LASKA
is bekend vir sy koue,
gletsers, ysberge en baie sneeu. Dit is ’n land waar
die son soms nooit ondergaan nie en in die winter
glad nie sy gesig wys nie. Baie min mense weet dat
daar op die kusstrook van hierdie einste koue Alaska
’n digte reenwoud is. Hierdie reënwoud bedek
ook die honderde eilande wat langs die kus lê. Dit
beteken dat daar baie water, bome en digte bosse in
die woud is.
Sommige van die bome is honderde jare oud. Die
sederboom kan tot duisend jaar oud word. In hierdie
woud woon daar bere, takbokkies, wolwe, voëls en
natuurlik baie visse in die strome. Daar woon ook al
baie eeue lank mense in hierdie woud.
Die mense, of Indiane soos
hulle soms ook genoem word, bou hulle dorpies langs
die riviermondings waar dit maklik is om vis te
vang. Hierdie mense is bekend daarvoor dat hulle
baie kunstig is. Die bewys daarvan is orals in die
woud te sien. Deel van hulle kultuur is die
buitengewone totempale wat hulle op verskeie plekke
oprig.
Totempale lyk
na regte skrikmaakgoed. Hulle lyk vreemd,
geheimenisvol en bo alles, onverstaanbaar.

BO: Genoeg om enige niksvermoedende besoeker
die skrik van sy lewe te gee.
Ek kan my goed
voorstel dat die eerste Westerlinge wat hier in
Suidoos-Alaska voet aan wal gesit het, hulle boeglam
moet geskrik het toe hulle vir die eerste keer ’n
totempaal deur die digte bosse sien loer het. Vir
die Westerse oog lyk die diere wat op die pale
uitgekerf is na drogbeelde wat vir hulle grynslag.
Mens kry sommer allerhande gedagtes van bose geeste
en ander bonatuurlike magte. Dit is dan ook geen
wonder dat die eerste sendelinge wat hier aangekom
het, dadelik begin het om die totempale te vernietig
nie. Die waarheid is egter dat totempale nie soos
afgode aanbid word nie.
Totempale speel ’n
belangrike rol in die kulturele en geestelike lewe
van die Indiane en word met die nodige respek en
eerbied behandel. Dit is deel van hulle kosbare
kultuurskatte. Totempale is eintlik
bobaas-storievertellers. Hulle vertel interessante
verhale van die dade van mense en diere en verbind
die mense aan hulle verlede. Dit is ʼn manier om
kontak te behou met belangrike gebeurtenisse en
persone in hulle verlede. Totempale word gewoonlik
voor belangrike mense se huise en geboue opgerig.
Hierdie gebruik het gelukkig herleef.

BO:
Totempale... die ou gebruik het soos ’n feniks uit
die as herrys.
Die opening van ʼn nuwe
gebou, soos byvoorbeeld ʼn kliniek, word gevier met
die oprigting van ʼn totempaal voor die gebou. Die
oprigting van ʼn totempaal is ’n waardige gebeurtenis
wat met feesvieringe gepaard gaan.
Vir die maak van totempale
word ’n mooi sederboom, wat volop in die reënwoud
van Alaska is, afgekap. Hierdie kaal boomstompe word
nou met kunstige hande omskep in van die mees
besondere verskynsels wat in die woude van Alaska
gesien kan word. Dit kunstenaar begin nie sommer na
willekeur figure uitkerf nie, o nee, daar moet eers
bepaal word presies wat die gedenkpaal aan die
verbygangers gaan vertel. Dan word die belangrikste
karakters se posisie op die totempaal vasgestel. Die
belangrikste figuur in die verhaal word gewoonlik
heel bo-op die totempaal geplaas.
In die hande van die kunstenaar word enige voorwerp
die verlengstuk van sy vingers wat die uitvloeisel
van sy innerlike oog vir ander sigbaar te maak. Hy
tel ’n skerppuntige klip op en maak van hom ’n
beitel en met die skerp punte van die takbokhoring
kerf hy mooi en fyn gelaatstrekke. Selfs ’n skulp
het plek in die gereedskapkis. Ook ’n gebreekte stuk
been sny mooi en fraai in die hout. Die natuur
voorsien natuurlik ook op onverwagte wyse, mits jou
oog die praktiese dinge in die natuur raaksien. Kyk
net na die Amerikaanse bewer met daardie twee
voortreflike tande waarmee hy sommer in ’n japtrap
’n groot boom kan plattrek. Hierdie tande maak
voortreflike beitels vir houtsneewerk. (Die arme
bewer moet sy hele lewe aanhou met kou om sy tande
binne perke te hou. ’n Bewer se tande hou aan met
groei en as hy nie aanhoudend knaag nie, gaan hy
naderhand oor sy eie tande struikel.) ’n Sielvolle
kunstenaar het altyd ’n oog van hoe die natuur te
werk gaan en boots dit dan na.
Nadat die houtsneewerk
voltooi is, wat vir ʼn 18meter-paal vyf tot ses
maande kan duur, word die gesigte op die paal in
helder kleure geverf. Die kleure wat meestal gebruik
word, is swart, rooi, bruin en blou-groen. Voordat
mense verf in die winkels kon koop, het hulle hul
eie kleure gemeng. Die verfmengsels was houtskool,
koperoksied, ysteroksied en kwikoksied wat met
salmeiers, seewater en die gal van robbe gemeng is
om verf te maak. Al hierdie kleurstowwe is in die
natuur beskikbaar. Die eindproduk was ’n
helderkleure kunstige houtsneewerk wat sommer ’n
lekker storie kon vertel.
Die storie wat die
totempaal vertel, hang af van die geleentheid
waarvoor dit gemaak is. ʼn Totempaal voor iemand se
huis vertel dat daar ʼn belangrike persoon woon. Dit
vertel iets van die familie se afkoms, waar hulle
vandaan kom, asook tot watter stam en familiegroep
hulle behoort. Dit is nes ʼn familiewapen waarop die
mense baie trots is.
Ander totempale vertel weer
stories oor troues, groot gebeurtenisse, moord en
ander gebeure. Baie interessante totempale is die
skandepale. Wanneer iemand ’n onreg gepleeg het, nie
sy woord gehou het nie, of nie sy skuld betaal nie,
word daar ’n totempaal opgerig om aan die hele
wêreld te vertel dat die persoon ’n skandemaker is.
Totempale met dierebeelde daarop vertel sommer baie
mooi stories. Diere speel ’n baie belangrike rol in
hierdie Indiane se lewens. So word vertel dat die
Raaf, wat maar familie van die ou swart kraai is,
die hele wêreld gemaak het. Raaf was ook ’n opperste
karnallie. Daar word vertel dat Raaf sy stem en
gedaante kan verander om soos mense of ander diere
te klink en te lyk. So het hy al menige mens en dier
gefop en uit iets waardevols gekul. Raaf is sommer
baie gewild op totempale.

BO: Grou
gedaantes strak en braaf...
en bo-oor alles troon die Raaf.
Totempale is ook gebruik
soos grafstene wat die afgestorwene uitbeeld en
vereer.
Dit is nie so maklik om die
storie vanaf ’n totempaal te lees en te verstaan
nie. Met die verloop van jare het baie van die
Indiane se taal en kultuur verlore geraak en daar is
maar min mense wat nog die oorspronklike tale ken.
Gelukkig word daar nou baie moeite gedoen om die
saak weer reg te stel, maar ongelukkig is baie van
die mooi verhale nou vir ewig verlore. Gelukkig kan
sommige beelde op die pale nog ontsyfer word en
vasgestel word wat dit beteken.
Met ’n volgende aflewering
sal ons na foto’s van sommige van die meer bekende
totempale kyk en probeer lees wat hulle aan ons wil
vertel.
© Freddie
Burger
Bibliografie
Garfield, V. E. & Forrest, L. A., 1961. The raven
and the wolf. Totempoles of Southeastern Alaska.
Seattle: Seattle University Press.
Kramer, P., 2004. Alaska’s totem poles.
Portland: Alaska Northwest Books.
|