|
’n
Skooltaak van Divan, ’n vurige Mieliestronk-aanhanger!
My mikroskopiese ondersoek van die
epidermis-selle
van ’n ui

BO: ’n Oopgesnyde ui, soos dié
waarvan ek die selle mikroskopies ondersoek het.
Foto: GSFC / NASA

BO: ’n Samegestelde ligmikroskoop en sy dele.
Die doel van my eksperiment:
Ek wou die bou van’n
plantsel—in hierdie geval die epidermis-sel van ’n ui—met behulp van
’n ligmikroskoop bekyk.
Die metode wat ek gevolg het:
-
Ek het ’n ui
geneem en die droë buitevel daarvan afgeskil, waarna ek die ui
met ’n mes in kwarte verdeel het.
-
Vervolgens het ek een
van die vlesige skubblare aan die binnekant van die ui geneem en
’n vierkantjie van ’n halwe sentimeter daaruit gesny.
-
Ek het ’n
ontleedtangetjie geneem en daarmee die dun vliesie aan die
binnekant (die kant wat hol is) van die vierkantjie afgetrek.
Hierdie vliesie was ’n lagie epidermis-selle van die bol van die
uieplant.
-
Hierna het ek die
lagie selle mooi uitgespreid op ’n skoon voorwerpglasie geplaas.
-
My monteervloeistof
was ’n jodiumoplossing. Ek het ’n kameelhaarkwassie geneem en ’n
druppeltjie van die jodiumoplossing bygedrup op die
voorwerpglasie.
-
Toe neem ek ’n skoon
dekglasie. Ek het die dekglasie teen die druppel jodium
geplaas—en dit met ’n ontleednaald in posisie gehou —terwyl ek
gesorg het dat die dekglasie ’n hoek van 45 grade met met die
voorwerpglasie vorm.
-
Ek het die dekglasie
versigtig laat sak om te verseker dat enige lugblasies na die
kant toe weggedruk word.
-
My lagie selle was
nou gemonteer (só ’n montasie word ’n preparaat genoem).
-
Met handdoekpapier
het ek enige oortollige vloeistof verwyder, want ek moes sorg
dat die voorwerpglasie droog was voordat ek dit op die tafel van
die mikroskoop geplaas en dit in die knippe vasgeknyp het.
-
Ek het ook gesorg dat
die voorwerp regoor die opening op die tafel van die mikroskoop
was.
-
Ek het met een oog
deur die oogstuk gekyk en die mikroskoop gefokusseer ten einde
’n duidelike beeld van my die lagie selle te verkry. Aanvanklik
het ek die growwe stelskroef gebruik en daarna die fyn
stelskroef om die beeld fyner in te stel. Ek het ook die
kondensator en irisdiafragma verstel om te sorg dat ek die
duidelikste beeld kry wat met my ligmikroskoop moontlik is.
-
Uiteindelik kon ek my
preparaat onder lae en hoë vergrotings bekyk—en dit was nogal ’n
belewenis!
-
Versigtig kon ek toe
met ’n potlood teken wat ek sien. Ek kon die tekenwerk nie
sommerso aframmel nie, want ek moes nougeset sorg dat die
verhoudings tussen die verskillende dele darem so naby aan
korrek is as wat ek dit kon weergee. (Agterna sou ek my beste
skets natrek en beter afwerk met ’n pen.)
-
Ek het dit ook nodig
gevind om die fyn stelskroef op en af te verstel sodat ek die
epidemis-selle van die ui in meer besonderhede kon bekyk.
Watter apparate ek vir die eksperiment gebruik het:
1. Ontleedtangetjie
(vir die aftrek van die viesie van die ui se skubblaar)
2. Voorwerpglasie
3. Dekglasie
4. Kameelhaarkwassie,
maar ’n ander soort drupper kan ook gebruik word (vir die drup van
die jodiumoplossing)
5. Ontleednaald (vir
die in posisie hou van die dekglasie)
6. Ligmikroskoop
7. Potlood vir
aanvanklike sketse van selle
8. Pen vir beter
afgewerkte skets van selle
Hier is my antwoorde op vrae wat aan my gestel is omtrent my
eksperiment, oor selle en oor die mikroskoop:
-
Die eksemplaar
(spesimen) wat ek bestudeer het, was ’n deel van ’n ui en
gevolglik plantaardig. Ek het dus ’n plantsel ondersoek en nie
’n diersel nie.
-
Een waarneembare
rede waarom dit ’n plantsel is, is dat ek duidelik kon sien dat
dit ’n groot sentrale vakuool het
(’n vakuool of
selholte is ’n ruimte in ’n lewende sel). Terwyl dierselle een
of meer klein vakuole kan hê, het hulle nie die volume van die
sentrale vakuool nie—tot negentig persent van die volle
selvolume! Die vakuool berg water en ione en kan gebruik word
vir die berging van toksiene.
-
Die vorm van die
selle wat ek waargeneem het, was langwerpig en baie rofweg
reghoekig.
Plantselle het selwande, wat hulle ’n soort reghoekige voorkoms
gee.
-
Die struktuur wat
verantwoordelik is vir die beskerming van die sel is die einste
selwand. Dit bied ook
strukturele steun aan die sel.
- Die
jodium is gebruik om die selle te kleur sodat hulle beter gesien
en bestudeer kon word. Die selle is van nature kleurloos en dus
moeilik waarneembaar.
-
Die
funksie van die kern is om die beheersentrum van die sel te
wees. Dit is ’n bolvormige liggaampie wat baie organelle
(selorgaantjies) bevat. Die kern beheer baie van die werkinge
van die sel en bevat DNS (in chromosome).
-
Die lense van ’n
mikroskoop: die oogstuk en die objektief. Die samegestelde
mikroskoop het twee stelle lense vir die groter vergroting van
voorwerpe, te wete 1) die oogstuk, dit wil sê die lens waarin ’n
mens kyk en 2) die objektief, of die lens die naaste aan die
voorwerp.
’n Mens kan die objektief beskryf as die lens in ’n mikroskoop
wat die eerste ligstrale ontvang van die voorwerp wat waargeneem
word. Mikroskoop-objektiewe word in die reël ontwerp om
parfokaal te wees, wat beteken dat die voorwerp in fokus bly al
beweeg ’n mens van een lens na die ander. ’n Mens sal dikwels
drie of vier objektiewe lense aan ’n mikroskoop vind. Hulle het
meestal vergrotingsvermoëns van 4X, 10X, 40X en 100X. Gekoppel
aan die mees algemene 10X-oogstuklens kry ons totale vergrotings
van 40X (4X maal 10X), 100X , 400X en 1000X.
-
Die arm van die mikroskoop stut die mikroskoopbuis en verbind
dit met die voetstuk (basis) van die mikroskoop.
-
En, les bes, hier is
my
skets van wat ek onder die mikroskoop waargeneem het!
 |