|
Die
tien plae van Ou Egipte
IE
onderstaande opsomming van die tien plae van Egipte is gegrond op die
vertelling daaroor in Exodus in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel...
REGS
BO: Die kop van die kolossale standbeeld van die farao Ramses II by
Luxor, soos dit in 1896 gefotografeer is, maar hier op ’n ander
agtergrond geplaas is. Daar word gemeen dat Ramses II die farao was wat
in die Bybelboek Exodus genoem word.
REGS:
’n Voorstelling van Egipte as geknelde land in die tyd toe die farao
halsstarrig geweier het dat die Israeliete daarvandaan wegtrek...
en vir sy koppigheid met tien plae gestraf is.
•
Die eerste plaag (Exodus 7:14-24):
Water verander in bloed: Al die water van Egipte, van die Nylrivier tot al kanale, riviere,
moerasse en damme, selfs die water in die hout- en klipbakke, verander in
bloed. Die vis in die Nyl vrek en die rivier se water stink só dat die
Egiptenaars dit nie kan drink nie.
REGS:
Hoe die Nyl miskien uit die ruimte sou gelyk het as dit vandag in bloed
sou verander het.
Foto: NASA (ietwat gewysig)
•
Die tweede plaag
(Exodus 8:1-15):
Paddas: Egipte is oortrek van die
paddas—die Nyl wemel van hulle en hulle kom voor in die kanale, riviere en
moerasse. Hulle kom selfs in huise in en hulle spring op mense. En nadat
hulle gevrek het, word hulle in hope bymekaargehark, en die land stink
daarvan.
•
Die derde plaag
(Exodus 8:16-19):
Muggies: Muggies kom oor die
hele Egipte voor en mens en dier is oortrek van hulle.
LINKS:
Muggies oral... en hulle pla mens en dier. |
•
Die vierde plaag (Exodus 8:20-32):
Steekvlieë: In die huise van
die Egiptenaars en ook op hul lande swerm dit só van die steekvlieë dat
die land daardeur lam gelê word.
•
Die vyfde plaag
(Exodus 9:1-7):
Pes onder die vee: ’n Baie swaar pes
breek onder die vee van die Egiptenaars uit—onder hul perde, donkies,
kamele, beeste en kleinvee—maar geen enkele stuk vee van die Israeliete
vrek nie.
•
Die sesde plaag (Exodus 9:8-12):
Etterende swere: Roet wat
uit ’n oond geskep is, word deur Moses in die lug opgegooi—waarna dit ’n
fyn poeier word wat regoor Egipte etterende swere op mens en dier
veroorsaak.
•
Die sewende plaag (Exodus 9:13-35):
Hael: Hael tref die hele
Egipte, dit tref alles wat buite is, mens sowel as dier. Die plante word ook deur
die hael weggeslaan en die bome is in repe. Net in die Gosenstreek, waar
die Israeliete is, is daar nie hael nie.
REGS:
Hael tref mens en dier wat in die oopte is en slaan die plante weg.
•
Die agtste plaag (Exodus 10:1-20):
Sprinkane: ’n Oostewind
bring sprinkane aan wat die land só bedek dat ’n mens die grond nie kan
sien nie. Hulle vreet elke groenigheidjie af wat oorgebly het ná die
hael, selfs dié van elke boom wat weer uitgeloop het.
•
Die negende plaag (Exodus 10:21-29):
Duisternis: Drie dae lank is dit pikdonker
oor die hele Egipte, maar in al die woongebiede van die Israeliete is
daar lig.
•
Die tiende plaag (Exodus 11:1-10, 12:1-42):
Die dood van die eersgeborenes:
Die eersgeborenes in Egipte sterf—van die eersgeborene van die farao tot
by die eersgeborene van die slavin wat koring maal, en selfs al die
eerstelinge van die diere—maar onder die Israeliete word geen mens of
dier deur die plaag getref nie (“die paasfees van die Here”). Farao laat
toe dat die Israeliete trek. Hul lang trek in die woestyn begin.
|