|
Wat weet ons werklik van die mistieke vierde dimensie?
Dis interessant om tyd só met kameras te kan
“bevries” soos jy moontlik ook al op soortgelyke hoësnelheidsfoto’s gesien het.
Goed, maar eintlik is dit totaal onsinnig om enigsins van
bevrore tyd te praat. Dit is in werklikheid net so vergesog as om, sê, lengte te
bevries sodat net breedte en hoogte oorbly!
Vir die geniale
Duits-Joodse fisikus
Albert Einstein
(1879-1955) was dit so
duidelik soos daglig. Toe aan hom gevra is om in ’n paar woorde die
wese van sy beroemde Relatiwiteitsteorie uiteen te sit sodat almal
dit kan verstaan, het Einstein só geantwoord:
Skrywers van wetenskapsverhale kan natuurlik op wonderlike maniere voortborduur op hierdie “verjongingskuur” wat reisigers in die buitenste ruimte ondervind. Soos in een verhaal waarin iemand na die verre sterre reis—net om jonk genoeg na die aarde terug te keer om met ’n nasaat van sy tweelingbroer te trou. Die vreemdheid van Einstein se waarneming van die heelal raak vir ons gewone sterflinge des te vreemder as dit kom by hoe ruimte en tydruimte gebuig word. Ruimte en tydruimte is naamlik nie rigiede arenas waarin gebeurtenisse plaasvind nie. Hulle het vorm en struktuur wat deur die materie en energie van die heelal beïnvloed word. Materie en energie vertel aan ruimte en tydruimte hoe om te buig. Ruimte vertel aan materie hoe om te beweeg.
Illustrasie: NASA Die voorafgaande sal bepaald vir die meeste mense nie net na Grieks of Hebreeus klink nie, maar dalk selfs na die obskuurste dialek van ’n verlore stam in Buite-Mongolië! Gelukkig hoef selfs baie geleerdes nie Einstein se presiese gedagterigtings te snap nie, maar is dit dikwels net nodig om die bewese resultate van sy werk te aanvaar. Maar hoe is dan gesteld met die tydsbegrip van die mens? Hoe het dit deur die lange eeue ontwikkel Die mense van die gryse verlede het vanselfsprekend nooit oor tyd gedink soos ons daaraan vandag daaraan dink nie. Hulle het bloot geweet van dag en nag, somer en winter, die verskillende fases van die maan, wat mekaar binne die bestek van die tyd in ’n ordelike reëlmaat afgewissel het. En mettertyd
het hulle dit uiteindelik nodig gevind om tydsverloop te begin meet.
Dalk
was dit om te bepaal hoe lank iemand werk en hoe lank daar gerus kan
word...
Die primitiefste tydmeter was bloot ’n
stomp, stok of dalk langwerpige klip wat in die grond gesteek is om
na die stand van sy skaduwee te kyk.
Regdeur die grootste deel van die Middeleeue is die dag in twee dele
verdeel—twaalf uur daglig en twaalf uur van donkerte. Die lengte
van die ure het met die seisoene gewissel, en ’n nagtelike uur was
kort in die somer, maar lank in die winter.
• Meganiese horlosies soos ons dit ken, dateer uit die veertiende eeu, en die meeste van sulke vroeë horlosies is in torings ingebou. Ene Henry de Vick het, sover bekend, die eerste meganiese horlosie gemaak toe hy in 1360 deur die Franse koning na Parys ontbied is om ’n toringhorlosie vir die koninklike paleis te verskaf (tans die Palais de Justice). Daar is vertel dat daardie horlosie net een wyser gehad het en dat die gelui van ’n klok aangedui het watter uur dit was. Dit het met vallende gewigte gewerk. Foto: U.S. Department of Commerce
(gewysig) |
||||||
|
Tydsones van die wêreld Die kaart hier onder, van ’n webwerf van die Amerikaanse regeringsliggaam National Institute of Standards and Technology (NIST), toon die verskillende tydsones op aarde aan. Dagligbesparing (of somertyd) is tyd soos in sommige lande bepaal word, waar die horlosies ’n uur in die lente en somer verstel word om saans kunslig te bespaar. |
||||||

| WAAR die eerste uurwerke maar beroerde tydhouers was, het hulle
deur die jare so verbeter dat ons in die afgelope dekades akkurate atoomhorlosies
gekry het
wat slegs een sekonde*) in dertig eeue sal verloor. Sulke horlosies
het wetenskaplikes in staat gestel om ’n ou vermoede te staaf: dat
die aarde se daaglikse omwentelingstyd nie aldag doodsekuur 24 uur
is nie. Die gevolg is dat die atoomhorlosie by die Internasionale Tydburo in Parys, wat noukeurige tydberekening by ander sterrewagte koördineer, af en toe reggestel word deur ’n skrikkel-sekonde by te las en die wêreld weer in die pas te bring. My tyd, sou ’n mens kon uitroep, dat selfs verlore sekondes al belangrik geword het! Maar nog is het einde niet. Die een
ontwikkeling het tot die ander gelei en NIST-F1, die Amerikaanse
standaard-atoomhorlosie, is glo vandag so akkuraat dat dit oor ’n
tydperk van dertig miljoen jaar geen enkele sekonde sal wen of
verloor nie. _______________ *)
Reeds in 1967 is ’n
sekonde amptelik gedefinieer as 9.192.631.770
vibrasies van die sesium-atoom. Voorheen is tyd deur middel van die
beweging van hemelliggame gedefinieer.
Krediet: U.S. National Institute of Standards and Technology (NIST) |