|
’n Laslappie van Mieliestronk |
TERMOSFLES:Die
verhaal van gebottelde hitte (of
koue)
IN
1904 is ’n prys uitgeloof om ’n geskikte naam te kry vir ’n
wonderlike nuwe uitvindsel—die vakuumfles. Die weninskrywing was termosfles,
na die Griekse woord threm, wat warm beteken. Só ’n termosfles
kan vloeistowwe etlike ure lank warm (of koud) hou.
Wetenskaplikes
het lankal reeds geweet hittegeleiding kan nie deur ’n lugleegte of
vakuum plaasvind nie, maar dit het steeds ’n onoorkomelike probleem
gebly om ’n vakuumhouer uit glas te maak. Teen die laat 1800’s het
mense egter die wetenskap en werktegniek van glas begin begryp en het dit
moontlik geword om glasgereedskap volgens voorskrif te maak. James
Dewar, ’n dosent aan die Royal Institution in Londen, het na ’n manier
gesoek om gasse te bewaar wat geweldig afgekoel en sodoende tot
vloeistowwe verdig is. Die beste manier om dit te doen, het hy gereken, is
om die houer met ’n lugleegte te omring sodat hitte nie deur konveksie
van buite af oorgedra kan word nie.
Deur
die fles voorts van glas te maak, wat ’n swak geleier van hitte is, kan
geleiding tot ’n absolute minimum beperk word. Toe die houer voltooi
was, het Dewar die lug tussen die twee glaslae verwyder om ’n vakuum te
skep. Sy vervloeide gas, het hy verheug opgemerk, het koud gebly. Hoewel
Dewar se vakuumfles ontwerp is om sy inhoud koud te hou, het die
omgekeerde ewe goed gewerk: warm vloeistowwe het warm gebly deurdat minder
hitte van binne ontsnap het. Dewar
het egter nooit sy uitvindsel gepatenteer nie. Dit was einste die Duitse
glasblaser Reinhold Burger en sy vennoot Albert Aschenbrenner wat besluit
het om Dewar se fles te bemark. Omdat Dewar nagelaat het om self die fles
se patentregte te bekom, kon hy niks daaromtrent doen nie.
Ná ’n paar veranderinge aan die oorspronklike ontwerp, het Burger en Aschenbrenner saam met Gustav von Paalen die firma Thermos Gmb. gestig en vakuumflesse begin vervaardig. Burger en Aschenbrenner het egter eers ’n kompetisie gehou om ’n naam vir Dewar se toestel te vind. ’n Inwoner van München het die naam thermos voorgestel, wat soos gesê van die Griekse woord threm afgelei is.
Die vakuumflesse is aanvanklik aan laboratoriums en hospitale gelewer vir die berging van chemikalieë en medisyne, maar spoedig het hulle in private huise beland waar hulle tee, koffie en sop warm en koeldranke koud gehou het. Die
termosfles was saam met Ernest Shackleton na Antarktika (1908) en later
ook saam met Edmund Hilary op Everest (1953). Brittanje het darem Dewar se
bydrae tot die wêreld van fisika en chemie erken deur hom in 1904 tot
ridder te slaan.
|