Tornados
— die winde van waansin

Die tornado is geen sikloon of orkaan nie. Trouens, dit is baie kleiner, baie meer gelokaliseerd. Maar dit tref die aardoppervlak met ’n wilde waansin soos geen ander windverskynsel op
ons planeet nie...

; Registration code (if you have it) ; Optional URL link when the applet is "clicked". ; Reglink opened in new frame? ; Name of new frame for reglink ; Statusbar message ; Tunnel texture image ; resolution (1-8) ; X start ; Y start ; X aspect ratio ; Y aspect ratio ; Z aspect ratio ; Type of movement (1..8) ; Type of effect (1..2) ; Optional image over applet ; Over image X offset ; Over image Y offset ; Memory deallocation delay ; Task priority (1..10) ; Min. milliseconds/frame for sync Jammer, jou blaaier ondersteun nie Java nie. ; Message for no java browsers.

IN ’n lae, donker wolk begin die vreeslike maling in die lug. 

Dis ’n kolkbeweging soos in die badwater wanneer jy die prop uittrek, net baie groter. Die kolk sak grondwaarts. Dit vorm ’n reuse-tregter met die punt na onder.

 

’n Warrelwind—maar een veel skrikwekkender as die onnutsige wikkelbriesies wat ons ken—tref die aardoppervlak met ’n wilde waansin soos geen ander windverskynsel op ons planeet nie...

 

Tornado... die wind van waansin

 

Foto: NOAA

 

Met ’n grieselrige geblaas, wat al hoe harder en onheilspellender word, verkondig die tornado dat hy in aantog is. (Dit kan ook ’n aanhoudende gerammel soos dié van ’n naby trein wees; die woord tornado kom juis van die Latynse woord tonare, wat beteken “om ’n donderende geluid te maak”.)

 

Die maalkolk word sigbaarder en verdonker. Dit is weens die kondensasie van waterdruppels in die sentrum en omdat berge stof en grond daarin opgesuig word. Bome word soos halmpies omgewaai, sinkplate, planke, struike, heinings, tot motors en ander voertuie verdwyn in die rasende rondomtalie, en histeriese mense wat onverhoeds betrap is, skarrel vergeefs na veiligheid.

                                               

Selfs huise wat in die tornado se pad is, bars soos kaartehuise uitmekaar. Buite is die lugdruk skielik soveel minder as binne-in die wonings dat die dakke en mure uiteenspat om die wanbalans in die drukking te herstel.

 

’n Tornado kan so kragtig wees dat dit, soos al gebeur het, ’n hele spoorwa oplig en ’n ent verder neergooi. Tornado’s kan ook hele damme leeggeslurp en die water met visse en paddas en al elders gaan neersmyt. Dan lyk dit of dit visse of paddas reën—stellig tot groot verbasing van die mense wat dit aanskou.

 

Daar is ook al vertel van tjeks en dokumente wat meer as 150 kilometer gevind is van die plek waar ’n tornado dit geskep het. ’n Amerikaanse "twister" of  dan wel "cyclone" (soos hulle dit foutiewelik noem) het in 1953 weer matrasse so hoog in die lug opgevoer dat hulle met ys bedek is voordat hulle in die hawe van Boston geval het.

 

Oudste tornado-foto, sover bekend REGS: Die oudste foto, sover bekend, wat van ’n tornado geneem is.  Dit was op 28 Augustus 1884, sowat 35 km suidwes van Howard, Suid-Dakota, in die VSA.

 

Foto: Historic NWS Collection / NOAA Photo Library

Die tornado is ’n voorbeeld van die wonderbaarlikste draaibewegings in die natuur, wat dikwels gepaard gaan met ’n haas ongelooflike kragontwikkeling, waarteen die mens magteloos staan. Die natuurgeweld kan van verskeie sekondes tot meer as ’n uur lank voortduur, oor ’n kort afstand of oor etlike kilometers. Die meeste tornado’s duur egter minder as tien minute. Trouens, twee derdes van hulle woed hulself binne minder as drie minute uit.

 

Maar wat die duur ook al is, dit het mense deur alle eeue heen onberekenbare skade berokken en baie lewens geëis. En tog, hoewel ons reeds sedert die vroegste tye met tornado's te kampe het, weet ons steeds nie alles omtrent hul ontstaan en ontwikkeling nie.

 

Waar tornado's ontstaan en hoe hulle van orkane of siklone verskil

 

ONS weet wel dat die tornado aan die donderstorm verwant is. Ons weet ook dat geen ander atmosferiese versteuring op ons planeet so gewelddadig is nie.

 

Om ’n tornado te probeer verstaan, moet ’n mens natuurlik allereers begryp wat wind is. Die lug om ons heen is selde indien ooit heeltemal stil. Dit beweeg feitlik altyd, horisontaal oor die aardoppervlak heen, asook op en af. Bewegende lug word wind genoem, soos almal weet.

 

Maar lug beweeg eintlik om die wanbalans te herstel tussen verskillende gebiede waar daar verskillende hoeveelhede lug is. Omdat die aarde voortdurend om sy as wentel en kol-kol minder of meer deur die son verwarm word, ontstaan daar lugmassas met verskillende digthede. Die lug in ’n lugmassa met groot digtheid (hoë lugdruk) beweeg altyd na ’n gebied met ’n kleiner digtheid (lae druk).

 

Kyk maar na ’n weerkaart. Daarop sal jy dikwels selle van hoë druk (antisiklone) en selle van lae druk (siklone) sien. By ’n laagdrukstelsel kolk die wind rondom die laagdruksentrum, van buite af binnetoe. By ons in die Suidelike Halfrond maal die wind regs om saam met die horlosiewysers, maar net mooi andersom in die Noordelike Halfrond.

 

Dit gebeur baiemaal in die tropiese breedtes dat die drukverskil tussen die kern en die lugmassas aan die buitekant só groot is dat hierdie tropiese siklone of orkane vernietigende windsterktes bereik. Maar só ’n sikloon en die tornado is twee baie verskillende dinge.

 

Tropiese siklone is verskynsels wat oor geweldig groot gebiede kan voorkom. Hulle kan aanvanklik minder as 100 km breed wees, maar dit kan selfs tot 800 km aangroei. Dit gaan gepaard met hewige winde van tot 200 km/h. Verbasend genoeg heers daar ’n rare kalmte in die sentrum van die sikloon—’n betreklik stil en wolklose gebied van tussen 10 en 30 km wat die oog genoem word. Met die wind se besonder vinnige draaibewing word daar naamlik ’n middelpuntvliedende krag in werking gestel wat die lug en wolke na buitentoe uitdruk.  

'n Tropiese sikloon LINKS: 'n Sikloon, ook genoem 
'n orkaan, 'n tifoon of selfs 'n willy-willy,
afhangende van waar op aarde hierdie
enorme maalkolk in die atmosfeer
voorkom. Sulke tropiese siklone kan
honderde kilometers breed wees.
  

REGS: Sikloonvorming is nie
net 'n aardse verskynsel nie.
Hier is een op die
planeet Mars!
 

Mars-sikloon

 

Op sy beurt ontstaan ’n tornado weliswaar ook deurdat lug as gevolg van ’n lae druk in ’n maalbeweging kom, maar die reikwydte is baie, baie kleiner as dié van ’n sikloon. By die tornado ontstaan ’n laagdrukstelsel met ’n gemiddelde deursnee van 1 km, en in ’n toestand van geweldige onstabiliteit word lug van onder af met ’n kolkbeweging in ’n donderwolk ingesuig.

 

Só ’n tornado lyk soos ’n lang, dun, effens geboë tregterpyp.  Dit kan 100 tot 1500 meter hoog strek—van ’n paar meter tot ’n kilometer breed waar dit aan die grond raak.

 

Dit beweeg soos ’n reusagtige slang of draak met die kop omhoog oor die landskap terwyl die lug om die geweldige lae druk in die sentrum daarvan werwel. Die meeste tornado’s—maar nie almal nie—roteer soos die siklone regs om in Suidelike Halfrond en links om in die noorderwêrelde.

 

Tog vertel navorsers dat die windsnelheid in ’n tornado nie naastenby so supersonies sterk is as wat mense voorheen gereken het nie. Die tornado wat in 1990 byna 3000 huise in Welkom verniel het, het byvoorbeeld teen "net" iets meer as 250 km/h in die rondte getol en teen 45 km/h aangeskuifel voordat hy hom in die oop veld uitgewoed het. Tornado’s bly nogtans die vinnigste winde wat daar is. In 1999 het die kragtigste een wat nog ooit opgeteken is, met windsnelhede van tot 512 km/h in die Amerikaanse staat Oklahoma toegeslaan.

 

Plaaslike kenners vertel dat daar eintlik baie meer tornado’s in Suid-Afrika voorkom as dié waarvan ons te hore kom. Dit is omdat ons platteland so yl bevolk is dat baie van hierdie soort storms betreklik ongesiens verbygaan. In die digter bewoonde sentrale deel van die VSA, byvoorbeeld, is dit egter ’n ander storie. Met sowat 700 tornado’s en 120 tornado-sterftes per jaar in daardie gebied is dit geen wonder dat die Amerikaners baie meer bedag op die gevaar is nie.

 

Waterhose bedreig ou seilskip
  

BO: Wanneer ’n tornado oor die see woed, word van ’n waterhoos gepraat, omdat enorme hoeveelhede water daardeur opgesuig word. Op hierdie ou illustrasie uit 1869 verkeer ’n seilskip in groot gevaar as gevolg van veelvuldige waterhose.

 

Uit: “Les Meteores”, Margolle et Zurcher, 3de UItgawe, 1869 Bladsy 126 / Historic NWS Collection / NOAA Photo Library

 

 

Wat jy moet doen in ’n tornado

 

'n TornadoTORNADO’S kan wel in sekere mate voorspel word deur op te let na die besondere weerstoestande wat tot hul vorming kan lei, dog meestal slaan hulle met hul brute venyn uit die bloute toe.

 

Maar waar moet ’n mens dan wegkruip wanneer ’n tornado woed? Die enigste plek wat doodveilig is, is ’n ondergrondse kelder, maar min Suid-Afrikaanse huise het sulke kelders. Daarom raai kenners aan dat ’n mens langs ’n binnemuur onder ’n stewige meubelstuk moet skuiling soek.

 

Só word vertel dat iemand in Amerika op ’n keer onder ’n tafel ingekruip het en dat die hele huis rondom die persoon en die tafel weggestroop is. Toe die tornado bedaar, kon hierdie geluksvoël doodeenvoudig onder die alleenstaande tafel uitkruip.

 

As ’n mens in ’n motor of ander motorvoertuig ry, is jy uiters kwesbaar in só ’n werwelstorm. Hou dadelik stil. Indien jy jou in die oopte bevind, hardloop na laagliggende grond en weg van enige motors, wat dalk oor jou kan rol. Lê plat met jou gesig na onder terwyl jy jou agterkop met jou arms beskerm.

 

En, wanneer die tornado verby is, moet jy onder geen omstandighede in ’n gebou bly wat beskadig is nie. Die hele struktuur kan steeds ineenstort—met rampspoedige gevolge.  

 

 
 

BO: Die verwoestingswerk van ’n tornado:
vernielde geboue en kaal-
gestroopte bome.

 

Argieffoto deur Steve Nicklas, NOS, NGS / NOAA
Photo Library


   Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad