|
TUGELA-VAAL:
’n Vindingryke skema van die eerste water!
Twee van die grootste siviele-ingenieursprojekte in Suidelike Afrika, die Tugela-Vaal-skema en die
Lesotho-Hoogland-waterprojek, het ten doel om waardevolle water uit die Drakensberg-gebied
te voorsien aan Gauteng, die ekonomiese reus van Suid-Afrika. Oor die Lesotho-projek word elders op die Mieliestronk-werf vertel. Hieronder kom die Tugela-Vaal-skema kortliks onder die loep...
Hoofbron: Rand Water
IN die vroeë 1960’s het kenners tot die gevolgtrekking gekom dat die Vaaldam nie genoeg
water aan Gauteng sou kon bly voorsien nie. Dit het tot die ontwikkeling van die
Tugela-Vaal-waterskema gelei, wat in 1974 voltooi is.
Hierdie skema verskaf steeds waardevolle water aan Gauteng, die Provinsie van Goud en
bruisende slagaar in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die watervoorsiening word deur middel van ’n reeks damme, kanale en pypleidings gedoen.
Die Tugelarivier (ook bekend as Thukela) is die grootste rivier in KwaZulu-Natal. Die rivier
ontspring in die Drakensberg by Mont-aux-Sources en kronkel 520 km in ’n oos-suidoostelike rigting regdeur die middel van KwaZulu-Natal om in die Indiese Oseaan
uit te mond.
REGS:
Die Tugela.
Foto:
Walter Knirr © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Die Vaaldam se vernaamste voedingsbron is vanselfsprekend die Vaalrivier, wat ook in die
Drakensberg ontspring, maar min of meer in ’n teenoorgestelde rigting vloei om hom later
by die Oranje aan te sluit wat in die Atlantiese Oseaan uitmond.
Om gereeld ’n sekere hoeveelheid water uit die Tugela in die Vaaldam te kry, sou dus die
sorgvuldigste beplanning verg—omdat dit as ’t ware sou beteken dat die Drakensberg
gepypkan sou moes word!
Uiteindelik is daarin geslaag en die skema behels die volgende:
• Die Tugelarivier vloei in die Woodstockdam en dan in die Driel-barrage verder stroom af.
• ’n Sekere hoeveelheid water word van die Driel-barrage in kanale ingepomp, wat dan deur
middel van swaartekrag in die Kilburndam vloei.
• Water van die Kilburndam word vervolgens ondergronds oor die Drakensberg en tot in die
Driekloofdam gepomp. Hierdie deel van die skema word gebruik om elektrisiteit op te wek.
Eskom het ’n hidroëlektriese kragsentrale in die Drakensberg gebou wat die
Drakensberg-pompopgaarskema genoem word. Wanneer elektrisiteit benodig word, word
water toegelaat om deur hidroëlektriese turbines uit die Driekloofdam in die Kilburndam in te
vloei. Sodra die vraag na krag afgeneem het, word die water uit die Kilburndam in die
Driekloofdam teruggepomp.
• Wanneer die Driekloofdam vol is, vloei water oor ’n stuwal en in die Sterkfonteindam, waar
dit opgegaar word. Die Sterkfonteindam beslaan ’n oppervlakte van 67 vk. km, is 93 meter
diep en het ’n totale opgaarkapasiteit van 2,62 biljoen kubieke meter.
• Sodra water in die Vaalrivierstelsel benodig word, word water uit die Sterkfonteindam in
die Nuwejaarspruit vrygelaat, wat dan in die Wilgerivier vloei en vervolgens tot in die
Vaaldam.
’n Vindingryke skema van die eerste water!

BO:
Sterkfonteindam.
Foto
van Department van Waterwese en Bosbou (Engelse akroniem DWAF) by
http://www.dwaf.gov.za/orange/Vaal/sterkfon.htm
Naskrif: ’n Nuwe voorgestelde skema van R5 biljoen, die sogenaamde Thukela-waterprojek
(TWP), om bykomende water uit die Tugela in die Vaalrivier te kry, is in 2004 vir eers op die
lange baan geskuif deur die Department van Waterwese en Bosbou. Dit was nadat bereken
is dat nog water in die Vaalrivier se voorsieningsgebied nie voor omstreeks 2020 nodig sal
wees nie. Die TWP sou behels dat nog water deur die bestaande Drakensberg-pompopgaarskema tot in die Sterkfonteindam gelei word, van die
voorgestelde Janadam in die Tugela en Mielietuindam in die Boesmansrivier.
|