|
Tooi jou in rooi, my rooibloed-vrou
om
my vir altyd aan jou voete te hou
- HvD, Vir
Tokkie
DIE
BESTE DING
EEN
middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis
op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die
eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto's uithaal en
wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego's te streel nie.
'n
Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en
Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep 'n foto'tjie op
van 'n vrolike skoolmeisie met 'n sonkyn-glimlag. "Pure
kind," is die bevinding. "Maar h'm, 'n oulike kind. Wat sien
sy in 'n vent soos jy?" Min het ek geweet ek kyk op daardie
oomblik na die gesiggie wat oor 'n tydperk van veertig jaar my
foto-albums -- en my lewe! -- sou oorheers. Tokkie van Wyk, gedoop
Gesina Susara, 'n talentvolle Bultfonteinse dogter. Vir haar
weduwee-ma, Marietjie, was die hele dorp lief. Haar broer, Fanie, my
portuur, was op sy dag ‘n uitblinker-sportman.
Die
nimlike Fanie het 'n jaar of drie tevore vriend en vyand verras deur
vir die steratlete van stedelike spogskole weg te hardloop en die
Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word.
Drie van sy atletiekrekords staan nou al 45 jaar ongeskonde by die Hoërskool
Bultfontein. Dis glo die
plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan wat hom sy bene - en
sy kaalvoete! - leer dra
het.
Tokkie
(kort vir Tokkelossie, haar pa, Kotie,
se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my
primariusjaar in standerd nege, 'n kranige pianis met 'n string
Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal,
met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook 'n
doring op die klavier, maar het Kollege se seniors vervreem toe hy --
weens akademiese redes nogal! -- weier om op Lentedag sy koshuis te
gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die destydse treffer Tell
Laura I love her.
Ek
het jare lank met die idee geloop dat Tokkie en Dirk se paaie by die
Bloemfonteinse Kunswedstryd ewe onskuldig gekruis het. Onlangs het sy
my reggehelp: dit was eintlik op 'n piekniek by Maselspoort. Ek sou
eerlik eersgenoemde scenario verkies het.
'n
Kunswedstrydfoto uit daardie era het nietemin 'n buitengewone
geskiedenis. Dit is een van Bultfontein se volkspelegroep van 1961 wat
op Die Volksblad se voorblad
verskyn het. Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar
klassieke wit Voortrekkerok 'n treffende prentjie
-- een wat dadelik
die oog vang van 'n jong koerantleser,
Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy wóú
die meisie op die koerantfoto ontmoet.
Ten
einde raad skryf die beenaf skoolseun (nou iewers 'n mediese dokter)
aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: wie is
hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom?
"U daadwerklike optrede sal waardeer word." Ongelukkig vir
hom, was die skoolhoof 'n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy
uiters bedug!
Toevallig
het Johan ook 'n Kollegeman en 'n Tukkie geword. Hy, ek en Dirk du
Toit was in 1962 saam in die koshuis -- al drie salig onbewus van die
Tokkie-raakpunt in ons lewens. (Ek
sê graag: die beste Kollegeman het gewen. My liewe gade kap terug:
Sy's nie altyd so seker nie.)
Tokkie
het in 1964 na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Dirk was
nou 'n regstudent aan die Vrystaatse Universiteit. Ek was toe
parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. 'n Ouer broer van Dirk, Ben -- ook later 'n regsprofessor, aan die Universiteit van
Zoeloeland -- was my kollega. Ben nooi my een aand na 'n partytjie.
Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende
lywe. Die skamerige
standerd-agt-meisie het intussen 'n sprankelende eerstejaar-student
geword -- 'n meisie om wie die jong manne draai .
'n
Week later was ons eerste afspraak -- 'n middaguitstappie na die
restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. 'n Paar
maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die
parlementêre Paasreses. 'n Jaar later, op haar twintigste verjaardag,
15 Maart 1966, steek ek 'n verloofring aan haar vinger.
Die
besoek aan die Kaap sorg vir die eerste Tokkiefoto in my albums: 'n
stippeltjie in die hoek van 'n kabelkarretjie by Tafelberg. Daarna
volg die foto’s vinnig: verlief, verloof, getroud, moedertjie…
Voor
die Groot Dag -- op 'n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, op haar
tuisdorp Bultfontein -- veroorsaak
'n foto (wat ongelukkig nêrens in 'n album behoue gebly het nie) vir
'n hele opskudding. Ek neem waar as nuusredakteur van Die
Volksblad en stuur die hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om vir
die voorblad 'n foto te gaan neem van 'n paar mooi onderwyseresse wat
na die aanbreek van die vakansie nog puntestate en rapporte
afrond. Dit is al amper te laat toe hy die foto voor my neersit: so
tegnies perfek soos al Lappies se foto's.
Maar
krisis, wie is een van die drie op die foto? Niemand minder nie as die
waarnemende nuusredakteur se verloofde! Daarvoor het ek nie kans
gesien nie -- ek was darem nie meer so voortvarend soos toe ek in 1961
al om die derde uitgawe 'n foto van my destydse droomnooi in Die
Perdeby laat pronk het nie!
'n
Alternatiewe foto van enige betekenis was nie beskikbaar nie. Ek gryp
toe maar een van 'n buitelandse foto-agentskap wat al dae in die
in-mandjie gelê het: twee meisies in sjoebroekies wat op lere staan
en met lang besems 'n olifant se rug was -- ek meen in San Diego se
dieretuin.
Swak
Piketberg! Tussen my en Lappies het harde woorde geval ('n eufemisme)
en Tokkie is streng vermaan: as jy voortaan 'n persfotograaf sien,
maak dat jy wegkom!
Ek
en Willie Kühn, latere redakteur van Beeld
en Huisgenoot, was tot met die huwelik woonstelmaats. Tokkie het
saans kom kuier en kosmaak. Een aand in die kombuis konfronteer sy
Willie met die vraag: "Wat is 'n ballas?"
"Ekskuus?"
Sy
herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. 'n
Seuntjie in haar klas het kom kla 'n maatjie sê sy ballas. Omdat sy
-- o soete onskuld! -- nie
geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte
mette gemaak met 'n besliste: "Ag nee, man, gaan sit."
Willie
het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:
"Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud
is!"
Ewenwel,
die getroud-kom was net enkele maande later. In die N.G. kerk neffens
die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op
verskeie van ons troufoto's. 'n Mens se troudag onthou jy, selfs al is
dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes -- maar gelukkigheid
nie uit bitterheid nie! -- nooit vergeet nie.
Een
herinnering is natuurlik die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te
mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega
Kas Dreyer, soos Lappies 'n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke
pragfoto's verewig.
'n
Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart van
daardie dag, 'n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat
aangegaan is, die beste ding bly wat my in my meer as 60 jaar op aarde
oorgekom het.
Die
derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme -- 'n
trougeskenk van Frank Budd, Zola se vermoorde pa -- en die arme
bruidegom in sy gitswart pak behoorlik opgedreun het. Dan het my
Kollegemaats teenwoordig die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat
sy boude brand – nie die laaste keer dat ek dit in die huwelik
hotagter gekry het nie!
Die
vierde is 'n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot
vandag toe 'n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die
koster, Oom Willie Botes, die
huweliksklokke sou laat lui, was soos 'n dolksteek in die hart. Al die
dokumente vir die huwelik -- so sorgvuldig in 'n hoekie van my koffer
versteek -- het spoorloos
verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van
gebooie en 'n gebooiebrief, waarsonder 'n huwelik nie wettig voltrek
kon word nie.
Gelukkig
is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind -- 'n goeie
man wat later 'n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk)
geword het en van wie daar tot my spyt 'n politieke vervreemding was.
Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die
plegtigheid voort te gaan. Krisis afgeweer!
Ek
dink dit was terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was dat
snippertjies herkenbare papier van nêrens in 'n buurvrou se
agterplaas teen die grensdraad vasgewaai het. Al wat ek kan dink, is
dat iemand van Bultfontein nie wou sien dat die troue voortgaan nie.
In die distrik was boerseuns wat by Tokkie flikkers gegooi het.
In die gemeenskap was waarskynlik goeie, besitlike siele wat hierdie
geliefde dogter uit eie bodem wou beskerm teen die wêreldwyse
koerantman wat dalk anderster waardes kon hê.
Die
egpaar Van Deventer se eersteling, Johannes Cornelius (Johan), is na
amper vyf jaar op 14 September 1971 gebore, dertig jaar na sy pa
(1941), sestig jaar na sy oupa, Johannes Cornelius (1911 – 1946) en
presies ‘n eeu na sy oupagrootjie, Jacob Hendrik (1871 – 1933).
Die nuwe moedertjie bring die baba huis toe in 'n geliefkoosde
tabberdjie: rooi, mouloos en met 'n kort-kort rompie -- een van baie
rooi uitrustings wat deur die jare in die Tokkie-fotoportefeulje
opduik.
Die
laaste, miskien die mees dramatiese rooi uitrusting, was die moeder
van die bruid se gewaad vir ons dogter, Marisa, se huwelik op 30
Desember 2000 met Brent Claassens. 'n Sierlike lang rooi romp is in 'n stadium van die onthaal uitgeskop ten gunste van 'n
selfs nog treffender rooi langbroek.
Ses
maande na Johan se tuiskoms was hy terug in die hospitaal
-- na 'n byna noodlottige diabetiese koma. Drie lange
maande sou hy daar vertoef terwyl die moedelose pediater -- onervare
met die behandeling van 'n baba-diabeet -- sukkel om hom op insulien
te stabiliseer. Op Tokkie, jonk en broos, het 'n brei-tyd gewag soos
sy of ek nooit kon vermoed het nie: vasbyt-jare wat vinnig
volwassenheid en lewenservaring gebring het. Die eise van 'n diabeet
grootmaak, wys gou watter staal 'n mens in jou pype het.
Ma
en seun het 'n unieke tweemanskap geword -- sy is in sy standerd-
ses-jaar selfs saam veldskool toe, en was tot in die eerste jare van
sy werksloopbaan steeds aan haar seun se sy as vennoot en medewerker
in 'n sake-onderneming wat hoë eise gestel het.
Maar
verniet was dit nie: Johan is al oor 30, hy is getroud en selfstandig,
en Tokkie kan tevrede terugkyk op daardie skof in haar lewe. Deur die
jare het sy ook verskeie ander bakens geplant.
Ek
het 'n foto waar sy opkyk na 'n straatnaambord: Tokkiestraat. Daardie
Tokkie is die nimlike sy, nie die Technikon OVS nie! Die plek is
President Swartpark, Bloemfontein. En die vernoeming is ter
herinnering aan haar jare se arbeid as toegewyde en gewilde
organiseerder van Die Volksblad
se uiters geslaagde kunsmark. Die kunsmark wat in 1982 met 'n beskeie
28 uitstallers tot stand gekom het, was gou, volgens mense wat weet,
die grootste en kleurrykste in sy soort in die land. Die eerste
Saterdag van elke maand was dit 'n hoogtepunt op die Rosestad se
sosiale kalender. Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer mense soggens
na Pres. Swartpark gestroom as smiddae na die rugby in die
Vrystaat-stadion!
By
sy vyfde verjaardag – “die grootste verjaarsdagparty wat
Bloemfontein nog gesien het” -- was sowat 700 uitstallers op die
boeke. Uit alle dele van die land het hulle opgeruk, selfs uit Namibië,
Botswana en Lesotho. Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, het dit
ekstaties beskryf as "Fantasties! Pragtig! Wonderlik! "
Tokkie
(en haar man) is vir die stigting en die bedryf daarvan vereer met 'n
oorkonde van die stadsraad en goue medaljes vir
gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse
Publisiteitsvereniging. Die medalje
wou ek in ‘n stadium teruggee nadat die burgemeester Henri
Lerm onsubtiel geskimp het dat ek na die verering gerus ‘n
positiewer gesindheid jeens die stadsraad kan aankweek. Hy is die
middag huilend uit my kantoor.
In
1991 -- kort voor my vertrek na die Kaap -- begin sy 'n
geskenkewinkel in die nuwe Mimosa Mall. In die karaktervolle
klein geskenkparadys met sy straatmark-atmosfeer was van eksklusiewe
koperware van 'n private kopersmid in Gauteng tot hout-artikels uit
Gouna se bos tot egte Russiese matriosjka-houtpoppies uit Rusland. 'n
Getroue klantebasis is gou opgebou. Die afskeid was swaar. Maar
gelukkig vir my was haar keuse darem in my guns: sy sou my Kaap toe
volg -- al was dit eers twee jaar later, 'n feit wat nogal 'n
skindertong of twee aan die klap gesit het. Daar was egter geen
intrige nie. Ons wou eenvoudig nie ons kinders se studies in 'n
kritieke stadium ontwrig nie.
'n
Gunsteling-foto van Tokkie uit resente tye het ek op die omslag gesit
van 'n "geskenkboek en gedenkboek" vir vriende en familie
met my sestigste verjaardag, op 3 Januarie 2001. Dit is 'n foto wat in
ons geliefde winter-wegloopplek, Sabiepark, neffens die
Kruger-wildtuin, op die wandelpad langs die Sabierivier geneem is.
Links staan Tokkie, duim in die lug. 'n Entjie regs van haar steek die
agterstewe van 'n olifant tussen die groen uit -- een van verskeie
grootvoete wat ons al op verskillende afstande daar teengekom het.
Die
onderskrif lui: "Verrassing! Verrassing! 'n Olifant versper
skielik Sabiepark se wandelpad op 'n laatmiddagwandeling. Tokkie lyk
maar net so houtgerus -- 'n mens kan net nie op die foto sien hoe haar
hart bons nie. "
Die
foto het wyd kommentaar uitgelok het. Danie en Esbé Krynauw van
Melkbosstrand het laat weet: "Die foto op die voorblad is
klassiek." Ton Vosloo het kort en kragtig opgemerk: "Tokkie
maak 'n fraai cover girl".
Daan Eksteen het
geskryf: "Die beste is die voorbladfoto. Ek lees wat jy daaroor
skryf, maar Tokkie lyk sprankelend en ek bewonder haar vir die
pragtige pose -- komende van
'n ou wat die grootste agting vir die grootste van die Groot Vyf het.
Ek sou gehardloop het -- soos Theo Greyling ('n oud-kollega) gesê
het – ‘that the dust so stand.’"
Miskien,
Daan, sou dit veiliger gewees het as ons ook liewer gehardloop het
"that the dust so stand". Maar as die adrenalien pomp, vang
jy snaakse dinge aan!
Tokkie
is lief vir diere. Pandora, die huppelende maltesie, is jare gelede
per vliegtuig deur Marisa van Bloemfontein af gestuur om te kom kuier.
Sy kuier steeds -- en word tot in die aarde bederf.
'n Dosyn wit waaierstert-duiwe het hier op Melkbos in ‘n
stadium die voorstoep bemors. Hulle is genadiglik uitgedun. In
Bloemfontein was daar veerpoot-hoendertjies en 'n skilpad. Iewers in
die verlede was daar 'n wit kat, genaamd Strikkies.
In
Sabiepark is sy veral begaan oor die sjarmante nagapies wat elke aand
stiptelik soos 'n Japanse sneltrein (haar beskrywing) of soos
valskermspringertjies (vriendin André Visagie se beskrywing) uit alle
rigtings op die stoep neerdaal vir 'n skemerhappie. Op die dik
dwarsbalk onder die hoë nok van die Bosveldse grasdak is 'n
nagapie-nes waaruit 'n kleintjie van tyd tot tyd tuimel. Dié word
versorg en vertroetel -- met kombersies, donkerte en flentertjies
piesang -- totdat ek al begin wonder het of hulle nie aspres daar van
bo af duik ter wille van die koninklike behandeling nie!
Klein
diertjies -- van duikertjies tot klein seekoeitjies en klein
olifantjies -- ontsluit
in haar hart 'n grenslose moederlikheid.
Diè
sagte kant het ‘n keersy. Sy laat nie met haar sukkel nie. Toe ek in
Bloemfontein weer op ‘n dag my
neus optrek vir ‘n koppie tee, gryp sy die gewraakte twisappel en
werp dit met geweld by die oop kombuisdeur uit – ‘n ware vlieënde
piering! Dit boonop
met die ekstra gewig van ‘n dik porseleinkoppie vol warm Vyf Rose
En met ongewenste "plakkers" wat die suiwerheid van
haar duiwe se bloedlyn bedreig, het sy ook min geduld. Hulle word
summier nek-om gedraai – ‘n bloederige operasie. .
My
vrou kan ook bekwaam prakties wees: 'n ware Gesina Susara. By die huis
is sy die nutsman, wat enigiets kan regdokter. Sy ken elke soort verf
en elke soort vernis vir elke soort behoefte. En langs Sabiepark se
ongesofistikeerde swembadjie het ek haar afgeneem met 'n waardevolle
kontrepsie, eiehandig geprakseer, wat bestaan uit 'n langerige hout en
'n stuk tuinslang. Met die primitiewe Bosveld- kreepy- krauly is die bodem in 'n japtrap silwerskoon.
Al wat nodig is, is dat iemand met 'n harde suig (en 'n sluk
vuil swembadwater in die mond) die proses aan die gang sit -- 'n takie
wat gewoonlik haar “handlanger”
te beurt val.
Hector
Munro het gesê vroue en olifante vergeet nooit 'n onreg nie. Van
olifante het ek nie in hierdie opsig ervaring nie. Maar Tokkie het
inderdaad 'n lang geheue. In 'n dankiebriefie skryf ek onlangs dat ek
'n geskenkie hoog waardeer. Sy herinner my toe wrewelrig aan die keer
jare gelede, toe ek haar 'n briefie laat opskeur het oor presies
dieselfde bewoording. Dit
was in my hoofsubdae toe taalsuiwerheid 'n obsessie was, en ek
onwrikbaar geglo het al wat "waardeer" word, is huise en
plase. Geskenke is toe
net "op prys gestel"!
Sy
hou ook nie op om te verwyt nie dat ek, siniese koerantmens, daarvoor
verantwoordelik is dat spesiale dae soos Moedersdag en Vadersdag in
ons huishouding nie juis met geskenkies en drukkies gevier word nie.
Selfs verjaardae, die so belangrike verjaardae, wil-wil
ongemerk verbyglip. Sy het waarskynlik gelyk dat ek nie die mees
romantiese man op twee bene is nie.
My
foto-albums getuig ook daarvan. Voordat sy in my albums verskyn het,
kan slegs twee ander meisies met veelvoudige verskynings spog. Die een
is Gerdia Neethling, as 't ware in die jaar van my redakteurskap van Die
Perdeby daardie blad se inwonende model. Gerdia is met 'n
Wes-Transvaalse boer, Gert Pretorius, getroud, en het jonk-jonk
treurig verongeluk toe sy op pad na haar huis, naby Lichtenburg, van
Klerksdorp af 'n appel laat val het. Toe sy dit probeer optel, het sy
beheer oor die motor verloor.
Met
die ander een, Marie Burger, was ek op skool gekys en dan weer nie
gekys nie. In 'n stadium was sy selfs my matriek-kamermaat, Wiekie
Moolman, se nooi! Hy het haar in ‘n daad van roerende opoffering
aan my teruggegee. Van haar is daar veral een foto wat nou nog
vir die ou man oulik is.
Sy
sit met 'n seevakansie op Uvongo en skryf vir haar verre geliefde a la
Pat Boone se treffer van destyds
Love letters in the sand.
Marie, ook al 60, is nou 'n mev. Van der Linde, wat in Pretoria se
omgewing vroutjies in fiksheidsklasse laat les opsê - so ver ek weet.
Waarskynlik
die opsienbarendste meisie-foto in my skool-album is een
volkspele-aand gedurende pouse voor mnr. Frans de Klerk se
biologie-laboratorium geneem: ek en 'n nooi wat liewer anoniem sal
bly, in 'n innige omhelsing. Vir dié foto moes ek iets soos 'n
halfkroon (twee sjielings en 'n sikspens of 25 sent in vandag se geld)
uithaal vir Wol Steyn en Blommetjie Viljoen wat, op bestelling, soos
wafferse papparazzi die
flitse laat blits het.
Nee,
heeltemal onromanties is ek darem ook nie. Sal ek dan vergeet hoe 'n
meisie wat in my matriekjaar in standerd agt was, Chrisna Smalberger,
enkele jare gelede by 'n onthaal van die Akademie vir Wetenskap en
Kuns tot die verbasing van albei lewensmaats 'n gedig foutloos begin
voordra wat ek in matriek vir die skooljaarblad uitgetimmer het. Die
titel “Verlange”. Dit
lui soos volg:
|
Vanaand
is 'n aand van verlange,
Dit
klink uit die aandwind se lied.
Dit
straal uit 'n wolklose hemel
Waar
'n eensame ster stil verskiet.
Dit
spoel soos musiek oor die vlaktes,
Deur
die paddas se koor in die vlei;
Ja,
vanaand spreek jou stem weer so helder
En
kom weer jou droombeeld na my.
Vanaand
leef jy weer in my drome;
Ek
sien weer jou oë se blou,
Verruk
deur jou ewige skoonheid
Tot
die hemelse visie verflou.
Helaas,
daardie droom is verganklik
En
sterf weg in die duistere niet.
So
kort en so skoon is sy duurte
Soos
die eensame ster wat verskiet.
Maar
wat baat dit om net te bly hunker,
Jaar
in en jaar uit te verlang?
Ek
sien steeds 'n ster aan die hemel
En
ek hoor nog die aandwind se sang.
|
Bietjie
stroperig. Maar dankie, Chrisna, waar jy ook al is, vir die
herinnering. Deesdae dig
ek egter net vir Tokkie, soos te sien in die versie bo die titel van
hierdie hoofstuk.
(Uit
die boek In Kamera, gepubliseer deur Protea Boekhuis in 2003)
|