prestasies. As daar ’n
paar dekades gelede bekend gemaak is dat ’n aardse
ruimtesnuffelaar (hoewel onbeman) suksesvol geland het op een
van die min mane in die sonnestelsel wat ’n beduidende atmosfeer
het, sou dit oral voorbladnuus en ’n yslike besprekingspunt
gewees het.
Wat inderdaad op 14 Januarie 2005
gebeur het, is dat ’n ruimtetuig op die groot maan
Titan van die planeet Saturnus geland het. Die 350 foto's wat gedurende
die afdaalfase en ná die landing geneem is en na die aarde gestuur is,
het spoedig talle van die tergendste vrae oor die raaiselagtige Titan
begin beantwoord.
’n
Heeltemal nuwe wêreld
het voor die wetenskaplikes ontvou... ’n
wasige, vrieskoue een waarin dit nie waterdruppels reën nie,
maar druppels van vloeibare metaan (wat op die veel warmer aarde
slegs as ’n gas bestaan). Die metaan voed riviere, mere,
strome en fonteine op Titan se oppervlak. Die metaan moet
blykbaar iewers van binne die maan af kom en word gedurig
aangevul—anders sou Titan met sy mindere aantrekkingskrag nie
sy atmosfeer kon behou het nie.
Die ruimtetuig wat op Titan geland
het, was ’n "ryloper" op ’n ander onbemande
ruimtetuig, wat so groot soos ’n bus is, en wat reeds in Julie 2004 ná
’n marathon-reis van sewe jaar van die aarde af in ’n wentelbaan om die planeet Saturnus geplaas
is.
Die "bus"—genaamd Cassini—het
reeds opwindende inligting oor Saturnus se mane en
skouspelagtige ringe ingesamel en moet, as alles volgens plan
verloop, nog ’n hele tyd lank met sy epiese verkenningstog daar in die
verre vreemde voortgaan.
Die Saturnus-ringe met
hul horde mikro-maantjies kan dalk die puin wees van ’n taamlik
groot, ysige maan wat aan stukke gespat het, maar Cassini se data kan
mettertyd baie meer meer lig op die saak werp. ’n Maan kan ook ’n
voedingsbron vir ’n ring wees deur gasse uit te werp wat dan in die
ring vasgevang word (lees “Maan van lewe?” heel onderaan hier
bladsy).
(Saturnus
self is ’n enorme gasplaneet met,
benewens sy ringe, ook meer as dertig bekende mane. Die planeet het ’n ekwatoriale deursnee van nie minder
nie as 120 536 km, byna tien
keer groter as die aarde se 12 756,34 km by die ewenaar,
maar
Saturnus se digtheid is so gering dat hy op water sal kan dryf.)
Die "ryloper" se naam is
Huygens. In die wêreld van ruimteverkenning sal dit seker nog lank gons
oor wat
hy op Titan "gekiek" het, soos die foto's hierbo
toon. Hy het ook die klanke van Titan se stormagtige atmosfeer deur
middel van ’n mikrofoon vasgelê.
Huygens is op Kersdag 2004 van Cassini ontkoppel
en het sy eie koers ingeslaan in die rigting van die maan—waar hy op
14 Januarie 2005 met
behulp van valskerms deur Titan se dik atmosfeer gedring het om ’n sagte landing op
die maan uit te voer.
REGS:
’n Voorstelling van Cassini (links) en Hugens (regs) ná
hul ontkoppeling op Kersdag 2004.
Titan,
met sy deursnee van 5.150 km, is
die naasgrootste maan in die sonnestelsel (ná die planeet Jupiter se
Ganymedes) en van die weinig mane in die sonnestelsel wat ’n
beduidende atmosfeer het. Die atmosfeer is
selfs dikker as dié van die aarde, maar dis natuurlik, soos ons hierbo
gesien het, geen lewegewende dampkring vol suurstof nie.
Die
Cassini is genoem na die Frans-Italiaanse
sterrekundige Jean Dominique Cassini,
wat in die sewentiende eeu nie net vier van Saturnus se mane ontdek het
nie, maar ook die vreemde gaping in die ringstelsel wat nou die
Cassini-gaping genoem word. Die moedertuig Cassini is met twaalf en die Huygens
ses baie sensitiewe instrumente toegerus om al die belangrike kenmerke van die
Saturnus-sisteem te ondersoek waaraan die ruimtetuie se ontwerpers kon
dink. Verskeie verskillende ondersoeke, altesaam 27, is of word
nog beoog.
Die
massiewe moedertuig het by lansering byna 5.300 kg geweeg, waarvan meer
as die helfte brandstof vir trajekbeheer was. Die massa van die
Huygens-snuffeltuig, wat nou sy laaste rusplek op Titan gevind het, is om en by 350 kg. Die Huygens is genoem na die
voortreflike Nederlandse wetenskaplike Christiaan Huygens, wat Titan in
1655 ontdek het. In 1659 het hy ook aangekondig dat die vreemde
"mane" van Saturnus wat Galileo in 1610 gesien het, in
werklikheid ’n stelsel van ringe om die planeet is. Huygens was boonop
beroemd vir sy uitvinding van die slingeruurwerk, die eerste akkurate
tydmetingstoestel.
Die
Cassini-Huygens
het met ’n groot ompad na Saturnus gereis. Die rede daarvoor is dat
geen bestaande lanseerder soveel krag kon opwek om só ’n groot
vaartuig reguit na die afgeleë Saturnus te lanseer nie. Om die
lang afstand te kon aflê, moes hy genoeg kon versnel—en dié het hy
vermag deur middel van die sogenaamde "slingervel-tegniek"
waardeur hy die swaartekragte van ander planete in die sonnestelsel vir
hom laat werk het. Hy het eers om
die planeet Venus, toe om aarde en toe weer om die planeet Jupiter gaan
swaai.
Geen
wonder hierdie sending word die mees ambisieuse reis in die geskiedenis
van onbemande ruimteverkenning genoem nie.
• Cassini-Huygens
is ’n saamwerkprojek van die Amerikaanse ruimte-agentskap (Nasa), die
Europese ruimte-agentskap en die Italiaanse ruimte-agentskap.

BO: Die Cassini-snuffeltuig
het in die begin van Mei 2005 die mees gedetailleerde beeld nog
van Saturnus se ringstelsel verkry, waarop selfs 'n ring
aangetoon word wat nie deur vorige ruimtesendings opgespoor is
nie. Deur radiogolwe deur die ringe te stuur, kon Cassini die
grootte meet van die ys- en rotsfragmente waaruit die ringe
bestaan. Pers dui streke aan met baie min brokstukkies kleiner
as 5 cm. Groen en blou tinte toon streke met deeltjies kleiner
as 5 cm en 1 cm. Die breë wit band is die digste streek van
ring B, waar twee van die drie radioseine wat uitgestuur is,
geblokkeer geraak het.
Foto's bo en
onder: NASA/JPL
Cassini se vier
jaar lange ruimtesending behels nie net 'n grondige ondersoek na
Saturnus se ringe nie, maar ook na sy talle mane, waarvan Titan
maar een is (weliswaar die grootste een met 'n deursnee van 5150
km). In die loop van 2005 het die ruimtesnuffelaar ook gaan kyk
hoe van die ander mane van naby lyk. LINKS ONDER is die
onreëlmatige Hyperion, wat met sy deursnee van slegs nagenoeg
225 km nogal soos 'n spons lyk. REGS ONDER is die maanlandskap
van Tethys—omtrent
1070 km in deursnee—met die kennelike
vorm van 'n "maan" soos ons eie een.
|

|

|
Maan van lewe?
Die “tier” in die
ys...
REGS: ’n Geweldig
interessante maantjie van Saturnus is Enceladus. Volgens
navorsers van die Cassini-projek kan dit selfs die beste
plek wees om na lewe elders in die sonnestelsel te soek.
Enceladus bevat naamlik
eenvoudige organiese molekules, asook water en hitte,
die bestanddele van lewe. Sy oppervlak bestaan weliswaar
feitlik heeltemal uit waterys, maar die maan kan ’n
kern van gesmelte gesteentes hê met temperature bokant
1.100
grade C.
Enceladus het ’n
atmosfeer en daar is sterk tekens dat die gasse wat die
atmosfeer vorm uit krake in die oppervlak ontsnap, wat
weer daarop dui dat daar bes moontlik vloeibare water
onder die ys is. Die Cassini-span het die krake, wat
naby die suidpool lê, die bynaam “tierstrepe”
gegee. Die strepe is duidelik op hierdie foto te sien.
’n Warm see onder die
ys waarin vreemde lewensvorms voorkom? Dit klink
fantasties, maar wetenskaplikes sluit nie die
moontlikheid uit nie!
• Enceladus, die sesde
grootste maan van Saturnus, het ’n deursnee van sowat 500 km—ongeveer
een sesde die grootte van die aarde se maan. Sy effens
elliptiese wentelbaan is omtrent 238.000 km
ver van sy moederplaneet, op die vlak van die Saturnus
se ewenaar. Dit blyk dat die gasse wat Enceladus
genereer, meestal waterdamp, honderde kilometers ver in
die ruimte uitskiet voordat dit uitsprei om uiteindelik
Saturnus se E-ring te vorm.
Foto: Nasa / JPL /
SSI
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad
|