|
|
||
|
Skrikdag
van die reuse-golf Op Sondag 26 Desember 2004, om 0100 Greenwich-tyd, tref ’n aardbeweging wat 8,9 op die seismiese skaal registreer, die seebodem naby Aceh in Noord-Indonesië. Enorme tsoenami-golwe word deur die skudding in die see opgewek wat meedoënloos afrol op die kuste van Indonesië, Maleisiê, Thailand, Myanmar, Indië, Sri Lanka, die Maledive en selfs Somalië. Die gevolg is een van die heel grootste natuurrampe wat die moderne mens nog beleef het...
Foto: NOAA |
||
IE verskriklike tsoenami-ramp sal
stellig nog geslagte lank onthou word. Soveel duisende mense is verswelg deur die see wat
op 26 Desember 2004 die laagliggende dele van lande en eilande in die
Indiese Oseaan oorstroom het, dat die wêreld vandag steeds steier om die
omvang van die ontsettende ramp te verwerk. Dit kan boonop jare duur
voordat die haas onbeskryflike skade herstel is. Wat egter verstommend is, is dat so
min diere na verhouding in die katastrofe omgekom het. In
Sri Lanka, byvoorbeeld, het die water tot 3,5 km ver die land ingerol na
die eiland se grootste wildtuin. Baie toeriste het verdrink, maar dit
lyk of die wilde diere met hul uitstekende gehoor die vloed uit die
verte hoor aankom en in veiligheid na hoër liggende grond gevlug het.
Hulle kon dalk ook die vibrasie en veranderings in die lugdruk
waargeneem en laat spaander het. Of
het diere dalk ’n sesde sintuig wat die mens nie het nie? Daar is geen
wetenskaplike getuienis wat dit kan staaf nie, maar as dit blyk dat
diere werklik die aantog van tsoenami’s kan aanvoel—op
watter manier ook al—kan
hulle dalk in die toekoms ingespan word om mense vroegtydig daarteen te
waarsku.
GETYGOLWE
is ’n woord wat veral voorheen gebruik is om sulke buitengewoon groot
seegolwe te beskryf wat oor die land spoel. Hoewel daar eenmaal gedink
is dat hulle deur gety-aksie veroorsaak word (vandaar die naam), weet
ons vandag dat getye geen rol in hul vorming speel nie. Getye
word veroorsaak deurdat die maan sowel as die son die aarde aantrek en
sy waters onophoudelik in beroering bring... rusteloos heen en weer
tussen eb en vloed. Dit gebeur namate die son en maan met ons
aswenteling nou diékant en dan weer anderkant ons planeet is en die see
laat uitswel en terugtrek. Maar vloedgolwe is iets heeltemal anders. Daar is
twee soorte vloedgolwe—stormgolwe en
tsoenami’s. Tsoenami kom van
die Japanse woorde tsoe (hawe) en nami (golf), dus letterlik ’n golf
wat ’n hawe tref. Dit is weens die verwoestende uitwerking wat hierdie
golwe op Japanse kusgemeenskappe in laagliggende gebiede het. ’n
Stormgolf word deur hewige windstorms, soos orkane of siklone, opgeklits
en daar is gewoonlik slegs een golf. ’n Tsoenami bestaan op sy beurt
gewoonlik uit baie lang golwe wat mekaar opvolg. Tsoenami’s word deur
aardbewings onder die see of aan die kus veroorsaak, asook deur
vulkaniese uitbarstings, grondstortings en selfs deur ruimtelike
voorwerpe soos groot meteoriete. Tsoenami’s wat deur ondersese
aardbewings opgewek word, word ook seismiese seegolwe genoem. Stormgolwe
is die gevaarlikste naby die sentrum van die storm. Tsoenami’s, wat
snelhede van tot sowat 800 km/h haal wanneer hulle oor diep water
voortrol, kan dood en verwoesting duisende kilometers ver van hul
beginpunt saai. DIe golwe in die seewater beweeg in alle rigtings van die plek af waar die steuring plaasgevind het. Dit is baie soos die uitkringende rimpels wat jy op ’n dam sien nadat jy 'n klip in die dam gegooi het. By tsoenami’s word van die reeks golwe as 'n "golftrein" gepraat. Sodra ’n stormgolf of ’n tsoenami ’n vlakwatergebied tref, word sy snelheid baie minder, waardeur die water hoog opstyg voordat dit die kusland met woeste geweld oorstroom. Stormgolwe is dikwels ses of meer meter hoog. Tsoenami’s,
daarenteen, wat slegs ’n halwe meter (of ietwat meer of
minder) hoog is wanneer hulle oor diep water beweeg, kan dertig meter of
hoër word wanneer hulle op ’n weerlose eiland of kusgebied afrol.
Trouens, die hoogste vloedgolf wat nog ooit gemeet is --
sewentig meter -- was in 1964 in die Golf van Alaska. Wat so merkwaardig is, is dat daar dikwels op die oop see weinig van die tsoenami’s te sien is, totdat die magtige hoeveelhede van voorstuwende energie hulle in die reuse-golwe ontlaai wanneer hulle die vlak water bereik. Wat meer sê, die einste term tsoenami is glo bedink deur Japanse vissers wat van hul visvangtogte teruggekeer het na tonele van verwoesting aan die kus -- terwyl hulle self glad nie die golwe gewaar het terwyl hulle op die see rondgevaar het nie. DIE meeste
tsoenami’s ontstaan langs die sogenoemde Kring van Vuur, ’n 32.500
km lange strook van vukane en seismiese aktiwiteit wat die Stille Oseaan
omkring. Die
seebodem sak ondertoe in waar die "aarde skeur" -- en die
onstuimige woelinge weens die verplaaste water wat daarna streef om sy
ekwilibrium te herwin, veroorsaak die tsoenami’s. Om dit beter te begryp moet ’n mens jou die aarde voorstel as groot, plat rotsplate, kilometers dik, wat rus op ’n dik, warm massa wat soos ’n waterstroom vloei. Vastelande, stede, dorpe en mense beweeg saam met die plate, maar jy merk niks op nie, omdat die beweging so ontsettend stadig is. Waar plate mekaar ontmoet, bots hulle of skuur hulle teenmekaar. Die kant van die een plaat kan dalk onder die ander een inskuif, of hulle kan van mekaar af wegskuif. Die krake in die aardkors waar plate bymekaarkom, word deur die geleerdes "breuke" (Engels "faults") genoem.
Wat
in der waarheid by ’n
aardbewing gebeur, is dat die aarde ’n tyd lank die spanning en
samepersing weerstaan wat deur die bewegings binne-in hom uitgeoefen
word. Dit is omdat die aardkors wel in sekere mate rekbaar is. Maar dan
bereik dit die punt waar dit nie meer verder rek of plooi nie en skielik
breek, of waar die verskillende dele meteens oormekaar skuif. Op
land is die gevolge skrikwekkend genoeg as die skudding beboude gebiede
tref, maar die skade is meer gelokaliseerd en so ál met die breuk
langs. In die see kan tsoenami’s egter verskikking saai honderde of
selfs duisende kilometers ver van die plek waar die aarde gebewe het.
Vloedgolwe het dan ook in die
geskiedenis groot skade en baie sterftes veroorsaak. Die stad Lissabon
in Portugal is in 1755 byna deur ’n tsoenami verwoes. In 1896 het ’n
golf van meer as sewe verdiepings hoog sowat 26.000
mense langs Sanrikoe, Japan, gedood. En in 1883 is meer as 30.000
mense in Java die ewigheid ingestuur deur ’n tsoenami wat deur ’n
vulkaniese uitbarsting veroorsaak is. |
||